Supertaal
Waarin ons vriendelik en gesellig saam kuier!

Suid-Afrika se nuwe dinosourus

Ledumahadi mafube; Do, 04 Oktober 2018 06:33

/fa/36/0/ 'n Nuwe eg Suid-Afrikaanse dinosourus is in die Vrystaat ontdek. Die gedierte heet "Ledumahadi mafube" en het sowat 200 miljoen jaar gelede in die gebied rondom Clarens voorgekom. Dit het 12 ton geweeg, met 'n lang nek, lang stert en 'n skofhoogte van 4 meter. Dit was die grootste landdier van sy tyd, omtrent twee keer so groot soos 'n hedendaagse Afrika-olifant.

Die spesie is verwant aan die souropodes (dinosourusse met lang nekke en sterte, maar klein koppe en dik, bonkige bene), wat die bekende Brontosaurus insluit. In 'n sekere sin kan mens aan hulle dink as daai tyd se koeie wat in die veld gewei en smaaklike plante verorber het. Hulle het egter dik pote soos moderne olifante gehad, hoewel die voorpote meer gebuig (gehurk) was. Dit is belangrik omdat dit die oorgang van tweepotige na vierpotige souropodes verteenwoordig.

Die naam, Ledumahadi mafube is Suid-Sotho vir "reusedonderslag teen dagbreek". Die eerste deel, "Ledumahadi" beteken "groot donderslag" en die tweede deel, "mafube" is die eerste lig net voor sonop.

Navorsing oor die dinosourus is op 27 September 2018 aangekondig deur Jonah Choiniere (Wits), Jennifer Botha-Brink (Suid-Afrikaanse Nasionale Museum in Bloemfontein) en Emese Bordy (Universiteit van Kaapstad). Hulle het dié nuwe spesie van van 'n enkele, onvolledige skelet wat opgegrawe is beskryf.

Aangeheg is 'n rekonstruksie van hoe Ledumahadi mafube moontlik kon lyk, met nog 'n Suid-Afrikaanse dinosourus, Heterodontosaurus tucki, op die voorgrond. Krediet: Viktor Radermacher.

Nuus | 0 kommentare

ANC verloor hul webtuiste

Sa, 29 September 2018 09:36

Dis toe nie 'n grap nie, die ANC het so waarlik nie vir hulle webwerf betaal nie. Besoekers word begroet met: "This website is Suspended due to non-payment to the service provider" (Hierdie webwerf is opgeskort weens nie-betaling aan die diensverskaffer). Volgens die verskaffer is die ANC R32,5 miljoen aan hulle verskuldig. R32½ miljoen!

Jy kan jou indink tot wat se komiese kommentare dit gelei het, onder andere: "As die #ANC nie die http://anc.org.za webwerf kan bestuur nie, hoe kan ons hulle vertrou om die land te bestuur? Hulle moet weet dat jy nie 'n webwerf kan onteien sonder vergoeding nie." [Kallie Kriel]

Die diensverskaffer, Unwembi, se prokureurs het blykbaar beveel dat dienste weerhou word totdat die geld betaal is. Daarteenoor beweer die ANC dat hulle besig is om die webwerf op te knap en dat hulle nie 'n kontrak met Unwembi het nie. Verdere inligting is beskikbaar op timeslive.co.za.

En hier is die bewys:
/fa/35/0/

Nuus | 1 kommentaar

Nou gaan ons braai!

Ma, 24 September 2018 06:05

/fa/34/0/Ek hoop almal van julle gaan vandag soos bekeerde vegetariërs vleis by 'n braai nuttig. As jy nie na 'n braai genooi is nie, maak jou eie vuurtjie en nooi iemand oor. Selfs 'n braaitjie op jou eie kan besonder terapeuties wees.

So bietjie geskiedenis:

Vandag is Nasionale Erfenisdag, 'n publieke vakansiedag wat jaarliks op 24 September in Suid-Afrika gevier word. Voor 1994 was dié dag as Shakadag bekend, waartydens Zoeloes hulle koning herdenk het. Ná demokrasie-wording is dit omskep in 'n dag waarop alle kulture hulle eie erfenis kan herdenk. Dit het egter gou as Braaidag bekend geraak.

Braaidag is vir die eerste keer in 2005 deur die Mzansi Braai-instituut georganiseer, en vanaf 2008 is dit deur Jan Braai onder die vaandel van Braai vir Erfenis (Braai4Heritage), 'n nie-winsbejag inisiatief, bemark. Op 5 September 2007 is aartsbiskop Desmond Tutu as die "beskermheer" van die dag aangestel. Die inisiatief het selfs in 2008 die amptelike goedkeuring van Suid-Afrika se Nasionale Erfenisraad ontvang.

Alle Suid-Afrikaners wêreldwyd word aangemoedig om op die dag hulle vure aan te steek en iets te rooster. Die dag gedenk Suid-Afrika sy ryk erfenis en sy unieke tydverdryf, die braai. Mense van alle demografiese groepe en godsdienste neem hieraan deel.

Nou gaan ons braai!

Nuus | 0 kommentare

"Toe die wêreld nog jonk was" deur A.G. Visser

Vr, 21 September 2018 06:14

/fa/32/0/TOE DIE WÊRELD NOG JONK WAS (A.G. Visser)

"In dié dae was die reuse op die aarde...
die manne van naam." Gen. 6:4.

Kort anderkant Jerusalem
daar het gewoon Metusalem,
die man wat hul - dit sal jy sien
vermenigvuldig het by tien!
Hy was g'n vier jaar in die land
toe kry hy al sy eerste tand;
by tien jaar kruip hy oral rond,
'n flinke knapie en gesond:
toe rol hy al, en val en woel
en staan hy op teen elke stoel.
Nog skaars was hy 'n jaar of elf
toe stap klein Lemmie al vanself.
So groei hy op tot sestig jaar;
die eerste wisseltand was daar;
en volgens landswet ry "oom Kool"
op ou Behémot na die skool,
sy vaders trots, sy moeders vreugd',
Met Step by Step en Trap der Jeugd
in Hoog-Galdeeus en Aramees,
want almal moes tweetalig wees.
't Was goed en wel, maar alte vaak
het dié twee "opgemix" geraak.
Hy leer; en voor hy honderd was,
staan hy al eerste in sy klas!
Op honderd-sestig moes meneer
sy melkbaard al begin te skeer;
Tien jaar daarna al katkiseer
en Hellembroek - die dubb'le - leer;
nog tien jaar toe begin hy al
'n mooi klein nooientje lastig val.
Verniet dat Vader loop en brom:
"Kniehalter-span sal ek vir hom!
'n Bog van honderd-tagtig jaar
praat al van trou - so wrintie waar.
Maar styf sal hy sy rieme loop -
hy dink glo trou is kémel koop!"
"Kind," sê sy ma, "daar's baie tyd -
waarvoor die grote haastigheid?"
Maar wat, die snuiter was getroud
skaars honderd-ses-en-tagtig oud.
En soos dit in die huwelik gaan,
sy huisgesin groei stadigaan:
So elke dertig, veertig jaar
is weer 'n nuwe outjie daar.
So word met dat die eeue rol,
ook mettertyd sy koker vol -
'n pure man Metusalem,
die Raadslid vir Jerusalem!
Hy tem die woeste Dinosour
en skiet die wolhaar Brontosour;
en van sy vel maak hy 'n jassie
vir klein Mahérskalálgasbassie.
Maar klein Kedorlaomertjie
en lief Kirjatjaromertjie,
Die tweelingboetie en sy sussie,
kry elk 'n hippopotamussie.
Tiglatpileser, die parmant,
Wil niks hê as 'n olifant;
maar Hammoerabie huil en sê
hy wil 'n wit harnoster hê.
En klein Metusalem verlang
Pa moet vir hom 'n walvis vang.
"Habbakukkiena, bly tog stil!"
"Ag, Ma, hul vat my krokodil!"
Maar Gog-Magog met breë bors
Eet soet sy leviatanwors.
Ja, glimlag moes die moeder wel
by dié verteed'rend kinderspel:
Hoedat - dis om jou hart te steel -
die kleinspan met hul diertjies speel!
So leef hy voort en doen sy plig
tot sewehonderd-sewentig,
Toe sê hy: "Kinders, nou gaan ek
my aan die boerdery onttrek.
Voor nog 'n honderd jaar verloop,
sal ek vir my 'n bril moet koop.
Die paar ou eeutjies wat ek nog
hier op die aarde lewe mog,
wil ek gaan rus van al my werk.
My dorpshuis staan vlak by die kerk;
die dokter en die predikant
is albei sommer byderhand.
Hou as ek weg van julle woon,
my kinders, julle paadjies skoon:
Pas op vir borgstaan en krediet,
vir Israel- en Ismaeliet.
Behou die grond, kaart en transport;
betaal kontant: die lewe is kort,
'n droom - en voor 'n mens gewaar,
dan is die ouderdom reeds daar.
My lewe is - so skyn dit my -
soos 'n gedagte snel verby!
My dogters, luister tog vir Pa:
Volg nie die nuwe modes na;
't Word alles korter - liewe land!
die rok, die hare en verstand.
Dit dans, dit rook - dis om te ween.
In hemelsnaam! Waar moet dit heen?
Ligsinnigheid wat my verstom -
vanslewe was dit andersom."

En so verslyt Metusalem,
sy oudag op Jerusalem,
en drink en rook op sy gemak
sy koffie en sy pyp tabak.
So sit en peins hy menigmaal:
"Die duisendtal sal ek nooit haal.
Ek het ook soveel knoue weg
in wilde-mens- en diergeveg,
en sware koue in die nat
vierhonderd jaar gelee gevat.
'k Onthou nog goed die groot kapok -
die sneeu tot aan die huis se nok."

Op nege-sewentig-min-een,
sy tydjie om, was hy daarheen;
en niemand wis of dag daaraan
'n wêreldrekord was geslaan.
Die feit is daar: Van toe tot nou
Het hy die langste aangehou!

Prosa & poësie | 0 kommentare

Dagga nou wettig

Wo, 19 September 2018 05:58

/fa/29/0/Die Konstitusionele Hof het die privaat gebruik van dagga gewettig deur 'n vroeëre bevinding van die Wes-Kaapse hooggeregshof te bekragtig. Hierdie uitspraak is op 18 September 2018 deur adjunk hoofregter Raymond Zondo gemaak. Die hof het eenparig beslis dat volwassenes die grondwetlike reg het om dagga in hul privaatheid te kweek en te nuttig.

Die hof het verder bevind dat die Wet op Dwelms en Dwelmhandel en die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Stowwe strydig is met mense se grondwetlike reg op privaatheid. Die Parlement is gevra om dié betrokke wette binne twee jaar te wysig. Daar word verwag dat persone wat tans tronkstraf vir die besit van dagga uitdien binnekort vrygelaat sal word.

Soos te wagte het dit 'n storm op sosiale media veroorsaak. Die gebruik van dagga as geneesmiddel deur siek mense is natuurlik geregverdig (soos vir rumatiek, epilepsie en kanker). Daarteenoor kan dit tot groter wetteloosheid lei in 'n land waar misdaad reeds buite beheer is.

Interessant genoeg het die hof mediese studies aanvaar wat aantoon dat alkohol meer skade as dagga aanrig en dat daar min bewyse is dat die kriminalisering van dagga die skadelike gebruik daarvan sal verminder. Ons kan maar net hoop dat die mense weet waarvan hulle praat...

Nuus | 1 kommentaar

Jannie en Sannie bad saam

Di, 18 September 2018 06:14

Sannie en Jannie bad saam:

Sannie: Jannie hoekom is joune so lank?

Jannie: Want liewe Jesus het myne uitgetrek en joune ingedruk!

Sannie: Jis, hy moes dit baie hard getrek het! Tot jou niertjies hang uit!

Humor & grappe | 0 kommentare

"Mediese ondersoek" deur Ernst van Heerden

Ma, 17 September 2018 06:37

MEDIESE ONDERSOEK
deur Ernst van Heerden (1916-1997)

Trek uit die maskerade-pak
en gooi dit op die vloer!:
'n uniform sal knapper pas
en die nooiens vir my loer.

"Dokter, jou eter-hand is koud soos ys,
jou stetoskoop is koud,
en jy tik al oor my ribbekas
en jy tok ook langs my boud."

Sy hand skryn bitter deur my vel
en skroei so ver hy voel,
hy teken kruisies soos hy tik:
teikens vir die koeël.

Prosa & poësie | 0 kommentare

Jakkepoef en die Valies

'n Suidwes Visvangstorie; So, 16 September 2018 17:50

Pa het dit 'n gemors genoem. Maar dis net oorlat pa nooit gevloek het nie. Ma het dit 'n properliese str.ntspul genoem. Nie dat ma gevloek het nie, maar dit was seker die raakste beskrywing van wat dit was.

"Dit" is nou wat gebeur het daardie jaar by Jakkalsputz. Daardie jare nog was Jakkalsputz 'n nie-amptelike, nie-afgebakende, informele kampeerplek so ent voor Hentiesbaai. Sy naam het hy seker verkry van die enkele gate brakwater wat gedien het as drinkplek vir die jakkalse.

Weens die feit dat die plek so informeel was, was daar dan nou ook niks anders behalwe die vis in die see, en witmossels en krefies daar by Solitude nie. Varswater is aangery van Henties af en kos is op die vuur of met gas voorberei. Maar weens die feit dat daardie water en kos mettertyd kan deursak moes daar 'n lewwie (toilet) geprakseer word, veral ter wille van ma. So sou daar dan nou oor 'n Desembermaand 'n ry tente en karavane staan langs die strand. Bietjie dieper land in en wind-af sou daar dan 'n ry selfgeboude lewwies staan. Hierdie lewwies kon enigiets wees van 'n asbes "maantuig" tot 'n mankoliekige vier besemstokke met 'n seiltjie om.

Net soos Pa nie gevloek het nie, het hy ook geen dds (doen dit self) talente ontvang nie, en daai mankoliekige lewwie van 4 besemstokke met die seiltjie om, ... hy was ons s'n gewees. Van buite was hy mankoliekig, maar binne was dit 'n nagmerrie gewees: 'n Ou blikemmer met 2 los plankies wat jy sou "verstel" om by jou anatomie se grootte te pas. Dit was ons lewwie gewees. Hy het selfs 'n naam gehad, "Jakkepoef". Die Jakke is afgelei van Jakkalsputz en die res is redelik selfverklarend.

Om te verhoed dat dinge mag skeefloop by Jakkepoef was daar sekere reëls gewees ten opsigte van hom. Die reëls was eenvoudig. Pa en ons seuns mog nie daar gat fluit as dit moontlik was om dit in die natuur te doen nie. Na elke tien deponerings (pa se woord vir iets wat ma sommer prontuit noem) moes die emmer geledig word. Dit is diep woestyn in gedoen in 'n gat wat vir die doel gegrou moes word. Die lewwie se papier is deur ma uitgereik sodat sy kon boekhou van wanneer daar 'n tiende besoek was.

Met Jakkepoef, so tussen die "troon" en "skoonma" wind af, het die vakansie goed verloop. Maar ook net tot daardie een dag toe die kabeljou geloop het. Daai is ook een van die onverklaarbaarhede wat ek nie kan verstaan nie en wat pa in al sy wysheid nog nie kon verduidelik nie. Nie kabeljou wat loop nie, nee, die gebeur darem altyd as die wind vir twee dae noord waai, sê pa. Nee, die feit dat as daai kabeljou begin loop dan is daar skielik twee keer meer mense wat vang as wat kampeer. En niemand het hulle gegaan roep of haal nie, hulle is net ewe skielik daar solat jy later moet baklei vir jou plek waar jy elke dag vang. Een van daai's wat opdaag is 'n Transvaler. Ek weet want dis net hulle wat met koffiemeule sal visvang en daar was 'n annerster nommerplaat op sy Ford Grenada. Hy en sy girlfriend, ma het gesê dit moet sy girlfriend wees, want getroudes hang nie so aanmekaar nie. En selfs hy vang 'n kabeljou, koffiemeul en al.

Piepiekoud sê ma. En dit was koud daai dag. En so al asof sy ma gehoor het kom daai meisie van die Valie daar by ma aan waar ons sit en vis skoonmaak. Sy soek 'n lewwie sê sy, maar sy noem hom sommer 'n toilet. "Is dit net vir afwater," vra ma "of sal sy dalk ekstra papier benodig." Sy verduidelik skamerig dat sy eintlik die meer-papier-behoeftigheid het. Ma verduidelik haar na Jakkepoef toe en mompel iets agterna van darem so grênd lyk by die see.

Ek het gesien hoe ma die nege strepies deurtrek toe sy die papier aan die grênd girlfriend gegee het, en vat toe sommer die graaf om solank te gaan gat grawe vir die lediging. Dis nou een ding wat darem wragtag nie lekker is nie, om te loop gat grou as die kabeljou loop. Op pad na die gat toe, hoor ek eers die gil, en dog nogal ma moes haar seker gewaarsku het dat daai emmer bietjie balansering verg. Toe sien ek Jakkepoef kantel, eers daar na Solitude se kant toe en daarna weer na die suidpunt se kant toe, toe val hy en na 'n paar rukke is hy doodstil. Ek hol om te kyk of mog ek dalk help, maar dit was sommer gou duidelik dat ek sou kon help, maar die grênde girlfriend lê toe nou in so 'n posisie wat darem onwelvoeglik sou wees vir my om te sien. Maar dit waarin sy lê was 'n groter probleem, want daai emmer het omgeval en sy begeef haar binne in nege deponerings. Plat op haar rug. Ek kyk annerpad en sê sy moet net stil lê ek sal ma loop roep.

Ek loop roep ma wat net mompel dat dit 'n groot gemors moet wees, maar sy het haar woord gebruik, nie pa s'n nie. Op haar bevel gat noem ek die probleem aan die Valie. Ek en hy dra toe maar die badjie waarin ons vis skoonmaak vol seewater daar na Jakkepoef toe solat die girlfriend kan afwas.

Sy was kwaad. Dit kon ek aflei daar waar ek agter die gonnabos duintjie vir hulle gesit en beloer het.

Die Valie het Jakkepoef so paar tree regs weer maak staan. Dit het weliswaar beter gelyk as pa se poging en na daai dag het ons jakkepoef 'n nuwe naam gegee. Ons het hom Valie genoem.

-- Leon Langhare

Humor & grappe | 0 kommentare

"Voortplantingsnag" deur Peet Neethling

So, 16 September 2018 09:21

VOORTPLANTINGSNAG (AMPER) 1652
deur Peet Neethling (Die Hemel het 'n Agterdeur, Tafelberg)

Buite tjank 'n brak, Maria
Hoor hoe kraak die dak, Maria
Buite loei die wind, Maria
Hoor hoe huil die kind, Maria

Jan, my man, ek hoor die brak
Jan, my man, ek hoor die dak
Jan, my man, ek hoor die wind
Maar Jan, my man, daar is g'n kind

Dis juis die punt, Maria
Ons is mos gebind, Maria
om 'n volk te plant, Maria
In dié Suiderland, Maria

Glip dus uit jou kabaai, Maraai
Dat ons..

Jan, my man, my kop is seer

Verdomp! Al weer?

Prosa & poësie | 0 kommentare

"Slaap Nou My Prinsie" deur M.I. Murray en G.G. Cillié

Vr, 14 September 2018 20:20

SLAAP NOU MY PRINSIE

Slaap nou, my prinsie so klein; daglig het lankal verdwyn;
buitekant is dit al nag, moedertjie hou by jou wag.
Skapies en voëltjies rus, word deur die windjie gesus.
Slaap wyl die sterretjies skyn, slaap nou my prinsie so klein.
Doe-doe, doe-doe.

Wie's so tevrede soos jy? Wat jy wou het jy gekry;
maatjies het met jou kom speel, nooit het die tyd jou verveel.
Nou's jy versorg en gevoed, rustig en stil jou gemoed.
Wyl maan en sterretjies skyn, slaap voort, my prinsie so klein.
Doe-doe, doe-doe.

Dié lied staan ook bekend as die Mozart-wiegelied.

Woorde: M.I. MURRAY en G.G. CILLIÉ
Musiek: B. FLIES; verwerk: G.G. CILLIÉ

Prosa & poësie | 0 kommentare

Bladsye (1807): [ «    2  3  4  5  6  7  8  9  10  11  12  13  14  15  16  17    »]
Tyd nou: Wo Sep 18 05:21:27 UTC 2019