n Vrou het baie las met haar bekkige vierjarige seuntjie in die kerk.
Hy lewer luidkeels kommentaar op alles en, ten spyte van kwaai kyke,
ernstige vermanings en waarskuwings, kom hy net nie tot bedaring nie.
Eindelik raak haar geduld op en sy gryp hom en stap met hom oor haar
skouer in die paadjie af, deur toe. Toe sy so driftig by die deur
uitstap, kyk hy oor haar skouer terug vir die gemeente en skreeu met
'n klokhelder stemmetjie:
"Bid vir my asseblief!"
Daar ís mense wat deur die langnaweek werk! Gisteraand op 'n program
Dwaalspore was daar 'n paar wonderlike stories, o.a. 'n Hottentot wat so
lekker kon hol dat hy enige perd moeg gehardloop het. Maar hoekom sou hy
'n perd wou klop? Oor hy skaap gesteel het! Dan was daar die storie oor
die legendariese groot slang in die Oranjerivier wat mense vang.....maar dis
'n bygeloof wat onder die swart bevolking hoogty voer in omtrent enige plek
in die land waar daar 'n watertjie is.
Die beste storie was oor die meisiekind en 'n Koranna Hottentot wat die
laaste twee oorlewendes was van 'n voortrek [so 2 jaar vóór die befaamde
Dorslandtrek] van 11 waens en mense wat 'n beter lewe wou gaan soek het in
Angola. Stadig maar seker het haar mense uitgesterf aan die 'koors'
[malaria] want hulle't 'n probleempie gehad. Volg hulle die groot rivier,
het hulle volop water maar die koors looi hulle. Hou hulle weg van die
rivier en die muskiete, dan vat die dors hulle en die diere.
In elk geval, toe nog net sy en die Koranna oor was en haar laaste dae
is daar, toe gaan sit sy en skryf 'n gedig neer op 'n groot plat klip wat
haar en haar mense se lyding en eensaamheid beskryf. Blykbaar het sy dit
met 'n haarnaald op die klip uitgekrap. Wat wonderlik is, is dat dit
behoue gebly het vir oor die 100 jaar en in die argiewe in Windhoek is.
Ook dat die gedig getoonset is en 'n hartseer liedjie het die lig gesien.
Ek wonder hoe lank het sy met dié gedig in die gedagtes bly spook so
in haar eensame trek deur 'n rowwe wêreld? Hoe lank het sy gewerk daaraan
? Sekerlik het dit nie op die ingewing van 'n oomblik gekom nie. Die
uiteinde van die storie is dat sy gesterf het by die klip en dat die Koranna
teruggestap het beskawing toe en vir latere trekkers die plek gaan wys het
waar die klip was. Ons harde land is vol van sulke wonderlike stories!
Het verlede week die prent gesien - heel genotvol, en so tekenend wat elke
liewe dag gebeur - twee vreemdelinge wat bymekaar betrokke raak in 'n
vreemde hotel, en dan weer weggaan, sonder om mekaar ooit weer te sien.
onsigbare god,
bly te kenne.
laat u naam teen wil en dank geskied,
want ons leef ten dele.
teken die vorm hier,
u is nou aangestel
in die natuur,
ook in die deurmekaar stad.
behandel my dink,
volgens die wette van die hemel
want wie kan 'n hof vertrou?
sluit die arsenale toe,
en gooi die sleutel weg.
maak my sondag wakker
om die kerkklokke te hoor.
vergewe die politici hul sondes
hulle is ook maar mense.
trek 'n streep deur my woorde
want stilte verdien volpunte.