Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

onkruid in my tuin

Do, 18 Augustus 2022 15:45

die winterson skyn weer
na ‘n paar dae van aanhoudende reën
en ek moet my na die beddings keer
om enige winterskade te herstel

ons inwonende kruipmol
het uit sy somerslaap ontwaak
en begin om die ganse tuin om te dol
op soek na iets wat sy maag kan vul

miljoene ontkiemende saadjies
breek die grond op soek na die hitte van die son
maar hulle is nie almal maatjies
en dit is waar die werklikheid my tref

party van hierdie plantjies is tuinplante
en baie ander is onkruid
maar al beskou ek hierdie idee van alle kante
is ek nie meer so seker oor wat moet bly en wat moet uit

want watter van hierdie plantjies is werklik onkruid
elkeen van hulle is immers deel van God se Skepping
so waarom moet die een dan bly en die ander uit
ek weet nie regtig nie en dit is my erkenning

dan verskyn die Skeppingsbeeld weer voor my
en besef ek dat God wou hê dat alle lewens in harmonie moes verkeer
daarom is daar nie werklik iets soos onkruid te kry
want dit is bloot ‘n idee wat in ons breins floreer

‘n onkruid is bloot daardie plantjie
wat op so ’n plek in ‘n bedding staan
waar ons dit nie kan toelaat om te groei
en wat daarom moet verwyder word daarvandaan

Prosa & poësie | 0 kommentare

14 jaar van demokrasie

Do, 18 Augustus 2022 15:44

nagswart wolkreuse is besig om saam te pak
(soos swartgetooide bestuurslede wat vir ‘n vergadering opdaag)
en blaarbelaaide boomtakke word woes rondgepluk
(soos drenkelingarms wat om hulp roep)

kamertemperatuur van net deuskant vriespunt
werk hard aan die verlaging van liggaamstemperatuur
terwyl dooie vingerpunte (nee, hulle lewe nog, want hulle pyn)
sukkel om die dinge waarheen bibberende arms hulle uitstoot raak te vat

en gevoellose voete kan nie meer krampende bene help
om die foddegeklede liggaam vorentoe te dra nie
na daar waar die swart ysterpot wydsbeen oor die binnenshuisvuurtjie staan
sodat water vir die gesin se aandete van mieliepap gekook kan word

Prosa & poësie | 0 kommentare

die skeidingsmuur

Do, 18 Augustus 2022 15:42

terwyl ek hier neffens die bruisende bergstroom sit
en luister na die pragtige melodie van die yskoue lewensvog
waar dit oor mosbedekte klip en houtstomp dans
kyk ek op na die blaarbedekte hemel
wat deur kragtige stamme in plek gehou word
soos hulle oormekaar slang
en hoor ek die suiwer klanke van gevleulde sang

vanuit die klam vloer van verrottende tak en blaar
kielie die sagte geur van plantontbinding
die gange van my neus
en word ek weggedra na presies dieselfde plek
in ‘n vreemde wêreld van baie lank gelee
ek ruik die diere wat eens hier kom suip en ontspan het
en hoor die pragtige klanke van die san se taal

ek staan verstom van verwondering
aan die boomreuse wat my hier omsingel
en besef dan dat hulle eintlik die verbinding is
tussen my sintetiese wêreld van vandag
en die vergete ryk wêreld van die san
omdat hulle juis hier geplant is
om die geel mense en die wit mense te skei

Prosa & poësie | 0 kommentare

ongetiteld

Do, 18 Augustus 2022 15:40

daar is baie dinge wat ek kan glo
party is waarneembaar
en ander is nie noodwendig so
daarom word ek ook nie maklik geskok
deur ‘n gebeurtenis of ‘n berig
daarvoor plaas ek my kop op die blok

maar tog net nie dit nie
moenie verwag dat ek hierdie nuus moet glo

iemand in die regering
het ‘n nuwe wet op die wetboek geplaas
wat alle honde sal laat sing
omdat hulle sterte nie meer afgekap mag word
en skuldige veeartse hul lisensies kan verloor
weens die pyn en lyding wat deur die afkap veroorsaak word

maar ek sou baie graag
die werklikheid van die volgende berig wou glo

wie in die regering
sal ‘n nuwe wet op die wetboek plaas
wat alle mense sal laat sing
omdat hulle lewens nie meer afgekap mag word
en skuldige misdadigers hul lewens kan verloor
weens die pyn en lyding wat deur die afkap veroorsaak word

Prosa & poësie | 0 kommentare

die gawe van lewe

Do, 18 Augustus 2022 15:37

die geblaf van ‘n hond op die agtergrond
en die gekrap van ‘n kat op die mat
is die manier om die breek van ‘n nuwe dag te vier
terwyl die voëltjies se gefluit sê klim uit
en lig jou kop want die son kom op
sodat jy kan kyk hoe jou dagtaak lyk

begin deur vir God te dank vir spys en drank
en die wonderlike nag voor hierdie nuwe dag
voordat jy jou dagtaak begin om te sorg vir jou gesin
want sonder Hom kan niks na vore kom
wat vir jou hierdie uur langer kan laat duur
en sê weer dankie as jy die wêreld in die oë kyk en sê dit is hoe ek lyk

ek is hier om hierdie dag saam met jou te vier
en te probeer om te keer
dat iets sal gebeur wat jou sal laat treur
omdat God dit van my verwag om jou elke dag
op so ‘n manier te onderskraag dat jy dit sal waag
om daardie mens te word met die liefde waarmee Hy jou omgord

Prosa & poësie | 0 kommentare

die gawe van sig

Do, 18 Augustus 2022 15:36

‘n wêreld van vorm en kleur
is vir die meeste van ons so deel van die lewe
dat ons ons nie werklik daaraan steur
totdat ons ons sig verloor
en elke oggend ons dag in algehele donkerte begin

begin die gawe van sig vir ons sin te maak
omdat ons weer soos ‘n kind moet leer
om al die verskillende struikelblokke baas te raak
sodat ons ook ander sonder sig kan help
om weer volle mens te wees en steeds die Skepping te kan geniet

Prosa & poësie | 0 kommentare

die gawe van gehoor

Do, 18 Augustus 2022 15:34

ek kan my nie indink
in hoe dit moet voel
om in ‘n wêreld sonder klank te moet lewe

‘n wêreld waar algehele stilte insink
te midde van die daaglikse gewoel
wat die planeet laat bewe

Prosa & poësie | 0 kommentare

my grootwordplek

Do, 18 Augustus 2022 15:33

vir elke mens is sy grootwordplek die beste
al is dit nou in die noorde, suide, ooste of weste
daarom sal my hart altyd in die groot karoo lê
want ongeag wat die meeste mense daarvan sê
loop daardie stuk leegte oor van spontane liefde

wanneer die kapok in die middel van die winter op die groot swartberge lê
sal jy steeds die warmte van gasvryheid en besorgdheid hê
wat die mense van daardie streek openbaar
teenoor elke lewende wese wat hulle gewaar
omdat dit vir hulle so spontaan soos asemhaling is

terwyl die somerhitte die aarde teen veertig grade skroei
sal jy vind dat daardie mense hulle bemoei
met die taak om koelte en lafenis aan alle wesens te bied
wat hulle pad mag kruis en dit is absoluut verniet
want vir hulle is dit deel van die rede om in die oggend op te staan

wat meer is daar wat ‘n mens wil hê
wat meer is daar wat ek kan sê
as baie, baie dankie Vader
vir die wonderlike voorreg om so ‘n grootwordplek te mag hê

Prosa & poësie | 0 kommentare

o Gog, help ons

Do, 18 Augustus 2022 15:31

o God help ons in hierdie steeds pragtige land
om die wil te hê om dit pragtig te hou
sodat ons kinders ook die mooi van u Skepping mag aanskou
en dit vir hul kroos kan bewaar
om eendag lank hierna te kan sê
“baie dankie God vir ‘n pragtige land”

o God help ons in hierdie eens veilige land
om die moed te hê om dit weer veilig te maak
sodat ons kinders ook die veiligheid van u Skepping mag smaak
voordat hulle nie meer hul eie kroos kan hê
om eendag lank hierna te kan sê
“baie dankie God vir ‘n veilige land”

Prosa & poësie | 0 kommentare

ek mis jou, pa

Do, 18 Augustus 2022 15:30

ek weet jy hou my dop van daar bo
om te sien hoe jou jongste sy lewe lei
maar pa ek mis jou so
ek weet nie altyd hoe om die dag om te kry
want jy sou my antwoorde op so baie vrae kon gee
vrae wat byna uurliks die rede vir die lewe
soos waasbeelde deur my breinkamers kom vee
en wat my liggaamlik van vrees laat bewe

omdat ek nie die antwoorde daarop ken
en jy nie meer daar is om my te help om hierdie stryd te wen

Prosa & poësie | 0 kommentare

Bladsye (1839): [ «    4  5  6  7  8  9  10  11  12  13  14  15  16  17  18  19    »]
Tyd nou: So Okt 27 11:00:09 MGT 2024