Pretoria - Die uitnodiging om twee weke militêre diensplig aan mnr.
Julius Malema, president van die ANC Jeugliga (ANCYL), en sy
topbestuur te gee, skep die gevaar dat die weermag by partypolitiek
betrek word.
“Die weermag durf nie ’n politieke wapen word nie. Dit mag nóg minder
deur Malema en die jeugliga vir hul eie politieke doelwitte gekaap
word,” het mnr. David Maynier, die DA se verdedigingswoordvoerder,
gister in reaksie gesê.
Me. Lindiwe Sisulu, minister van verdediging en militêre veterane, het
Malema en die liga vir twee weke militêre opleiding in September
genooi om eerstehandse ervaring op te doen oor haar plan om ’n nuwe
nasionale dienspligstelsel te implementeer.
Sy is tans besig om die stelsel onder jeuggroeperings te bemark en het
gister ook die Young Communist League ontmoet.
Sy beoog om binnekort wetgewing oor die stelsel ter tafel te lê,
terwyl die meesterplan vir die implementering daarvan tans afgerond
word, het mnr. Ndivhuwo Mabaya, haar woordvoerder, in ’n verklaring
gesê.
Sisulu het planne vir haar program om jeugvaardighede te ontwikkel –
oftewel diensplig – op 5 Mei in haar begrotingstoespraak bekend
gemaak. Dit is op werklose jeugdiges gemik.
Malema het in reaksie op Sisulu se planne gesê die ANC-jeugliga
verwelkom die konsep.
“Ek hoop die diensplig sal jong mense ook meer leer omtrent hul vlag,
nasionale simbole en ons ryk geskiedenis.
“Die jeugliga is gereed om al sy lede te mobiliseer om die stelsel te
ondersteun,” het Malema gesê.
Mnr. Harald Pakendorf, ’n politieke ontleder, het gister gesê die
uitnodiging om militêre opleiding aan Malema te verskaf, “laat ’n mens
se wenkbroue lig”.
“Wat gaan dié mense – bekend vir hul ongedissiplineerde uitlatings –
by twee weke se opleiding kan baat?
“Word dié uitnodiging aan alle jeugorganisasies van politieke partye
en organisasies gerig?
“Die weermag moet ’n diens aan die staat lewer – ongeag watter
politieke party dit verteenwoordig – en daar móét dus afstand tussen
die weermag en die politiek gehandhaaf word,” het Pakendorf gesê.
Mnr. Pieter Groenewald van die VF+ het gesê Malema is bekend daarvoor
dat hy graag “Skiet die Boere” sing.
“Die vraag is of hy nou opgelei gaan word om dit te kan doen. Gaan die
minister ook die VF+-jeugkomitee se dagbestuur aanvaar vir militêre
opleiding?
“Die besluit bewys dat die minister en die ANC heeltemal uit voeling
is met die onsekerheid en bekommernisse van wittes en skep verdere
polarisasie.”
Minder as ’n uur nadat haar 78-jarige pa aan haar gesê het “ek bel jou
nou terug”, het ’n vrou op sy lyk afgekom in sy woonstel oorkant die
Pretoriase landdroshof.
“As ek my oë toemaak, sien ek hom op die mat lê met die onderbroek oor
sy kop,” het me. Carina Krügel (49) gister gesê.
Krügel het haar pa, mnr. Martin Krügel, gister begrawe nadat hy
Sondagaand in die Colorado-woonstelle, waar hy 18 jaar lank die
opsigter was, vermoor is.
Hy is vermoedelik doodgeskop en -geslaan.
Krügel en haar pa het Sondagmiddag saam geëet, waarna sy na haar
woonstel in dieselfde gebou is vir ’n middagslapie.
Sy het hom omstreeks 18:00 gebel. “Ek het vir hom gesê ek gaan afkom
omdat ek daar wou gaan stryk,” het sy gesê.
“Terwyl ons gepraat het, het ek gehoor hy praat met iemand by sy deur.
Baie van die mense in die woonstelblok het gereeld by hom kom
avokado’s koop.
“My pa het vir my gesê hy bel my nou terug. Hy het nooit teruggebel
nie. Ek het nie onraad vermoed nie, want ek het gedink hy het besig
geraak.”
Omstreeks 18:45 het Krügel na haar pa se woonstel gegaan.
Die veiligheidshekke van sy voordeur en sy kantoor, wat aan sy
woonstel grens, was oop, terwyl die deure toe was.
Sy het die voordeur oopgesluit. Die woonstel was in chaos gedompel. In
sy kantoor was die kluis en die laaie oop. In die woonstel was die mat
opgefrommel, die stoele omgegooi en die skilderye van die mure
afgeruk.
“Ek het na my pa geroep, maar hy het nie geantwoord nie,” het Krügel
gesê.
“Ek het hom in sy kamer op die mat gekry met ’n onderbroek oor sy kop.
Ek het by hom gaan sit, hom geskud, hom op sy wang geklap en met hom
probeer praat, maar daar was niks. Sy vingers was al yskoud.”
Volgens Krügel het die nadoodse ondersoek onder meer bevind haar pa se
neus, kakebeen en arm is gebreek.
Mnr. Krügel is vermoedelik geskop en met ’n stomp voorwerp geslaan.
Sy moordenaar(s) het met sy vuurwapen, juwele en huurgeld weggekom.
“Ek kon nie eens ‘goodbye’ sê nie,” het Krügel gesê.
“Ek wil weet wat het gebeur en hoekom. Maar die meeste van als wil ek
weet wie dit aan my pa gedoen het, want dit is nie mense nie.”
Ao. Wanda Olivier, polisiewoordvoerder, het gesê niemand is nog in
verband met die moord en huisroof in hegtenis geneem nie.
Op die dag wat ’n bejaarde man van Florapark, Upington, sy 74ste
verjaardag sou gevier het, is sy lyk gister deur kuiergaste in sy huis
gekry nadat hy vermoedelik reeds Dinsdag helder oordag vermoor is.
Sy erg beseerde vrou is in ’n kritieke toestand in die Medi-Clinic
hier nadat hulle in hul huis oorval en erg aangerand is.
Mnr. Carel van Zyl is weens hoofsaaklik hoofbeserings dood. Mev. Van
Zyl (70) het ook ernstige hoofbeserings opgedoen. Hulle is deur
kuiergaste gekry wat Van Zyl met sy verjaardag wou kom gelukwens.
Wasgoed wat mev. Van Zyl Dinsdagoggend gewas het, het gistermiddag nog
aan die wasgoeddraad gehang.
Geskokte bure wat van die werk teruggekom het, het laatmiddag stadig
voor die huis verbygery.
Oorkant die huis het polisielede na leidrade in die veld gesoek.
Kol. De Witt Botha van die polisie se afdeling georganiseerde misdaad
het gister op die toneel gesê die aanval was vermoedelik Dinsdagmiddag
laat. Die aanvallers het nie geforseerde toegang tot die huis gekry
nie.
Die patologiese ondersoek is nog nie afgehandel nie.
Hy sê tot dusver is daar nog geen leidrade nie. Klagte van moord,
poging tot moord en inbraak word ondersoek. ’n DVD-speler en los
goedere is uit die huis gesteel.
Mnr. Van Zyl is in die gastebadkamer gekry, en sy vrou op ’n matjie in
die badkamer by hul slaapkamer.
’n Geskokte buurvrou en vriendin van die Van Zyl-egpaar, mev. Max van
Rensburg, het aan Volksblad vertel mev. Van Zyl het Maandagmiddag by
haar gekuier. Sy het toe gesê sy wil Dinsdagoggend wasgoed was.
“Sy het altyd vroegoggend klere gewas. Sy het vanoggend (gister) ’n
haarafspraak gehad. Toe dit gisteroggend stil by hul huis was, het ek
gedink sy is reeds weg vir die afspraak.
“Ons het juis Maandag oor die veiligheidskwessie gesels,” het sy
gesê.
’n Hartseer Van Rensburg het vertel die Van Zyls het in Desember haar
en haar man, Tokkie, se tuin versorg toe hulle gaan toer het. “Ons was
baie goeie vriende.”
Die twee egpare was sowat vier jaar lank bure, nadat die Van Rensburgs
hier kom woon het. Die Van Zyls het heelwat langer hier gewoon.
Sy sê sy en haar man het uitgevind wat gebeur het toe hulle uit hul
huis gestap het om vir die Van Zyls te gaan kuier. Mev. Van Zyl het
gesê sy sal koek gereed hê as hulle mnr. Van Zyl wil kom gelukwens.
Sy sê die egpaar se seun, Louis, woon in Pretoria, en hul dogter, wie
se naam sy nie ken nie, in Namibië. Hulle is reeds in kennis gestel.
De Witt het versoek dat enigiemand met moontlike inligting wat in die
ondersoek gebruik kan word, ao. Boer Muller van die afdeling teen
georganiseerde misdaad moet bel. Sy nommer is 082-464-9591.
Die dwergkees (toypom)-hondjie van mnr. Robert Botha (57), wat op sy
kleinhoewe in Kameeldrift-Wes by Pretoria vermoor is, het eergister op
sy bors gaan sit en by sy lyk gewaak totdat die polisie opgedaag het.
Die hondjie, Louis, het vermoedelik gesien hoe Botha se aanvallers hom
vyf keer in die hart gesteek het, maar kon niks doen nie.
Botha is ook in die gesig gesteek en daar is verskeie snymerke aan sy
arms, vermoedelik soos hy die aanvalle probeer afweer het.
Botha is in sy huis deur drie gewapende rowers aangeval. Louis was
gister nog baie bewerig en het nie eens geblaf nie.
Mnr. Eddie Horn (40), Botha se kleinneef, het gesê die voorval het
omstreeks 15:00 plaasgevind.
"Ek vermoed Robert het die drie sien aankom en het na sy kamer
gehardloop waar hy sy kluis oopgemaak het om sy .22-geweer uit te
haal.
"Hulle (die rowers) was vermoedelik te vinnig vir hom en het hom in
die kamer oorval net nadat hy die kluis oopgemaak het. Hulle het hom
daar oorrompel en in die kamer naby sy bed gesteek," het Horn gesê.
Volgens Horn vertel Botha se bloedspoor die verhaal van hoe hy van sy
aanvallers probeer vlug en plek gesoek het waar hy kon wegkruip.
"Robert het uit sy kamer gestrompel na 'n werkwinkel langs sy kamer.
"As 'n mens na die bloedspoor kyk, sien jy hoe hy na die werkplek
gehardloop het. Daar het hy gestruikel en is so onder sy skoene uit,"
het Horn gesê.
Volgens hom het Botha toe om die hoek na 'n afdak langs die werkplek
gestrompel waar hy op 'n ou matras tussen rommel en blare en takke
probeer wegkruip het.
"Dit is hier waar die hond op sy bors gaan sit het. Robert was baie
lief vir die hond, want hy het dit van ons oorlede ouma (mev. Louisa
Botha) geërf."
Mev. Botha is op 24 Desember verlede jaar oorlede.
Horn het gesê 'n ander man wat saam met Botha die huis deel, het tien
minute later op sy lyk afgekom en die polisie ontbied.
"Die polisie was gou op die toneel, maar kon nie die hond van Robert
afkry nie. My suster, Annetjie Enslin (33), moes toe kom om die hond
weg te neem."
Horn sien tans na die hond om.
Die polisie het tydens dié ondersoek ook 'n plas bloed wes van die
kleinhoewe se heining ontdek en vermoed dat Botha een van sy
aanvallers beseer het.
Me. Hettie Jordaan van die landelike beveiligingsektor het gesê hulle
vermoed dit is dieselfde twee aanvallers wat mnr. Jan du Toit (80)
twee weke gelede in sy bed geskiet het.
Volgens Jordaan teister dié aanvallers die Kameeldrift-gemeenskap die
afgelope sewe jaar.
Kaapstad. – Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR)
sê in ’n verdoemende verslag oor die stand van demokrasie in Suid-
Afrika die ANC se sentrale beleidsrigting van ’n “nasionale
demokratiese revolusie” (NDR) is die oorsaak vir die agteruitgang van
die land se prestasie.
“Die ANC probeer deur middel van die NDR seker maak ideologie troef
pragmatisme,” skryf dr. Anthea Jeffery, SAIRR-hoof van spesiale
navorsing, in ’n boek wat later vanjaar verskyn.
Die NDR is die regerende alliansie se beleidsraamwerk waarbinne die
transformasie van die maatskaplike en ekonomiese orde moet plaasvind.
Die SAIRR beoordeel die land se vertoning sedert 1994 aan die hand van
tien “pilare van demokrasie”, asook 170 afsonderlike aanwysers en
skets ’n donker prentjie van die afgelope jaar.
Pres. Jacob Zuma word gekap. Benewens die feit dat hy nalaat om
duidelike leierskap te gee, bly sy kabinet verdeel en onbeholpe terwyl
faksiegevegte in die ANC die regering verlam.
Dit is egter die NDR, volgens Jeffery grootliks deur die media
geïgnoreer, wat die grootste bedreiging vir demokrasie inhou. “Die NDR
is verantwoordelik vir kaderontplooiing, die skadelike aandrang op
demografiese verteenwoordiging en faksieverdelings in die regering.”
Hoewel die ANC beweer “onrus” en “revolusie” dreig as NDR-
beleidsrigtings soos regstellende aksie en swart bemagtigingsplanne
nie deurgevoer word nie, is dit net ’n klein elite wat daaruit
voordeel trek.
Die NDR is niks anders nie as ’n vorm van maatskaplike ingenieurswese,
soos apartheid was.
Die telkaart
* Demokratiese regering: 45% (met verwysing na die nasionale
demokratiese revolusie, kaderontplooiing, die agter-die-skerms-invloed
van die SAKP en Cosatu);
* Die oppergesag van die reg: 37% (met verwysing na advv. Vusi Pikoli,
Menzi Simelane, Mokotedi Mpshe en regter John Hlophe);
* Die beskerming van individuele regte: 65% (met verwysing na verskeie
hofbeslissings);
* Mediavryheid en die burgerlike samelewing: 61% (met verwysing na die
SAUK- en ANC-verhouding, verskeie wetsontwerpe en intimidasie);
* Rasseverhoudinge: 55% (met verwysing na wette met raskomponente, die
Reitz-vier en elitebemagtiging).
Mnr. Julius Malema, ANC-jeugleier, is gister in sy interne ANC-
tugverhoor skuldig bevind op een van vier klagte: dat hy pres. Jacob
Zuma geminag het deur tydens die jeugliga se provinsiale kongres in
Limpopo te sê nie eens oudpres. Thabo Mbeki tugtig hom soos wat Zuma
dit in die openbaar doen nie.
Malema se straf behels dat hy Zuma in die openbaar om verskoning moet
vra, die ANC se politieke skool vir 20 dae moet bywoon en ’n R10 000-
boete moet betaal aan ’n jeugorganisasie van die ANC-sekretaris-
generaal se keuse.
Intussen het die studente-organisasie Sasco gesê Malema se steun aan
die Zimbabwiese Zanu-PF is opportunisties, verdelend en populisties.
Sasco is die grootste studente-organisasie en het sowat 16 000 lede,
van wie die meeste ook lede van die ANC-jeugliga is.
Die studente het voor die uitslag van die tugverhoor gesê hulle sal
dit aanvaar as Malema skuldig bevind word.
“Dit is duidelik hy is volkome geZanufiseer,” het mnr. Mbulelo
Mandlana, president van Sasco, in die ANC se Luthuli-huis in
Johannesburg gesê.
Malema het verlede maand ná ’n Zimbabwe-besoek sy steun aan Zanu-PF
uitgespreek en die MDC ’n Mickey Mouse-party genoem.
“Dit was verkeerd,” het Mandlana gesê.
Volgens Sasco is daar ’n kortsigtigheid onder ANC- en spesifiek
jeugligalede wat hulle toenemend by ’n kultuur skaar waar lede net
rykdom wil bekom.
’n Man is gistermiddag op sy hoewe by Kameeldrift-Wes in Pretoria
vermoor deur ’n aan-valler wat hom vyf keer met ’n skerp voorwerp in
die bors gesteek het.
Mnr. Robert Botha (58) is net ná 15:00 deur een van twee vriende
gevind wat saam met hom in die huis gewoon het.
Dit is die jongste in ’n reeks van verskeie aanvalle van verlede maand
tot gister in dié misdaadgeteisterde gebied.
Verlede week is mnr. Theunis Pelser (66), wat as ’n
vragmotorbestuurder vir die winkel J&B Sugars in Kameeldrift gewerk
het, dood nadat hy in ’n rooftog geskiet is.
Op 16 April is mev. Suna Steenberg (45) in Kameelfontein in die kop
geskiet en op 6 April is ’n matriekseun, Ernst Hoon (18), deur sy
slaapkamervenster op Leeuwfontein in die Kameeldrift-gebied
doodgeskiet.
Ao. Wanda Olivier, polisiewoordvoerder, het gister gesê een van Botha
se twee vriende was nie tuis nie en die ander een het gaan stap.
“Toe die vriend wat gaan stap het terug by die huis kom, het hy Botha
se lyk gevind,” het Olivier gesê.
Daar was geen tekens van ’n inbraak of struweling nie.
“Al wat uit die huis vermis is, is twee van Botha se .22-gewere wat
uit ’n kluis weg is.”
Die polisie ondersoek sake van moord en diefstal.
Daar is volgens Olivier geen verdagtes nie omdat daar geen ooggetuies
is of tekens van ’n struweling of inbraak nie.
In minstens die vierde soortgelyke voorval die laaste maande in die
Vrystaat is ’n bejaarde egpaar van Bloemfontein in hul huis aangeval
en pimpel en pers geslaan.
Mnr. Johannes Werner (81) en sy vrou, Anna (80), is Saterdagoggend in
die hospitaal opgeneem nadat hulle Vrydagaand in hul huis in
Erlichpark met ’n knopkierie aangerand is. Die egpaar het albei
ernstige gesigs- en kopbeserings opgedoen.
Kapt. Ina Scholtz, polisiewoordvoerder, sê die Werners het geslaap toe
mnr. Werner omstreeks 23:00 geluide buite hul huis hoor. Hy het gaan
ondersoek instel. Toe hy die voordeur oopmaak, is hy verskeie kere met
’n knopkierie geslaan.
Die aanvaller is die huis binne en mev. Werner het ook erg deurgeloop.
Die knopkierie is die volgende oggend deur ’n polisiebeampte op die
toneel gevind.
Volgens Scholtz word slegs ’n selfoon en ’n beursie met ’n paar rand
vermis.
Die erg beseerde egpaar is die volgende oggend deur mnr. Frans Smit,
’n eiendomsagent, in hul huis aangetref. Die huis is glo in die mark,
omdat hulle beplan om in ’n tehuis vir bejaardes te gaan woon.
Smit sê toe hy by die huis opdaag, kon hy die bloed by die voordeur
sien. Toe hy ingaan, het hy op die beseerde egpaar afgekom en hul
seun, Ben, laat weet. “Ek kan nie glo hulle kon ou mense so slaan nie.
Dis iets wat jy moet sien om te glo,” sê Smit.
Die Werners is in die Life-Rosepark-hospitaal in Fichardtpark opgeneem
waar hul beserings behandel is voordat hulle na die Pelonomi-hospitaal
oorgeplaas is.
Mev. Werner is gister uit die hospitaal ontslaan, en mnr. Werner is
steeds in ’n stabiele toestand in die trauma-eenheid.
Hul seun sê dit gaan taamlik goed met albei ná die aanval, hoewel
albei ernstige beserings opgedoen het. Hulle het onder meer snywonde
aan die kop, insluitend hul oogbanke, opgedoen.
Scholtz sê klagte van huisroof en aanranding met die doel om ernstig
te beseer word ondersoek.
Die Werners se aanranding volg op dié van mev. Hester Thomas (79) van
Gardeniapark en emeritus-professor Flippie Minnaar (83) en sy vrou,
Louise (77), van Dan Pienaar.
Daar was sedert Maart ook aanvalle op bejaardes tuis in Lilaclaan,
Bloemfontein, en op Jagersfontein, is vroeër berig.