Daar ís mense wat deur die langnaweek werk! Gisteraand op 'n program
Dwaalspore was daar 'n paar wonderlike stories, o.a. 'n Hottentot wat so
lekker kon hol dat hy enige perd moeg gehardloop het. Maar hoekom sou hy
'n perd wou klop? Oor hy skaap gesteel het! Dan was daar die storie oor
die legendariese groot slang in die Oranjerivier wat mense vang.....maar dis
'n bygeloof wat onder die swart bevolking hoogty voer in omtrent enige plek
in die land waar daar 'n watertjie is.
Die beste storie was oor die meisiekind en 'n Koranna Hottentot wat die
laaste twee oorlewendes was van 'n voortrek [so 2 jaar vóór die befaamde
Dorslandtrek] van 11 waens en mense wat 'n beter lewe wou gaan soek het in
Angola. Stadig maar seker het haar mense uitgesterf aan die 'koors'
[malaria] want hulle't 'n probleempie gehad. Volg hulle die groot rivier,
het hulle volop water maar die koors looi hulle. Hou hulle weg van die
rivier en die muskiete, dan vat die dors hulle en die diere.
In elk geval, toe nog net sy en die Koranna oor was en haar laaste dae
is daar, toe gaan sit sy en skryf 'n gedig neer op 'n groot plat klip wat
haar en haar mense se lyding en eensaamheid beskryf. Blykbaar het sy dit
met 'n haarnaald op die klip uitgekrap. Wat wonderlik is, is dat dit
behoue gebly het vir oor die 100 jaar en in die argiewe in Windhoek is.
Ook dat die gedig getoonset is en 'n hartseer liedjie het die lig gesien.
Ek wonder hoe lank het sy met dié gedig in die gedagtes bly spook so
in haar eensame trek deur 'n rowwe wêreld? Hoe lank het sy gewerk daaraan
? Sekerlik het dit nie op die ingewing van 'n oomblik gekom nie. Die
uiteinde van die storie is dat sy gesterf het by die klip en dat die Koranna
teruggestap het beskawing toe en vir latere trekkers die plek gaan wys het
waar die klip was. Ons harde land is vol van sulke wonderlike stories!
Het verlede week die prent gesien - heel genotvol, en so tekenend wat elke
liewe dag gebeur - twee vreemdelinge wat bymekaar betrokke raak in 'n
vreemde hotel, en dan weer weggaan, sonder om mekaar ooit weer te sien.
onsigbare god,
bly te kenne.
laat u naam teen wil en dank geskied,
want ons leef ten dele.
teken die vorm hier,
u is nou aangestel
in die natuur,
ook in die deurmekaar stad.
behandel my dink,
volgens die wette van die hemel
want wie kan 'n hof vertrou?
sluit die arsenale toe,
en gooi die sleutel weg.
maak my sondag wakker
om die kerkklokke te hoor.
vergewe die politici hul sondes
hulle is ook maar mense.
trek 'n streep deur my woorde
want stilte verdien volpunte.
Sommige van Totius se gedigte is so diep aangrypend dat ek dit met moeite
kan lees. Niemand wat kinders het kan sy gedigte oor die dood van sy
seuntjie, na baie lyding, en sy dogtertjie, wat deur die weerlig doodgeslaan
is lees sonder om diep ontroer te word nie. Hier is sy "Die Oue Put" met
sterk evokatiewe beelde van uitmergelende hitte en droogte, van
verwaarlosing en selflose moederliefde. Seker 'n sentimentele gedig in
moderne terme, maar wat is daarmee verkeerd om sentimenteel te wees?
Nietemin - 'n gedig wat op baie vlakke tot my spreek en veel betekenis inhou
vir my. Ek het so lank daarna gesoek en geweet ek het dit iewers. Vandag
ontdek ek dit in 'n versameling byeengebring deur CM van den Heever, wat ek
al vergeet het ek besit. Dansky die moderne tegnologie kon ek dit scan in in
Word korrigeer. Vergewe as daar tog nog tikfoute deurgekom het.
DIE OUE PUT
Ginds op 'n koppie, ver geleë,
weg van die woel'ge werf en weë,
armoedig lê en skaars beskut
in middagslaap die oue put.
Geen voël laat sy lied daar klink nie,
Geen doringboom sy skadu sink nie
Op leiklip-brokkies wat lê braai
in middaggloed se ligte laai.
Verwaarlosing se ongenade
spreek uit die stukke pale en drade,
waarbinne staan 'n slingerwiel:
die toegang tot 'n diepe siel,
tot swyggeheim van waterwonder
wat rustig lê in dieptes onder,
tot sag 'n windjie hulle ontwek
voordat die kuddes bronwaarts trek.
Intussen daal van hemeltinne
deur somber skemering daarbinne
'n langgespanne siIwerdraad
Wat afglans op haar stil gelaat.
'n Wyle, en dis al verlede -
'n klippie duikel na benede . . .
Waar kom die wekkertjie vandaan?.... .
Het die awendkoelte dit gedaan? . . .
'n Wyle, en dis al ontroering
en alte wrede rus-ontvoering;
want nou gaan oop die deksel wat
geheel ontsluit haar koele skat.
Sy hoor naby en altyd nader
die skapies om haar heen vergader;
Sy open mild haar waterfles
om al wat kom die dors te les.
Dit put maar en sy gee maar immer,
dit put maar en sy weier nimmer,
net soos 'n moeder, so opreg,
gee sy haar laaste druppel weg!
Straks gaan die skapies almal weg weer
die putters skuif die sluitsteen reg weer,
en niemand dink dan langer om
haar so vervalle heiligdom.
Haar lewe is soos die moederlewe:
by ondank immer bly te gewe;
maar 'k hoor, as hul het heengegaan,
diep onder tap... . 'n watertraan!
Dit het 10 jaar geneem vir Kofi Anan om te erken die VN het 'n fout gemaak
om nie hulp te verleen aan die slagoffers en hul gesinne van die slagting in
Rwanda 10 gelede nie.
Gaan dit 'n verdere 10 jaar neem vir die VN om dieselfde erkenning te doen
ivm Zimbabwe?
--
Annette
Vanoggend op StemSaam was daar iemand wat gepraat het oor padveiligheid. 'n
Inbeller het vertel dat hy nie kan aangaan met sy besigheid nie, omdat die
lisensiemense 'n fout gemaak het met sy voertuig, dit slegs deur 'n
polisiebeampte reggestel kan word, en dat geen polisieman beskikbaar is om
hom te help tot na die verkiesing nie.
--
Annette