Gesellig Afrikaans
Waar ons vriendelik en gesellig saam kuier!

Die tug van ons kroos

deur C.J. Langenhoven; Do, 21 Junie 2018 06:06

DIE TUG VAN ONS KROOS

Moenie jou kinders onskuldige plesier belet nie. Hulle sal dit steel en dan is jy nie daarby om te sien dat hulle nie die skuldige bysteel nie.

Moenie opgeskeep wees met jou kweperlat nie, moenie orig wees met jou tug nie, moenie jou strengheid goedkoop maak nie. Jy kan jou kinders slaan oor elke kleine stoutigheid, en dan plaas jy die kleine op gelyke voet met die grote stoutigheid: want daarby kan jy ook nie meer doen as slaan nie. Maak jou straf seldsaam, maak hom duur, maak hom gewigtig. Jou kinders het 'n verre wêreld om deur te gaan waar hulle baie stampe en stote van vreemde sal kry: daar lê baie droefheid en teëspoed en ongeluk nog voor hulle; en hulle dae van onskuldige kindergenot en die lewenslus om dit ten volle te geniet sal hulle nooit weer terug kry as hulle onder die skaduwee van jou dak uit is nie. Hulle begint nog maar hulle weg wat vol strikvalle en slagysters is; hulle het self nie die ervaring gehad om op hulle hoede te wees vir die gevare nie: hulle het 'n vriend nodig om hulle te waarsku en raad te gee. Wees jy die vriend van jou kinders; moenie hulle die moed ontneem om na jou toe te kom met al hulle kleine moeilikhede en besware en teleurstellinge nie. Onthou, jy was 'n kind soos hulle nou is, maar hulle was nooit volwasse soos jy nou is nie. Hulle kan jou nie verstaan om hulle na jou standpunt te skik nie; jy behoort hulle te kan verstaan om jou na hulle standpunt te skik. Dis 'n sware en verraderlike wêreld waar jy hulle ingebring het sonder hulle keuse: wees hulle beskermer en nie hulle dwingeland nie totdat hulle sterk genoeg is om vir hulleself te staan. Win hulle vertroue, en hulle sal van hulleself te veel dink om jou te bedrieg. Maar anders sal hulle jou belieg oor die kleine kwaad om jou straf te ontgaan, en hulle sal uitvind dat die leuen ook goed genoeg is vir die grote kwaad. En wanneer hulle die waarheid by toeval spreek sal jy hulle nie kan glo nie: en jy sal hulle laat vrykom waar hulle skuldig is en straf waar hulle onskuldig is. Jy sal hulle opregtheid ondermyn en hulle regverdigheidssin verderf, en hulle tot bedrieërs maak.

Daar sal altyd tye kom wanneer jy hulle moet straf, al is jy hoe sag. Jou kinders is nie heilig nie, want hulle aard na jou. Straf dan en straf streng, en laat jou dreiement nooit ydel wees nóg jou beloftes nie. Maar om die straf sal hulle jou nie haat nie maar eerbiedig: dit is nie die straf van 'n bose vyand nie maar van 'n liefhebbende en geliefde ouer. Wees die boesemvriend van jou kinders, en jy sal met doeltreffendheid die vyand kan wees van hulle ondeugde.

-- C.J. Langenhoven

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Afrikaanse Wikipedia - 50000 artikels!

Wo, 20 Junie 2018 13:37

Die Afrikaanse Wikipedia het op 15 Junie 2018 so stil-stil die 50000-kerf verbygesteek. Die mylpaal is bereik toe gebruiker SpesBona (Sören Pfauder, wat in Duitsland woon) 'n artikel oor Rio Iguazú, 'n groot wes-vloeiende rivier in Suid-Amerika, geplaas het.

Mens sou verwag dat die media daaroor sou rapporteer, maar dit blyk dat joernaliste grotendeels onbewus is van wat op Wikipedia aangaan. Die bydraers blaas lyk my ook nie graag hulle eie beul nie.

In elke geval, baie geluk aan almal wat so onbaatsugtig tot die projek bydra.

Mag die Afrikaanse Wikipedia aanhou groei en van krag tot krag gaan.

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Die Afrikaanse Wikipedia in 2007

Wo, 20 Junie 2018 13:07

Die volgende koerantberig het op 21 November 2007 in Rapport verskyn -

Mnr. Jimmy Wales, stigter van die aanlyn-ensiklopedie Wikipedia, verduidelik die groep se planne by 'n praatjie in Johannesburg - geargiveer by http://archive.is/CiGY

Aanhaling:

"Wikipedia behoort sy gebruikers in plaaslike tale te bedien."
Só het mnr. Jimmy Wales, stigter van dié internet-ensiklopedie, die afgelope week in Suid-Afrika gesê.
Hy is hier om Suid-Afrika om die Afrikaanse Wikipedia te bevorder.

"'n Mens se moedertaal bly jou moedertaal. Dit is eenvoudiger makliker om 'n inskrywing oor byvoorbeeld kwantumfisika in Afrikaans of Zoeloe te verstaan, as om dit in Engels te probeer ontsyfer. Daarom wil ons al die kennis in alle tale probeer vaslê," sê hy.

Wikipedia is reeds in meer as 250 verskillende tale beskikbaar. Die Afrikaanse weergawe spog reeds met meer as 8 600 artikels.

Wales het Wikipedia in Januarie 2001 bekend gestel. Dit is nou die agtste gewildste webwerf ter wêreld en word met slegs 'n handvol voltydse personeel en 'n piepklein begroting onderhou.

Die mikpunt is minstens 250 000 inskrywings in elke taal wat meer as 'n miljoen sprekers het. "Eers dan kan dit werklik as 'n ensiklopidie beskou word," sê Wales.

Die Encyclopedia Britannica het sowat 250 000 inskrywings.
Die Engelse Wikipedia, die grootste van al die tale, spog reeds met meer as 2 miljoen artikels.

■ Die Afrikaanse Wikipedia is by www.af.wikipedia.org beskikbaar. - Jana Marais

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Die aanlyn Afrikaanse ensiklopedie

af.wikipedia.org; Wo, 20 Junie 2018 11:36

'n Klein maar groeiende groepie Afrikaanssprekende vrywilligers neem tans deel aan 'n kennisrewolusie van globale proporsies. Die vrye bekombaarheid van inligting, tesame met die wegsmelting van tradisionele hindernisse tot samewerking en die verbinding van die uithoeke van die wêreld, teweeggebring deur die wêreldwye web, is die grootste gelykmakende en bemagtigende ontwikkeling in die geskiedenis van die mensdom.

Die web stel 'n globale hulpbron daar wat aan almal, ongeag hul agtergrond, toegang tot 'n magdom inligting en kennis verleen. En hoewel daar verskeie tekenende voorbeelde van hierdie nuwe verkrygbaarheid van inligting is, is geen meer verteenwoordigend hiervan as Wikipedia nie.

Wikipedia is 'n vrye en gratis ensiklopedie, ten volle saamgestel deur vrywilligers en toeganklik aan enigiemand met internettoegang. Boonop is dit beskikbaar in meer as 270 tale met die vlagskip Engelse weergawe wat spog met oor die 3 miljoen artikels.

Die wetenskapsjoernaal Nature, het in 2005 reeds bevind dat Wikipedia wesenlik so betroubaar soos die Encyclopedia Britannica is, 'n bron wat deur meeste mense as die gesaghebbendste Engelstalige ensiklopedie beskou word.

Wikipedia dra 'n reuse-aandeel by tot hierdie voortbouende kennisrewolusie en dit verskaf ook aan ons as Afrikaanssprekendes 'n gulde geleentheid om 'n globaal-beskikbare Afrikaanse kennisbron te skep.

As mens eers die enorme potensiaal van 'n vrye en omvattende Afrikaanse ensiklopedie besef, kan mens nie anders as om die proses te wil bespoedig nie. Die goeie nuus is dat dit ook heeltemal moontlik is.

Enigiemand kan Wikipedia-artikels skep en redigeer. Dit klink dalk na 'n resep vir chaos, maar die self-organiserende en self-polisiërende aard van die Wikipedia-gemeenskap bring 'n hoë vlak van orde en kwaliteit mee. Vandalisme of ongestaafde uitlatings word binne minute of sekondes waargeneem en reggestel. Hoe meer mense aan 'n spesifieke taalweergawe van Wikipedia deelneem, hoe meer vrywilligers is daar om kwaliteitsbeheer toe te pas, en hoe hoër in kwaliteit dus die uiteindelike produk.

Daar heers egter nog 'n onbewustheid onder baie mense dat daar wel 'n Afrikaanse Wikipedia bestaan, wat meebring dat sy volle potensiaal nog nie ontgin word nie. Ten spyte hiervan is die Afrikaanse Wikipedia een van die eerstes wat op die been gebring is en het dit onlangs sy tiende bestaansjaar gevier.

In die begin van 2012 is nog 'n mylpaal behaal, die 21 000ste artikel. Die aantal artikels dien gereeld as 'n maatstaf om die dekkingswydte van 'n ensiklopedie te oordeel, maar om 'n gevoel vir die omvattendheid van die gedekte onderwerpe te kry, is die artikeldiepte van nog groter waarde. Hier behaal die Afrikaanse Wikipedia 'n imponerende 40 punte, beter as dié van die Nederlandse wikipedia of tewens die meeste ander taalweergawes.

Die beskikbaarheid van Afrikaans op die web is beslis aan die groei, soos die vertaling van Google en Facebook se verbruikerskoppelvlakke na Afrikaans aandui. 'n Mens kan ook Afrikaans naas Engels as soektaal in Google instel, en sodoende resultate vir Afrikaanse soekterme ontvang. Baie van hierdie resultate sal dan ook afkomstig van die Afrikaanse Wikipedia wees.

Daar is dan ook sekere vakgebiede waar 'n Afrikaanse Wikipedia, weens die geografiese gebondenheid daarvan en die vertroudheid daarmee, 'n nis beter sal kan vul as enige ander taalweergawe. Dink maar aan die koddige dog dikwels beskrywende name vir Suider-Afrikaanse plante en diere, die Grootoog-stompneus, Poenskop, Piet-my-vrou, Langtoon, Janfiskaal en Jakobregop.

Geen ander Wikipedia sal ook soveel tyd en aandag aan die Afrikaanse taal- en letterkunde spandeer nie. Wil jy weet wanneer mens die woord 'wat' of 'wie' as voornaamwoord gebruik? Die Afrikaanse Wikipedia kan help.

Met skootrekenaars en tablette soos iPads, kan die Afrikaanse Wikipedia ook veel plesier vir 'n reisiger onderweg na sy bestemming verskaf. Daar is byvoorbeeld artikels oor al die hoofpaaie, en oor amper elke klein dorpie waarlangs hulle verbygaan. Maar belangriker as al die voorgenoemde, is die Afrikaanse Wikipedia geskik as 'n vrye en toeganklike naslaanbron vir skoolleerlinge en studente.

Die ontslape Afrikaanse sakereus Anton Rupert het opgemerk dat produkte wat op Afrikaanse sentimentaliteit staatmaak, maar nié die nodige kwaliteit verskaf nie, gewoonlik faal. Verbruikers soek kwaliteit eerste. Dieselfde geld vir 'n Afrikaanse ensiklopedie. Kom ons maak dit dus 'n wêreldklas, top-kwaliteit naslaanbron in die eerste instansie, en Afrikaans daarnaas. Sodoende sal alle Afrikaanssprekendes baatvind daarby.

-- JCBrand, 9 Februarie 2012‎
Vrygestel onder die Creative Commons Attribution-ShareAlike 3.0 License.

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Die verleiding van ons volkstrou

deur C.J. Langenhoven; Wo, 20 Junie 2018 08:46

DIE VERLEIDING VAN ONS VOLKSTROU

Skeur jou los van jou eie nasie af en verwonder jou dat die ander nasies nie oormekaar val om jou in te neem nie.

Ons het nie hier plek vir politieke diskussies nie. Maar 'n mens moet jou voorbeelde in jou eie omgewing soek, sodat die skrywer mag weet waarvan hy skryf en die leser verstaan wat hy lees. Ons Afrikaners het meer aanleiding om renegate te word as enige andere nasie onder die son. Ons volk woon meeste op die platteland en die ander ras wat tussen ons woon meeste in die dorpe en stede. Wat die inwendige karakter betref, kan jy in vele opsigte aan die platteland die voorkeur gee. Daar is minder roekeloosheid, minder wellus, minder gewinsoekery, minder mode-nastrewery, minder konkurensie-naywer; meer liefderykheid. Maar in uiterlike opsigte is die voorregte van die stadbewoner onbetwisbaar. Die kuns en wetenskap is tot sy beskikking; al die hulpbronne van geleerdheid en kultuur is in sy onmiddellike bereik; hy kom in aanraking met die hoogste produkte van die beskawing; hy is beter gewas en gekam en gekleed; sy geesteskring is ruimer, sy taal verhewener. En die uiterlike skyn het die neiging om die buiteman aan te trek, om die dorpsman as 'n meerdere te beskou.

Dan weer, die spreektaal van ons volk het nog geen literatuur nie: hy geniet nie eens die eer van Staat of Kerk of Skool·erkentenis nie.(*) Dit noodsaak alweer 'n gevoel van minderwaardigheid - van minagting van die eie en verering van die vreemde - afgesien van die aanlokkelikheid van die fyne wêreldstaal aan die ander kant en sy invloed op die gedagtetrant en standpunt van diegene van ons wat hom lees omdat dié tot nog toe skrale voortbrengsels van hulle eie nie aan hulle verstandelike behoeftes kan voldoen nie.

Daarom by die prysenswaardige strewe om oor te neem al wat beste is van die ander kant, is daar die gevaar dat ons deur snobbery op al wat edel aan ons kant is neersien; dat ons deur aanhoudende na-apery ons vir nagemaakte Engelse aanstel. Ongelukkig, ons sal maar nagemaak wees. Ons kan ál ons ou volksgewoontes, die beste met die slegste, weggooi; ons kan ons by die vreemde kerk aansluit; maar die nuwe kring waaronder ons inkruip sal nie deur die namaaksel bedroë word nie. Hulle sal ons verag omdat ons, in die éen opsig waar ons ons minder gewaan het, ons minderheid behou. Die donkie had sy eer totdat hy die leeuvel omgesit het: toe was hy veragtelik. Maar wat sou jy van 'n donkie dink wat 'n ander donkievel aantrek? En wat sou jy van 'n leeu dink wat 'n donkievel aantrek? Maar diegene wat lostrek van ons af is nie die leeus onder ons nie, en dié wat vir hulle verwelkom is nie die leeus onder die ander ras nie.

---

(*) Ek laat hierdie staan soos hy oorspronklik geskryf is in 1914. Maar ons het in agt jaar meer gevorder as ander nasies in taggentig. (Voetnota deur C.J. Langenhoven by herpublikasie van die oorspronklike werk).

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Die toets van ons raadsliede

deur C.J. Langenhoven; Di, 19 Junie 2018 06:58

DIE TOETS VAN ONS RAADSLIEDE

Maak staat op die raad van die man wat twyfel of dit reg is: die man wat nie twyfel nie het die saak maar van één kant af beskou.

Want twyfel is die vrug van versigtigheid, en versigtigheid is die vrug van ervaring. Daarom is 'n jonge man so heethoofdig en eiesinnig omdat hy so seker is van homself. Hy kan nie verstaan dat daar mense so dwaas kan wees om van hom te verskil nie: en tog in der waarheid die punte wat hy raaksien, en wat vir hom so oortuigend is, dié het hulle ook raakgesien - maar hulle het daarby verby gekyk en daarvandaan verder ander gesien wat hy nog nie by gekom het nie. Die knapste en ervarenste wetsgeleerde wat jy by raad soek sal sê: "ek is half geneig om te dink dat jy dit kan waag om aan te gaan met die saak." Die onkundige sal sê: "Dons op, jong, jy kan dit nooit in der ewigheid verloor nie."

Dit kos 'n geoefende denker om sy opienie in die balans te hou, en dit nie eenkant of anderkant toe te laat oorhel omdat sy informasie onvolledig is of omdat hy dit nog nie degelik gesif het nie. Die oefening wat hom daartoe bring is sy ondervinding van die baie kere wat hy al in die verlede sy kop gestamp het deur alte hals-oorkop na 'n gevolgtrekking te spring. Dit is juis hy wat voel dat daar bitterlik min vraagstukke in die wêreld is waar hy alles van weet aan albei kante wat daar te weet is en wat hy dus volkome bevoeg is om te oordeel. Eieversekering is nie 'n kenmerk van kennis nie maar van onkunde.

Die man wie se raad jy eintlik nodig het is dié wat beide jou standpunt begryp en die van jou teëparty. As hy maar net jou kant van die saak sien, dan is hy oorbodig want niemand in die wye wêreld kan mos nie so goed sien as jyself nie. As hy net jou teëparty se kant sien, dan kan by jou teëparty gelyk gee of hy ongelyk het of nie. As hy albei kante geweeg het, dan sal hy twyfel: óf die vraagstuk moet so eenvoudig wees dat jy dit by jouself moes uitgemaak het sonder om raad te vra.

Maar hoé 'n goeie karaktertrek dit by 'n wysgeer of 'n raadgewer mag wees: in die praktiese lewe betaal so 'n onbeslistheid nie. Jy moet aan ieder 'n saak soveel verstand en ondersoek bestee as jy redelik tyd voor het: en dan moet jy 'n koers kies. Dit help nie om jou span osse by die uitdraai paaie te laat lê en vrek van die dors terwyl jy beraadslaag watter van die twee paaie die eerste by 'n dam verby gaan nie. Wees twyfelagtig in jou dink, vasberade in jou doen.

-- C.J. Langenhoven

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Die kortkom van ons versigtigheid

deur C.J. Langenhoven; Ma, 18 Junie 2018 05:48

DIE KORTKOM VAN ONS VERSIGTIGHEID

Die mooi weer sal jou nie beskadig omdat jy jou jas en sambreel verniet saamgeneem het nie.

Daar is mense wat so uiters versigtig is dat hulle nie hulle versigtigheid verniet wil vermors nie. As die weer bewolk is wanneer hulle van die huis af gaan dan doen hulle meer moeite om op te kyk hemel-toe en die opinie van die bure te verneem en die almanak te raadpleeg omtrent die toestand van die maansveranderinge, as wat dit hulle sou gekos het om maar die klein jong die sambreel op die kar te laat sit. Ek het nie diewe in my huis nie. Ek hoef eintlik maar net my brandkas - pure papiere leser: moenie jou strooi-skuldenaar stuur om 'n ander krediteur in jou plek te kry nie - ek sê ek hoef maar net my safe toe te sluit as ek weggaan van die huis af. Maar nou sluit ek hom al dae. Dis min moeite; die sleutel raak nie opsy nie; en daar is nie gevaar dat ek juis by die nodige geleentheid die toesluit sal vergeet nie.

Ons neem almal maatreëls vir ons gesondheid as ons eers die knak weg het. Dan loop ons met pluisies in die ore rond en rooi flennel onderbroeke: maar die sinkings en reumatiek kom van die jeugdige bloeidae toe ons met die nooi op die nat kweek gesit het. Ons eet nou pappies en ons drink soppies: maar die swak maag kom van die oordaad van ons gesonde lentetyd. Só sukkel ons ons ou lewe deur; ons vergeet dat gehoorsaamheid beter is as offerande; ons oortrek ons rekening op die liberale en weelderig-weldadige bank van die Natuur; en wanneer die onvermydelike bankrotskap volg, loop ons met 'n nukkerig-donkere bakkies rond om die Voorsienigheid te beskuldig van onregverdigheid.

Soos ons met ons liggaam maak, netso ook maak ons met ons siel. In ons onskuldige Paradys-dae wanneer ons karakter nog nie besmet is omdat hy nog nie met die ghries-teer in aanraking gekom het nie, voel ons so sterk en self-vertrouend dat die versoeking geen skrik vir ons het nie omdat ons voel dat hy ons wil nie kan baasraak nie. Die een klein stappie kan ons maar neem want ons weet ons kan weer omdraai. En dan naderhand moet die halfverdronke karakter sukkel om te swem omdat die frisse gesonde in die water in geloop het uit brawado. En wanneer ons tot onsselwe kom, moet ons verbroke liggaam en riempies-gelaste siel met verwyt wat bitterder is as die gal van die hel, terugsien op die grote kanse wat hy vermors het en die kleine wat nog oorbly deeskant die graf.

-- C.J. Langenhoven

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Die onsinnigheid van ons bluf

deur C.J. Langenhoven; So, 17 Junie 2018 10:11

DIE ONSINNIGHEID VAN ONS BLUF

Daar is honde wat maar net hoef te knor. Dit is dié wat reeds tevore gewys het dat hulle kan byt.

Vir die honde wat blaf hoef jy net te koets en na die grond te gryp al lê daar ook nie 'n klip rond so groot as 'n korreltjie sand nie: hulle vlie om, stert tussen die bene. Hulle wou jou met 'n ledige dreigement verskrik, en hulle word self bang vir jou dreigement wat nog lediger is. Shakespear sê jy moet oppas vir twis, maar as jy daarin is moet jy jou so gedra dat jou teëparty in die toekoms vir jou sal oppas; en die een woord van hom beteken meer as my hele bladsy. Jy moet nooit jammer wees vir die man wat jy mee baklei nie: as jy so goedhartig is gee dan liewer in aan sy onreg, en staan stil dat hy takel as jou mooipraat nie wil help nie: maar solank as jy terug-slaan, slaan seer. Bakleiery is van self so 'n slegte ding dat jy dit nie boonop nog sleg moet doen ook nie. Daar is 'n tyd om skiklik en redelik te wees: maar dit is vóór die geveg; en daar is 'n tyd om grootmoedig of vergéwensgesind te wees (na gelang van die uitslag) maar die tyd is ná die geveg. Daar is nie 'n ding in die wêreld wat dit meer die moeite werd is om goed te doen nie as baklei. Verloor só dat jy jou nie hoef te skaam nie, of win só dat jy nie more weer dieselfde moeite het nie. Die man wat die bekwaamste spook het die minste nodig om sy bekwaamheid aan die dag te lê.

Daar is 'n vorm van dobbelary met kaarte (ek weet nie hoe die speletjie gedryf word nie en selfs nie die naam nie. Ek dobbel nie, en ek gun my die roem om daaroor te spog omdat daar voldoende ander swart merke op my rekening is) - maar daar is 'n vorm van kaartspel waarby die kuns bestaan in wedersydse "bluf." Die soort "bluf" het ek ook opgemerk by die skikking van waterprosesse, en by die bie op grond-vendusies. Maar dit lyk altyd vir my 'n onnosele soort taktiek wat ewe goed op jou kan terugslaan as op jou vyand. Maak jou gereed om jou ultimatum op te volg en stuur hom dan. Anders moet jy straks mooipraat om jou handskoen weer terug te kry, en by 'n volgende geleentheid sal selfs jou mindere nie van hom notisie neem nie.

Daar is ouers wat hulle kinders heeldag waarsku en nooit straf nie. Hulle sou beter handel om die kinders liewer uitdrukkelik permissie te gee om kwaad te doen. Dan sou hulle ook maar die kwaad doen wat die ledige verbod hulle nou nie keer om te doen nie, maar hulle sou nie hulle respek verloor vir die ouers en vir die heiligheid van 'n gegewe woord nie.

-- C.J. Langenhoven

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Formatering van teks

Spesiale effekte met BBkode; Sa, 16 Junie 2018 08:24

Die meeste forums op die Internet gebruik BBkode (BBcode in Engels) om teks te formatteer. BBkode is spesiale instruksies wat in blokhakies in teks aangebring word om teks in vetdruk, skuinsdruk, ensovoorts aan te dui. BBkode is maklik om te gebruik en is ook veiliger as HTML-kode. Om teks byvoorbeeld in vetdruk (bold) aan te dui, sal mens die [b]-etiket gebruik, wat dan met 'n [/b]-etiket afgesluit word. Die teks tussen die twee etikette sal dan vet gedruk word.

Om die forum effektief te kan gebruik, is dit nodig om so 'n paar van die basiese etikette te bemeester.
Hier volg 'n paar maklike bbkode-etikette om u op dreef te kry:

Vetdruk
Tik: [b]vet teks[/b]
Vertoon: vet teks

Skuinsdruk
Tik: [i]kursiewe teks[/i]
Vertoon as: kursiewe teks

Onderstreep
Tik: [u]onderstreepte teks[/u]
Vertoon as: onderstreepte teks

Onderskrif
Tik: [sub]onderskrif[/sub]
Vertoon as: onderskrif

Boskrif
Tik: [sup]boskrif[/sup]
Vertoon as: boskrif

Gekleurde teks
Tik: [color=green]groen teks[/color]
Vertoon as: groen teks

Groter en kleiner teks
Tik: [size=4]groot teks[/size]
Vertoon as: groot teks

Etikette kan ook saam gebruik word.

Saamgestelde gebruik
Tik: [b][u][i][color=red][size=4][font=courier]Geformateerde teks[/font][/size][/color][/i][/u][/b]
Vertoon as: Geformateerde teks

Ons sal die pos met tyd uitbrei om meer BBkode-etikette te lys.

Kennisgewings | 3 kommentare

2018 FIFA Sokker-Wêreldbekerbeker

Vr, 15 Junie 2018 06:24

Die 21ste FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi het gister (14 Junie 2018) in Moskou afgeskop. President Vladimir Putin het die toernooi geopen waarna die openingswedstryd plaasgevind het.

Tydens hierdie wedstryd het Rusland vir Saoedi-Arabië met 5 doele teenoor 0 in die grond in gespeel. Die punte is aangeteken deur Yuri Gazinsky, Denis Cheryshev (x2), Artem Dzyuba en Aleksandr Golovin. Rusland se volgende wedstryd sal op 19 Junie teen Egipte in St Petersburg plaasvind.

Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan kon ongelukkig nie vir die toernooi kwalifiseer nie en neem gevolglik nie deel nie.

Die VSA, Kanada en Meksiko is die dag tevore gesamentlik as die gashere van die 2026-Wêreldbekertoernooi aangewys.

Zazdarovje!

Sport & ontspanning | 1 kommentaar

Bladsye (1952): [ «    5  6  7  8  9  10  11  12  13  14  15  16  17  18  19  20    »]
Tyd nou: Ma Jan 21 12:09:27 UTC 2019