Gesellig Afrikaans
Waar ons vriendelik en gesellig saam kuier!

Oom Sarel se windpomp

Wo, 11 Julie 2018 07:13

Die droogte in die Karoo het so erg geword dat daar niks meer oor is van oom Sarel se plaas nie.

Hy het al sy beeste laat slag, al sy skape verkoop. Die veld is so droog soos hy dit nog nooit in sy 65 jaar gesien het nie. Die plaaswerkers het verlede maand getrek om te gaan kyk of hulle nie kan werk kry in Zimbabwe nie, so sleg het dit gegaan.

Oom Sarel sit een oggend op die stoep, verby moedeloos. Skielik kom daar 'n helikopter oor gevlieg. Hy kyk die helikopter so, draai na tant Sarie en sê vir haar:

"Daar gaan ons windpomp nou ook!"

Humor & grappe | 0 kommentare

Twitter

Elke voël sing soos hy gebek is; Di, 10 Julie 2018 06:06

Ons het 'n voëltjie hoor fluit dat die forum nou op Twitter geregistreer is. Alle nuwe poste sal daar verskyn. Besoek ons asseblief by http://twitter.com/GeselligAfr, volg ons en her-tweet ons boodskappe.

Meer oor Twitter:

Twitter is 'n sosiale netwerk- en mikrojoernaaldiens wat gebruikers in staat stel om boodskappe, bekend as tweets, te versend en te lees. Tweets is teksgebaseerde boodskappe van tot 140 karakters wat op die outeur se profiel gepubliseer word en aan die outeur se subskripsiegehoor, bekend as "followers" (volgelinge), gestuur word.

Die verstekverstelling is dat boodskappe in die openbaar vrygestel word, maar gebruikers kan aflewering beperk tot diegene in hul virtuele vriendekring. Gebruikers kan tweets via die Twitter-webwerf, SMS of ander eksterne toepassings stuur en ontvang. Alhoewel die Twitterdiens op sigself niks kos nie, betaal die gebruiker wel vir toegangskostes soos internet- of SMS-fooie aan haar of sy persoonlike telekommunikasiediensverskaffer.


Sien Twitter op Wikipedia vir verdere inligting.

Kennisgewings | 0 kommentare

Gratis troue

So, 08 Julie 2018 12:54

Enige een van julle manne wat dalk belangstel?

My Neef het geboek en reeds betaal vir 'n jagweek in Namibië. Hy het nie besef dit bots met sy troudatum nie. Indien enige iemand belangstel om sy plek in te neem kontak hom net.

Dis Saterdag by NG gemeente Brakpan om 14:00.
Sy is baie vriendelik en 'n bobaas kok.
Brunet en 62kg, 1.52m lank.
Sy sal die een wees in die wit rok.
Haar naam is Rita.

Humor & grappe | 3 kommentare

Eet jou pampoen!

Sa, 07 Julie 2018 08:57

Ma sê vir haar seuntjie wat nie sy pampoen wil eet nie:
"Wag maar, vannag kom die duiwel jou haal!"

Daardie nag begin dit vreeslik reën. Die donderweer dreun en weerligstrale klief deur die lug. Ma raak bekommerd en wil by haar seuntjie gaan sit tot die weer opklaar. Tot haar verbasing is hy nie in sy kamer nie. Sy kry hom voor 'n oop yskasdeur besig om pampoen te eet.

Kort-kort prewel hy:
"So 'n moelse lawaai en dit oor 'n klein bietjie pampoen".

Humor & grappe | 2 kommentare

Verkeerde geskenk

'n Groot bôggerop; Vr, 06 Julie 2018 06:38

'n Jongman wat graag 'n verjaardagpresent vir sy nooi wou koop neem sy suster saam om hom te help om die regte geskenk te koop. Sy kies toe 'n paar handskoene wat hy vir sy meisie koop. Die suster koop toe vir haarself 'n paar broekies. Die meisie in die winkel maak toe 'n foutjie. Sy ruil die twee pakkies per abuis om. Die suster kry toe die handskoene en die arme ou kry die broekies, wat hy toe pos met 'n briefie wat as volg lees:

Liefste Gertruitjie,

Ek stuur vir jou die brief en die presentjie om jou te wys dat ek nie jou verjaarsdag vergeet het nie. Ek het gedink jy sal daarvan hou, want ek het gesien jy trek nooit sulke goed aan as ons uitgaan nie, en dit is nou koud in die aande. Ek het die dame in die winkel dit laat aanpas, en sy lyk baie mooi daarmee.

Sy het my 'n paar gewys wat sy al twee jaar dra, en dit makeer nog steeds niks. Ek wou eers die langes koop, maar my suster sê die kortes is beter, want dit is makliker om jou vingers in te kry. Ek wens ek kon dit die eerste keer vir jou aantrek.

Truitjie, die meisie in die winkel sê as jy dit uittrek, moet jy altyd bietjie daarin blaas, want dit sal 'n bietjie klam wees van die sweet, en dit mag later onaangenaam ruik. Sy sê sy gooi altyd bietjie lyfpoeier in hare wanneer sy dit uittrek. Ek hoop jy sal daarvan hou.

Met liefde.
Fanie

Humor & grappe | 0 kommentare

Die oorspronge van Afrikaans

Do, 05 Julie 2018 18:59

Die Afrikaanse spreektaal, Standaardafrikaans, Afrikaanse flaaitaal, Kaapse Afrikaans en Noordwestelike Afrikaans is almal variëteite van Afrikaans. Die verskillende vorme van die Afrikaanse spreektaal is veel ouer as Standaardafrikaans en die Afrikaanse skryftaal, wat eers teen die begin van die twintigste eeu begin ontwikkel het. Tot die einde van die negentiende eeu was Afrikaans niks anders nie as 'n spreektaal.

1. Vroeë Afrikaans

1.1 Die Hollandse oorsprong van Afrikaans

Afrikaans het hom reeds gedurende die periode na 1652 van Nederlands begin losmaak. Káápse Nederlandse tekste waarvan die bekendste Jan van Riebeeck se Dagregister is, is uit hierdie tyd oorgelewer. Van Riebeeck het sy gedagtes aan klerke en sekretarisse gedikteer wat wat dit opgeteken het in 'n besondere vorm van Nederlands, naamlik kanselarytaal, iets soos die kantoortaal van vandag. Ook in die 17e eeu was daar 'n groot verskil tussen kanselarytaal (kantoortaal) en die spreektaal. Dit is dus hoogs onwaarskynlik dat Van Riebeeck die gekunstelde kanselarytaal gepraat het. Hoe dit ook al sy, met die geskiedenis van Afrikaans het kanselary-Nederlands bitter min te doen.

Belangriker vir die mense in die vroeë Kaapse nedersetting was die plegtige geskrewe Nederlands van die Statebybel. Die taal van die Statebybel was redelik ver verwyder van die spreektaal van selfs geletterde 17e-eeuse Nederlanders.
Die oorsprong van ons taal moet nie gesoek word in die deftige, geskrewe Nederlands van die 17e eeu waarvan die taal van Jan van Riebeeck en van die Statebybel voorbeelde is nie.

Uit watter 17e-eeuse Nederlandse taalvorm het Afrikaans dan ontwikkel? Die antwoord lê in die oorspronklike naam van ons taal, naamlik Afrikaans Hollands waar Afrikaans oorspronklik 'n byvoeglike naamwoord was met die betekenis "van Afrika", dus "Hollands van Afrika". Holland dui hier op die heel westelike strook van Nederland, van Amsterdam suidwaarts. Hier in die onmiddellike omgewing van Amsterdam lê die bakermat van Afrikaans. Die term Hollands is nie sinoniem met Nederlands nie, maar die dialek van die Nederlandse provinsie Suid-Holland.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat Afrikaans nie uit 'n geskrewe kultuurtaalvorm ontwikkel het nie, maar uit 'n spreektaal. Enkele voorbeelde hiervan is die woorde "mus", "persent" vir "present", "vermeer" vir "vomeer", "poeier" vir "poeder", wat in 1652 as Hollandse spreektaal aan die Kaap geland het en nie hier uit formele Nederlands ontwikkel het nie.

Van die vroegste Afrikaans-Hollandse optekeninge is uit die mond van Koi en slawe. Die betrokke hofklerk het nie altyd die getuienis van 'n Koi of slaaf in kanselary-Nederlands vertaal nie, maar dit gelaat in min of meer die vorm waarin dit in die hof gelewer is. Uit 1707 is van 'n Koi opgeteken: "Ons wil dat niet doen." Uit 1720: "Jongens ons moet allegaar naar Abraham de Clerq gaan ..." Die gebruik van ons en die werkwoordsvorm is tipies Afrikaans en onnederlands.

1.2 Van Hollands tot Afrikaans-Hollands

Reeds in die sewentiende eeu het die Hollands wat as spreektaal in die Kaapse nedersetting oorgeplant is, in AFRIKAANS-Hollands ontwikkel. Aspekte van hierdie verandering was die volgende:

1.2.1 Die invloed van koloniale Nederlands

Die bemanning van die magdom skepe van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie het 'n eiesoortige Nederlands begin praat. Veral die woordeskat het van die vaderlandse Nederlands verskil, danksy woorde wat aan Portugees en Maleis ontleen is, tale waarmee die VOC-handelaars in aanraking gekom het.

1.2.2 Die eise van die nuwe Kaapse omgewing

Die Kaapse nedersetters moes hulle vreemde nuwe omgewing onder taal bring. Hulle het Nederlandse name aan Kaapse verskynsels gegee, benaminge ontleen en nuwe woorde in Afrikaans-Hollands gevorm.

1.2.3 Die voortsetting van Hollandse verskynsels

Dit is nogal verbasend hoeveel van dit wat ons as spesifiek Afrikaans beskou, reeds in Hollands aanwesig was. Afrikaans het byvoorbeeld die t aan die einde van woorde laat wegval: kas teenoor Nederlands kast, lig teenoor licht, ens.

1.2.4 Taalbeïnvloeding

In die 17e en 18e eeu was daar groot taalverskeidenheid in die vroeë Kaapse samelewing: gekultiveerde Nederlands, Nederlandse dialekte soos Hollands, verskillende vorme van Hoog- en Nederduits, Frans, Maleis, Portugees en Koi. Die belangrikste beïnvloedende tale in die vroeë samelewing was Maleis, Portugees en Koi.

1.2.4.1 Koi-invloed

In die vroeë nedersetting aan die Kaap het Koi nie groot invloed op Afrikaans gehad nie. Die Koi binne die nedersetting was te min om Afrikaans te beïnvloed en hulle taal, veral die suigklanke, het vir die nedersetters vreemd gebly. Oor die algemeen het Koi-invloed op Afrikaans nie verder gegaan as die woordeskat nie. Heelwat Koi-woorde is in aangepaste vorm oorgeneem, o.a. abba, boegoe, karos en plekname soos Garies en Ai-Ais. In die westelike dialekte het allerlei grammatiese verskynsels uit Koi in Afrikaans oorgegaan soos die se in julle se ma, hulle se bees; die goed in pa-goed en die gebruik van die voornaamwoord hy as na 'n vroulike saak verwys word.

1.2.4.2 Portugese en Maleise invloed

Portugees en Maleis wat onder die slawe gepraat is, het 'n heelwat vroeër uitwerking op Afrikaans-Hollands gehad.

Alhoewel Nederland in die 17e eeu die Portugese uit baie van hulle ou koloniale vestings verdryf het, het Portugees nog in hierdie gebiede die belangrikste taal gebly. Portugal was tot in die 17e eeu nog 'n slawemoondheid en baie Kaapse slawe het uit Portugeessprekende gebiede gekom soos Angola, Indië en Indonesië. Daar het die slawe Portugees as algemene spreektaal aangeleer. Die eerste twee groepe slawe wat die Kaap aan die einde van Mei 1658 bereik het, is van Portugese skepe uit Guinee en Angola gebuit.

Die tipe Portugees wat uit die koloniale gebiede in die Kaapse nedersetting ingedra is, heet Laagportugees. Hierdie vereenvoudigde koloniale Portugees is gebruik as spreektaal onder mense wat uit verskillende taalgemeenskappe voortgekom het. Uit hofsake wat in navorsing aangeteken is, het geblyk dat die vrygestelde slawe aan die Kaap onder mekaar Portugees gepraat het. Die aangeklaagdes het dikwels Portugese name gehad. Stukke Portugese taalgebruik kom ook in hierdie hofsake voor.

Afrikaans-Hollands het 'n hele aantal woorde regstreeks aan Kaapse Laagportugees ontleen, soos ramkie, tamaai, tarentaal, aia, sambreel. Ook die grammatika van Afrikaans is deur Portugese invloed geraak, soos die reël om vir voor 'n voorwerp te plaas.

Alhoewel Maleis in die vroeë Kaapse samelewing minder gepraat is as Laagportugees, het Maleis sterker vasgeskop. Woorde soos baie, borrie, oorlams en sambal is byvoorbeeld aan Maleis ontleen. Ook die grammatika van Afrikaans toon Maleise invloed, byvoorbeeld in die sg. reduplikasie: een-een, draf-draf, amper-amper.

In Kaapstad en sy onmiddellike omgewing het Maleis hom nog lank laat geld, veral onder die Moesliems. Heelparty tipiese trekke van Kaapse omgangs-Afrikaans is aan Maleis ontleen, o.a. die dj in djy en die tsj in bietsjie.

1.2.5 Kreolisering

Kreolisering is vinnige en ingrypende taalverandering binne 'n kontaksituasie. Saam met Van Riebeeck het 'n bonte versameling mense gekom wat tot taalverskeidenheid as 'n kenmerk van die Kaapse nedersetting gelei het. Dit is verder vergroot deur die slawe wat vanaf 1658 af ingevoer is en die baie Koi wat in die Kaapse samelewing opgeneem is.

Ook ander faktore het daartoe bygedra dat toestande in die 17e-eeuse Kaap uiters ongunstig was vir taalkontinuïteit. Hollands en Afrikaans-Hollands het vroeg reeds sterk van mekaar verskil a.g.v. die losse struktuur van die ongewone sosiale omgewing waarbinne Afrikaans-Hollands in die vroeë Kaapse samelewing moes funksioneer.

Alhoewel o.a. Maleis en Portugees sterk konkurrente van Hollands was, was dit Hollands wat die taal van die hele Kaapse samelewing geword het. Afrikaans en Nederlands se bande het bly bestaan. Die woordeskat van Afrikaans is 90%+ Nederlands en daar is kontinuïteit t.o.v. die klankleer en die grammatika. Tog is daar baie belangrike verskille, veral in die grammatika van die twee tale.

'n Klein aantal Duitse woorde is hier aan die Kaap uit die taal van die Duitse huursoldate en waarskynlik ook uit dié van die Duitse koloniste ontleen. Van sommige woorde wat vroeër as Kaapse ontlenings uit Duits beskou is, is intussen in Nederlandse bewysplase uit die 17de eeu gevind. Duitse leenwoorde wat formeel as nie-Hollands, d.w.s. as direkte Kaapse ontlenings, uitgeken kan word, is dus baie seldsaam in Afrikaans.

Nederlands was vanaf die Middeleeue verskeie kere sterk onder Franse invloed en 17de-eeuse Nederlands was met Franse woorde deurspek. Die eerste volksplanters het dus met hul spreek- en skryftaal heelwat Franse woorde saamgebring Kaap toe. Naas hierdie oorgeërfde Franse leenwoorde het die Kaapse taal net 'n handvol woorde uit die taal van die Franse Hugenote ontleen. Direkte ontlenings is selfs veel minder as in die geval van Duits.

Die aanname dat Afrikaans sg. in die mond van blankes verander en saam met die Afrikaanse volk ontwikkel het, kan nie meer geregverdig word nie. Ons weet nou meer van ons geskiedenis, van taalverandering en van taalkontak en dat vreemdelinge van allerlei pigment en taal 'n beduidende bydrae tot die vorming van Afrikaans gelewer het.

2. Die ontstaan van Standaardafrikaans

Afrikaanssprekendes het tot aan die einde van die 19e eeu Engels en Nederlands as kultuur- en skryftaal gebruik. Afrikaans was net 'n spreektaal.

Die beweging om Afrikaans 'n kultuurtaal te maak het teen die einde van die 19e eeu begin, maar het eers na die Anglo-Boereoorlog werklik momentum gekry. Teen die einde van die tweede dekade van die 20ste eeu het Standaardafrikaans reeds sy beslag gekry. Vandag is Afrikaans ten volle gestandaardiseer en word dit op alle kultuurterreine aangewend.

3. Engelse invloed op Afrikaans

Die Engelse inwerking op Afrikaans wat reeds vroeg in die 19e eeu begin het, is vandag die grootste taalveranderingsfaktor wat op Afrikaans inwerk.

Engels beïnvloed veral die Afrikaanse spreektaal wat 'n mengeltaal geword het en grootliks verskil van die min of meer suiwer Afrikaanse standaardtaal. Ons kan verwag dat ook Standaardafrikaans mettertyd onder die druk van Omgangsafrikaans al hoe meer tekens van Engelse invloed sal vertoon.

FRITZ PONELIS
Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit van Stellenbosch

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Sappige mopaniewurms

Di, 03 Julie 2018 05:57

Mopaniewurms is blykbaar voedsame kos, ryk en vol proteïne. Ek het egter nie die moed om dit te probeer nie en weet ook nie waar mens die lelike gewurmtes sal kry nie.

Die mopaniewurm se wetenskaplike naam is Imbrasia belina. Hulle is swart met rooierige, geel en witterige bande en het kort rooi of swart stekels wat in fyn wit haartjies bedek is. Die wurms word omtrent sewe sentimeter lank en word so dik soos 'n man se vinger. Die derms moet verwyder word voordat dit gebraai of platgedruk en gedroog word.

Net vir ingeval iemand lus is vir 'n heilsame happie insekte, hier is 'n (blykbaar beproefde) resep vir die voorbereiding daarvan:

Bestanddele:
* 1 pakkie gedroogde mopaniewurms
* bottel rooiwyn
* botter
* knoffel (gemaal)
* sout en peper

Metode:
* Spoel die wurms onder lopende water af.
* Week in die wyn vir die beste deel van 'n dag.
* Kook tot die wyn so te sê verdamp het.
* Plaas botter sowel as die res van die bestanddele in die pot.
* Braai vir 'n paar minute oor hitte.

Die gereg kan op geroosterde Franse brood bedien word.
Smaaklike ete Razz

Kos & resepte | 1 kommentaar

Die arme blond darem

Sa, 30 Junie 2018 06:45

1. Hoekom gooi die blond krummels in die toilet?
Sy voer die toilet duck.

2. Hoekom maak die blond net een skoenveter vas?
Want op die skoen staan "taiwan".

3. Hoekom staar die blond vasgenael na die resepteboek?
Die resep sê: "moenie roer nie".

4. Hoekom hou die blond leë bottels in die yskas?
Dis vir vriende wat nie drink nie.

5. Hoekom verf die blond haar huis met twee jasse aan?
Die blik verf se: "two coats."

6. Blond kla sy was 3 ure lank in hysbak vasgekeer as gevolg van kragonderbreking. Ander blond antwoord:
"Dis niks nie! Ek moes 3 ure op die roltrap staan gedurende die krag onderbreking!!

7. Blondine se ma gee haar geld om brood, melk en eiers te koop. Op pad winkel toe steel 'n dief haar geld en sien sy kom dit nie agter nie. Hy skree toe agterna: "whe-whe ek het tog jou geld gesteel!" sy skree toe terug: "whe-whe jy weet tog nie wat om te koop nie.

Humor & grappe | 3 kommentare

Tale en die grondwet

Vr, 29 Junie 2018 05:56

deur A C Cilliers, Stellenbosch
(Professor emeritus aan die Universiteit van Port Elizabeth)

Die Grondwet bepaal enersyds dat alle amptelike tale in Suid-Afrika gelyk is en gelyk behandel moet word, maar eintlik is die grondwetlike bepalings só bewoord dat dit geleentheid skep vir een of meer tale om ander amptelik te verdring. Die oplossing van taalstryde in Suid-Afrika kan in 'n groot mate afhang van moontlike grondwetlike wysigings.

Die oorgangsgrondwet van 1993 het o.m. bepaal dat regte met betrekking tot taal en die status van tale wat by die inwerkingtreding van daardie Grondwet bestaan, nie ingekort word nie. Die huidige Grondwet bevat nie 'n soortgelyke bepaling nie. Sodanige regte kan dus wettiglik "ingekort" word, en dit geskied voortdurend.

Die huidige Grondwet bepaal in artikel 6 dat die nasionale regering en provinsiale regerings "enige bepaalde amptelike tale vir regeringsdoeleindes [kan] aanwend", met inagneming van sekere faktore, maar sodanige regerings moet minstens twee amptelike tale gebruik. Bogemelde faktore sluit in "gebruik, doenlikheid, koste, streeksomstandighede en die ewewig van die behoeftes en voorkeure van die bevolking ..."

"[G]ebruik" word eerste genoem. Dit is dus die belangrikste faktor. Koste word slegs derde genoem, ná doenlikheid. Munisipaliteite moet "die taalgebruike en -voorkeure van hul inwoners" in ag neem. Niks verder word in hul geval deur die Grondwet geverg nie: koste en doenlikheid word in hul geval nie eers genoem nie.

Die belangrikste en gemeenskaplike faktor by die aanwending van amptelike tale is "gebruik" (nasionale en provinsiale regerings) en "taalgebruik en voorkeure"( munisipaliteite), wat op wesenlik dieselfde neerkom.

Taal word geskep en leef in die volksmond. 'n Taal bestaan ter wille van 'n volk, nie ter wille van regerings nie. Daar is geen definisie van "amptelike taal" in die Grondwet nie. "[Taal]gebruik" beteken tog gebruik deur die bevolking, nie deur die regering nie. Die woorde van die Grondwet "vir regeringsdoeleindes" skep verkeerdelik die indruk dat 'n taal "amptelik" is ter wille van regeringsgebruik.

Die name van heelwat volke en hul vaderlande word ontleen aan die tale wat daardie volke praat en skryf. Die moedertaal van Duitsers is Duits, en die vaderland van die meeste Duitsers is Duitsland. Dieselfde geld vir Engelse, Franse, Italianers, ens. "Die taal is gans die volk" -- aldus Generaal Hertzog.

'n Enkele voorbeeld van dreigende taalverdringing, wat onder die oorgangsgrondwet van 1993 nie bestaan het nie, volg hier.

Die oorgangsgrondwet het in artikel 107 o.m bepaal dat 'n party by 'n geding, 'n beskuldigde en 'n getuie gedurende die verrigtinge van 'n hof
(a) die Suid-Afrikaanse taal van sy of haar keuse kan gebruik en
(b) kan eis dat die die verrigtinge van 'n hof waarby hy/sy betrokke is, in 'n taal wat hy/sy verstaan, vertaal word.

Die huidige Grondwet het 'n bepaling soos (a) hierbo geskrap. In 'n strafverhoor het 'n beskuldigde vandag ingevolge artikel 35(3) slegs die reg om verhoor te word in 'n taal wat hy of sy verstaan, of, as dit nie doenlik is nie, dat die verrigtinge in daardie taal getolk word.

'n Afrikaanssprekende beskuldigde kan byvoorbeeld gedwing word om, as hy/sy sou getuienis lewer, dit in Engels te doen en om aan die hofverrigtinge in Engels deel te neem net omdat hy/sy Engels verstaan. Is dit 'n "billike verhoor" (inleidingsin van artikel 35(3))? Is dit nie "onbillike diskriminasie" op grond van taal soos beoog deur artikel 9 van die Grondwet (sien hieronder) nie?

Op bogemelde wyse kan Afrikaans of menige ander inheemse tale grootliks deur Engels as hoftaal verdring word.

Ek stel voor dat artikel 6 van die Grondwet soos volg gewysig word:

  • Herverordening van die bepalings van die tussentydse Grondwet van 1993 -
    (a) wat die inkorting van sekere taalregte verbied het;
    (b) wat aan 'n persoon die reg gegee het om, waar dit uitvoerbaar is, in sy of haar betrekkinge met enige staatsadministrasie op die provinsiale regeringsvlak enige van die provinsiale amptelike tale van sy/haar keuse te gebruik en om daarin aangespreek te word, en, op die nasionale regeringsvlak, enige amptelike Suid-Afrikaanse taal van sy/haar keuse te gebruik en daarin aangespreek te word.

  • Invoeging van 'n bepaling met die volgende strekking: "Die reg van 'n persoon om in die taal van sy of haar keuse aangespreek te word, word nie deur enige wetgewer ingekort nie, behalwe deur 'n meerderheid van 90% van die totale getal lede van sodanige wetgewer, hoofsaaklik op grond van algemene streeksgebruik."

  • Omskepping van die huidige bloot aanbevelende magte van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad tot uitvoerende magte, met uitsluiting van regeringskontrole oor die samestelling en werksaamhede daarvan. Dit behoort verteenwoordigend van die verskillende taalgroepe in die land te wees, d.w.s 'n voorbeeld van "wigte en teenwigte" in die Grondwet, soos deur sommige groepe by CODESA beoog.
Moontlike daarstelling van bogenoemde voorgestelde wysigings verg die samewerking van die regering. Is hierdie voorstelle onprakties in soverre dit toepassing betref? As dit teoreties moontlik die beste oplossing is, is die praktiese toepassing daarvan 'n vraag van 'n tweede orde. In hierdie verband is artikel 9 van die Grondwet relevant.

Artikel 9 verbied die staat om regstreeks of onregstreeks "onbillik" teen iemand te diskrimineer, onder meer op grond van taal. Ingevolge artikel 9(4) is diskriminasie onbillik tensy daar vasgestel word dat dit billik is. Die onus is dus op die staat om te bewys dat taaldiskriminasie in 'n bepaalde geval billik is.

Die oorgangsgrondwet het in artikel 3(9) bepaal dat wetgewing, asook amptelike beleid en praktyk met betrekking tot die gebruik van tale op enige regeringsvlak onderworpe is aan en gegrond is op onder meer sekere beginsels. Hierdie beginsels sluit in die voorkoming van die gebruik van enige taal vir die doeleindes van uitbuiting, oorheersing of verdeling. Hierdie bepalings is nie herverorden in die huidige Grondwet nie. Hoekom nie?

Indien die Grondwet, in soverre dit tale betref, nie verbeter word nie, is dit moontlik vir die staat om, by wyse van finansiële kontrole van opvoedkundige en ander inrigtings, oorheersing van bepaalde amptelike tale te bewerkstellig in stryd met die hoë ideale beoog deur bogemelde artikel 3(9).

(Met erkenning aan De Rebus, Maart 2003)

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

"Die Hanswors" deur S.J. Pretorius

Wo, 27 Junie 2018 14:55

Die Hanswors (deur S.J. Pretorius):

Aanhaling:


Oor sy afsigtelike boggel,
en kromheid, het hul hom gekoggel,
en bitterder was hul venyn
as sy vergroeide ruggraatpyn.

Tussen die diere in 'n hoek
het hy die eensaamheid gesoek:
"Met klere wat gedurig gaar is,
wat doen die vent met sy salaris?"

Hy't maandeliks by die poskantoor
'n brief gepos of een gelees
by die dierkratte, oor en oor:
"Sou daar tog erens iemand wees?"

En daardie ewige reuk van drank:
nie een sou huil as hy bedank,
maar waar hy in die sirkustent
aapagtig teen die firmament,
hoog teen die takelwerk, kon klouter,
die dood uittart, en klein kabouter,
sy duiwelstreke uithaal onder
dat almal skater vir die wonder,
is hy, hoeseer verag, verlate,
nog deur die baas beskou as bate.

Toe het 'n brief gekom eendag...
Hy't oor die bed gebuk, verblind,
terwyl 'n boggelvroutjie, sag,
sterwend fluister:"Dankie my kind..."

Prosa & poësie | 1 kommentaar

Bladsye (1952): [ «    3  4  5  6  7  8  9  10  11  12  13  14  15  16  17  18    »]
Tyd nou: Ma Jan 21 11:34:12 UTC 2019