Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Ernstig » Nuus » Baba tuis, maar blind
Baba tuis, maar blind [boodskap #119712] So, 23 Mei 2010 16:42
Etienne Marais  is tans af-lyn  Etienne Marais
Boodskappe: 370
Geregistreer: Maart 1997
Karma: 0
Senior Lid
2010-05-21 00:19
Magdel Fourie

Johannesburg. Baba Marzanne Kruger, wat sowat 'n maand gelede in
haar ouerhuis deur rowers aangerand is, is blind.

Intussen is borgtog gister aan een van haar aanvallers geweier.

En in 'n ander verwikkeling, wend die baba se oppasser haar nou tot
die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) omdat
sy ná die aanval in die pad gesteek is.

Marzanne, 'n tenger eenjarige babameisie, het veelvuldige skedelbreuke
opgedoen toe sy en haar oppasser, me. Francina Sekhu, in die Krugers
se huis in Robindale, Randburg, oorval is.

Sy is gisteroggend uit die Sandton-Medi-Clinic ontslaan en was daarna
die eerste keer sedert die aanval weer tuis by haar ouers, mnr. Bertus
en mev. Madelein Kruger.

Maar Marzanne is blind, het mnr. Kobus Grobler, familiewoordvoerder,
gesê.

"Ons weet nie of dit permanent of tydelik is nie, maar dit is nou."

Mnr. Pieter van R. Coetzee, die gesin se regsverteenwoordiger, het
gesê die Krugers wil nie in dié stadium met die media praat nie, maar
sal vandag 'n mediaverklaring uitreik.

Dié skoknuus het bekend geword op dieselfde dag dat 'n landdros een
van die aanvallers in die Randburgse landdroshof borgtog geweier het.

Landdros Stanley Mkhari het gister in sy uitspraak gesê die gedagte
aan baba Marzanne bewusteloos op haar ouers se kombuisvloer in
Johannesburg nadat rowers haar en haar oppasser wreed aangerand het,
laat hom met geen ander keuse nie.

"Ek het die graad van geweld in ag geneem wat op Marzanne Kruger en
haar oppasser gerig is voordat die rooftog voltooi is.

"Ek verstaan nie hoekom die kind só aangerand is nie," het Mkhari in
die Randburgse landdroshof gesê.

Mnr. Nelson Maphosa (28), 'n Mosambiekse burger, het verlede week
aansoek om borgtog gedoen nadat sy mede-beskuldigde, mnr. Geraldt
Nyantumbo (25), sý borgtogaansoek teruggetrek het.

Hulle staan tereg op aanklagte van poging tot moord en roof met
verswarende omstandighede.

Mkhari het gister in die hof daarop gewys Marzanne se ma het daardie
middag op haar afgekom waar sy op haar maag op haar ouers se
kombuisvloer gelê het.

Daar was 'n groot poel bloed in die leefvertrek en Sekhu is gevind
waar sy bloeiend en met 'n erg geswolle gesig teen 'n muur gesit het.

Benewens dié grusame besonderhede van die wrede aanval, het Mkhari ook
gesê Maphosa het geen emosionele, familie- of werksbande in
Johannesburg nie.

Hy en sy familie is almal van Maputo.

Voorts het hy geen vaste werk of bates in Suid-Afrika nie.

"As die hof hom op borgtog sou vrylaat, sal dit mense se vertroue in
die strafregstelsel ondermyn en die doelwitte van die borgtogstelsel
in die gedrang bring.

"Sy aansoek word van die hand gewys."

Intussen wend Sekhu haar nou tot die KVBA nadat mev. Kruger haar
verlede week met onmiddellike effek afgedank het, het mnr. Aaron Mo-
khondo, Sekhu se arbeidskonsultant, gesê.

Mev. Kruger het glo vir Sekhu gesê hulle vertrou haar nie meer nie.

Dit kom nadat Sekhu op die dag van die aanval 'n derde verdagte, mnr.
Chakhoma Machaba (28), in die huis ingelaat het terwyl sy Marzanne
moes oppas.

Mokhondo het eergister die amptelike dokumente aan die KVBA gestuur en
dit daarna vir Kruger gefaks.

Daarin word aangevoer hoewel Sekhu nie haar werk wil terughê nie, eis
sy maksimum vergoeding omdat die korrekte prosedure nie gevolg is
nie.

"Ons het reeds 'n saaknommer en wag vir 'n verhoordatum."

Machaba (28) is onlangs in Mosambiek vasgetrek en 'n ruk aangehou, het
ao. Eugene Opperman, Gautengse polisiewoordvoerder, gesê.

Daar is geen uitleweringsooreenkoms tussen Mosambiek en Suid-Afrika
nie.

Die Mosambiekse vervolgingsgesag en die Nasionale Vervolgingsgesag
beding dit tans op amptelike vlak, het hy verduidelik.

Maphosa en Nyantumbo sal weer op 18 Junie in die hof verskyn.

- Volksblad

( http://www.feedblitz.com/t2.asp?/84250/14048670/3840124/http ://www.volksblad.com/Suid-Afrika/Nuus/Baba-tuis-maar-blind-2 0100520
)
Vorige onderwerp: ‘Die bloedbad kom weer...’
Volgende onderwerp: ‘Eendag in Boerland’
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Vr Mar 29 15:29:46 MGT 2024