Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

God se Tempel

Vr, 02 September 2022 16:01

ek het my rug onbewustelik beseer
terwyl ek besig was om my dagtaak uit te voer
aanvankllik was daar ‘n ongemaklike gevoel iewers doer
maar ek was te besig
en het my rug op die ongemak gekeer

ure het dae geword en die ongemak het elke keer
meer stukrag teen my dagtaak ingevoer
totdat algehele nutteloosheid vir my kom loer
en ek besef het
dat ek moet praat met my Heer

want slegs Hy kan die ongemak afweer
wat tans besig is om my werwels deurmekaar te roer
sodat ek geen breininstruksie meer uit kan voer
slegs Hy het die mag
om die groei van hierdie ongemak te keer

hieruit het ek die wonderlike lewensles geleer
dat afgesien van die ongemak wat vir my loer
daar ’n baie sterker Hand is aan diie roer
omdat my liggaam sy Tempel is
en ek daardie feit nooit mag ignoreer

Prosa & poësie | 0 kommentare

jeuglose land

Vr, 02 September 2022 15:29

vir wat soos ‘n ewigheid voel sit ek en staar
na die sneeuwit komperskerm hier regvoor my
want die duisende vrae in my brein lê baie swaar
maar die antwoorde daarop bly my vermy

hoeveel jong lewens moet hierdie land nog verloor
voordat die regering sal besef
dat hulle tans die leiers van môre vermoor
hul vingermerke lê op elke moordenaarsmes se hef

hulle laat toe dat misdadigers steel en moor en verkrag
as ‘n danksegging vir hul lojale stem
terwyl die meeste mense in die land na vrede en liefde smag
en wens dat die regering die misdadigers sal tem

indien die regering lank genoeg aan bewind kon bly
sou daar niemand meer wees om vir hulle te stem
want die jeug van vandag is die stemmers wat jy môre kry

maar in ‘n jeuglose land is daar niemand wat kan stem

Prosa & poësie | 0 kommentare

platinumtoets

Vr, 02 September 2022 13:12

na ‘n dienstermyn van meer as drie dekades
word die tapyt onder my voete uitgepluk
tydens ‘n voorafbeplande dissiplinêre verhoor

vir meer as ‘n jaar tuimel ek daagliks dieper
in ‘n bodemlose put gevul met vrae
en gevoelens van haat en mismoed en wrok

tog hou U u Hande tussen my vallende lyf
en die skerp punte van die ruwe putwand
of verminder U die spoed van my val

my gees vlieg oor berge en valleie van emosies
en die burgeroorlog in my brein
sorg dat verkeerde seine na die liggaamsdele gaan

dan skakel U ‘n oproep na my selfoon deur
en vra of ek graag weer ‘n inkomste wil verdien
ek hoef slegs ja of nee te sê

stomgeslaan van skok sê ek toe ja
en betree weer die wêreld van die werkende man
waar ‘n beter paket as ooit tevore op my wag

‘n paar weke later plaas U my voor die platinumtoets
toe U die deur vir die tapytuitplukker open
om as ‘n kollega saam met my te kom werk

Prosa & poësie | 0 kommentare

sedoos

Do, 01 September 2022 16:44

suidoostewind kaapse dokter suidoos sedoos
ek glo daar is nog vele ander name op jou pasboek gedruk
party heel beskrywend en ander minder so
want vir vele is jy dit waarna hulle uitsien
wanneer die somer met sy hittegolwe nader skuif
en die lug van bose kieme gereinig moet word
of om te help met die opruim van papier- en plastiese sakke
terwyl net soveel ander se bloed begin bruis
oor al die stof wat by elke opening ingeforseer word
en die plante wat geskroei word ten spyte van al die water wat hulle kry

of dit nou uit liefde is of uit haat
wees verseker dat jou naam op die tong
van elke mens wat die kaap besoek rol
want sonder jou is die kaap net nie moontlik nie

Prosa & poësie | 0 kommentare

op die dak van die aarde

Do, 01 September 2022 16:08

inuit
‘n sagte naam
vir ‘n warm volk
met ‘n harde lewe
in ‘n koue land

inuktitut
‘n mooi naam
vir ‘n vreemde taal
van ‘n ryke volk
in ‘n arm land

nunawut
‘n pragtige naam
vir ‘n wrede land
van ‘n lewendige volk
in ‘n sprokieswêreld

Prosa & poësie | 0 kommentare

wintersdag

Wo, 31 Augustus 2022 10:49

dit is tienuur in die oggend
in die kaggel brand die vuur
terwyl die pot stampmielies op die stoof byna kook

intussen word die boontjies op die kombuistafel gesorteer
sodat net die mooi vettes in die soppot sal beland

water val uit die lug asof reuse sluise oopgetrek is
in die sitkamer lê die honde vlak voor die kaggel
nou is die son reeds vier dae lank weg
terwyl blitse en donder sorg vir ‘n onaardse simfonie
en ek en jy en die dogters bibberend
reg langs die honde ons plekke inneem

Prosa & poësie | 0 kommentare

taalspier

Wo, 31 Augustus 2022 10:48

jy is hard, jy is sag
maak my huil, maak my lag
terwyl jy die taal elke dag
beskerm met al jou mag

jy is skepper van spraak
jy kan mense vermaak
terwyl jy die klanke uitbraak
wat jy in monde maak

jy gee kleur aan 'n taal
want jy maak dit verbaal
terwyl jy die klanke fynmaal
van jou lewensverhaal

jy gee vorm aan 'n woord
jy leer my die akkoord
terwyl die verhaal van die moord
op my taal nou verwoord

jy moet 'seblieftog keer
dat hul my taal beseer
terwyl hulle jou meer en meer
van buite wil beheer

jy's my enigste troos
want ek weet jy word boos
terwyl jy sukkel met jou kroos
van noord, suid, wes tot oos

jy's geen plant, jy's geen dier
jy verskaf my plesier
terwyl ek ontspan met 'n bier
jy's my tong, my taalspier

Prosa & poësie | 0 kommentare

winterreën

Wo, 31 Augustus 2022 10:05

ons word werklik geseën
met die val van hierdie laat winterreën

die mense weet nie meer waarheen
die diere is net vel en been
die plante staan versteen
alles weens die gebrek aan die winterreën

die water op die vloer klop aan die man se skeen
mens en dier en plant is weer op die been
en van droogtesprake is daar geen
alles te danke aan die welkome winterreën

Prosa & poësie | 0 kommentare

winter in die kaap

Wo, 31 Augustus 2022 10:03

wat het van die son geword
hy het ses dae gelede nog geskyn
maar toe het daar baie wolke gekom
en nou het die son vir goed verdwyn

ek en die honde is allenig hier
in die skemer huis
en al het ons elke vertrek se ruimte
voel dit of ons opgesluit is in ‘n kluis

want buite val die water
in meer liters as gellings
soos hemelse riviere
uit oupa se vertellings

‘n winter met ag dae se reën
het hy altyd van gepraat
as die tyd wanneer water en hael en sneeu
die son die hemelruim laat verlaat

Prosa & poësie | 0 kommentare

woorde

Wo, 31 Augustus 2022 10:02

soveel tale, soveel woorde
soveel klanke, soveel akkoorde

ek wonder hoeveel woorde daar werklik bestaan
en waar kom al hierdie woorde oorspronklik vandaan
daar is oues en nuwes
kortes en langes
mooies en lelikes
en maklikes en moeilikes

om die korrekte uit die lys van woorde te vind
is geen geringe taak, onthou
want daar is ook nog spelling en uitspraak
om mee rekening te hou

Prosa & poësie | 0 kommentare

Bladsye (1842): [ «    1  2  3  4  5  6  7  8  9  10  11  12  13  14  15  16    »]
Tyd nou: Vr Jul 26 23:47:22 MGT 2024