Gesellig Afrikaans
Waar ons vriendelik en gesellig saam kuier!

Dagga nou wettig

Wo, 19 September 2018 05:58

/fa/29/0/Die Konstitusionele Hof het die privaat gebruik van dagga gewettig deur 'n vroeëre bevinding van die Wes-Kaapse hooggeregshof te bekragtig. Hierdie uitspraak is op 18 September 2018 deur adjunk hoofregter Raymond Zondo gemaak. Die hof het eenparig beslis dat volwassenes die grondwetlike reg het om dagga in hul privaatheid te kweek en te nuttig.

Die hof het verder bevind dat die Wet op Dwelms en Dwelmhandel en die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Stowwe strydig is met mense se grondwetlike reg op privaatheid. Die Parlement is gevra om dié betrokke wette binne twee jaar te wysig. Daar word verwag dat persone wat tans tronkstraf vir die besit van dagga uitdien binnekort vrygelaat sal word.

Soos te wagte het dit 'n storm op sosiale media veroorsaak. Die gebruik van dagga as geneesmiddel deur siek mense is natuurlik geregverdig (soos vir rumatiek, epilepsie en kanker). Daarteenoor kan dit tot groter wetteloosheid lei in 'n land waar misdaad reeds buite beheer is.

Interessant genoeg het die hof mediese studies aanvaar wat aantoon dat alkohol meer skade as dagga aanrig en dat daar min bewyse is dat die kriminalisering van dagga die skadelike gebruik daarvan sal verminder. Ons kan maar net hoop dat die mense weet waarvan hulle praat...

Nuus | 1 kommentaar

Jannie en Sannie bad saam

Di, 18 September 2018 06:14

Sannie en Jannie bad saam:

Sannie: Jannie hoekom is joune so lank?

Jannie: Want liewe Jesus het myne uitgetrek en joune ingedruk!

Sannie: Jis, hy moes dit baie hard getrek het! Tot jou niertjies hang uit!

Humor & grappe | 0 kommentare

"Mediese ondersoek" deur Ernst van Heerden

Ma, 17 September 2018 06:37

MEDIESE ONDERSOEK
deur Ernst van Heerden (1916-1997)

Trek uit die maskerade-pak
en gooi dit op die vloer!:
'n uniform sal knapper pas
en die nooiens vir my loer.

"Dokter, jou eter-hand is koud soos ys,
jou stetoskoop is koud,
en jy tik al oor my ribbekas
en jy tok ook langs my boud."

Sy hand skryn bitter deur my vel
en skroei so ver hy voel,
hy teken kruisies soos hy tik:
teikens vir die koeël.

Prosa & poësie | 0 kommentare

Jakkepoef en die Valies

'n Suidwes Visvangstorie; So, 16 September 2018 17:50

Pa het dit 'n gemors genoem. Maar dis net oorlat pa nooit gevloek het nie. Ma het dit 'n properliese str.ntspul genoem. Nie dat ma gevloek het nie, maar dit was seker die raakste beskrywing van wat dit was.

"Dit" is nou wat gebeur het daardie jaar by Jakkalsputz. Daardie jare nog was Jakkalsputz 'n nie-amptelike, nie-afgebakende, informele kampeerplek so ent voor Hentiesbaai. Sy naam het hy seker verkry van die enkele gate brakwater wat gedien het as drinkplek vir die jakkalse.

Weens die feit dat die plek so informeel was, was daar dan nou ook niks anders behalwe die vis in die see, en witmossels en krefies daar by Solitude nie. Varswater is aangery van Henties af en kos is op die vuur of met gas voorberei. Maar weens die feit dat daardie water en kos mettertyd kan deursak moes daar 'n lewwie (toilet) geprakseer word, veral ter wille van ma. So sou daar dan nou oor 'n Desembermaand 'n ry tente en karavane staan langs die strand. Bietjie dieper land in en wind-af sou daar dan 'n ry selfgeboude lewwies staan. Hierdie lewwies kon enigiets wees van 'n asbes "maantuig" tot 'n mankoliekige vier besemstokke met 'n seiltjie om.

Net soos Pa nie gevloek het nie, het hy ook geen dds (doen dit self) talente ontvang nie, en daai mankoliekige lewwie van 4 besemstokke met die seiltjie om, ... hy was ons s'n gewees. Van buite was hy mankoliekig, maar binne was dit 'n nagmerrie gewees: 'n Ou blikemmer met 2 los plankies wat jy sou "verstel" om by jou anatomie se grootte te pas. Dit was ons lewwie gewees. Hy het selfs 'n naam gehad, "Jakkepoef". Die Jakke is afgelei van Jakkalsputz en die res is redelik selfverklarend.

Om te verhoed dat dinge mag skeefloop by Jakkepoef was daar sekere reëls gewees ten opsigte van hom. Die reëls was eenvoudig. Pa en ons seuns mog nie daar gat fluit as dit moontlik was om dit in die natuur te doen nie. Na elke tien deponerings (pa se woord vir iets wat ma sommer prontuit noem) moes die emmer geledig word. Dit is diep woestyn in gedoen in 'n gat wat vir die doel gegrou moes word. Die lewwie se papier is deur ma uitgereik sodat sy kon boekhou van wanneer daar 'n tiende besoek was.

Met Jakkepoef, so tussen die "troon" en "skoonma" wind af, het die vakansie goed verloop. Maar ook net tot daardie een dag toe die kabeljou geloop het. Daai is ook een van die onverklaarbaarhede wat ek nie kan verstaan nie en wat pa in al sy wysheid nog nie kon verduidelik nie. Nie kabeljou wat loop nie, nee, die gebeur darem altyd as die wind vir twee dae noord waai, sê pa. Nee, die feit dat as daai kabeljou begin loop dan is daar skielik twee keer meer mense wat vang as wat kampeer. En niemand het hulle gegaan roep of haal nie, hulle is net ewe skielik daar solat jy later moet baklei vir jou plek waar jy elke dag vang. Een van daai's wat opdaag is 'n Transvaler. Ek weet want dis net hulle wat met koffiemeule sal visvang en daar was 'n annerster nommerplaat op sy Ford Grenada. Hy en sy girlfriend, ma het gesê dit moet sy girlfriend wees, want getroudes hang nie so aanmekaar nie. En selfs hy vang 'n kabeljou, koffiemeul en al.

Piepiekoud sê ma. En dit was koud daai dag. En so al asof sy ma gehoor het kom daai meisie van die Valie daar by ma aan waar ons sit en vis skoonmaak. Sy soek 'n lewwie sê sy, maar sy noem hom sommer 'n toilet. "Is dit net vir afwater," vra ma "of sal sy dalk ekstra papier benodig." Sy verduidelik skamerig dat sy eintlik die meer-papier-behoeftigheid het. Ma verduidelik haar na Jakkepoef toe en mompel iets agterna van darem so grênd lyk by die see.

Ek het gesien hoe ma die nege strepies deurtrek toe sy die papier aan die grênd girlfriend gegee het, en vat toe sommer die graaf om solank te gaan gat grawe vir die lediging. Dis nou een ding wat darem wragtag nie lekker is nie, om te loop gat grou as die kabeljou loop. Op pad na die gat toe, hoor ek eers die gil, en dog nogal ma moes haar seker gewaarsku het dat daai emmer bietjie balansering verg. Toe sien ek Jakkepoef kantel, eers daar na Solitude se kant toe en daarna weer na die suidpunt se kant toe, toe val hy en na 'n paar rukke is hy doodstil. Ek hol om te kyk of mog ek dalk help, maar dit was sommer gou duidelik dat ek sou kon help, maar die grênde girlfriend lê toe nou in so 'n posisie wat darem onwelvoeglik sou wees vir my om te sien. Maar dit waarin sy lê was 'n groter probleem, want daai emmer het omgeval en sy begeef haar binne in nege deponerings. Plat op haar rug. Ek kyk annerpad en sê sy moet net stil lê ek sal ma loop roep.

Ek loop roep ma wat net mompel dat dit 'n groot gemors moet wees, maar sy het haar woord gebruik, nie pa s'n nie. Op haar bevel gat noem ek die probleem aan die Valie. Ek en hy dra toe maar die badjie waarin ons vis skoonmaak vol seewater daar na Jakkepoef toe solat die girlfriend kan afwas.

Sy was kwaad. Dit kon ek aflei daar waar ek agter die gonnabos duintjie vir hulle gesit en beloer het.

Die Valie het Jakkepoef so paar tree regs weer maak staan. Dit het weliswaar beter gelyk as pa se poging en na daai dag het ons jakkepoef 'n nuwe naam gegee. Ons het hom Valie genoem.

-- Leon Langhare

Humor & grappe | 0 kommentare

"Voortplantingsnag" deur Peet Neethling

So, 16 September 2018 09:21

VOORTPLANTINGSNAG (AMPER) 1652
deur Peet Neethling (Die Hemel het 'n Agterdeur, Tafelberg)

Buite tjank 'n brak, Maria
Hoor hoe kraak die dak, Maria
Buite loei die wind, Maria
Hoor hoe huil die kind, Maria

Jan, my man, ek hoor die brak
Jan, my man, ek hoor die dak
Jan, my man, ek hoor die wind
Maar Jan, my man, daar is g'n kind

Dis juis die punt, Maria
Ons is mos gebind, Maria
om 'n volk te plant, Maria
In dié Suiderland, Maria

Glip dus uit jou kabaai, Maraai
Dat ons..

Jan, my man, my kop is seer

Verdomp! Al weer?

Prosa & poësie | 0 kommentare

"Slaap Nou My Prinsie" deur M.I. Murray en G.G. Cillié

Vr, 14 September 2018 20:20

SLAAP NOU MY PRINSIE

Slaap nou, my prinsie so klein; daglig het lankal verdwyn;
buitekant is dit al nag, moedertjie hou by jou wag.
Skapies en voëltjies rus, word deur die windjie gesus.
Slaap wyl die sterretjies skyn, slaap nou my prinsie so klein.
Doe-doe, doe-doe.

Wie's so tevrede soos jy? Wat jy wou het jy gekry;
maatjies het met jou kom speel, nooit het die tyd jou verveel.
Nou's jy versorg en gevoed, rustig en stil jou gemoed.
Wyl maan en sterretjies skyn, slaap voort, my prinsie so klein.
Doe-doe, doe-doe.

Dié lied staan ook bekend as die Mozart-wiegelied.

Woorde: M.I. MURRAY en G.G. CILLIÉ
Musiek: B. FLIES; verwerk: G.G. CILLIÉ

Prosa & poësie | 0 kommentare

So 'n bietjie sielkunde...

Di, 11 September 2018 18:59

'n Man gaan kuier saam met sy pêlle. Sy vrou is woedend en sê vir die kinders om nie vir hulle pa oop te maak as hy later vanaand huistoe kom nie. So 1 uur die oggend klop hy aan die deur en vra dat sy vrou moet oopmaak, hy wil inkom.

Vrou: "Voertsek tot waar jy vandaan kom en loop vrek daar! Jy sit nie jou pote in hierdie huis nie!"

Man: "Nee my liefie, ek's nie hier om te slaap nie, ek soek net daai R200 in my kas om nog verder te gaan kuier, dis 'n moerse lekker partytjie".

Die vrou maak die deur oop en gryp hom aan sy hemp, "Jou GAT! Jy kom NOU in hierdie huis in en klim in die bed!"

Humor & grappe | 1 kommentaar

"Ag, sy het nie gesterwe nie" deur Totius

Ma, 10 September 2018 18:20

"Ag, sy het nie gesterwe nie" is 'n hartroerende gedig wat Prof J.D. du Toit (aka Totius) geskryf het nadat sy oudste dogtertjie deur weerlig doodgeslaan is.

Ag, sy het nie gesterwe nie

ag, sy het nie gesterwe,
maar sy was sommer dood:
geen siekte en lange lyding:
geen uur van voorbereiding:
geen dr met die tyding:
net 1, 1 onweerskoot
en sy was dood.

hoe het ons arme seuntjie
gekwyn tot in die dood:
vooraf die lange lyding,
daarna die wrede skeiding,
en dan, dit was my hart te groot!
en dan sy dood.

maar bitterder as bitter
die plotsheid van haar nood:
'n vonkvuur blits die tyding:
'n straalpyl bring die lyding:
'n skrikroep is die skeiding:
en sy het nie gesterwe,
maar sy was sommer dood.

Prosa & poësie | 0 kommentare

SA in tegniese resessie

So, 09 September 2018 15:17

Volgens die jongste statistiek is Suid-Afrika "tegnies" in 'n resessie. Die land se groeikoers het in die tweede kwartaal van 2018 met 0.7% afgeneem, na 'n inkrimping van 2,3% in die eerste kwartaal. 'n Tegniese resessie ontstaan as die ekonomie vir twee agtereenvolgende kwartale negatief groei.

Die ekonoom Chris Hart het getweet: "As Suid-Afrika sedert 2010 die gemiddelde groeikoers van Sub-Sahara en sy eweknieë in die ontluikende markte kon handhaaf, die ekonomie vandag sowat R1 miljard groter sou wees. Dit is self-veroorsaak deur oorbelasting, oorregulering en weghol-korrupsie."

Selfs Dawie Roodt het gewaarsku: "Alle Suid-Afrikaners behoort baie, baie bekommerd te wees." Hy raai selfs mense aan om in veiliger plekke as Suid-Afrika te belê.

Volgens pres. Ramaphosa sal die regering in die komende dae 'n plan van aksie bekendmaak. Hy het die publiek gemaan om nie moed te verloor nie en dat alle lande deur siklusse met op- en afwaartse fases gaan. Die ingryping om verhogings in brandstofpryse te absorbeer is een van hierdie maatreëls.

Die regering se uitspraak dat "mens grond aan mense kan gee op 'n manier wat werkskepping sal bevorder en die ekonomie laat groei" laat mens egter wonder of hulle weet hoe 'n ekonomie werk. En, vanoggend in die Rapport: "Grondpryse val 32%".

Laat ons maar eerder nie oor die Rand se swak vertoning praat nie...

Ekonomie & geldsake | 0 kommentare

Strooimanne in die parlement?

So, 09 September 2018 07:48

Net laas week het ons gehoor hoe iemand in 'n Clicks-winkel van haar mandjie praat, gevolg deur die onverwagte vraag: "Who do you call 'n monkey?". Die week verwys Ernst Roets na die strooiman-argument, en die reaksie, wag vir dit... "You can't call us strawmen!" (Mev. Madipoane Mothapo van die ANC).

So, net vir duidelikheid:

'n Strooimanargument (of strooipopargument) is 'n foutiewe debatstegniek waar 'n wanindruk omtrent 'n teenstander se argument geskep word. So 'n argument skep die indruk dat die teenstander se argument verslaan word deur sy stelling te vervang met 'n ander, maar nie ekwivalente stelling, wat dan as 'n valse argument bewys word.

Dit kom in die volgende patroon voor:

  • Persoon 1 maak stelling X
  • Persoon 2 argumenteer teen stelling Y, soortgelyk maar nie ekwivalent aan stelling X, asof dit is wat Persoon 1 eintlik gesê het.

So, wat se strooi is dit? Niemand sal tog durf om ons parlementariërs strooimanne of -vroue te noem nie!

Nuus | 0 kommentare

Bladsye (1952): [ «    1  2  3  4  5  6  7  8  9  10  11  12  13  14  15  16    »]
Tyd nou: Ma Jan 21 12:25:45 UTC 2019