Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

om 'n gedig te skryf

Di, 30 Augustus 2022 19:15

om ‘n gedig te skryf
is om ‘n emosie in jou hart te hê
daardie emosie in woorde op papier neer te lê
op so ‘n manier dat baie min woorde vreeslik baie sê

Prosa & poësie | 0 kommentare

in die hart van die afrikaner

Di, 30 Augustus 2022 13:46

gebore uit die stof van afrika
selfs vernoem na hierdie magtige vasteland
met lewende verwantskappe in europa
en ‘n kort geskiedenis uit asië

is afrikaans - my moedertaal

die enigste taal wat na ‘n vasteland vernoem is
‘n vasteland wat haar nie wil hê nie
maar haar soete klanke
weerklink reeds ver buite die grense van hierdie landmassa

dit is afrikaans - my moedertaal

om braaivleisvure en kombuistafels word stories vertel
in raadsale en kantore word debatte gevoer
op verhoë en straathoeke word liedjies gesing
en interessante toneelstukke opgevoer

in afrikaans - my moedertaal

die regering probeer regverdig
elke aanslag wat hulle voer
in staatskantore en aanklaglokale
en skole en hofsale

teen afrikaans - my moedertaal

gevul met die metafoor van hierdie pragtige taal
stap ons daagliks onder die afrika-son
om versoening en eenheid te bring
op ‘n vasteland vasgevang in rewolusie

deur afrikaans - my moedertaal

Prosa & poësie | 0 kommentare

grade van eensaamheid

Di, 30 Augustus 2022 13:15

om in die middel van die oseaan
te smag na ‘n druppel water om te drink
is eensaam

om in die middel van die woestyn
te smag na ‘n skaduwee om in te rus
is net so eensaam

om in die middel van die gletser
te smag na ‘n skerm om agter te skuil
is selfs meer eensaam

om in die middel van die wêreldstad
te smag na iemand om na jou storie te luister
in absolute hel

Prosa & poësie | 0 kommentare

engeleblik

Di, 30 Augustus 2022 13:14

soos ‘n verwoede dinosaurus wat afstorm op sy prooi
rol die ystervoël met my in sy maag oor die hoofpad na nêrens
om my later, asof op arendsvlerke, hoër en hoër en hoër te neem
van waar ek deur een van sy sweetgaatjies
‘n engeleblik op die Skepping kan kry

Prosa & poësie | 0 kommentare

'n kindergebedjie

Ma, 29 Augustus 2022 19:35

ek sê my aandgebedjie
op my knietjies
langs my wagtende bedjie

ek vertel vir Liewe Jesus daarbo
hoe grootmense met ons kleintjies baklei
en vra vir Hom hoekom is dit so

ek het gedink dat hulle ons altyd lief sal hê
en vir ons sal leer om ook eendag grootmense te wees
want dit is wat hulle gedurig vir ons sê

ek vra vir Hom om met ons kleintjies te wees
en ons teen die grootmense te beskerm
en dat Hy ook hulle bakleisiekte moet genees

ek vertel vir Hom dat ek in my Kinderbybeltjie sien
dat Hy baie lief vir kindertjies is
omdat dit liefde is wat kindertjies verdien

ek bedank Hom vir my mamma en pappa en asem
want daar is baie kindertjies wat nie so iets het nie
en dan sê ek vir Hom amen

Prosa & poësie | 0 kommentare

'n uur in my lewe

So, 28 Augustus 2022 09:05

ek sit hier met potlood in die hand
proberend om ‘n gedig te skryf

buite is die wêreld aan die brand
iewers blêr musiek op ‘n kompakskyf

een vir een ontstaan die woorde op die papier
soos die potlood grasieus deur sy danspassies gaan

op ‘n tuinstoel neem my buurman groot slukke bier
‘n mossiemannetjie drink water onder die kraan

woorde word sinne
wat op hul beurt weer verse word

iemand speel op die klavier hier binne
Nushka, ons worshond, lek die rys uit sy bord

lyn vir lyn word die gedig al hoe langer
terwyl die potlood se punt vinnig verpoeier

op die kompakskyf sing daar ‘n country-sanger
my buurman was glo destyds ‘n vername roeier

dis ‘n gedig oor ‘n uur in my lewe
die potlood is nou heeltemaal klaar

op die wekker is dit reeds kwart oor sewe
ek is vir nog ‘n dag uitgespaar

Prosa & poësie | 0 kommentare

die winkelgang

So, 28 Augustus 2022 09:03

ek sit nie so lank gelede in ‘n gang
wat hom deur ‘n winkelsentrum slang
om ‘n bietjie te rus
terwyl my vrou die tjekboek sus

dis ‘n besige dag
mense wat koop en mense wat wag
trollies wat bots
en babas wat kots
ma’s wat roep
en ou ooms wat poep
ligte wat flikker
soos advertensies jou probeer opkikker
mense wat kom en gaan
stamp mekaar soms uit hul baan

maar eintlik is dit ‘n triestige dag
want mense weet skynbaar nie meer hoe om te lag
nêrens is daar ‘n glimlag op ‘n gesig
eerder ‘n blik van las en gewig

Prosa & poësie | 0 kommentare

Baie dankie Gesellig

Net 'n vraag; Do, 25 Augustus 2022 12:10

Baie dankie vir ‘n netjies uitgelêde en gebruikervriendelike webtuiste in Afrikaans.

Daar is egter iets wat my pla en wat werklik jammer is.

Wanneer ek na die lys van lede kyk, sien ek dat daar gereeld nuwe lede aansluit, wat verblydend is en waarvoor ‘n mens dankbaar is, maar onder “Boodskappe Bygevoeg” sien ek geen beweging nie. Ek kan nie glo dat daar soveel lede op die tuiste is, maar dat daar geen aktiewe byvoegings verskyn nie.

Ek besef dat nie elke nuwe lid ‘n digter is nie, maar ek is nie die enigste Afrikaanse digter in ons land nie. Hoekom verskyn slegs my gedigte op die tuiste? Ek kla nie, want ek sien dit word gelees en daarvoor is ek baie dankbaar, want selfs as slegs een van my gedigte vir iemand daarbuite iets positiefs kan beteken, sal dit my die gelukkigste mens maak. Dit is al wat ek wil bereik. Ek wonder net waar al die ander digters hulle gedigte plaas. Voor 2017 was Woes.co.za die plek, maar nou is dit nie meer daar nie.

Alle voorsped met Gesellig.

Kennisgewings | 3 kommentare

om werklik te luister

Do, 25 Augustus 2022 11:43

om werklik te luister
is om stil te raak

so stil
dat jy die goggas kan hoor fluister

die mier wat oor ‘n grashalm loop
en ‘n stokkie na sy nes toe sleep

of die skoenlapper wat met klappende vlerke
van struik tot struik beweeg

om te hoor wanneer die natuur fluister
is wanneer jy werklik luister

want dan hoor jy slegs die Skepping se klank

Prosa & poësie | 0 kommentare

die monster

Do, 25 Augustus 2022 11:42

julle moet versigtig loop alle mense
want hier is ‘n monster tussen ons
sy wreedheid ken geen grense
en laat alle kommunikasielyne gons

anders as die dier wat slegs doodmaak om te eet
of sy gebied en gesin te beskerm
hou hierdie monster aan met vreet
sonder om hom oor enigiets te ontferm

selfs nie die insek of reptiel
sal doodmaak vir genot
maar hierdie monster verniel
ongeag die Wil van God

hy kamoefleer homself in die menslike liggaam
sodat hy onsigbaar tussen ons kan beweeg
terwyl hy sonder om hom te skaam
die lewe uit sy prooi uit veeg

sy prooi is onskuldige meisies
wat spontaan die lewe geniet
want hierdie monster verkies
om spontaniteit te omskep in verdriet

Prosa & poësie | 0 kommentare

Bladsye (1842): [ «    2  3  4  5  6  7  8  9  10  11  12  13  14  15  16  17    »]
Tyd nou: Di Apr 23 12:04:01 MGT 2024