Wat gee ek om die môrester?
Ek weet die dag lê drie uur ver.
En wanneer ek die fluite hoor,
speel ek die hele spel weer oor:
Van staan maar op, net soos die res.
Doen elke som en leer jou les.
Maar werk getrou, van ses tot ses
die maatskappy sorg vir die res.
Die wêreld wink; die lewe wag.
Met ywer kan jy veel vermag.
Doen net jou plig, van dag tot dag,
die toekoms lê en skaterlag.
As wysheid met die ouderdom
en grysheid en berusting kom,
moet ek tog teen die wysheid waak
wat wil `n ou man daarmee maak?
En wees maar lief en word bemin.
Dis net die deeltjie tussen-in.
Want liefde bly `n dubbeldoor:
Dis iets gewen en iets verloor.
Net iets gewen
net iets verloor.
Slaap sag,
die tyd gaan verby;
die dood lê en wag,
maar God is naby.
Ons val soms en almal kry seer
my kind dit is al wat ek jou kan leer.
Die dag sal kom, en dis gou
dat jy vir my lag,
maar anders as nou.
Die man wat hier oor jou waak,
is kreupel en bang en word ook maar vaak.
Miskien sal jy eendag sien;
miskien, Karien.
Jy`s klein ek sing sonder skroom;
jy hoor net die rym
en ken net die droom.
Miskien sal jy eendag sien;
miskien, Karien.
Jou naam besing verlore ou fonteine
en tower beelde van oases langs die pad;
maar ver al wys die torings van die myne;
jou skoonheid lê veel dieper in die hart.
En ek onthou:
Op `n manier was daar met net dieselfde vrede
die neig mos om te woon net waar hy wil.
En daal ek af in skagte na benede, die verlede,
word die rammelende ratte langsaam stil.
En die dreuning in jou buik skud snags die mure
en bring flitse van blou blitse in `n skag
waar mans soos molle, grou in diepdroomure
en goed breek uit die brandkluis van die nag.
En ek onthou:
Ek onthou nog soms die misreën in Augustus,
uit die newelige berge van die mol;
die gelatenheid van mense wat gerug is,
maar bewus is:
hierlangs is die wêreld halfpad hol.
Daar was legendes van die vreemdste avonture,
diep-diep in die mensgemaakte berg;
en saan in grotte om die bendevure,
het die ligspel teen grou wande al verdwerg.
Daar was `n huis met `n kombuis en greinhouttafel;
en ses mense het gedeel in lief en leed.
En mettertyd het alles uitgerafel,
maar wat leed was,
het ek jare terug vergeet.
Maar ek onthou en delf nog goud uit die verlede,
uit die newelinge berge van die mol;
en droom en bou, al vreet die vrees my vrede,
en al is my eie wêreld halfpad hol.
En droom en bou, al vreet die vrees die vrede,
want die wêreld is maar oral halfpad hol.
En ek onthou.
Eers was alles, alles donker
om my was dit nag.
Toe begin `n liggie flonker
en skielik was dit dag.
En die nag het gekom,
maar die son het gebly
en die branders het stom
oor die rotse gegly,
in die reënboog se glans,
want die maan het gedans.
En die wêreld was bly
oor die nuwe gety
en die rede is jy,
Irma dis jy.
En die dag het gekom,
want die donker is dood
en die lig is alom,
en waar lig is, is hoop
ook al word die hart bang
vir die jare se gang.
En die vreugde sal bly,
al gaan alles verby,
want die vreugde is jy,
Irma, dis jy.
Ek sien Koos Doep se naam en is op soek na die CD/album wat sy weergawe van
"Wie weet" op het (as jy dit digitaal beskikbaar het, laat weet ook maar).
Enige iemand - enige idees? Ek weet Annelie van Rooyen sing dit ook, maar
Koos mag maar...
Laat ons nie praat nie;
die tyd is verby.
Niemand is kwaad nie
en albei is vry.
Kom kyk deur die ruite:
Die nag staan in blom.
Woorde hoort buite,
want hartseer is stom.
Lê jou kop hier teen my skouer;
laat jou hart sy paaie gaan.
Stilweg word ons wys en ouer -
eendag sal ons dalk verstaan.
Maar, tot die ryp kraak onder skoene
wat geen
ander haard, of tuiskoms ken,
gun ek my nog visioene van een
wat die hele wêreld wen.
Jy hoor my nie meer nie;
ek sê maar tot siens,
En sal jou nie steur nie;
ek loop ongesiens,
want jy is in oorde
waar drome nog blom.
Ek groet sonder woorde,
want hartseer is stom.
In Boshoek se tyd was die wereld
nog wyd
en die oë blink en oop.
Soos die bospaadjies kronkel, waar
katlagters konkel,
het die wereldkaart geloop.
Die hart was nog heel en die vreugde te veel
en die hemel net hierbo;
en by die hardekoolvure, in die middernagure,
kon jy al's wat mooi is, glo.
Maar Boshoek lê ver,
net so ver soos die ster
wat daar huiwer bo die maan.
En my blik is versper,
want dis ligjare ver;
tog dwaal my hart soms nog alleen
met lank-vergete paadjies langs daarheen.
Boshoek se dae was dae sonder vrae,
jy't geweet wat jy wil weet;
so seker, so helder, soos tabak in die kelder,
met die dag se sweet vergeet.
En die volkies se sang kon 'n siel laat verlang.
maar net die Vader weet na wat,
want die lewensintriges, wie lieg of belieg is,
was nog verder as die stad.
Maar Boshoek lê ver,
net so ver soos die ster
wat daar tuimel oor die maan;
en my blik is versper,
want dis ligjare ver,
tog dwaal my hart soms nog, alleen,
met lank-vergete paadjies langs daarheen.
As almal ver is,
word die hart skielik oud,
As die wereld 'n ster is,
afsydig en koud,
smee die gordyne
'n komplot teen die lig,
krimp die kosyne
en deure sluit dig.
As almal ver is, vind jy jouself
waar jy in laaie in stil hartkamers delf.
As almal ver is, vind jy jou siel -
weerloos en eensaam, soos 'n vrou voor 'n spieël.
As daar geeneen is,
sit jy al's op die skaal,
want jy weet: Wat geleen is,
word eind'lik gehaal.
Dan kom die waarheid
en besweer elke leuen,
skenk jou weer klaarheid -
en laat jou alleen.
As almal ver is, vind jy jouself
waar jy laaie in stil hartkamers delf.
As almal ver is, vind jy jou siel -
weerloos en eensaam; soos 'n vrou voor 'n spieël.