Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

die mossienes

Do, 28 Julie 2022 11:18

vir dae aaneen hou ek jou dop
daar waar jy jou nessie bou in die doringboom
hoe jy heen en weer vlieg
met ‘n grassie of ‘n stokkie in jou bekkie
om dit geduldig en sorgvuldig in die boom se mik neer te lê

soms, in jou afwesigheid, kom daar ‘n briesie op
wat so hap-hap aan die werk van jou snawel
en dan val daar soms ‘n stokkie af
maar by jou terugkeer, merk jy die skade dadelik op
en gaan soek daardie stokkie op die grond

elke stokkie word versigtig tussen die ander deur gevleg
om so ‘n stewige stokkiesmuur te vorm
sodat nie wind of reën dit uit die mik sal kry nie
en as jou nessie klaar gebou is
sit jy mossietrots jou snawelwerk van alle kante en aanskou

Prosa & poësie | 0 kommentare

op soek na beskawing

Do, 28 Julie 2022 11:16

op soek na die ware betekenis
van die woord “beskawing”
vlieg ek soos ‘n reuse arend
op ‘n hoogte van tienduisend meter
oor elke stukkie grong - vasteland, land en eiland
geen menseskuilplek ontglip my geoefende arendsoog
om so elke ras en nasie in te sluit

ek sien mense wat saam met mekaar
in kantore en op landerye werk
vir die vooruitgang van hulle land
en die toekoms van hulle kroos
pragtige mense wat deel in mekaar se lag en huil

ek sien ook mense wat saam met mekaar
in kantore en in fabrieke werk
vir die vernietiging van hulle aardgenote
en die uitbreiding van hulle grondgebied
wrede mense wat geen belang het by die welstand van ander

ek sien verder mense wat saam met mekaar
in kantore en in huise werk
vir die vernietiging van hulle landgenote
deur verkagting, moord, inbraak, diefstal, aanranding
siek mense wat geen respek het vir die lewe nie

my vlug neem my oor demokrasieë, koninkryke,
sheikhdomme, hoofmanskappe, diktatorskappe en nog vele meer
ek sien dat daar haas geen land, geen stad, geen dorp
en byna ook geen huis is sonder ‘n vorm van “terrorisme”
nou wat beten die woord “beskawing” dan

Prosa & poësie | 0 kommentare

water! water!

Di, 26 Julie 2022 13:12

terwyl die son sy strale oor die vlakte sprei
waar grond en klip soos gloeiende stoofplate alles verbrand
wat probeer om daaroor te beweeg
strompel die veloortrekte skelet van ‘n wildsbok voort
op soek na ‘n lekkie water
of ‘n sappige blaar
terwyl sy uitpeuloë stip na die mirage in die verte staar

met moedelose oë opgeslaan na bo
op soek na ‘n tikkie blou lug
of ‘n straal van die son
staan die gesin voor die vensters
terwyl die gietende reën
rustige strate in kolkende riviere verander
en ommuurde tuine damme word
waarop hondehokke en vullisdromme lomp ronddryf
reddingswerkers jaag met motorbote waar ‘n week gelede nog sypaadjies en parkeerterreine was

Prosa & poësie | 0 kommentare

mierberig

Ma, 25 Julie 2022 19:06

miertjie teen die muur
dis nie nodig om my so aan te gluur
ek wil jou slegs ‘n vragie vra
wat is die boodskap wat jy dra?
want jy stap geen ander mier verby
so lyk dit immers vir my
en om te hoor wat jy vir hulle sê
is al wat ek van jou wil hê

ek het nog nooit gesien dat jy sit en rus
en van jou konstante spoed is ek deeglik bewus
jou roetes neem jou ver van hier
en die mense sê jy is die fluksste dier
maar nogtans vind jy oorgenoeg tyd
om jou geheime boodskap wêreldwyd
aan ‘n ieder en ‘n elk oor te dra
sonder dat dit nodig is om jou te vra

ons menselewens is net so gejaagd soos julle s’n
en ons dag sluit ook kontak met ander mense in
maar daar is iets wat ontbreek in onse dag
ons kan ure lank vir onbenullighede wag
maar nooit is daar die tyd om iets moois te sê
aan ‘n ieder en ‘n elk wie se weg oor ons s’n lê
help my tog, miertjie, om dit aan te leer
die gee van ‘n glimlag en “goeie dag” elke keer

Prosa & poësie | 0 kommentare

miskruiergeduld

Ma, 25 Julie 2022 12:54

kleine miskruiertjie
jy is so onbelangrik volgens my standaarde
ek regeer die ganse wêreld
en jy stap daar onder rond, plat op die aarde
ek probeer elke dag van my lewe om suksesvol te wees
in die dinge wat ek doen
en jy stap en rol 'n stuk mis van 'n bees

kleine miskruiertjie
tog is daar iets wat ek by jou kan leer
al is jy so nietig en klein
want jy het iets wat my werklik fassineer
dit is die pragtige geduld waarmee jy jou stukkie drol
oor die ongelykte aarde
tussen bosse en klippe deurrol

Prosa & poësie | 0 kommentare

gekruisde lyne

Ma, 25 Julie 2022 08:39

die woord “kommunikasie” is ‘n komplekse een
en die wêreld is propvol daarvan
dog, almal sê gedurig dat daar is geen
en dus is dit die rede waarom mens nooit kan beplan

nasies wis mekaar op die slagveld uit
en onskuldige menselewens word in chaos gedompel
terwyl andere met vragte vol oorlogsbuit
tussen dooies en gewondes deur huiswaarts strompel

maatskappye maak na jare se bestaan hul deure toe
ten spyte van dit wat hul op die menige kursusse leer
want die een ding wat nooit ter sprake kom, is hoe
om werklik met mekaar te kommunikeer

families verbrokkel en huwelike word nietig verklaar
onskuldige kinders word slagoffers in so ‘n situasie
terwyl elkeen bewus is van die groot gevaar
die oorsaak van disintegrasie is ‘n gebrek aan kommunikasie

ten spyte van die groeiende gebrek aan kommunikasie
word daagliks meer geld aan telefoonrekeninge betaal
die besettoon lei tot onbeskryflike frustrasie
soos mense kyk wie se oproep eerste die skakelbord sal haal

iemand wat beweeg sonder ‘n selfoon aan sy sy
word as lid van ‘n verdwynende spesie beskou
hierdie foontjie het die mens tot op die vlak van slaaf gekry
deur hom te laat glo dat hy so kontak met andere behou

die mens is steeds ‘n pratende, babbelende wese
woorde vloei spontaan, sonder ‘n teken van probeer
maar dit bly steeds een van sy grootste vrese
dat hy nie sal weet hoe om te kommunikeer

as ons dan wel so baie praat
hoekom kan ons dan nie kommunikeer
of is dit gekruisde lyne wat ons in die steek laat
elke keer as ons probeer

Prosa & poësie | 0 kommentare

doer op die spens se vloer

So, 24 Julie 2022 18:53

ek smeek my bleek
want die baas lê en raas
met die nooi in die kooi

sy sê sy wou net hê
ek moes die doos appelkoos
en die emmer vla spens toe dra

maar toe sien ek die kantien
‘n hele magasyn vol brandewyn
en begin toe suip
tot ek op die vloer rondkruip

hy’t my amper doodgeslaan met die seeppotspaan
toe ek hom sê dat ek sy vrou wou hê
om hom te vra wat hom dan tog so pla

sy’t my net gevra om die goed te dra
en dit het ek gedoen sonder ‘n soen
maar toe verskyn die brandewyn

ek reken toe, sjoe, ek sal net proe
maar daar pak vergeet my bewustheid beet
en dis waar die dop my toe vloer toe skop

Prosa & poësie | 0 kommentare

waar is al die vlinders heen

Sa, 23 Julie 2022 19:30

waar is al die vlinders heen
wat eens ons tuine bewoon het
toe ons nog jong kindertjies was
wat graag met hulle gespeel het

ons het mekaar belowe
om nooit die ander seer te maak
om mekaar immer lief te hê
en altyd oor mekaar te waak

waar is al die vlinders heen
wat ons buurt met ons gedeel het
toe ons al groter kinders was
wat meer oor hulle geleer het

ons is dit op skool geleer
hoe broos en sag hul vlerke is
hoe hulle hul tonge gebruik
en ook hoe pragtig vlinders is

waar is al die vlinders heen
wat ons so oor bespiegel het
toe ons nog jong verliefdes was
wat hul so graag bewonder het

ons het dit toe eers besef
dat hul eiers eintlik wurms word
wat weer in papies verander
wat dan op hul beurt vlinders word

waar is al die vlinders heen
wat heel eerste staan op ons lys
noudat ons jong getroudes is
wat hul aan ons kinders wil wys

ons kan hul maar slegs vertel
van die gogga met die vlerke
met die lang opgerolde tong
een van God se wonderwerke

Prosa & poësie | 0 kommentare

tafelberg - magtige rots van die kaap

Sa, 23 Julie 2022 17:11

van hoe ver af kan ek jou nie sien nie?

hoe ver kan ek van jou af nie sien nie?

Prosa & poësie | 0 kommentare

ek wens ek was

Sa, 23 Julie 2022 13:24

ek wens ek was ‘n voëltjie
wat van vroeg tot laat
soete klanke op ore kon laat val

ek wens ek was ’n dolfyn
wat daagliks
drenkelinge te hulp kon snel

ek wens ek was ’n perd
wat in oorlogstye
gewondes na veiligheid kon neem

ek wens ek was ’n vlinder
wat op warm somersdae
kinders kon vermaak

ek wens ek was ’n wyse
wat elke sekonde
al die antwoorde kon ken

maar ek is nie

ek is net ’n eenvoudige mens
met vele foute
deur God geskape

Prosa & poësie | 0 kommentare

Bladsye (1842): [ «    10  11  12  13  14  15  16  17  18  19  20  21  22  23  24  25    »]
Tyd nou: Ma Apr 29 13:25:50 MGT 2024