Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

help ons asseblief o Heer

So, 31 Julie 2022 21:22

ek weet ek vra vir baie dinge Heer
maar hierdie keer
moet ek U vra om die ondergang van ons land te keer
want die regering was nog nooit en is steeds nie in beheer
ek weet nie wat hulle probeer
deur met die mense so gek te skeer
maar ek weet die mense se harte is baie seer

want ek sien daagliks hoe hulle treur
oor die dinge wat met hulle en die land gebeur
terwyl die regering hulle glad nie aan die geweeklaag steur
omdat hulle hulle blindstaar aan selfverryking se geur
mense word besteel, verkrag, vermoor en uitmekaar geskeur
pragtige mense wat ten spyte van dit alles steeds vorentoe beur
en deur die bloed kan dankie sê vir die natuur se kleur

slegs U o Heer
kan ons mense en ons land van ondergang keer
want bo alles is U steeds die Een in beheer
ons mense se wonde en harte is baie seer
maar steeds sal ons ons bes probeer
al voel dit soms of ons net nie meer
die krag het om hierdie euwel te keer

Prosa & poësie | 0 kommentare

rou seer, rou stukkend

So, 31 Julie 2022 21:21

naak lê sy daar op haar rug
in die koud van die nag
steeds lewend en oopgesny
met haar ingewande in die sand aan haar sy
driekeer deur vriende verkrag

onherkenbaar verbrand lê sy langs die straat
sonder enige arms en bene
omdat sy vir haar ouers ‘n beter lewe wou gee
sonder om te weet van haar beskermer se weë
die man met ‘n pedofiel se gene

verwurg lê sy in die bed se laai
ingedruk om haar weg te steek
sonder dat dit hom pla
dat dit die bed is van sy eie ma
nadat ‘n vriend haar verkrag het terwyl sy om haar lewe smeek

rou seer was hierdie tienermeisies se lot
rou stukkend was hul ouers se vrae aan God

terwyl die regering partytjie hou en anderpad kyk

Prosa & poësie | 0 kommentare

herfs

So, 31 Julie 2022 21:19

ek stap deur die tuin
soos elke ander dag
om na die plante
en die uitleg te kyk
terwyl blomme en blare
van verskillende kleure op die grasperk en in die beddings val

en dan dring dit tot my deur
dat ek eintlik na een van God se lewende skilderye kyk

Prosa & poësie | 0 kommentare

hello herfs

So, 31 Julie 2022 21:18

soos die skoenlapper wat uit die papie ontvou
om sy lewensreis
in die planteparadys
te begin

voel ek vandag ook nuut en skoon en vars
en baie opgewonde
oor al die geleenthede wat ek elke stonde
sal kan ontgin

want die eerste herfsbui het geval

Prosa & poësie | 0 kommentare

afrikaans - sterwende taal

So, 31 Julie 2022 21:16

die grootste afrikaanse digter van ons tyd
skryf in die koerant dat afrikaans gaan sterf
omdat ons regering afrikaans by die deur uit smyt

sodat engels die amptelike landstaal kan word
terwyl besighede en skole en universiteite
alles wat afrikaans is in die dreinpyp stort

maar ‘n taal word nie sommer dood gewens
want dit is lewende mense wat dit praat
en ons taal vloei alreeds oor menige grens

afrikaans mag miskien sy wetenskapstatus verloor
maar die opkomende jeug het reeds bewys
hoe hulle met dig en drama en sang kan toor

om afrikaans lewend en fris en gesond te hou
sodat die res van die wêreld afrikaans kan sien
as die afrikataal wat alle nasies en kulture omvou

Prosa & poësie | 0 kommentare

wanneer wil vergaan

So, 31 Julie 2022 19:34

wanneer ‘n doofstom kind opgewek ‘n storie aan ‘n horende vertel
is dit wil

wanneer ‘n blinde kind trots die woorde uiter waaroor hy met sy vingers streel
is dit wil

wanneer ‘n beenlose man knersend die wedloop in sy rolstoel aflê
is dit wil

wanneer wil vergaan
o God, gee krag

Prosa & poësie | 0 kommentare

my land - suid-afrika

Sa, 30 Julie 2022 22:10

as pasgebore kind
het ek my in een van die heel pragtigste lande bevind
‘n land waar mense van verskillende kulture
in spontane harmonie met mekaar lewe
‘n land waar ‘n dierverskeidenheid
daagliks die vlaktes en riviere en lugruim deel
sonder om die natuur te ontneem van sy ryke plantverskeidenheid

as opgroeiende kind
het ek my in een van die politiekbedrywigste lande bevind
‘n land waar mense van verskillende kulture
in haat teenoor alle witmense lewe
as gevolg van die apartheidsbeleid
wat nie-wittes verbied om die land met wittes te deel
‘n land waar miljoene mense met nuwe oë kyk na hul eie identiteit

as destydsgebore kind
is dit een van die heel gevaarlikste lande waarin ek my bevind
‘n land waar mense van verskillende kulture
in uiterste vrees vir ander mense lewe
weens die misdadigers se moordmetodeverskeidenheid
‘n land waar mense daagliks moor en verkrag en steel
as gevolg van ‘n algehele gebrek aan ‘n misdaadbeleid

Prosa & poësie | 0 kommentare

om werklik arm te wees

Sa, 30 Julie 2022 19:32

om sonder geld vir ‘n maaltyd op die tafel te wees
is van die ergste wat met iemand kan gebeur

om sonder hoop vir die dag van môre te wees
is om iemand se hart in stukke te skeur

maar om sonder geloof in God te wees
is die heel ergste wat met iemand kan gebeur
want dit is om werklik arm te wees

Prosa & poësie | 0 kommentare

is dit sien en hoor of is dit kyk en luister

Do, 28 Julie 2022 13:44

"sien" en "hoor"
dis twee woordjies wat ons baie graag gebruik
ons sien en hoor hulle elke dag in verskeie vorms
ons gebruik hul tuis, op skool, by die werk en
ja, selfs in die parlement

as ons mooi sou kyk en luister
dan sou ons sien en hoor
dat ons met sien en hoor
nie altyd sien en hoor
dít wat ons veronderstel is om te sien en te hoor

dis omdat ons net sien en hoor
in plaas van om te kyk en te luister
want as ons sien en hoor
weet ons nie waarna om te kyk en te luister
omdat ons dink sien is kyk en hoor is luister

ons kan net werklik sien as ons eers kyk hoe iets lyk
so kan ons ook net hoor as ons luister wat iemand fluister
want sonder om te kyk, weet ons nie hoe dit lyk
en sonder om te luister, weet ons nie wat word gefluister
want sien is mos nie kyk en hoor is mos nie luister

Prosa & poësie | 0 kommentare

meiringspoort

Do, 28 Julie 2022 13:43

o magtige poort van die suiderland
wat strek van die klein tot die groot karoo doer anderkant
waar kom jy oorspronklik vandaan
sê my tog, hoe het jy ontstaan

was jy reeds 'n voetpad in die dinosaurustyd
waar reuse pote jou soliede kranse laat slyt
of het ander dierepote hul weg deur jou gebaan
voordat ook hul verdwyn het hiervandaan

dalk het geweldige donderbuie
die grootrivier se waters oor jou rotse laat kruie
waar dit grond en klip en plant meesleur
soos dit deur jou krake seewaarts beur

miskien het 'n verwoestende aardbewing
jou kranse uitmekaargedwing
en skep toe so die wonderpoort
ons roete tussen suid en noord

met elke oorsteek van die grootrivier
open 'n venster op die wonders hier
gekleurde kranse strek hemelhoog
jy is 'n lafenis vir elke oog

om elke draai besef mens weer
hoe swak, hoe klein, hoe teer
die mens werklik is dis tog so
jou skepper kom ook nie van hier, maar wel van Bo

Prosa & poësie | 0 kommentare

Bladsye (1842): [ «    9  10  11  12  13  14  15  16  17  18  19  20  21  22  23  24    »]
Tyd nou: Sa Jul 27 02:58:10 MGT 2024