Geskryf volgens Febonacci se Goue Nommer; Do, 07 Julie 2022 21:09
Ek
Dier
Homo
Sapiens
Versigtig stap ek
Oor die veld op pad na die berg
Waar ek bessies pluk, wortels grawe en dassies jag
Ek het die hele dag tyd om kos te versamel, te eet en weer terug te stap
Na my grot teen die hang van die berg aan die anderkant van hierdie dorre veld waar ek ‘n vuurtjie aansteek om die dassies op te braai
Dis op een van hierdie kosversameltogte dat ek hoor hoe ‘n wildsbokkie rats tussen die bosse deur beweeg, maar altyd naby my bly kompleet asof hy my doelbewus agtervolg het, maar tog uit sig uit bly
Ek het soos elke ander dag voortgegaan met my soektog na stroopsoet bessies, sappige wortels en spekvet dassies en gemaak of ek onbewus was van die wildsbokkie wat tussen die bosse deur beweeg, alhoewel ek tog later begin wonder het hoe die wildsbokkie lyk en begin meedoen het aan die kat-en-muis-speletjie en jou gewaar
Ek het so groot geskrik, want ek was baie bang, bang ja omdat ek nog nooit iets so mooi soos jy, daar waar jy met jou lang swart hare en klein lendevelletjie aan voor my staan, gesien het nie, maar ook bang dat jy sou skrik en weg sou gaan en ek jou nooit weer sou kon vind, maar jy het getalm, ja lank genoeg getalm sodat ons oogkontak kon maak en ek kon besef dat ek alles in my vermoë moes doen om te verhoed dat jy sou besluit om om te draai en te vlug, maar ek het nie presies geweet hoe nie en dadelik die velsak met bessies na jou toe uit gehou
pen en papier
neem my na interessante plekke ver van hier
lank reeds vergete gehuggies in die binneland
steeds groeiende wêreldstede aan die kus
en onherbergsame duine woestynsand
lê almal op die roete van my parker-bus
pen en papier
verskaf my maandelange plesier
as ek reis na vreemde lande oor die groot oseaan
waar ek kennis maak met beskawings klein en groot
of meer leer oor my voorouers se bestaan
as ek na hul lande van herkoms seil met my parker-boot
pen en papier
neem my selfs ligjare ver van hier
op reise na melkweë ver anderkant die mens se begrip
waar ek lewens sien wat van hoë intelligensie getuig
ek laat nie die kleinste kosmiese detail my oog ontglip
terwyl ek tussen die konstellasies deur vlieg met my parker-tuig
sê my, ruimtebewoner
wat sien jy presies as jy daar voor jou komperskerm sit
en kyk na al die gebeure hier op planeet aarde
maak dit jou opgewonde om meer oor ons uit te vind
en dink jy trots aan ons as mede-ruimtebewoners
of vul dit jou met afsku om te kyk na die wreedheid
waarmee die mens elke vorm van lewe hier vernietig
en is jy dankbaar dat ons ligjare ver van jou is
is dit, ruimtebewoner
die rede waarom jy nog nooit met ons kontak kon maak
omdat ons soveel ligjare van jou verwyder is
en jy nog nie beskik oor ‘n tuig wat so ver kan reis
of het die doen-en-late van die mens jou so geskok
dat jy van sein verander wanneer jou kleintjies nader
voordat hul die mens kan na-aap om so ook jou wêreld
te verwoes deur ‘n kosmiese rommelhoop daarvan te maak
Vader, bewaar my vannag
hier waar ek lê en wag
op die breek van die nuwe dag
en skenk my asseblief die nodige krag
om alles te kan vermag
wat die nuwe dag
van my verwag
amen
wat ‘n pragtige dag
na ‘n wonderlike nag
Vader, skenk my tog die krag
om alles te kan vermag
wat hierdie nuwe dag
van my verwag
skenk my geduld as ek vir iemand wag
en as ek wil kwaad raak, hou my stemtoon sag
leer my om liewer vir myself as vir ander te lag
maar ‘n glimlag te deel eerder as om vir een te wag
maak my elke sekonde bewus van die Skepping se prag
en laat my nooit twyfel aan u Mag
amen
ek dank U my God vir die voorreg
om U juwele oor my pad te kon sien kom
hier waar ek as pasiënt aan ‘n hospitaalbed gekluister lê
hulle lyk van buite maar net soos gewone mense
want dit is tog presies wat hulle is
gewone mense elkeen met sy en haar eie kruis terug daar by die huis
wat hulle anders maak is daardie passie en empatie
wat so spontaan vanuit hul edelsteenharte na buite stroom
om so ons pyn te verlig en ons verblyf hier aangenaam te maak
doodmoeg en oorwerk
doen hulle dit met ‘n glimlag onder daardie masker
altyd op ‘n drafstap om betyds ‘n helpende hand uit te reik
dit is juweelmense soos hierdie
wat wys dat U werklik in beheer is
baie dankie dat ek ook ‘n blik
in U juweelkissie kon hê
ek wens ek kon die fanagalo van hondetale praat
sodat ek oor die hondetelevisie se nuuskanaal
elke hond in ukraïne kon bereik
om vir hulle te sê hoe oneindig diep my meegevoel met hulle lê
en hoe ek elke greintjie van hul skok, teleurstelling, vrees, afgryse en wantroue in die menseras deel
maar ook dat nie alle mense so is soos die spul wat hul land binnegeval het nie
van kleins af word honde geleer
om die mens te vertrou en sy beste vriend te word
om hom met sy lewe te beskerm en onvoorwaardelik lief te hê
maar nou het die mens vir hom,
sy sogenaamde beste vriend,
die wêreld onderstebo kom keer
deur alles van hom af weg te neem
op die mees onhondbare maniere ooit
hy het sy lieflingmaat verloor
hy het sy lieflinghuis verloor
hy het sy lieflingbed verloor
hy het sy lieflingkosbak verloor
hy het sy lieflingspeelding verloor