Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

tyd

Wo., 03 Augustus 2022 21:36

soos 'n alomteenwoordige skaduwee
is jy altyd getrou aan ons sy
gereed om gebruik te word
en jou volle aandag aan ons probleme te wy

jy help ons om dinge te vervaardig
om oorloë en ontdekkingsreise te beplan
en jy leer ons kinders op skool
dat as hul werklik wil, dan sal hul kan

onwetend gebruik ons jou in alles wat ons doen
maar tog raak ons gou gou van jou bestaan bewus
as ons so 'n bietjie van jou steel
om die moeë liggaam te laat rus

anders as die skaduwee
wat sigbaar is en ons dus nie kan ontken
kan ons jou nie sien
en daarom word jy nie behoorlik verken

jy het so die oorsaak geword
van al ons probleme wat ontstaan
terwyl ons pragtige planeet
vinnig besig is om te vergaan

ons gebruik jou as verskoning wanneer ons faal
want ons is so geneig om te sê
dat ons iets tog so graag sou wou doen
as ons net meer tyd kon hê

Prosa & poësie | 0 kommentare

kind van die woestyn

Wo., 03 Augustus 2022 21:35

jy praat van jouself as die san
mens van mens noem jy jouself
maar wie of wat is jy regtig
waar kom jy werklik vandaan

jy woon hier in die dor woestyn
met pyl en boog as wapen
om die vleis vir jou groep te jag
wat jul eet met hande fyn

jy sal soms jou lendevel dra
en wit krale om die nek
van volstruiseierdop gemaak
meer as dit sal jy nooit vra

jy ken elke plantjie en dier
wat mens vind in die woestyn
en elke dier die aap jy na
want jou oog mis niks nie hier

jy praat van die mooiste tale
wat geen ander mense praat
want die metafoor van jou taal
vind mens in geen skoolsale

jy ken niks soos oorlog en haat
so voed jy jou kinders op
om die natuur net lief te hê
en oor alles moois te praat

jy leef elke dag in die sand
soos geen ander mens kan doen
hoe jy weet waar jy water vind
is te veel vir my verstand

Prosa & poësie | 0 kommentare

die koerantverkopertjie

Wo., 03 Augustus 2022 19:19

by die kruising van twee strate
waar voertuie in dolle vaart verbyflits
en 'n malende mensemassa op die sypaadjies voort storm
staan die jong seun met koerante onder die arm
by 'n baksteen en munte wat sy kluis vorm

asof in 'n lied sing hy die koerant se naam
bokant die stadsgeraas uit
terwyl sy geoefende ogies elke gesigsuitdrukking afvra
vir 'n teken van 'n moontlike klant
om so die nuus na die publiek oor te dra

van smôrens vroeg is hy reeds op sy pos
ongeag van wind en son en reën
gewapen met 'n vriendelike groet en 'n pittige sêding
probeer hy om sy koerante te verkoop
en so liggaam en gees bymekaar te bring

hy voel veilig by die kruising
waar soveel kulture en tale ontmoet
sy geld en koerante lê oop en bloot in almal se sig
maar niemand sou ooit probeer om iets van hom te steel
nie eens 'n skelm sou sy hand hier teen hom lig

snags by sy ouerhuis
is hy 'n verskrikte seun soos elk van die ander
hier waar hy juis veilig moet voel, is pyp en petrolbomme
geweervuur, messsteek, moord en verkragting
veel meer bekend as 'n glimlag, 'n handdruk en blomme

Prosa & poësie | 0 kommentare

waarom bosbewoner

Ma., 01 Augustus 2022 19:35

onbeskermd teen die aanslae van die natuur
sonder geriewe soos bed en tafel en stoel
berei jy jou maaltye langs 'n ope vuur
terwyl jou hond en kinders baljaar in 'n poel
dieselfde poel waarin jou vrou jul klere was
waarna sy dit vir droging oor die bosse sprei
omdat geen wasgoedlyn op jul perseel sal pas
dis dan net 'n grote bos waaronder jul bly

soos elkeen van ons het jy in 'n huis gewoon
saam met ander kinders in die strate gespeel
terwyl jou ouers geswoeg het vir hul weekloon
van die lewe het hul jou geleer elke reël
wat jy later aan jou eie kinders oordra
toe jy en jou vrou met jul eie huis begin
dit moes iets vreesliks wees wat jul daar toe so pla
dat jul besluit het dis nie goed vir jul gesin

wat het dan werklik daardie dag verkeerd geloop
dat jul besluit het om al die gerief te los
party van die goed het jul seker eers verkoop
om eerder te gaan bly met niks onder 'n bos
was geld die oorsaak van daardie dag se besluit
of het iets anders jul dalk daardie daad laat pleeg
ons moet weet, want dis verkeerd en ons moet dit stuit
want dit laat word ons tronke vol en skole leeg

Prosa & poësie | 0 kommentare

help ons asseblief o Heer

So., 31 Julie 2022 21:22

ek weet ek vra vir baie dinge Heer
maar hierdie keer
moet ek U vra om die ondergang van ons land te keer
want die regering was nog nooit en is steeds nie in beheer
ek weet nie wat hulle probeer
deur met die mense so gek te skeer
maar ek weet die mense se harte is baie seer

want ek sien daagliks hoe hulle treur
oor die dinge wat met hulle en die land gebeur
terwyl die regering hulle glad nie aan die geweeklaag steur
omdat hulle hulle blindstaar aan selfverryking se geur
mense word besteel, verkrag, vermoor en uitmekaar geskeur
pragtige mense wat ten spyte van dit alles steeds vorentoe beur
en deur die bloed kan dankie sê vir die natuur se kleur

slegs U o Heer
kan ons mense en ons land van ondergang keer
want bo alles is U steeds die Een in beheer
ons mense se wonde en harte is baie seer
maar steeds sal ons ons bes probeer
al voel dit soms of ons net nie meer
die krag het om hierdie euwel te keer

Prosa & poësie | 0 kommentare

rou seer, rou stukkend

So., 31 Julie 2022 21:21

naak lê sy daar op haar rug
in die koud van die nag
steeds lewend en oopgesny
met haar ingewande in die sand aan haar sy
driekeer deur vriende verkrag

onherkenbaar verbrand lê sy langs die straat
sonder enige arms en bene
omdat sy vir haar ouers ‘n beter lewe wou gee
sonder om te weet van haar beskermer se weë
die man met ‘n pedofiel se gene

verwurg lê sy in die bed se laai
ingedruk om haar weg te steek
sonder dat dit hom pla
dat dit die bed is van sy eie ma
nadat ‘n vriend haar verkrag het terwyl sy om haar lewe smeek

rou seer was hierdie tienermeisies se lot
rou stukkend was hul ouers se vrae aan God

terwyl die regering partytjie hou en anderpad kyk

Prosa & poësie | 0 kommentare

herfs

So., 31 Julie 2022 21:19

ek stap deur die tuin
soos elke ander dag
om na die plante
en die uitleg te kyk
terwyl blomme en blare
van verskillende kleure op die grasperk en in die beddings val

en dan dring dit tot my deur
dat ek eintlik na een van God se lewende skilderye kyk

Prosa & poësie | 0 kommentare

hallo herfs

So., 31 Julie 2022 21:18

soos die skoenlapper wat uit die papie ontvou
om sy lewensreis
in die planteparadys
te begin

voel ek vandag ook nuut en skoon en vars
en baie opgewonde
oor al die geleenthede wat ek elke stonde
sal kan ontgin

want die eerste herfsbui het geval

Prosa & poësie | 0 kommentare

afrikaans - sterwende taal

So., 31 Julie 2022 21:16

die grootste afrikaanse digter van ons tyd
skryf in die koerant dat afrikaans gaan sterf
omdat ons regering afrikaans by die deur uit smyt

sodat engels die amptelike landstaal kan word
terwyl besighede en skole en universiteite
alles wat afrikaans is in die dreinpyp stort

maar ‘n taal word nie sommer dood gewens
want dit is lewende mense wat dit praat
en ons taal vloei alreeds oor menige grens

afrikaans mag miskien sy wetenskapstatus verloor
maar die opkomende jeug het reeds bewys
hoe hulle met dig en drama en sang kan toor

om afrikaans lewend en fris en gesond te hou
sodat die res van die wêreld afrikaans kan sien
as die afrikataal wat alle nasies en kulture omvou

Prosa & poësie | 0 kommentare

wanneer wil vergaan

So., 31 Julie 2022 19:34

wanneer ‘n doofstom kind opgewek ‘n storie aan ‘n horende vertel
is dit wil

wanneer ‘n blinde kind trots die woorde uiter waaroor hy met sy vingers streel
is dit wil

wanneer ‘n beenlose man knersend die wedloop in sy rolstoel aflê
is dit wil

wanneer wil vergaan
o God, gee krag

Prosa & poësie | 0 kommentare

Bladsye (1834): [ «    12  13  14  15  16  17  18  19  20  21  22  23  24  25  26  27    »]
Tyd nou: Sa. Apr. 11 20:51:20 UTC 2026