Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

vrye land

Sa., 10 September 2022 17:27

die fetus in die baarmoeder
is ‘n las vir sy opvoeder
wat woon in ‘n land
waar die lewe geen waarde meer het
en die mens van al sy mensheid gestroop word
deur die wanverstaan van demokrasie

‘n rit op die pad
is soos ‘n tog in die stad
waar emosielose mensfigure
jou robotagtig aangluur
voordat hulle jou van die een na die ander voortstamp
en die hele proses homself herhaal

wat het tog van die menslike wil geword
of het dit ook oor die afgrond gestort
daardie wil om te oorleef
en jou lewensruim tot elke prys te verdedig
sodat jy sinvol kan asemhaal
en jou jeug op die toekoms kan voorberei

daar is nie meer iets soos respek
want dit het ook op daardie herfsdag gevrek
sonder respek maak liefde ‘n plakkersbestaan
en as jy nie respek het vir dit wat jou eie is
hoe sal jy ooit andere kan respekteer
as jy dit nie van kleins af tuis kan leer

wanneer die fetus uit die baarmoeder ontvou
is dit die begin van ‘n reuse taak vir daardie vrou
wat as moeder die kind moet lei
tussen die willose, respeklose, liefdelose mensfigure deur
wat daagliks die natuur rondom hulle bevuil
en dan robotagtig sê: nou is ons werklik vry

Prosa & poësie | 0 kommentare

boodskap aan die jeug

Wo., 07 September 2022 07:53

praat nooit oor dinge waarvan jy niks weet nie
want jy het nie die feite nie
stel nooit iets uit wat jy moet doen nie
want jy weet nie of jy môre leef nie
probeer nooit om iemand anders te wees nie
want jy ken nie sy sorge nie
draai nooit jou rug op jou Skepper nie
want sonder Hom het jy geen toekoms nie

Prosa & poësie | 2 kommentare

dankvlug

Wo., 07 September 2022 07:52

vir 'n wyle het die reëndruppels 'n ander heenkome gaan soek
en dit het skielik baie stil geraak hier waar ek sit en werk
so stil dat ek nie anders kon as om weg te stap van die digitale boek
om te gaan kyk wat buitekant gebeur

alles was nat en oral het groot poele water gelê
terwyl voëls tevrede en dankbaar reuse sirkels in die lug teken
en soms kom loer wat die nuutgevonde spieëls van hul voorkoms sê
'n dankgebedjie het diep in een van my hart se binnekamers ontstaan

Prosa & poësie | 0 kommentare

die helende krag van water

Wo., 07 September 2022 07:50

saggies val die reën daar buite
op plant en dier en muur
om alles te reinig en te voed

sodat wonde mag heel
en dinge mooi vertoon
in die son se gloed

wat sonder waarskuwing
deur die wolkkombers breek
om ons te vul met nuwe moed

Prosa & poësie | 0 kommentare

my redding

Di., 06 September 2022 15:42

die vinnige baan was vir meer as drie dekades my woonplek
waar ek altyd moes sorg dat ek in beheer van die situasie was
om nie in die papieroseaan te verdrink
of tussen raadsaalbesluite te verdwaal nie

soms het alles glad verloop en kon ek kwaliteittyd aan elke taak afstaan
maar op vele tye moes ek deur skietgebede u Hulp en Raad vra
om die korrekte verslae betyds op die verskeie lessenaars te kry

toe blokkeer U die vinnige baan sonder om my daarvan te sê
en tuimel ek soos ‘n tolbos oor na die stadige baan
waar ek myself byna teen die baanversperrings vermorsel
om botsings met die stadige verkeer te vermy

terwyl ek tussen die verskillende baanversperrings rondgeslinger word
en elke keer my oë styf toeknyp en op my tande byt
in afwagting van die komende slag en die pyn
het ek besef dat daar geen bloed of selfs blou kolle verskyn

omdat u Beskermende Hande tussen my liggaam en die baanversperrings
gekeer het dat my liggaam vermorsel word
en sodoende die snelheid van my vaart drasties verminder het

aanvanklik was ek baie kwaad gewees
omdat ek altyd in beheer was
en U sonder my versoek ingemeng het
om my pas te vertraag

het ek dan geen sê meer nie
want dit is immers my lewe wat ter sprake is

my woede het my soos die nat wasgoed in ‘n tuimeldroër laat tol
asof die gespoel in die wasmasjien nie alreeds erg genoeg was nie

maar soos die snelheid van my vaart afgeneem het
het ek besef dat dit u Manier was om my van vernietiging te red
en daarvoor wil ek U graag bedank
omdat ek dit nie verdien nie en slegs deur u Genade ontvang

maar ek wil ook om vergifnis vra omdat my vertroue so swak was
dat ek U nie gedurende hierdie baanverwisseling vertrou het nie
omdat ek toegelaat het dat my blik vanaf U
na die gevare wat my omsingel verskuif het

Prosa & poësie | 0 kommentare

die lewe

Di., 06 September 2022 15:19

soos elke draadjie wol van ‘n pragtige kombers
is ook elke lewe stewig tussen ander lewens deurgevleg
om so ‘n ondeurdringbare mat van vertroue en respek te vorm
stewig deur die liefde aanmekaar geheg

soms gebeur dit dat ‘n draadjie breek of rafel
en dan is daar ‘n gat in die kombers
om so ‘n gat in ons mat weer heel te maak
wend ons onsself na ‘n geskikte Bybelvers

‘n duur kombers vol gate kan minder beskerming bied
en raak later geheel en al nutteloos
net so is ons lewensmat
so hard soos ‘n diamant, maar ook net so broos

Prosa & poësie | 0 kommentare

al ooit

Sa., 03 September 2022 13:08

al ooit gewonder
waarom gaan die son nie werklik onder
omdat die mense anderkant die aarde nie kan klaarkom daarsonder

al ooit gedink
waarom die muishond so stink
sodat nie-muishonde nie sy vleis sal vreet en sy bloed sal drink

al ooit besef
waarom het ‘n mes ‘n hef
sodat die skerpe lem nie die snyer se hand sal tref

al ooit verstaan
waarom woon daar niemand op die maan
omdat dit te ver is vir ‘n naweek hiervandaan

al ooit geraai
waarom die aarde draai
sodat die son ons nie vir 24 uur lank hoef te braai

al ooit onthou
waarom jy jou arms daagliks om haar moet vou
omdat jy haar liefhet, want sy is jou vrou

Prosa & poësie | 0 kommentare

die magtige sneeuvlokkie

Sa., 03 September 2022 12:52

die sneeuvlokkie val geluidloos en sag op die aarde
te midde van die dolle gejaag na oorlewing
maar niemand heg aan die klein vlokkie enige waarde
want hy is gans te klein vir invloed op die omgewing

hulle is wel klein, maar val in baie groot getalle
alhoewel elke vlokkie se bestaan uniek is
vorm hulle saam spoedig gevaarlik hoë walle
‘n lewensgevaarlike situasie, gewis

elke moontlike vorm van vervoer word erg beïnvloed
en in party gevalle kom dit selfs tot stilstand
daar heers absolute chaos onder die mensevloed
want daar is reeds 'n dik sneeukombers van hoek tot kant

ek sidder as ek dink wat hier op aarde sou gebeur
as mense mekaar soos die sneeuvlokkies ondersteun
want dan sal hulle dinge soos moord en verkragting afkeur
terwyl naasteliefde en respek soos omweer dreun

Prosa & poësie | 0 kommentare

heroldsbaai

Sa., 03 September 2022 07:27

‘n traan van verlange rol oor my wang
as ek terugdink na die dae van ons jeug
toe ons lewens gevul was met voëlgesang
en alles wat ons doen was voortgebring uit vreug’

ek, die sproetgesig seuntjie
wat skulpe optel op die sand
en jy, die besige strandjie met die deuntjie
wat die skulpe weer wegraap voor my hand

ek was toe nog jonk en ongebonde
ek het graag in jou waters geswem
jy was rein en ongeskonde
en ek het geglo dat hul jou nooit sal tem

ek het so baie oor jou hangbruggies gehuppel
om jou pragtige natuurskoon te bewonder
en jy het so hard gesukkel
om my by te kom van daar onder

maar ek kan maar vir jou sê
ek was altyd ‘n bietjie vir jou bang
want daar is vele wat iewers lê
soos jy hulle elke jaar kom vang

elektrisiteit het jy toe nog nie geglo
en water was te koop by die kraan op die hoek
nuwe vriende het jy gereeld gewen
want almal het na jou skoonheid kom soek

maar nou het ons altwee veel ouer geword
jy het reeds lankal gebars uit jou nate
en ek begin sukkel om my broek te omgord
jou heuwels is geskend deur die grondmagnate

op die foto’s wat ek saamdra in my brein
en waardeur ek nog gedurig blaai
is jy steeds nog my strandjie klein
my pragtige, jeugdige heroldsbaai

Prosa & poësie | 0 kommentare

hallo, pa

Sa., 03 September 2022 07:26

hallo, pa
ek verlang na die pa-en-seun-dae
wat ek in al my vyftig jaar
nooit die voorreg kon hê om te ervaar
nooit kon ek vir pa sê
dat ek graag in jou arms wou lê
nooit het ek die kans gekry
om op jou nek te ry
nooit kon ek jou uitvra
oor die dinge wat my pla
nooit kon ons speel met ‘n bal
of jy my weer optel elke keer as ek val
nooit kon jy met my stories deel
uit jare reeds lankal vergeel
nooit kon jy my straf
wanneer ek van die lewenspad af draf
nooit kon ek vir jou sê
dat ek jou vir altyd lief sou hê

ja, pa
daar was menige dae
wanneer ek vir jou baie kwaad was
omdat jy so sonder my verkas
want ek kon nie verstaan
waarom jy weg moes gaan
vandag verstaan ek
maar dit maak steeds nie op vir die gebrek
om groot te word sonder ‘n pa
ja, daar is ma
en ek is baie trots op haar
want ek dink sy het besonder goed gevaar
maar sy is nie ‘n man
en daar is dinge wat net ons mans kan

maar pa
ek kan darem “baie dankie” sê, o ja
baie dankie vir die meisie wat pa as vrou
geneem het om mee te trou
baie dankie vir elke gene en karaktertrek van pa
wat saam met díé van ma
gehelp het om van my ek te maak
ek glo dat pa ook op die resultaat trots sou raak

Prosa & poësie | 0 kommentare

Bladsye (1834): [ «    3  4  5  6  7  8  9  10  11  12  13  14  15  16  17  18    »]
Tyd nou: Sa. Feb. 07 02:31:16 UTC 2026