Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Silwer Surfers op die Internet

Wo, 20 Februarie 2019 06:04

Ons Silwer Surfers (ouer mense op die internet) het soms probleme met ons rekenaars.
Ek het gister 'n probleem gehad en toe skakel ek vir Janneman, die 11-jarige buurseun.
Janneman druk 'n paar knoppies en die probleem is opgelos.
So in die wegstap roep ek agter hom aan "so wat was fout?"
en hy antwoord dit was 'n ID-tien-T-fout!
Ek wou toe nie te dom lyk nie en vra maar nietemin:
  "'n ID-tien-T-fout? Wat is dit, ingeval ek nodig het om dit weer te gebruik?"
Janneman grinnik, "het oom nog nooit van ‘n ID-tien-T-fout gehoor nie?"
  "Nee", antwoord ek.
  "Skryf dit neer", sê hy, "ek dink oom sal dit wel snap."
So skryf ek dit toe neer: 'IDIOT.'
Om te dink ek het voorheen van die mannetjie gehou.

Humor & grappe | 2 kommentare

So ry die trein

Ma, 18 Februarie 2019 19:33

SO RY DIE TREIN

So ry die trein, so ry die trein,
die Kimberley se trein.
So ry die trein, so ry die trein,
die Kimberley se trein.
Hoor daar hoe stoom hy,
stoom hy, stoom hy,
opdraand en afdraand,
Kimberley se trein.

TRADISIONEEL (FAK)

Musiek & liriek | 0 kommentare

Saai die waatlemoen

Do, 14 Februarie 2019 20:10

Saai die waatlemoen, saai die waatlemoen,
saai die waatlemoen, saai die waatlemoen!

[koor]
My mamma roei in die skuitjie,
my pappa blaas ’n fluitjie,
my boetie draai die orreltjie,
saai die waatlemoen!

Pluk die die waatlemoen, pluk die die waatlemoen,
Pluk die die waatlemoen, pluk die die waatlemoen!

Eet die waatlemoen, eet die waatlemoen,
Eet die waatlemoen, eet die waatlemoen!

Spoeg die pitte uit, spoeg die pitte uit,
Spoeg die pitte uit, spoeg die pitte uit!

Saai die waatlemoen, pluk die die waatlemoen,
Eet die waatlemoen, spoeg die pitte uit!

WOORDE: TRADISIONEEL (FAK)

Musiek & liriek | 0 kommentare

Gatiep en Meraai by die opsitkers

Do, 14 Februarie 2019 19:10

Gatiep en Meraai het die aand so 'n bietjie opgesit in die voorhuis toe Gatiep begin liries raak:

"Meraai, my Meraai..." sê hy, "djou oë is soos druiwekorrels, djou neus soos 'n klein piesangtjie, djou lippies is so rooi soos 'n kersie, djou wangetjies lyk soos persketjies."

Toe sê Meraai: "Luister Gatiep, het djy kom vry, of wil djy fruit salad maak?"

Humor & grappe | 1 kommentaar

Beurtkrag

Blaameer vir Eskom; Ma, 11 Februarie 2019 19:01

Terug na olielampe.
Terug na olielampe.
As gevolg van beurtkrag (load shedding) sal mense vanaand weer vroeg kooi toe gaan. Oor 9 maande gaan ons babas met die volgende name kry:

Kers Grobler
Darkness Mapanga
Vroegslaap Jordaan
Blackout Dube
Generator van Zyl
Vlam van Rooyen
Paraffienlamp van Rensburg
Gasoline Smith
Pompie Primus
Sannie Everedy Visser
Flits Botha
Lampie Lampreghts
Kilowatt Koster
Kerswas van As
Donker Jonker
Gaslamp Aukamp
Vuurhoutjie van Vuuren
Spyker van der Merwe
Eskom Kleinbooi
Solar September

... en laaste maar nie die minste nie:
Nagskof van Niekerk!

Humor & grappe | 12 kommentare

Suinige Koos

Sa, 09 Februarie 2019 19:48

Oom Koos was baie suinig. En 'n bietjie skelm ook.
Dominee vra 'n bydrae vir die kerk. Oom Koos skryf 'n tjek vir R100 uit.
Dominee kom later, baie verleë, by oom Koos aan en sê die tjek het teruggekom, gemerk "Verwys na trekker (VT)."
Oom Koos sê hy is baie jammer en skryf weer ‘n tjek vir R100 uit.
Dominee bring weer die tjek, weer gemerk "VT."
Oom Koos sê: "Dominee, ek sê jou wat. Ek sal jou nie weer 'n tjek gee nie, ek gee jou drie skape."
"Baie dankie, Broer," sê Dominee.
Oom Koos vat die skape kerkbasaar toe waar die skape opgeveil word.
Oom Koos koop toe sommer self die skape - en betaal per tjek!

Humor & grappe | 0 kommentare

Aksent

Aksentkarakter; Do, 07 Februarie 2019 20:54

'n Aksentteken is 'n karakter wat aantoon dat 'n lettergreep of woord benadruk (beklemtoon) word, of om tussen betekenis en woordsoorte te onderskei. Daar is twee soorte:

Akuut-aksent (´)
'n Akuut-aksentteken is 'n diakritiese teken wat as 'n skuinsstrepie bo-op 'n letter (vokale) geplaas word. Die strepie loop van links na regs, laag na hoog. Dus lê dit vorentoe. Die akuutteken word gebruik om betekenis en woordsoorte te onderskei of om woorde te beklemtoon.

Hoofletters : Á É Í Ó Ú
Kleinletters: á é í ó ú

Voorbeelde: ná

Gravis-aksent (`)
'n Gravis-aksent is 'n diakritiese teken wat as 'n skuinsstrepie bo-op 'n letter (vokale) geplaas word. Die strepie loop van links na regs, hoog na laag. Dus lê dit agteroor. In teenstelling met die akuutteken word die gravisteken hoofsaaklik gebruik om by sommige woorde die [ε]-klank aan te dui.

Hoofletters : À È Ì Ò Ù
Kleinletters: à è ì ò ù

Voorbeelde: appèl, dè, hè, nè

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Afrikaanse Internet-diesnsverskaffer

Kry blitsvinnige vesel binne 'n oogwink; Di, 05 Februarie 2019 20:22

Aitsa.com verskaf 100% onbeperkte (“uncapped”) en ongevormde (“unshaped”) internet na jou huis. Onbeperkte internet beteken dat jy nooit daardie frustrerende ‘geen data beskikbaar’-boodskappe sal kry nie, al kyk jy sport of sepies 24 uur per dag in jou TV-kamer, slaapkamer, badkamer of kombuis, in hoë definisie.

Gevormde internetdiens verwys na selektiewe spoedbeperkings. Hierdie onderbrekings kan vir spesifieke tydperke of op spesifieke toepassings toegepas word (soos om groot dokumente af te laai). Hierdie onderbrekings kom gewoonlik in spitstye voor wanneer die netwerk onder druk is. By Aitsa, verwyder ons al die tegniese terme, want ons glo optiese vesel is vir almal en ons kan nie wag om jou internet te laat BUIG, BONS, BALK, BULT en BRUL nie!

Meer by https://aitsa.com/

Ruil, koop & verkoop | 0 kommentare

E-pos van anderkant die graf

Sa, 02 Februarie 2019 13:56

'n Man boek in by 'n hotel in Pretoria. Daar is 'n rekenaar in sy kamer en hy besluit om vir sy vrou 'n e-pos te stuur, maar hy maak 'n tikfout en dit daag by die verkeerde adres op.

Intussen kom 'n weduwee by die huis ná haar man se begrafnis. Sy besluit om haar e-pos te lees, verwagtende dat daar 'n boodskap sal wees van haar familie en vriende van ver af. Sy lees die eerste boodskap, gil en val flou.

Die weduwee se seun storm die kamer binne en nadat hulle haar gelaaf het, beduie sy net na die boodskap op die skerm en word weer flou. Op die skerm lees hy toe die e-pos wat die man van Pretoria geskryf het:

ONDERWERP: Ek is hier liefling! Jy sal seker verbaas wees om van my te hoor. Hier is internet en mens mag boodskappe aan jou geliefdes stuur.

BOODSKAP: Ek het so pas arriveer en is nou net ingeboek.
Ek het ook seker gemaak als is in orde vir jou aankoms oormôre.
Ek sien uit daarna om jou weer te sien, en dis gelukkig binnekort.
Hoop jou reis is ook so rustig soos wat myne was.
Jou verlangende man.

NS. Dis vrek warm hier.

Humor & grappe | 0 kommentare

Ongeluk by HS Driehoek eis lewens

Sa, 02 Februarie 2019 07:55

'n Tragedie het gister by Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark afgespeel. 'n Brug of oorhoofse loopvlak tussen twee geboue het meegegee en op leerlinge daaronder neergestort. Ten minste drie skoliere het in die voorval omgekom en talle is ernstig beseer. Die skool is tot verdere kennisgewing gesluit. Dis 'n tragiese voorval wat die gemeenskap tot in sy diepste wese geskud het. Ons bid vir die naasbestaandes en familie in hierdie tyd van beproewing.

NS: Die toestand van die loopbrug was blykbaar aangemeld, maar die instandhouding is weens befondsing uitgestel. Dit laat die vraag ontstaan of die skool en/of owerhede geweet het dat die brug onveilig was.

NS2: Die BLF-woordvoerder (Lindsay Maasdorp) se uitsprake skreeu ook teen hemele: "Ek vier die dood van ons vyande, hulle kinders, hul katte en hul honde." Die EFF het soortgelyke uitsprake gemaak en gesê hulle bly is dat net wit kinders dood is. Kan julle dit dit glo!

NS3: Die name van die oorledenes is bekendgemaak: Roydon Olckers (17), Jandré Steyn (13) en Marli Currie (13). Roydon het waarskynlik twee ander kinders se lewens gered deur hulle betyds uit die pad te stamp.

NS4: Die ongeluk het 'n vierde leerder, Marnus Nagel, se lewe geëis. Afriforum het ook aangekondig dat hulle BLF hof toe gaan sleep oor hul onsensitiewe uitlatings.

Nuus | 0 kommentare

Bladsye (1842): [ «    23  24  25  26  27  28  29  30  31  32  33  34  35  36  37  38    »]
Tyd nou: Vr Apr 26 20:43:32 MGT 2024