Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » my redding
my redding [boodskap #140188] Di, 06 September 2022 15:42
Louis Basson  is tans af-lyn  Louis Basson
Boodskappe: 200
Geregistreer: Junie 2022
Karma: 4
Senior Lid
die vinnige baan was vir meer as drie dekades my woonplek
waar ek altyd moes sorg dat ek in beheer van die situasie was
om nie in die papieroseaan te verdrink
of tussen raadsaalbesluite te verdwaal nie

soms het alles glad verloop en kon ek kwaliteittyd aan elke taak afstaan
maar op vele tye moes ek deur skietgebede u Hulp en Raad vra
om die korrekte verslae betyds op die verskeie lessenaars te kry

toe blokkeer U die vinnige baan sonder om my daarvan te sê
en tuimel ek soos ‘n tolbos oor na die stadige baan
waar ek myself byna teen die baanversperrings vermorsel
om botsings met die stadige verkeer te vermy

terwyl ek tussen die verskillende baanversperrings rondgeslinger word
en elke keer my oë styf toeknyp en op my tande byt
in afwagting van die komende slag en die pyn
het ek besef dat daar geen bloed of selfs blou kolle verskyn

omdat u Beskermende Hande tussen my liggaam en die baanversperrings
gekeer het dat my liggaam vermorsel word
en sodoende die snelheid van my vaart drasties verminder het

aanvanklik was ek baie kwaad gewees
omdat ek altyd in beheer was
en U sonder my versoek ingemeng het
om my pas te vertraag

het ek dan geen sê meer nie
want dit is immers my lewe wat ter sprake is

my woede het my soos die nat wasgoed in ‘n tuimeldroër laat tol
asof die gespoel in die wasmasjien nie alreeds erg genoeg was nie

maar soos die snelheid van my vaart afgeneem het
het ek besef dat dit u Manier was om my van vernietiging te red
en daarvoor wil ek U graag bedank
omdat ek dit nie verdien nie en slegs deur u Genade ontvang

maar ek wil ook om vergifnis vra omdat my vertroue so swak was
dat ek U nie gedurende hierdie baanverwisseling vertrou het nie
omdat ek toegelaat het dat my blik vanaf U
na die gevare wat my omsingel verskuif het
Vorige onderwerp: die lewe
Volgende onderwerp: die helende krag van water
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 19:55:51 MGT 2024