Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » ‘Die bloedbad kom weer...’
‘Die bloedbad kom weer...’ [boodskap #119711] So, 23 Mei 2010 16:39
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
‘Die bloedbad kom weer...’

2010-05-23 00:26
Jacques Pauw en Anna-Maria Lombard in Johannesburg

Immigrante en vlugtelinge in Suid-Afrika leef in vrees vir xenofobiese
aanvalle ná die Wêreldbeker-sokkertoernooi.

Buitelanders word glo landwyd gewaarsku om hulle uit die voete te maak
om die soort aanvalle te vermy wat Suid-Afrika twee jaar gelede geskok
het.

In die Wes-Kaap is reeds 17 Somaliese winkeleienaars vanjaar vermoor
en ander winkeleienaars is gewaarsku om landuit te vlug voor die
laaste fluitjie blaas.

“Ek het gehoor hulle sê daar gaan geen immigrante in Alexandra (in
Johannesburg) oor wees nie,” sê me. Elizabeth Mokoena, wat ’n
welsynsorganisasie by die polisiekantoor bestuur. Sy het noodleniging
gekoördineer toe xenofobiese aanvalle in 2008 hier begin en landwyd
uitgebrei het.

“Daar is dieselfde atmosfeer teen immigrante as tóé,” sê sy. “Die
gemeenskap is gefrustreerd. Dienslewering bestaan nie en vlugtelinge
word die sondebok.”

Die Konsortium vir Vlugtelinge en Immigrante in Suid-Afrika (Cormsa)
het verslae van reg oor die land gekry oor dreigemente teen
immigrante. Amnestie Internasionaal, die Rooi Kruis en die Sentrum vir
die Studie van Geweld en Versoening by die Universiteit van die
Witwatersrand is deel van Cormsa.

Die dreigemente kom glo uit verskeie oorde – van bure, kollegas,
taxibestuurders en verbygangers, maar ook van verpleegsters,
maatskaplike werkers en polisiebeamptes.

“Baie van die mense wat dreig, glo hulle het die ondersteuning van
senior politici,” sê Cormsa se mnr. Duncan Breen.

Mnr. Zweli Mnisi, woordvoerder van die ministerie vir polisie, het die
afgelope week gesê Cormsa moes hul kommer met die polisie gedeel het
sodat hulle saam oplossings kan vind.

Rapport het talle gerugte en dreigemente ondersoek. In Cullinan, noord
van Pretoria, het Zimbabwiese werkers vergaderings bygewoon waar gesê
is: “Alle buitelanders sal in die tweede helfte van Julie, net ná die
sokker, vermoor word.”
Soortgelyke bewerings is glo op vergaderings in Mamelodi gemaak en die
DA het dit by die polisie aangemeld.

’n Sakeman van Alexandra met ’n winkel oorkant die Madala-hostel, waar
die xenofobiese geweld in 2008 begin het, is bekommerd.

“Ons mag dit (die dreigemente) nie onderskat nie,” sê hy. “In 2008 was
daar soortgelyke gerugte en ons het nooit gedink iets sou daarvan kom
nie. Die volgende oggend was Alex in vlamme,” sê hy.

“Hier kom ’n bloedbad,” sê mnr. Abdiwali Abdiraman van die Wes-Kaapse
Somaliese Gemeenskapsraad. “Ons het die polisie gewaarsku, maar niks
gebeur nie.”

Volgens hom het sommige winkeliers dreigbriewe gekry en die polisie
daarvan verwittig.

Abdiraman sê twaalf Somaliërs is in drie dae in die Wes-Kaap geskiet
nadat hulle gewaarsku is om die land te verlaat. Drie is dood.

“Ons is hier om te bly,” sê Abdiraman, “of dalk om te sterf.”

’n Onafhanklike rolprentregisseur, Andy Spitz, werk al twee jaar lank
aan ’n dokumentêre rolprent oor xenofobie en het met talle Suid-
Afrikaners hieroor gepraat.

“Het jy die oorlog hier gesien (in 2008)? Dit gaan erger wees. Daar
gaan kwaai oorlog wees,” sê ’n Suid-Afrikaner in ’n Oos-Randse
township.

Prof. Loren Landau van Wits is veral bekommerd dat mense so openlik
dreig. “Dit wys jou hulle glo hul xenofobiese standpunt is
aanvaarbaar.”

Landau is mede-outeur van ’n diepte-ontleding oor die oorsaak van die
2008-aanvalle. Dié verslag is pas gepubliseer en wys dat armoede en
diensleweringsprobleme dit plek-plek aangevuur het.

Landau is egter meer besorg oor die politieke spanning in aanloop tot
die plaaslike regeringsverkiesings as die einde van die
sokkertoernooi.

Oorsprong:Rapport
( http://www.feedblitz.com/t2.asp?/84250/14048670/3840124/http ://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Die-bloedbad-kom-weer- 20100522
)
Vorige onderwerp: Swart Moordenaar 20 jaar tronk toe
Volgende onderwerp: Baba tuis, maar blind
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Di Apr 16 12:30:39 MGT 2024