ja pa, vandag is vadersdag
maar jy is nie meer hier by my
want jy het weggegaan
na ’n ander wêreld
so baie ver hiervandaan
nog voordat ek behoorlik
die pappawoordjie kon sê
ek sou jou so vreeslik graag
vandag hier by my wou hê
miljoene versies en gedigte is daaroor geskryf
selfs duisende boeke met baie om die lyf
en sangers het in elke taal daaroor gesing
om so die boodskap na elke mens te bring
dit laat trane van blydskap oor die wange rol
en maak ook emmers met hartseertrane vol
dit kan mense spontaan laat lag
maar is soms net so duister soos die nag
maar wat is hierdie ding wat hulle liefde noem
hierdie woord wat so oral spontaan opdoem
hierdie iets waarna alle lewens smag
en selfs bereid is om jare voor te wag
dit is die onvoorwaardelike aanvaarding
van jouself en elke ander skeppeling
en so ook van God
jy was darem ‘n doring om met ‘n pendoring in jou voet so gou met die slang af te reken toe jy die kop kool daar in jou tuintjie aan die voet van die kop gaan haal het
jy het goed kop gehou
ek sit op die stoep en geniet my koppie koffie terwyl ek kyk hoe die arende bokant die koppie sirkel en my kleinkind met ander planne in sy koppie rondkruip
ek was heel uit die veld geslaan toe jy my vertel hoe die voëltjie die wurm van my potplant kom afhaal
ek stap in die veld en hoor oor die radio hoe afgehaal die golfspeler voel nadat sy maat die een voëltjie na die ander slaan
so loop my mond elke dag oor met dieselfde woorde daar waar ek oor die straat loop of sit en dig waar die rivier in die see uitmond
hulle klink elkeen strelend op die oor
net omdat daar nie genoeg woorde in die taal is nie
moet ek soms dieselfde woorde sê
hoe het dit gebeur
dat ‘n kind wat moet leer
by die skool opdaag met ‘n geweer
om so te probeer
om die skool te regeer
terwyl sy klasmaats oor hul dooie vriende treur
wat het geword van die lat
wat moet neerreën op die gat
van die kind wat kanse vat
om so te voorkom dat
ander kinders langs die pad
deur hul klasmaats gedra moet word na ‘n finale gat
waar is al die ouers
ons nasie se bouers
moeders en vaders met breë skouers
wat moet toesien dat die verbrouers
die tradisies van hul voorouers
handhaaf en eerbiedig soos sporttoeskouers
die wette is steeds daar
dis regtig waar
ons moet net ophou aanvaar
om saam te leef met die gevaar
deur dit uit te roei sodra ons dit gewaar
en so ons kinders se kosbare lewens spaar
jou windbewaaide, bossiebegroeide, duinbesaaide
aarde
waar massiewe branders ewigdurend oor jou rotse en strande dreun
dit is die land waar vissermanne met soutbenatte
baarde
die dood trotseer terwyl hul swaar gelaaide skuite deur die deinings kreun
smôrens vroeg as die kinders nog slaap en die môrester nog skyn
stap die manne oor skulpbestrooide strande na daar waar die skuite wag
skuit, net en spaan word nagegaan voordat hul oor die kim verdwyn
van waar hul saans na 'n lange dag weer huiswaarts keer met hul kosbaar vrag
van ver oor die duine kom moeders en kinders aan na die strand
die son sit in die weste en dis tyd vir die skuite om in te kom
die seevoëls het hul reeds gewaar en kom sit ook nou op die sand
daar word die dag se vangs nou afgelaai en almal begin saam te drom
die dag se vangs word opgeveil en vis beweeg van hand tot hand
elkeen sit nou hande by om die leë skuite op die sand te
kry
mense lag en gesels en speel, want daar is weer kos in die land
waar almal saamstem dat dit die beste plek op aarde is om te bly
dis 'n ander dag die son trek reeds water, maar die mense wag
betraande oë staar dom na die kim, soek rond en tel weer die skuite
die son sak weg, die voëls raak stil en gesinne staar in die nag
op soek na die vergeefse lig van hul verdwaalde vaders daar buite
jou windbewaaide, bossiebegroeide, duinbesaaide
aarde
waar mens en voël en dier hul ewigdurende stryd voer teen die natuur
bloedjong kind, jongmens, middeljarige en selfs die
bejaarde
stem egter almal saam dat hul jou liefhet en sal beskerm elke uur
afrikaans - kombuistaal, praattaal, skertstaal
nie lank gelee is jy gebore
sonder enige plan of fees
maar ek het jou gefaal, o babataal
vir my tong was jy nie beskore
my taal was nederlands gewees
afrikaans - gastetaal, skryftaal, skooltaal
nietemin het jy gegroei
en verder deur die land getrek
steeds het ek jou gefaal, o jongmenstaal
terwyl jy teen engels stoei
en so jou vlerke wyer strek
afrikaans - pragtaal, lieftaal, engeltaal
die land het vir jou te klein geword
en jy't oor grense heen gespoel
om my ook in te haal, o lieflingtaal
my hart met jou skoonheid te omgord
met 'n sagte, warm gevoel
afrikaans - marktaal, landstaal, oorlogstaal
my mooie land het jy verwoes
en mense teen mekaar laat draai
nou't jy vir my gefaal, apartheidstaal
jou klanke laat my ore roes
soos jy jou doodsheid verder saai
afrikaans - vredetaal, praattaal, lagtaal
jy het so pas die toets geslaag
met jou woorde van versoening
weer het jy my kom haal, o moedertaal
toe te sien dat geen mens dit waag
jou te werp in die verdoeming
wanneer ek aan gedigte dink
verskyn daar skoenlappers op my geheueskerm
omdat skoenlappers en gedigte so eenders is
die skoenlapper is ‘n klein onopvallende insek
met die pragtigste vlerke in die ganse Skepping
die skoenlapper ontstaan wanneer ‘n eier ‘n wurm word
wat later in ‘n papie verander
en waaruit die skoenlapper dan ontvou
die gedig is kort niksseggende teks
met die kragtigste boodskap uit die mensehart
die gedig ontstaan wanneer ‘n beeld of klank ‘n waarneming word
wat later in ‘n emosie verander
waaruit die gedig dan op papier ontvou
ek verlang na die tyd
baie baie jare gelede
toe elektrisiteit
nog uurliks deel van ons lewe was
ek droom van ‘n land
verder terug in die geskiedenis
waar mense met verstand
aan die hoof van bestuur en dienslewering was
ek smag na die plek
ook baie lank gelede
waar mense nie soos diere hoef te vrek
omdat daar nog respek vir die lewe was
ek hunker na die grasperk
waarop ons op menige somernagte onbeperk
veilig en rustig onder die sterrehemel kon slaap
my hart is stukkend vir jou ... my lieflingland ... suid-afrika
sy’s nog maar skaars laerskoolmateriaal
maar is reeds vlot in die man op die straathoek se taal
waar sy vuil en verslete geklee
‘n glimlag aan elke verbyganger gee
met ‘n vonkel van hoop in die oog
hou sy die karton met die boodskap omhoog
terwyl sy flink tussen die motors deur beweeg
so rats soos ‘n kat in ‘n baie noue steeg
is dit werklik ‘n glimlag wat sy daar gee
of is dit ‘n trek van pyn soos die kokende teer haar naakte voetsole smee
en daardie vonkel in die oog
lyk ook nie baie droog
is dit nie dalk ‘n traan
uit verlange na ‘n ander bestaan
dalk om ook soos die kinders te lyk
wat na haar vanuit hul ouers se blink motors kyk
die antwoorde hierop sal ons nooit weet
want ons het lank reeds van ons kinders vergeet
ons weet van die dinge wat met hulle gebeur
maar ons is te belangrik om ons aan hul probleme te steur
ons is immers besig om te presteer
daar is net nie tyd om met hulle te kommunikeer
mag ons tog net betyds wakker word
voordat ons laaste kinders oor die afgrond stort