Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

afrikaans - toekomstaal

Vr, 15 Julie 2022 08:43

nie lank gelede nie is jy gebore
hier aan die suidpunt van afrika
as kombuistaal (kooktaal, baktaal en broutaal)

heel gou het jou soete klanke geval op geleerde ore
en het jy jou babalewe verruil
vir onderrigtaal (maaktaal, breektaal en boutaal)

soldate en politici het ook jou potensiaal gewaar
en jou geforseer om jou tienerlewe prys te gee
vir oorlogstaal (apartheidstaal, skeltaal en haattaal)

maar gelukkig was baie mense bewus van die gevaar
daarom moes jou jongmenslewe vinnig plek maak
vir versoeningstaal (vryheidstaal, vredetaal en praattaal)

veels geluk, afrikaans, jy het in jou kort bestaan
die lewenstoets met onderskeiding geslaag
nou, in jou volwasselewe, kan jy ontspan en jouself oorgee
aan die genade van die jongmense van hierdie planeet

jy het reeds ver buite die grense van afrika gegaan
en jou op verhoë, in teaters, op tv-skerms en die internet gewaag
daar word selfs aan oorsese universiteite en skole in jou klas gegee
jy het die ganse wêreld aan jou voete en moet dit nooit vergeet

want jy is vir die jeug van vandag
hul toekomstaal

Prosa & poësie | 0 kommentare

suid-afrika - geboorteland

Vr, 15 Julie 2022 08:42

ek wil graag ‘n gedig oor suid-afrika skryf
maar hoe beperk ‘n mens ‘n land so uiters divers
tot die lyne van ‘n digtersvers

van die welige lowergroen plante van noord-natal
tot die rooi sand van die dorre kalahari-woestynland
van die skaapplase van die groot karoo
tot die saailande en vrugteboorde van die boland

vind mens soveel verskillende nasies
elk met sy eie pragtige taal
maar al die verskillende kulture
is juis die hoeksteen van hierdie verhaal

van die dae toe die san oor die vlaktes geloop het
tot die xhosa vandag die land regeer
het so baie dinge gebeur
dat ek slegs kan sê: ”Baie dankie Heer”

want daar was vrede en daar was oorloë
daar was apartheid en daar was samesyn
maar vir my bly suid-afrika steeds die land van my drome
en daarop klink ek graag ‘n glasie wyn

Prosa & poësie | 0 kommentare

die laaste dag

Vr, 15 Julie 2022 07:29

dis die laaste dag
van die kortste maand
dis nog skaars oggend
dan is dit alweer aand

daar is nog so baie te doen
op hierdie laaste dag
ek kan net nie verstaan
waarom almal tot op die nippertjie wag

Prosa & poësie | 0 kommentare

definisie van 'n gedig

Do, 14 Julie 2022 10:56

‘n gedig is die geskrewe vorm
van ‘n spesifieke emosie
iewers tussen die uiterste norm
van die mees beeldskone ervaring van die liefde
en die totale afgryse wat hierdie lewe kan bied

dit is ‘n uitspoeging van die hart

Prosa & poësie | 0 kommentare

suid-afrika

Do, 14 Julie 2022 10:45

suid-afrika was vir baie eeue die land wat almal begeer
die land met die rykste mineralebronne
die land met die mees ongeskende natuur
die land met die seeroete om die suidpunt van afrika

suid-afrika was vir baie dekades die land wat almal beheer
die land waar swartmense in hul eie tuislande moes woon
die land waar bruinmense met mag oornag verskuif is
die land waar witmense teen hulleself gediskrimineer het

suid-afrika was vir 5 jaar die land wat niemand kon keer
die land van vreedsame samesyn sonder apartheid
die land van weerbegin en geloof in die toekoms
die land van buitelandse beleggings en voorspoed

suid-afrika is tans die land van totale ommekeer
die land wie se regering nie weet hoe om misdaad te beheer
die land wie se breinkrag in rye staan om te emigreer
die land wie se jeug nie meer deur kwaliteitsopvoeding leer

suid-afrika land van my voorvaders
as jou eie regering onbevoegd is om jou te help
as die buiteland weier om jou vir die nageslag te red
as jou mense nie meer antwoorde op al hul vrae het nie

kan slegs God die terugkeer laat plaasvind

Prosa & poësie | 0 kommentare

my hart is baie seer

So, 10 Julie 2022 16:25

hoeveel onskuldige meisies moet hulle nog verkrag, meneer die President
meisies wat die moeders, die sakevroue en die leiers van die toekoms moet wees
u praat so maklik oor die rol van die vrou in hierdie land
selfs oor die moontlikheid van ‘n vroulike President

maar as u voortgaan om u rug op die sinnelose verkragting van ons meisies te draai
sal daar binnekort geen meisies oor wees om vroue te word

hoeveel onskuldige mense moet hulle nog vermoor, meneer die President
mense wat die ratte in hierdie land laat draai
terwyl u sorgeloos deur afrika reis
om te luister na die dinge wat hulle inwoners pla

maar as u voortgaan om u rug op die sinnelose moorde van ons mense te draai
sal daar binnekort geen land wees om aan die einde van u reise na terug te keer

hoeveel inbrake moet hulle nog uitvoer, meneer die President
inbrake in plekke waar mense veilig behoort te voel
terwyl u rustig agter u veiligheidsmuur ontspan
wat deur die inwoners van hierdie land aan u geskenk is

maar as u voortgaan om u rug op die sinnelose inbrake te keer
sal daar binnekort geen sent uit boedelbelasting gemaak word nie, want alles is reeds gesteel

Prosa & poësie | 0 kommentare

my hart is baie seer

So, 10 Julie 2022 16:22

my hart is baie seer
oor die dinge wat in my land gebeur
ek wens ek het die mag gehad om dit om te keer
want ek kan dit nie verwerk om my mense so te sien treur

misdadigers kom om ons uitmekaar te skeur
terwyl die regering nie ‘n vinger veroer om die geweld te keer
hoeveel keer moet dit nog gebeur
voordat hulle met erns sal kyk na die mense se seer

daarom wil gewone mense nou probeer
om ‘n einde te bring aan hierdie tereur
want hulle sê dat om te praat help lankal nie meer
die dade van geweld sal net weer gebeur

maar hul pogings laat nou ‘n ander geur
want dit maak nie saak hoe hard hulle probeer
hul verhouding met die gereg sal net verder skeur
indien hulle sou probeer om die geweld te keer

Prosa & poësie | 0 kommentare

die reuse brander

So, 10 Julie 2022 16:21

ek lê op my rug
en kyk op na die lug
na daar waar die seemeeue
my vermaak met hul vlug

terwyl branders om my breek
en die son se steek
weens al die sand op my liggaam
total ontbreek

want my dogter probeer
om die see weg te keer
deur my met sand te bedek
en so die vloei van die natuur te beheer

maar die oseaan se krag
spoel die golwe met ‘n mag
so ver oor die strand
dat geen mensekind dit sou verwag

ons het gedink dat ons veilig was
want ons was dan so na-aan die gras
maar ons was beslis verkeerd
want skielik was branders waar daar droë sand was

asof op ‘n slee
word ons seewaarts gevee
ons gil en roep en gryp en skop
maar die geluid van die golwe neem ons krete mee

dan lê ons albei daar
deurdrenk en in skok maar wel gespaar
van ‘n gewisse dood
sou ons dieper die oseaan in vaar

maar dan sien ek God se Hand
hier waar ons bevrees lê op die sand
Hy het ons teen ‘n rotspunt vas laat rol
en ons sodoende lewend gehou op land

Prosa & poësie | 0 kommentare

ons moedertaal

So, 10 Julie 2022 16:18

waarom sukkel almal so
met die taal van ons nasie
want anders as wat hulle wil glo
is hier oorgenoeg spasie
om elkeen se taal tot sy reg te laat kom
om sy eie klank, sy eie idioom uit te leef
al is ons blind, al is ons stom
weet ons ons taal is nes alle ander met simboliek deurweef
want kontak met ander laat ‘n taal juis groei
dit is die fontein van woordeskat
moenie toelaat dat ons taal doodbloei
moenie toelaat dat iemand dit van ons afvat

Prosa & poësie | 0 kommentare

'n koekie seep

Do, 07 Julie 2022 21:10

diep in die ingewande van die aarde
boor en grawe die mynwerker op soek na daardie stuk rots
wat die korrekte edelmetaal bevat wat die mynbase verlang

aan die einde van sy uitputtende skof
smag hy na ‘n koekie seep
om die stof en sweet van sy moeë liggaam mee af te was

op die sportveld
dryf die sportman sy liggaam tot die uiterste krag
om die korrekte punte te behaal wat die sportbase verlang

aan die einde van sy uitmergelende spel
smag hy na ‘n koekie seep
om die sweet en pyn van sy moeë liggaam mee af te was

op die oorlogsveld
veg die soldaat met bomenslike krag
om die sukses te behaal wat die oorlogsbase verlang

aan die einde van sy bloedige geveg
smag hy na ‘n koekie seep
om die bloed en skrapnel van sy deurboorde liggaam mee af te was

in die dieretreintrok
probeer die oorlogsgevangene met sy laaste krag
om die bestemming te bereik waarheen die trein hom neem

aan die einde van sy vreesbevange reis
smag hy na ‘n koekie seep
om die liggaamsvuil en lyding van sy lewensmoeë liggaam mee af te was

dit was daardie verlange na ‘n koekie seep
wat soveel mense deur die Nazi-gaskamers
na hul dood gedryf het

Prosa & poësie | 0 kommentare

Bladsye (1842): [ «    12  13  14  15  16  17  18  19  20  21  22  23  24  25  26  27    »]
Tyd nou: Do Apr 18 12:33:05 MGT 2024