as pasgebore kind
het ek my in een van die heel pragtigste lande bevind
‘n land waar mense van verskillende kulture
in spontane harmonie met mekaar lewe
‘n land waar ‘n dierverskeidenheid
daagliks die vlaktes en riviere en lugruim deel
sonder om die natuur te ontneem van sy ryke plantverskeidenheid
as opgroeiende kind
het ek my in een van die politiekbedrywigste lande bevind
‘n land waar mense van verskillende kulture
in haat teenoor alle witmense lewe
as gevolg van die apartheidsbeleid
wat nie-wittes verbied om die land met wittes te deel
‘n land waar miljoene mense met nuwe oë kyk na hul eie identiteit
as destydsgebore kind
is dit een van die heel gevaarlikste lande waarin ek my bevind
‘n land waar mense van verskillende kulture
in uiterste vrees vir ander mense lewe
weens die misdadigers se moordmetodeverskeidenheid
‘n land waar mense daagliks moor en verkrag en steel
as gevolg van ‘n algehele gebrek aan ‘n misdaadbeleid
"sien" en "hoor"
dis twee woordjies wat ons baie graag gebruik
ons sien en hoor hulle elke dag in verskeie vorms
ons gebruik hul tuis, op skool, by die werk en
ja, selfs in die parlement
as ons mooi sou kyk en luister
dan sou ons sien en hoor
dat ons met sien en hoor
nie altyd sien en hoor
dít wat ons veronderstel is om te sien en te hoor
dis omdat ons net sien en hoor
in plaas van om te kyk en te luister
want as ons sien en hoor
weet ons nie waarna om te kyk en te luister
omdat ons dink sien is kyk en hoor is luister
ons kan net werklik sien as ons eers kyk hoe iets lyk
so kan ons ook net hoor as ons luister wat iemand fluister
want sonder om te kyk, weet ons nie hoe dit lyk
en sonder om te luister, weet ons nie wat word gefluister
want sien is mos nie kyk en hoor is mos nie luister
o magtige poort van die suiderland
wat strek van die klein tot die groot karoo doer anderkant
waar kom jy oorspronklik vandaan
sê my tog, hoe het jy ontstaan
was jy reeds 'n voetpad in die dinosaurustyd
waar reuse pote jou soliede kranse laat slyt
of het ander dierepote hul weg deur jou gebaan
voordat ook hul verdwyn het hiervandaan
dalk het geweldige donderbuie
die grootrivier se waters oor jou rotse laat kruie
waar dit grond en klip en plant meesleur
soos dit deur jou krake seewaarts beur
miskien het 'n verwoestende aardbewing
jou kranse uitmekaargedwing
en skep toe so die wonderpoort
ons roete tussen suid en noord
met elke oorsteek van die grootrivier
open 'n venster op die wonders hier
gekleurde kranse strek hemelhoog
jy is 'n lafenis vir elke oog
om elke draai besef mens weer
hoe swak, hoe klein, hoe teer
die mens werklik is dis tog so
jou skepper kom ook nie van hier, maar wel van Bo
oor baie jare heen het ek tale bestudeer
en my telkemale na die woordeboek gekeer
sodat die woorde wat ek soek
presies beteken soos in daardie boek
een so 'n woord was "demokrasie" gewees
'n pragtige woord, want daar het ek gelees
dit staan vir vryheid, gelykheid, menslikheid
regverdigheid en nog vele ander "heid"
ek weet nou wat "demokrasie" beteken
maar nou is daar 'n storm in my ontketen
ek verstaan nie die woorde wat end in "heid"
want ek lewe nou in 'n heel ander tyd
toe die boek gedruk is, het "vryheid" gesê
vry om te lewe. vry om 'n huis te mag hê
vry om te werk, vry om skool toe te mag gaan
vry om te ontspan en nog "vrye" verder aan
nou het ek tot my grote spyt ontdek
dat "vryheid" beteken vry om te vrek
vry om te steel en ook vry om te moor
vry om te alles wat die land versmoor
as dit dan nou is wat "demokrasie" beteken
sal ek baie graag die eerste petisie teken
wat ons weer terug sal neem na 'n vroeëre land
en ek weer tale kan leer met my eie verstand
vir dae aaneen hou ek jou dop
daar waar jy jou nessie bou in die doringboom
hoe jy heen en weer vlieg
met ‘n grassie of ‘n stokkie in jou bekkie
om dit geduldig en sorgvuldig in die boom se mik neer te lê
soms, in jou afwesigheid, kom daar ‘n briesie op
wat so hap-hap aan die werk van jou snawel
en dan val daar soms ‘n stokkie af
maar by jou terugkeer, merk jy die skade dadelik op
en gaan soek daardie stokkie op die grond
elke stokkie word versigtig tussen die ander deur gevleg
om so ‘n stewige stokkiesmuur te vorm
sodat nie wind of reën dit uit die mik sal kry nie
en as jou nessie klaar gebou is
sit jy mossietrots jou snawelwerk van alle kante en aanskou
op soek na die ware betekenis
van die woord “beskawing”
vlieg ek soos ‘n reuse arend
op ‘n hoogte van tienduisend meter
oor elke stukkie grong - vasteland, land en eiland
geen menseskuilplek ontglip my geoefende arendsoog
om so elke ras en nasie in te sluit
ek sien mense wat saam met mekaar
in kantore en op landerye werk
vir die vooruitgang van hulle land
en die toekoms van hulle kroos
pragtige mense wat deel in mekaar se lag en huil
ek sien ook mense wat saam met mekaar
in kantore en in fabrieke werk
vir die vernietiging van hulle aardgenote
en die uitbreiding van hulle grondgebied
wrede mense wat geen belang het by die welstand van ander
ek sien verder mense wat saam met mekaar
in kantore en in huise werk
vir die vernietiging van hulle landgenote
deur verkagting, moord, inbraak, diefstal, aanranding
siek mense wat geen respek het vir die lewe nie
my vlug neem my oor demokrasieë, koninkryke,
sheikhdomme, hoofmanskappe, diktatorskappe en nog vele meer
ek sien dat daar haas geen land, geen stad, geen dorp
en byna ook geen huis is sonder ‘n vorm van “terrorisme”
nou wat beten die woord “beskawing” dan
terwyl die son sy strale oor die vlakte sprei
waar grond en klip soos gloeiende stoofplate alles verbrand
wat probeer om daaroor te beweeg
strompel die veloortrekte skelet van ‘n wildsbok voort
op soek na ‘n lekkie water
of ‘n sappige blaar
terwyl sy uitpeuloë stip na die mirage in die verte staar
met moedelose oë opgeslaan na bo
op soek na ‘n tikkie blou lug
of ‘n straal van die son
staan die gesin voor die vensters
terwyl die gietende reën
rustige strate in kolkende riviere verander
en ommuurde tuine damme word
waarop hondehokke en vullisdromme lomp ronddryf
reddingswerkers jaag met motorbote waar ‘n week gelede nog sypaadjies en parkeerterreine was
miertjie teen die muur
dis nie nodig om my so aan te gluur
ek wil jou slegs ‘n vragie vra
wat is die boodskap wat jy dra?
want jy stap geen ander mier verby
so lyk dit immers vir my
en om te hoor wat jy vir hulle sê
is al wat ek van jou wil hê
ek het nog nooit gesien dat jy sit en rus
en van jou konstante spoed is ek deeglik bewus
jou roetes neem jou ver van hier
en die mense sê jy is die fluksste dier
maar nogtans vind jy oorgenoeg tyd
om jou geheime boodskap wêreldwyd
aan ‘n ieder en ‘n elk oor te dra
sonder dat dit nodig is om jou te vra
ons menselewens is net so gejaagd soos julle s’n
en ons dag sluit ook kontak met ander mense in
maar daar is iets wat ontbreek in onse dag
ons kan ure lank vir onbenullighede wag
maar nooit is daar die tyd om iets moois te sê
aan ‘n ieder en ‘n elk wie se weg oor ons s’n lê
help my tog, miertjie, om dit aan te leer
die gee van ‘n glimlag en “goeie dag” elke keer