vlieg
Sat, 06 August 2022 06:56
van al die vlieënde wesens
is jy vernoem na die manier hoe jy beweeg
wat sou die rede wees vir so ‘n naam
die feit dat jy van almal op die mees grasieuse wyse vlieg
of dalk omdat elke mens wat jou sien, uitroep
vlieg! vlieg! vlieg!
omdat jy altyd op die verkeerde plek sit
Prosa & poësie |
0 kommentare
ou wagter
Sat, 06 August 2022 06:54
elke keer as ek oor die onderdeur loer
lê jy maar daar op die stoep
skynbaar vas aan die slaap
en onbewus van die wêreld rondom jou
maar immer gereed vir enige gebeurlikheid
in jou rol as sekuriteitswag van my plekkie in die son
elke keer as ek werskaf in die tuin
stap jy maar agter my aan
sonder enige teken van belangstelling
of respek vir dit wat ek probeer vermag
maar altyd bereid om te luister
in jou rol as plantkundige raadgewer van my tuin
elke keer as terugkom by die huis
wag jy my in asof jy my jare laas gesien het
met ‘n stert wat swaai asof jy iets wil slaan
en ‘n bek wat blaf in elke toonhoogte van hondetaal
sonder enige verwysing na die vorige pak slae
in jou rol as boesemvriend en lewensmaat van ‘n mal man
Prosa & poësie |
0 kommentare
hoop van die swartland
Sat, 06 August 2022 06:53
magtige bloekom
van ver anderkant die suiderwater
kom plant jy jou wortels diep in die klipgrond
van hierdie heuwelland
in groepe van verskillende groottes
het jy jou regoor die land kom vestig
met ‘n trots wat wil sê
dat jy nog maar al die jare daar was
anders as die geval met ander buitelanders
is jy ‘n ware aanwins vir die land
na jou kan verwys word as die boom van hoop
want jy beskerm alle asemhalendes teen die felle aanslag van die swartlandson
jy dien ook as baken vir menige vreemde of verdwaalde reisiger
en met die toenemende goue landerye
en die donker voorkoms van jou blaredos
gee jy uiting aan die naam van hierdie streek
Prosa & poësie |
0 kommentare
deur die ogies van 'n dowe kindjie
Fri, 05 August 2022 19:42
ek het al so baie daaroor gewonder
ek het oortjies, maar moet klaarkom daarsonder
omdat ek niks kan hoor
ek wens ek kon my oortjies toor
tot nou toe was my wêreldjie baie stil gewees
daar was niemand om my oortjies te genees
ek moes my handjies gebruik as ek wou praat
of ek nou kossies wou hê of die kamer verlaat
maar nou is dit ‘n heel ander storie
vir my is dit ‘n ware glorie
want ek kan nou ook praat en hoor
die mense by carel du toit met my oortjies getoor
Prosa & poësie |
0 kommentare
die stortingsterrein
Thu, 04 August 2022 19:06
mopgat, vullisgat, stortgat, rommelgat
is slegs ‘n paar van jou lang string name
waarvan elkeen dui op die nare klad
wat die mens aan jou hele wese heg
somtyds is jy sinoniem met die dood
want jy word die graf van alle dinge
wat die mens as nutteloos eenkant stoot
slegs om plek te maak vir ‘n beter een
ook dit sal later op jou hoop beland
om daar tesame met vele ander
in jou verterende vure te brand
of deur berge grond begrawe te word
jy is ook sinoniem met ‘n pakhuis
waar mens interessante dinge vind
van ‘n hemp se knoop tot ‘n ou geldkluis
‘n nuwe boek tot grootjie se foto’s
vandag dien jy as kelder of solder
net ‘n baie gemeenskaplike een
waar mense klouter holderstebolder
op soek na iets om later weg te gooi
dan’s jy ook sinoniem met die lewe
vir die werk- en dakloses wat jy voed
mense wat niks het om na te strewe
weens ‘n stelsel wat nie meer omgee nie
jy bied ook ‘n lewe aan jou bouers
daardie mense wat met masjien en graaf
lewe aan jou geskenk het, jou ouers
wat nou elke dag na jou moet omsien
vir ewig sal jy die weggooiplek bly
die stinkende, smeulende vullishoop
waar mens ander se geheime kry
sou mens rondsnuffel tussen jou walle
Prosa & poësie |
0 kommentare
Winter
Wed, 03 August 2022 21:37
asof jy die allesverterende vuur van lewe en liefde wil blus
sprei jy jou grys, waterdeurdrenkte karos uit oor die land
terwyl al wat leef, vlug om aan jou woedebuie te ontkom
voëls volg die somerson oor vastelande heen
en diere gaan in 'n diepe slaap ondergronds
net soos die plante van die veld
terwyl bome hul blarejasse uittrek
en mense hul snoesig in hul skuilings toewikkel
met jou koue, lewelose asem
probeer jy ons skuilings oopblaas om ons te verkluim
jy spuit jou koue bloed vir dae aaneen
hard oor ons neer sodat die wat nog leef so kan verdrink
en jy skiet ons met onsigbare kanonne
om ons so finaal te verpletter en ons land te buit
voordat jy jou verwoestende handewerk
skuldig met jou koue donskombers bedek
almal vrees jou onvoorspelbare woedebuie
en wonder waarom jy ooit moes bestaan
want jy saai net dood en rig net skade aan
maar tog is dit so dat jy die aarde voed en van peste bevry
sodat nuwe lewe na vore kom
om jou donskombers af te gooi en die lente se koms te vier
want so dwing jy ons saam om weer rigting te vind
op 'n planeet wat voortsnel na sy einde
Prosa & poësie |
0 kommentare
tyd
Wed, 03 August 2022 21:36
soos 'n alomteenwoordige skaduwee
is jy altyd getrou aan ons sy
gereed om gebruik te word
en jou volle aandag aan ons probleme te wy
jy help ons om dinge te vervaardig
om oorloë en ontdekkingsreise te beplan
en jy leer ons kinders op skool
dat as hul werklik wil, dan sal hul kan
onwetend gebruik ons jou in alles wat ons doen
maar tog raak ons gou gou van jou bestaan bewus
as ons so 'n bietjie van jou steel
om die moeë liggaam te laat rus
anders as die skaduwee
wat sigbaar is en ons dus nie kan ontken
kan ons jou nie sien
en daarom word jy nie behoorlik verken
jy het so die oorsaak geword
van al ons probleme wat ontstaan
terwyl ons pragtige planeet
vinnig besig is om te vergaan
ons gebruik jou as verskoning wanneer ons faal
want ons is so geneig om te sê
dat ons iets tog so graag sou wou doen
as ons net meer tyd kon hê
Prosa & poësie |
0 kommentare
kind van die woestyn
Wed, 03 August 2022 21:35
jy praat van jouself as die san
mens van mens noem jy jouself
maar wie of wat is jy regtig
waar kom jy werklik vandaan
jy woon hier in die dor woestyn
met pyl en boog as wapen
om die vleis vir jou groep te jag
wat jul eet met hande fyn
jy sal soms jou lendevel dra
en wit krale om die nek
van volstruiseierdop gemaak
meer as dit sal jy nooit vra
jy ken elke plantjie en dier
wat mens vind in die woestyn
en elke dier die aap jy na
want jou oog mis niks nie hier
jy praat van die mooiste tale
wat geen ander mense praat
want die metafoor van jou taal
vind mens in geen skoolsale
jy ken niks soos oorlog en haat
so voed jy jou kinders op
om die natuur net lief te hê
en oor alles moois te praat
jy leef elke dag in die sand
soos geen ander mens kan doen
hoe jy weet waar jy water vind
is te veel vir my verstand
Prosa & poësie |
0 kommentare
die koerantverkopertjie
Wed, 03 August 2022 19:19
by die kruising van twee strate
waar voertuie in dolle vaart verbyflits
en 'n malende mensemassa op die sypaadjies voort storm
staan die jong seun met koerante onder die arm
by 'n baksteen en munte wat sy kluis vorm
asof in 'n lied sing hy die koerant se naam
bokant die stadsgeraas uit
terwyl sy geoefende ogies elke gesigsuitdrukking afvra
vir 'n teken van 'n moontlike klant
om so die nuus na die publiek oor te dra
van smôrens vroeg is hy reeds op sy pos
ongeag van wind en son en reën
gewapen met 'n vriendelike groet en 'n pittige sêding
probeer hy om sy koerante te verkoop
en so liggaam en gees bymekaar te bring
hy voel veilig by die kruising
waar soveel kulture en tale ontmoet
sy geld en koerante lê oop en bloot in almal se sig
maar niemand sou ooit probeer om iets van hom te steel
nie eens 'n skelm sou sy hand hier teen hom lig
snags by sy ouerhuis
is hy 'n verskrikte seun soos elk van die ander
hier waar hy juis veilig moet voel, is pyp en petrolbomme
geweervuur, messsteek, moord en verkragting
veel meer bekend as 'n glimlag, 'n handdruk en blomme
Prosa & poësie |
0 kommentare
waarom bosbewoner
Mon, 01 August 2022 19:35
onbeskermd teen die aanslae van die natuur
sonder geriewe soos bed en tafel en stoel
berei jy jou maaltye langs 'n ope vuur
terwyl jou hond en kinders baljaar in 'n poel
dieselfde poel waarin jou vrou jul klere was
waarna sy dit vir droging oor die bosse sprei
omdat geen wasgoedlyn op jul perseel sal pas
dis dan net 'n grote bos waaronder jul bly
soos elkeen van ons het jy in 'n huis gewoon
saam met ander kinders in die strate gespeel
terwyl jou ouers geswoeg het vir hul weekloon
van die lewe het hul jou geleer elke reël
wat jy later aan jou eie kinders oordra
toe jy en jou vrou met jul eie huis begin
dit moes iets vreesliks wees wat jul daar toe so pla
dat jul besluit het dis nie goed vir jul gesin
wat het dan werklik daardie dag verkeerd geloop
dat jul besluit het om al die gerief te los
party van die goed het jul seker eers verkoop
om eerder te gaan bly met niks onder 'n bos
was geld die oorsaak van daardie dag se besluit
of het iets anders jul dalk daardie daad laat pleeg
ons moet weet, want dis verkeerd en ons moet dit stuit
want dit laat word ons tronke vol en skole leeg
Prosa & poësie |
0 kommentare