Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Nog Mugabe.......

Sa., 13 Julie 2002 07:45

Ek gesels annerdag met 'n ervare IDB-speurder oor diamantsmokkelary.
Meeste mense het mos maar die idee dat diamantesmokkel baie keer meer 'n
geleentheid eerder as 'n misdaad is. Baie sal jou vertel dat as hy net die
kans kry, sal hy net vir EEN keer die kans vat om die nodige skop te kry tot
finansiële utopia, maar dan kry almal mos nie die kans nie, hm?
Die ou vertel toe vir my dat die mense wat so gesels, pomp net warm lug
want hulle het nie 'n idee waaroor dit gaan nie. Hy sê daar kom 'n dag in
elkeen se lewe waar jy 'n krisis-karakterbesluit moet neem: Laat jou
gewete jou toe tot kriminele optrede of nie? Vat jy daai paadjie, dan is
jy 'n misdadiger, 'schluss' en klaar. Daar bestaan nie die storie van net
een keer smokkel nie. As jy een keer die vrug van maklike inkomste gesmaak
het, die volgende keer as jy 'n krisis het, dan doen jy dit weer.
My pappie-goed het altyd gesê dat g'n mens kan vir seker sê hy's nie 'n
dief voor hy nie ordentlik voor 'n versoeking geplaas is nie. Dit is so
dat seker maklik 95% van mense op kantoor 'n pen of uitveër sal kan vaslê en
nie 'n oog daaroor knip nie, maar sê jy kom op 'n ongeluk af waar 'n ou dood
langs die pad lê met g'n mens in sig nie en in die kar vind jy 'n tas met 'n
miljoen in kontant in? Sal jy vat, of los?
Dit bring my by Mugabe en ander Afrikaleiers. Een en elke Afrikaland
ondervind 'n misdaadgolf na onafhanklikheid en binne die regerings self, is
bedrog aan die orde van die dag. Hoekom? Is dit nie dalk omdat die
sogenaamde vryheidsvegters buite die wet moes gaan om hulle sin te kry nie?
Nou, na die stryd gewonne is, ondervind hulle probleme met hierdie
skeidingslyn tussen reg en verkeerd. Weet hulle enigsins nog waar daardie
lyn getrek is?
Ek dink dit gaan Afrika nog 'n verdere 30 - 50 jaar vat voor die
bevolking sal stabiliseer. Die groot vraag is natuurlik net hoeveel gaan
oor wees na Mugabe, Nujoma en hul agterryers hulleself blinkvet geoes het?

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Marchand

Vr., 12 Julie 2002 19:24

Gloudina

Iewers het jy die naam Marchand genoem, dus neem ek aan jy het daar of
daar naby grootgerword. Ken jy die Engelse? Nou bedoel ek nie
Engelse van die Britse soort nie, maar mense met die van Engels? Die
familienaam onder die mans was nogal Elias, dink ek. Dis die familie
wat die Kalhari-gemsbokpark vir jare beheer het, twee van hulle
namekaar, beide genaamd Elias as ek reg onthou. Dis hulle wat jare
lank leeus wat na Botswana en Suidwes toe afgedwaal het op die rug van
'n kameel gaan terugjaag het. Ystermense!

Ek en een van die jonger (!) Eliase het op dieselde dag op dieselfde
plek begin werk Hy is redelik gou getroud met 'n meisie wat ook van
daai wêreld af kom, een van so iets soos sewe susters. Vertel hy my
eendag die volgende storie: Pa het die lot dogters vir die
skoolvakansie op Upington gaan haal en toe hulle al naby die plaas
kom, dis al donker, loop vrek die bakkie. Pa is uit met die slinger
(dit was nog een van daai soort) en begin slinger, maar Ma en die
dogters kom nie reg met die clutch en die petrol as dit nou lyk asof
daar lewe wil kom nie. Na 'n ruk toe is Pa nou al natgesweet, die
bakkie se ligte brand nog en Pa is nou nie juis bekend vir sy
eindelose geduld nie. Hy staan toe so entjie terug met die slinger en
sê, "Jou bliksem, dan staan jy nog vir my en ky ook!", en woeps!
woeps! slaan hy altwee die ligte stukend!

Drom

Koeitjies & kalfies | 2 kommentare

Honde en pap

Vr., 12 Julie 2002 19:05

Dit was Suidwester, dink ek, wat onlangs genoem het dat pap (ek neem
aan dis mieliepap) net 23% verteerbaar is vir honde. Ek sou gedink het
dis sou nog laer wees en nog heelwat laer vir katte, want die honde-
en kattefamilies is vleisvretende diere van wie die
stysverteringssiteem baie swak aangepas is om stysel te verteer en
baie meer aangepas is om proteïne te verteer.Al wat hulle eintlik kan
hanteer is die bietjie glikogeen wat in spiere en die lewer voorkom,
en dis maar min.

Mense daarteenoor is omnivore, wat alles vreet en, omdat stysel (die
graansoorte, bolle, knolle, yams (Afr?) ens.), die hoofbron van
energie vir omtrent alle mense is, is die mens se vermoeë om stysel te
verteer baie hoog. Ek het probeer om uit tevind wat die
verteerbaarheid van miliepap is maar kon nie die syfer kry nie.
Instink sê vir my dit sal minstens 70% wees. So Annette, vergeet van
kindermishandeling, al daai pap was goed vir jou :)

Drom

Troeteldiere | 14 kommentare

Ertjies

Vr., 12 Julie 2002 19:00

So in my afwesgheid van die ng het ek darem 'n hele paar goedjies
getik waarmee ek nooit tot poste gekom het nie. Hierdie een is eintlik
vir Gloudina; Gloudina. jy het lank terug in 'n draad gesoem dat jy
nie van soetgoed op jou bord hou nie. Stem saam. Daar in die bos het
ons 'n groentetuin gehad so groot soos 'n derde van 'n rugbyveld, dus
was ons selfonderhoudend wat groente betref, behalwe dalk vir uie en
aartappels wat ons soms met ruilhandel in die hande moes kry. My Ma
het baie tradisioneel gekook, dus was daar altyd ten minste een soet
groente op die bord. Sy het self opgeskep en ons moes eet wat op die
bord was, al was dit soms moeilik.

As iemand dalk vir jou ertjies present gee, moet dit nie weggee of vir
die kat voer nie, daar's iets beter om daarmee te doen: Kook hulle
gewoonweg tot sag, "mash" hulle dan met 'n lekker klont botter (OK,
OK!), redelik baie sout en 'n goeie lot varsgemaalde swart peper.
Probeer dit, dis lekker.

Groete, Drom

Koeitjies & kalfies | 26 kommentare

Bekentenis (bloos!)

Vr., 12 Julie 2002 18:56

Dagsê Almal,

Ek was bietjie lanklaas hier. Eers vir 'n rukkie weg, toe nogal besig
(eksamens) en toe vir die laaste agt dae in die hospitaal. En hoekom?
Eerstend voel ek nogal skaam om te sê hoekom, maar dan aan die ander
kant is ek nogal heel trots op myself. Julle sien, ek suip nou al vir
'n hele ruk; soms min, soms meer, soms heelwat en soms baie. Gelukkig
(?) was dit nooit so erg dat dit my normale dagtake beïnvloed het nie.
Toe, so ses weke gelede, breek alle hel los en begin ek suip asof dit
uit uit die mode gaan raak. Alles het gaan staan. Ek wou niks doen tot
die volgende dop op die horison verskyn nie. Op 2 Julie het ek myself
toe vir detoks/uitdroog gaan aanmeld en is eegiser ontslaan. Hopelik
sal dit werk. Soos die Engelse sal sê, almal van julle, "raak hout."
asseblief. Dit mag nooit weer gebeur nie. "Relaps" is glo nogal
maklik.

Eintlik voel ek nogal embarrassed om hierdie topic hier op te haal,
maar ek beskou (meeste van?) julle as internetvriende en dalk kan my
raad dat dit nie moeilik is nie iemand van
soc.culture.south-africa.afrikaans of hulle vriende/kennisse help.
Mens besef nie altyd hoe groot die probleem is nie.

Groete, Drom

Daar was woeste strorms hier in die Oos-Kaap en toe word ek nog op die
koudste dag van die jaar ontslaan :-). Genoeg om enige mens te laat
suip :))))

Koeitjies & kalfies | 15 kommentare

Mugabe en Afrika

Vr., 12 Julie 2002 11:24

Het julle gisteraand op KykNet gesien van die mense wat Mugabe nou in die
Wêreldhof wil aanvat sodat hy verantwoording kan doen vir sy dade? Wat my
nogal geruk het was die storie van dat Mugabe een van die 10 rykste mense op
aarde is! Die man kom mos 'n ernstige bloedkeel kort want die enigste
manier vir 'n president van 'n land om so baie geld te vergaar, is om sy eie
land te verkrag.
Nog meer verontrustend was die teorie dat Mugabe nie blankes van hul
plase afsit net om van blankes ontslae te raak nie.....hy wil die
boerderybedryf in geheel skaak. Kyk mens verder suid, hier na ons toe en
na Suid-Afrika, dan is dieselfde patroon duidelik sigbaar. Hier by ons het
Sam Nujoma al om en by 9 plase en die politici verdien skrikwekkende
salarisse. Die gewone ou op die grond leef natuurlik niks beter nie want
eintlik is daar nou minder werksgeleenthede as wat daar ooit was.

Koeitjies & kalfies | 7 kommentare

Bangpraat

Vr., 12 Julie 2002 08:20

Na aanleiding van geskreeude dissipline:
'n Dreigement wat in duidelike, afgemete, verstaanbare taal geuiter word het
honderdmaal meer trefkrag om dissipline af te dwing as enige onduidelike
geskel met gepaardgaande vloekery.
Kyk maar na die flieks oor die Mafia - daardie ouens skel, vloek of klim
nooit in mekaar se karakters in met gepaardgaande bultende nekke nie. Maar
almal weet as iets in 'n sekere kalm stemtoon gesê word, dan is die tyd vir
speletjies verby.

Hierdie geskellery en dreigery met geweld is seker iets te doen met ons
tradisie - toe Ian 'n erge depressie-aanval kry, toe dreig my pa om hom te
slaan tot hy regkom. Ek kon verstaan hoekom hy dit gesê het.
Hoeveel van ons as kinders het nie gehoor: Ek sal jou pak gee totdat jy
ophou huil nie, of ek sal jou pak gee as jy nie dit of dat doen nie - sonder
om te verduidelik wat die doel agter die opdrag is.
Ons was letterlik grootgemaak en gedissiplineer met skellery en of
dreigemente by die huis, skool en kerk .

Enige verhouding waar die nodige respek bestaan tussen al die mense
teenwoordig word oneindig meer gedissiplineerd as waar SM dink hy dwing
dissipline af deur die manskappe te verskreeu.
Annette - een van die wat geweier het om te salueer.

Koeitjies & kalfies | 7 kommentare

Reserviste nie meer nodig nie

Vr., 12 Julie 2002 07:04

Slegs persone wat in werksituasies is was niks met polisiewerk te doen het
nie, sal voortaan as reserviste toegelaat en behou word.
Geen persoon wat werk by sekuriteitsfirmas, verdediging of enige werk wat "
conflict of interest" het met polisiewerk mag as reservis diens doen nie.

Annette

Koeitjies & kalfies | 4 kommentare

Krieket Wêreldbeker

Vr., 12 Julie 2002 06:33

Dis nou maar van ons - nooit die goue middeweg nie.
Hieronder die pryse van die kaartjies en wat nie by velde toegelaat word
nie.
Hulle neem ons unieke manier van krieket geniet heeltemal weg.

Pryse: Goedkoopste -
SA Follow our team:
Openingseremonie en 5 wedstryde R 830
Dan wissel die pryse van R 100 vir 2 wedstryde tot R 1100 vir 5 wedstryde

Die volgende sal NIE toegelaat word om in te bring by wedstryde nie:
Koeldranke, gebottelde water+ en ander nie-alkoholiese drankies.
Alkoholiese drankies
Speelgoed
Diere
Baniere en vlae groter as 1 x 1.5 m
Geen neerhalende of bewoording in swak smaak sal toegelaat word nie.
Ou SA vlae
Fietse, skaatsborde en rolskaatse
Horings, musiekinstrumente
Selfverdedigings-sproeimiddels
Chemiese stowwe
Spuitkanne
Radios - behalwe transistor radios wat met 'n oorstuk toegerus is
Draagbare braaigeriewe
Koelsakke - behalwe 60 x 30cm grootte waarin slegs voedsel mag wees.
Strandstoele, sambrele
Wapens
Vuurwerke.

Annette

--
Groetnis,
Annette. ann...@ctnet.co.za
Happiness is a State of Mind

Sport & ontspanning | 3 kommentare

Geen Gawes des Gods meer

Do., 11 Julie 2002 06:22

Die GodsGawes ( GG in die ou tyd, nou net G vir Gauteng), motors wat deur
die meeste staatsdiensamptenare misbruik word, gaan nou streng gemonitor
word dmv 'n GPS stelsel.
Dit sal glo die ongematigde gebruik, misbruik, tyd spandeer in die voertuig
wat niks met diens vir die staat te doen het nie, brandstof en
batterydiefstal beperk.
Ek lees vanoggend dat Telkom 4 miljoen in een jaar gespaar het deur net die
batterydiefstal te keer- Telkom sit 'n nuwe battery in, en met die eerste
rit word die nuwe battery vir 'n stokoue omgeruil.
Nietemin, in die ou dae toe Pa met 'n GG gery het vir inspeksies, is vooraf
bepaal hoeveel kilometers gery gaan word, en hoeveel aan brandstof
gespandeer gaan word, en enigiets ekstra is van hul salaris afgetrek,
behalwe onvoorsiene herstelkoste.
Dit was 'n eenvoudige stelsel wat goed gewerk het.
Daardie tyd.
Nou het ons 'n duur stelsel nodig om die GG bevoorregtes in toom te hou.
Ons is dankbaar dat daar darem iets gedoen word na amper 'n dekade se
ernstige misbruik.

Annette

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Bladsye (1834): [ «    720  721  722  723  724  725  726  727  728  729  730  731  732  733  734  735    »]
Tyd nou: Di. Apr. 21 03:30:22 UTC 2026