die geboorte van 'n eeu
Di., 20 September 2022 11:17
dit is nie vir almal beskore
om te sien hoe word ‘n eeu gebore
en daarom wil ek graag dankie sê
om so ‘n voorreg te mag hê
want hierdie eeu is spesiaal
die jaartal begin met tweeduisend vir die eerste maal
Prosa & poësie |
0 kommentare
by die sterfbed van 'n eeu
Di., 20 September 2022 11:15
ons staan by die sterfbed van ‘n eeu
en kyk terug oor die hoogtepunte van sy lewe
daar sien ons twee wêreldoorloë, kommunisme, depressie
elektroniese vooruitgang, ruimtereise, apartheid
menseslagtings, sedeloosheid en die komper
daarom sê ons “dankie” aan ‘n wonderlike eeu
‘n eeu van liefde
‘n eeu van leed
‘n eeu van weerbegin
Prosa & poësie |
0 kommentare
bleekgesig uit die noorde
Di., 20 September 2022 11:13
met net die lied van die wind
oor die groot oseaan
kom jy hier met jou vrou en kind
vanuit die noorde aan
styf toegedraai in die vel
van 'n snaakse soort dier
wat seker leef in die hel
want ons ken hom nie hier
jy sê ons hoef nie te vrees
want jy kom in vrede
dankbaar om nou hier te wees
ver weg van die wrede
mense in jou noorderland
jy gaan ook nou hier woon
hier in ons pragtige land
met sy mooi natuurskoon
die wiel help jou om vinnig
'n afstand af te lê
maar is dit wat ons innig
hier in ons land wil hê
jy maak lang stroke veld oop
waar jy jou wiel wil rol
stroke waar die diere loop
jou wiel maak grafte vol
jy leer ons met draad te werk
soos jy ons veld afkamp
dis dan glo jou plaas se merk
vir ons is dit 'n ramp
jou draad maak ons diere seer
ons kan nie meer daar loop
jy begin ons land beheer
jaag ons nou op 'n hoop
byl en saag begin nou praat
waar jy ons woude kap
vir ons voëls is dit te laat
waar jou byl neste hap
ook die diere begin trek
hul voel nie meer veilig
hul soek nou 'n ander plek
hul oerwoud was heilig
jou donderpyp kry sy beurt
om diere af te maai
dit laat ons mense verskeurd
soos dit die dood nou saai
daar kom nou nog meer van jou
ons word jou pyp se prooi
jy vat ons dogters as vrou
ons land is nie meer mooi
bleekgesig van die noorde
besef jy wat jy maak
jy weet nie hoeveel moorde
hoeveel wreedheid jy braak
regoor ons dierbaar aarde
wat het verkeerd geloop
niks het meer vir jou waarde
soos jy die aarde sloop
Prosa & poësie |
0 kommentare
"Ek herhaal jou" deur INGRID JONKER
Ma., 19 September 2022 20:59
Ek herhaal jou
sonder begin of einde
herhaal ek jou liggaam
Die dag het 'n smal skadu
en die nag geel kruise
die landskap is sonder aansien
en die mense 'n ry kerse
terwyl ek jou herhaal
met my borste
wat die holtes van jou hand namaak
- Ingrid Jonker
Prosa & poësie |
1 kommentaar
'n duisend dankies, Heer
So., 18 September 2022 13:21
U het my nog ‘n kans in die beroepslewe gegee
waar ek elke dag die gawes wat U my gegee het
kan gebruik om tot diens van ander mense te wees
mag ek nooit hierdie kans misbruik nie, Heer
mag ek vele ander lei tot u Eer
mag ek vir altyd hierdie kans onthou
mag slegs die mooie uit my ontvou
mag ek my gesin onvoorwaardelik lief kan hê
mag ek al my probleme en sorge aan u Voete lê
mag ek weekliks u Huis besoek
mag ek daagliks rigting in u Boek soek
Prosa & poësie |
0 kommentare
'n afskeidsgesprek
'n hond in Ukraine; Sa., 17 September 2022 14:16
dit is Druzya wat hier praat
ek het langs my mamma gelê
toe jy destyds na my en my sussies kom kyk
sy het met haar oë na jou gewys en gesê
jou naam is mens
sy het verder gesê
mens en hond is mekaar se heel grootste vriende
daarom moet ons mekaar met ons lewe beskerm
en mekaar onvoorwaardelik lief hê
ons moet elke dag met mekaar speel
en ons moet ook gehoorsaam wees
wanneer mens met ons praat
as ons al hierdie dinge doen
het sy gesê
sal mens baie mooi na ons kyk
en hoef ons vir niks bang te wees nie
mamma was reg wat sy gesê het
want jy het vir baie jare baie mooi
na my en Lakaia gekyk
ek is jammer dat ek jou nie kon beskerm nie
want ek was bang toe ek daardie harde geluid hoor en die mure sien omval
toe hardloop ek en Lakaia weg
toe daardie harde geluide ophou
het ek na jou kom soek
ek weet nie waar Lakaia nou is nie
maar mamma het vir ons gejok
want dit was mens wat daardie harde geluid gemaak het
daar was baie harde geluide
en baie mure het omgeval
baie honde het ook weggehardloop
wil mens nie meer hond se vriend wees nie
nou is ek alleen sonder my beste vriend
my hok en bed is ook weg
my kosbak en waterbak is stukkend
my speelgoed is alles gebreek
maar ek is nogsteeds baie lief vir jou
en sal hier langs jou lê
Prosa & poësie |
0 kommentare
slagting in die baai
Vr., 16 September 2022 12:14
ek sit op die rotse by Hermanus
my blik gevestig op die baai
soekend na ‘n teken van ‘n beweging
veroorsaak deur die grootste vis aan ons kus
na wat soos ure voel, gewaar ek dit
‘n reuse donker kol onder die water
twee strale water wat in die lug op spuit
‘n reuse vin wat deur die water breek
‘n nog groter stert wat vir my wuif
‘n asemrowende lyf wat soos ‘n drywende rotsblok lyk
terwyl ek verstom na die walvis voor my kyk
trek iets my aandag verder oor die baai
dis dieselfde toneel wat hom voor my afspeel
en dit gaan so voort totdat die ganse baai (Gansbaai?)
verander in ‘n waterverhoog gevul met walvisakteurs
weggevoer na ‘n ander wêreld
sit ek in hierdie reuse amfiteater
en aanskou elke beweging van die waterkonsert
skielik tref dit my
watter slagting daagliks hier in die baai plaasvind
om al hierdie waterakteurs te voed
Prosa & poësie |
0 kommentare
'n kans om jammer te sê
Do., 15 September 2022 21:04
hier waar ek nog in die bed lê
gewek deur ‘n hond se geblaf
luisterend na die vrolike gekwetter van voëltjies voor my venster
waar die eerste sonstrale spookbeelde teen die ruit laat verskyn besef ek skielik hoe gelukkig ek is
want ek is nog ‘n kans gegun
‘n kans om baie mee te doen
maar veral ‘n kans om jammer te mag sê
nie almal van ons word so ‘n kans gegun
om jammer te mag sê
vir dade wat ander liggaamlik gewond het
vir woorde wat ander geestelik gebreek het
vir denke wat ander persoonlik benadeel het
of selfs net om jammer te mag sê
aan iemand wat dit werklik nodig het
ons jammer-woorde saai ons maar baie dun
ek wil graag dankie sê
vir die kans om jammer te mag sê
die kans om so baie mee te doen
die kans spesiaal aan my gegun
hier waar die eerste sonstrale spookbeelde teen die ruit laat verskyn
terwyl ek luister na die vrolike gekwetter van voëltjies voor my venster
so pas gewek deur ‘n hond se geblaf
hier waar ek nog in die bed lê
Prosa & poësie |
0 kommentare
swartriet
Do., 15 September 2022 13:08
swartriet
plek van droom
maar ook plek van verdriet
rustig lê jy hier op die weslandsoom
gun my om my hart hier uit te giet
in absolute harmonie
gly die visskole deur jou waters
terwyl ek wonder wie
het in die vergange visskuit gevaar met sy maters
maar waarom verspil ek hierop my energie
ek word deur jou aanloopbaanstrand weggevoer
na die oeroue rotse in die verte
om te gaan kyk hoe lyk dit doer
by die miniatuurgebergte
net om my blik na ‘n nuwe aanloopbaan te voer
met ‘n sagte gedruis spoel jou waters oor die sand
sonder ophou tot in der ewigheid
om lafenis te bring na hierdie dorre land
en my vir ‘n wyle in my verganklikheid
hier vas te heg met ‘n onsigbare band
die talle ou murasies
neem my terug na ‘n tyd baie lank gelee
(toe mens en dier hier een was)
en die klanke van die nasies
gemeng het met die geluid van die see
op hulle klink ek vanaand drie glasies
Prosa & poësie |
0 kommentare