Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Spoorsnyer sterf

Do., 01 April 2004 15:16

Uit Beeld.

------------------------------------------------------------ --------------

31/03/2004 22:15 - (SA)


Meester van spoorsny sien sy dood in 'n wolk
Charles Smith


Die meesterspoorsnyer Vet Piet Kruiper (63) van die Kalahari het die
teken van sy dood in 'n wolk gesien toe hy in die veld geslaap het. Hy
het dié teken vir haar met 'n stok in die sand geteken - dit was 'n
doodskis, sê sy vrou, Fytjie.

Vet Piet (sy naam is Karel Kruiper, maar is as Karel Kleinman
geregistreer) is Maandag dood in 'n botsing by die
Witdraai-polisiekantoor voor die Kgalagadi-oorgrenspark, waar hy van
sy geboorte gewoon het.

Sy droom was om 'n Nissan Skyline te hê. Dit is in dié Skyline dat hy
dood is. 'n Band het vermoedelik gebars en hy het teen 'n motor met
mense van Rietfontein in gebots.

Agt mense, onder wie twee kinders, is in die ongeluk dood.

Vet Piet, lid van die !Khomani-San, was amptelik een van net drie
meesterspoorsnyers in Suid-Afrika, volgens mnr. Louis Liebenberg,
spoorsnykenner, se gradering.

Mense van oor die wêreld het die Kalahari en die Kgalagadi-park soms
besoek om sy kennis en stories oor die diere en veld te sien en te
hoor.

Vet Piet het in 1996 as senior veldwagter afgetree, maar het onlangs
die eerste, private begeleide staptoer vir 'n safari-onderneming
aangebied.

Fytjie, sy vrou, sê: "Nou is alles weg, maar ons hoop die Here sal ons
nie alleen los nie en iemand vooruit stuur om sy spore te wys." Haar
man was al een wat 'n leeu by Matamata wat aan 'n ketting vas was, kon
hanteer.

"Hy het hom Bontoe genoem en met hom gespeel en gevrywe soos 'n hond.
Dan lê die leeu en brom. Hy het 'n slag met diere gehad, die leeu het
sy hande gelek. Selfs die bobbejaan wat skape opgepas het, het op en
af gespring as hy Piet sien."

"Daai man het van sy dood geweet. Hy het een aand in die veld geslaap.
Hy sien 'n wit kissie, spierwit, in die lug. Hy het vir my dit op die
grond geteken, dit was 'n kis. Hy het gesê: 'Vrou, ek het 'n teken
gesien...' Hy het sy eie spore gelees, ja."

Koeitjies & kalfies | 5 kommentare

Sou jy kon vra...

Do., 01 April 2004 12:49

As iemand van ons hier na 'n politieke vergadering sou gaan, en jy sou 'n
vraag aan elke party kon vra waarop daar geantwoord kon word, wat sal dit
wees?
Sou jy vir die ANC vra hoekom mense krepeer terwyl Maatskaplike dienste elke
jaar met miljoene ongebruikte staatsgeld sit?
Sou jy die NNP vra of dit reg is dat hulle saam met die ANC aansoek gedoen
het om geld van die Lotto-mense te kry?
Sou jy die DA gevra het wie het op hul eienaardige verkiesingsbeleid, nl om
al wat ander party is aan te val, besluit het?
Sou jy die IVP gevra het hoekom konsentreer hulle nie net op Natal om daar
te wen nie?
Sou jy vir enigeen van die ander klein en kleiner partytjies gevra het wat
hulle beleid is t.o.v elke liewe staatsdepartement.

Is dit reg dat 'n versekeringsmaatskappy geld skenk vir die verkiesing?
--
Annette

Koeitjies & kalfies | 3 kommentare

Snaaks / oorspronklike boardroom name

Do., 01 April 2004 11:22

Ons firma wil graag die boardroom 'n naam gee, Afrikaans of Engels dit maak
nie regtig saak nie solank dit 'n tikkie humor bevat.

Het enige van julle dalk 'n paar idees ?

Groete

Werner

Koeitjies & kalfies | 6 kommentare

Max

Do., 01 April 2004 11:15

Patricia Lewis dink daaraan om haar nuwe baba na jou te vernoem!

--
Annette

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Die medaljestorie

Do., 01 April 2004 10:36

Toe SA Sport se storie nog die samestelling van die span was ( nou is dit
mos internasionale deelname), is glo verklaar dat die spanne ten minste 50%
swart verteenwoordiging moet hê, maar as die span uit 100% swart atlete
bestaan, dan sal daar nie teen hulle opgetree word nie.
Ai Tog!
--
Annette

Koeitjies & kalfies | 4 kommentare

Afskeidsgeskenk.

Do., 01 April 2004 08:01

'n Gesin, op pad uit Gauteng na hul nuwe huis en lewe in die Kaap, is toe
vir oulaas in Gauteng 'n presentjie gegee.
Die voertuig is van die pad gedwing, die vrou en dogter is weggeneem en
verkrag, die man is aangerand en geskiet, en die rowers het toe weggejaag.
Almal van die gesin leef nog.
Nou wonder ek net - was daar nie ander motoriste op daardie pad wat kon help
nie?
--
Annette

Koeitjies & kalfies | 21 kommentare

1 April

Do., 01 April 2004 07:17

Tot dusver was daar nog niks op RSG wat ek as 'n Aprilgrap kon herken nie.
Is dit nie die media se plig om ons op hierdie dag te vermaak nie?
--
Annette

Koeitjies & kalfies | 6 kommentare

loop lig

Wo., 31 Maart 2004 22:21

die sukkelaar wat 'n dag of drie gelede
'n trojan hier probeer ingrawe het, gaan
enige tyd nou een stuur onder die naam
"Hilary Duff on beach topless"
Dit is op pad.
Ignoreer dit.

DD

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

" Psalm 8 " deur TOTIUS

Wo., 31 Maart 2004 21:54

Totius (J.D. du Toit)

Psalm 8

Daar is geen land so ver of woes geleë,
geen strand, o Heer, of wilde waterweë,
geen hemelsfeer in die oneindigheid -
of orals blink u Naam en majesteit.

U het, o Heer, wat troon oor alle dinge,
uit kindertaal en stem van suigelinge
u mag gegrond, sodat die mens moet swyg
wat, hoog van hart, uit wraakbegeerte dreig.

As ek, o Heer, u nagtelike hemel
daarbo aanskou, die tint- en glansgewemel;
hoe, deur U toeberei, die skugter maan
met stille gang oor sterrevelde gaan -

wat is die mens dan dat U hom gedenk het,
die mensekind wat U so ryk beskenk het!
Met eer en heerlikheid is hy gekroon,
skaars minder as die eng'le om u troon.

U laat hom heers. Tot aan die verste strande
gebied hy oor die werke van u hande.
U het, o Heer, dit onder hom gestel,
dit hoor sy stem en beef voor sy bevel.

Die os en skaap en wat in wildheid lewe,
die voëls wat deur hoë lugte swewe,
al wat deurkruis die paaie van die see -
tesaam het U dit in sy mag gegee.

Ja, daar's geen land so ver of woes geleë,
geen strand, o Heer, of wilde waterweë,
geen hemelsfeer in die oneindigheid -
of orals blink u Naam en majesteit.

Geloof & kerksake | 1 kommentaar

Mugabe

Wo., 31 Maart 2004 07:35

Lyk my dit het by julle almal verbygegaan, of stel julle nie meer belang in
die man nie? Hy het pas vir homself iets soos 'n 256% verhoging gegee
terwyl sy mense vrek van die honger.

Koeitjies & kalfies | 12 kommentare

Bladsye (1834): [ «    428  429  430  431  432  433  434  435  436  437  438  439  440  441  442  443    »]
Tyd nou: Sa. Jan. 17 22:52:54 UTC 2026