Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Afrikaanse grappe

Waar kry mens lekker Afrikaanse grappe?; Wo., 23 Mei 2018 16:25

Op hierdie forum, natuurlik! As daar nie grappe was nie, sou die ou wêreld maar 'n vervelige plek wees. As jy die forum lees behoort jy sommer vinnig heelwat beter te voel!

As u vir grappe elders op die internet soek, kan u die volgende probeer:

Laat asb weet as jy bewus is van enige ander goeies.

Humor & grappe | 0 kommentare

Eksamenflaters

Ma., 21 Mei 2018 19:45

Afrikaans Graad 8
Maak 'n sin met "ter aarde bestel"
Wie op ter aarde bestel so 'n groot koek?

Wiskunde Graad 9
Gee die formule om die oppervlakte van 'n sirkel te bepaal
Paai straal kordaat.

Afrikaans Graad 8
Gebruik "bruin" as 'n werkwoord.
Die kommuniste het die man gebruinwash.

Aardrykskunde Graad 10
Hoe het berge ontstaan?
Deur baie sterk winde.

Rekenaarstudie Graad 12
Waarom moet rekenaargebruikers gereeld rugsteunkopiee maak?
Sodat hulle nie rugpyn kry nie.

Geskiedenis Graad 11
In watter jaar het Suid-Afrika 'n unie geword?
Ek weet nie meneer. Maar 'n geseënde Kersfees en 'n voorspoedige Nuwejaar vir meneer en meneer se gesin.

Afrikaans Voltooi: Hoe kaler jonker...
...hoe stouter in die donker.

Wiskunde Graad 8
Wat is regoorstaande hoeke?
Dit is hoeke wat vir mekaar kyk.

Geskiedenis Graad 8
Waarom is die Mona Lisa-skildery so baie werd?
...omdat sy so 'n mooi vrou was.

Bybelkunde Graad 8
Waar het die koning van Israel twee afgodsbeelde laat oprig?
In Jerusalem en Gauteng.

As kinders nog te klein is om pille te sluk, hoe kan 'n mens vir hulle medisyne ingee?
Tepelsgewys.

Wat is 'n vlieënde piering?
'n Ding soos hierdie: O

Waar word sykouse vervaardig?
By Pep Stors.

Waarom is die seun in die verhaal gestraf?
Omdat hy sy eie virgin van die volkslied gesing het.

Noem drie soorte grafiese rekenaarpakkette wat 'n mens kry.
Reghoekiges, rondes en langwerpiges.

Noem die vier seisoene.
Sout, peper, mosterd en asyn.

Hoe word dou gevorm?
Die son skyn op die blare en dan sweet hulle.

Wat veroorsaak getye in die see?
Die getye is 'n geveg tussen die aarde en die maan.
Al die water wil na die maan vloei, want daar is nie water op die man nie.
Ek het vergeet waar die son in die geveg inkom.

Watter waarborge kan 'n bank vereis as hulle 'n huisverband toestaan?
As jy 'n huis koop, kan hulle aandring dat jy goed geërf het.

Hoe belangrik is eleksies in 'n demokratiese samelewing?
Baie belangrik. Voortplanting kan slegs gebeur as 'n man 'n eleksie het.

Wat is 'n terminale siekte?
As jy op die lughawe siek word.

Humor & grappe | 4 kommentare

Waarom het 'n Brandweerwa 'n Rooi Leer?

Ma., 21 Mei 2018 06:37

'n Brandweerwa het 6 wiele en 6 bemanningslede.
6 + 6 = 12
Daar is 12 duim in 'n liniaal.
Die Engelse woord vir liniaal is "ruler".
Die "ruler" van Engeland is Queen Elizabeth.
Daar is 'n skip met die naam "Queen Elizabeth".
Die "Queen Elizabeth" vaar op die see.
In die see is daar visse.
Visse het vinne.
Die Finne het egter teen die Russe baklei.
Die Russiese leer staan bekend as die Rooi Leer.
Daarom het 'n brandweerwa 'n rooi leer.

Humor & grappe | 0 kommentare

Piesangskons

So., 20 Mei 2018 09:31

PIESANGSKONS

250 ml piesangmoes (1 k)
60 ml sonneblomolie (1/4 k)
50 ml suiker (3 e)
2 eiers
400 g bruismeel (3 k)
30 ml vlapoeier (2 e)

Verhit die oond tot 230°C. Smeer 'n groot bakplaat. Klits die piesangmoes, sonneblomolie, suiker en eiers baie goed saam. Sif die bruismeel en vlapoeier saam. Sny dit met 'n slaplemmes by die piesangmengsel in. Skep dessertlepels vol deeg 'n entjie uitmekaar op die bakplaat. Bak die skons ongeveer 12 minute lank tot goudbruin. Plaas dit op 'n draadrak om af te koel.

Lewer 16 skons.

Kos & resepte | 0 kommentare

Malvasnoepies

So., 20 Mei 2018 09:29

MALVASNOEPIES

100 g wit en pienk malvalekkers
100 g kooksjokolade
50 g fyn gekapte neute (1/2 k)

Steek 'n peuselstokkie in 'n plat sy van elke malvalekker. Breek die sjokolade in stukkies en smelt dit in 'n bakkie oor warm water. Hou elke malvalekker aan sy peuselstokkie vas en rol dit in die sjokolade totdat dit rondom daarmee bedek is, maar nie aan die plat kante nie. Rol dit dadelik in die neute. Plaas die snoepies op 'n vel waspapier om hard te word.

Lewer ongeveer 15 snoepies.

Kos & resepte | 0 kommentare

Worsie & Kaasrol

So., 20 Mei 2018 09:22

Worsie & Kaasrol

Kors
500 ml, ongesif afgemeet, koekmeelblom
20 ml bakpoeier
2 ml sout
125 g margerien, by kamer temperatuur
150 ml melk

Vulsel
250g Weense worsies, grof gerasper
500ml gerasperde kaas
50 ml margerien
1 ui fyn gekap
7 ml worcestersous
7 ml anngemaakte mosterd
1 eiergeel & 25 ml melk saamgeklits
vars pietersielie of ander kruie

Voorverhit oond tot 200 C. Smeer bakplaat. Sif meel, bakpoeier & sout saam. Vryf margerien liggies met vingerpunte in meelmengsel tot goed gemeng.

Sny melk met 'n slaplem mes in meelmengsel terwyl geleidelik in straaltjie bygevoeg word, 'n taamlike stywe deeg moet ontstaan. Rol deeg op meel bestrooide deegplank uit in 'n reghoek van 35x27 cm.

Meng worsies, kaas en margerien, ui, worcestersous en mosterd saam. Smeer mengsel ewe dik oor deeg. Rol deeg soos 'n rolkoek van een sy af op met vulsel tussenin.

Plaas rol op bakplaat. Sny rol in dunnerige skywe met skerp mes, maar moenie rol tot onder sny nie die boom moet heel bly. Trek skywe effe uitmekaar, Verf eiermelk bo-oor.

Bak rol op middelste rak, vir 20 minute of tot ligbruin en gaar.

Strooi kruie oor & sit warm voor.

Kos & resepte | 0 kommentare

Suurlemoen Sukses

So., 20 Mei 2018 09:20

Suurlemoen Sukses (lewer 12 porsies)

Kors:
125g Marie koekies
15ml suiker
90g botter, gesmelt

Vulsel:
397g (1 blik) kondensmelk
2 ekstra groot eiers, geskei
80-90ml vars suurlemoensap
1 ekstra groot eierwit
75ml suiker

1. Voorverhit oond tot 180 grade celsius en spuit 'n 20cm tertbak met kleefwerende middel.

2. Kors: Meng koekies en suiker in voedselverwerker to taamlike fyn krummels. Voeg botter by en meng verder tot goed deurgemeng.

3. Skep klam krummels in bereide tertbak en druk egalig oor bodem en stewig teen rande vas.

4. Vulsel: Meng kondensmelk, eiergele en suurlemoensap deeglik met 'n handdraadklitser en skep in bereide kors.

5. Klits al die eierwitte tot sagte punte vorm en voeg suiker by. Klits verder tot stywe punte vorm en eierwitte glansend lyk.

6. Skep eierwitte oor vulsel en sprei eweredig met 'n vurk tot teen rand van kors. Gebruik ook die vurk om punte bo-op eierwitte te vorm.

7. Bak vir sowat 10-12 minute tot eierwitte goudbruin is. Laat eers afkoel voordat voorgesit word.

Kos & resepte | 0 kommentare

Dadel-en-malvalekkerskyfies

So., 20 Mei 2018 09:19

DADEL-EN-MALVALEKKERSKYFIES

500 g dadels
250 g malvalekkers
1 ¼ pak (250 g) marie-beskuitjies
250 ml room (1 k)
5 ml vaieljegeursel (1 t)

Sny die dadels fyn. Knip die malvalekkers met 'n nat skêr in stukkies. Rol die beskuitjies fyn en hou sowat 60 ml (4 e) daarvan eenkant. Klits die room tot baie styf. Voeg die vanieljegeursel by en klits dit tot gemeng. Voeg die dadels, malvelekkers en beskuitjiekrummels by en meng baie goed. Halveer die mengsel. Strooi die helfte van die krummels wat eenkant gehou is, op `n vel waspapier of aluminiumfoelie. Fatsoeneer een helfte van die mengsel daarop in `n rol, 20 cm lank en 5 cm in deursnee. Rol dit in die waspapier of aluminiumfoelie toe. Doen dieselfde met die ander helfte mengsel en krummels. Verkil die rolle minstens 12 uur lank of vries dit. Om te eet: Sny 1 cm dun skyfies af.

Lewer 40 skyfies.

Kos & resepte | 0 kommentare

Sjokolade-en-pofrys-koekies

So., 20 Mei 2018 09:17

SJOKOLADE-EN-POFRYS-KOEKIES

300 g kooksjokolade
125 g botter of margarien
125 ml goue stroop (1/2 k)
130 g versiersuiker (1 k)
200 g rice krispies (5 ½ k)
7 ml vanieljegeursel (1 ½ t)

Verhit die kooksjokolade, botter of margarien en goue stroop saam oor lae hitte tot gesmelt. Sif die versiersuiker oor en meng goed. Haal die mengsel van die stoof af. Voeg die rice krispies en vanieljegeursel by die sjokolademengsel en meng dit goed. Smeer 'n reghoekige pan of bak van naastenby 30 cm * 20 cm * 5 cm. Druk die pofrysmengsel styf daarin vas. Verkil dit `n rukkie en sny dit dan in reghoekies van 4 cm * 3 cm. Bere die koekies in die koelkas.

Lewer 50 koekies.

Kos & resepte | 0 kommentare

Piesangslaai met kondensmelksous

So., 20 Mei 2018 09:15

PIESANGSLAAI MET KONDENSMELKSOUS

4 groot, ryp piesangs
1 blik (425 g) vrugteslaai
125 ml kondensmelk (1/2 k)
60 ml mayonnaise (1/4 k)
sap van 1 suurlemoen

Skil die piesangs en sny dit in skyfies. Dreineer die vrugteslaai en sny die vrugtestukkies kleiner. Meng die kondensmelk, mayonnaise en suurlemoensap. Voeg die piesangskyfies en vrugtestukkies by en meng alles liggies saam. Verkil die slaai.

Lewer 6-8 porsie

Kos & resepte | 0 kommentare

Bladsye (1834): [ «    1736  1737  1738  1739  1740  1741  1742  1743  1744  1745  1746  1747  1748  1749  1750  1751    »]
Tyd nou: So. Jan. 18 16:17:23 UTC 2026