Ek sluip nou al meer as ses maande rond op die NG en vanaand het ek besluit
ek maak my veskyning --- so te sê 'n "coming out of the cupboard":-)
So een maal 'n week sluip ek tussen Gloudina, Frikkie, Leenert, Henri,
Ferdi, et al. rond en al is die nie altyd interessant nie geniet ek dit om
die Afrikaans te lees. (Ooo... Galjoen alias Onrusstooker waar is jy?)
Ek woon nou al nege jaar in Australie en is al ses jaar lank 'n Australiese
burger. My werkslewe hier is nou al net so lank as die wat ek Suid Afrika
gehad het. My kinders leef nou al langer in Australie as wat hulle in Suid
Afrika geleef het. Ons braai lank nie meer vleis nie --- hou nou net BBQ. So
ons is nou al lank goed 'n deel van hierdie land. As ek uitwerk hoe baie
belasting ek al oor die laaste nege jaar betaal het besit ek seker al ook n'
goeie deel.
Oor die jare het ek ook al in drie federale verkiesings gestem. Elke
verkiesing se uitslag was naelbytend naby. Die een verkiesing in 1996 het
tot 'n ander party in bewind gebring. Onder die omstandighede verbaas dit my
dat daar binne ses uur na die laaste stembus gesluit word kan bepaal word
watter party gewen het.
Wel hopelik spoor my "coming out" (wat sal die regte Afrikaanse woorde
hiervoor wees?) 'n paar ander sluipers aan om ook hulle veskyning te maak
met 'n bietjie meer aksie op die NG.
die polisie met haelgewere
die man wat die R1-koeël in sy heup gekry het
en die bergies wat aande
met hul dronk gatte bergop trek
as die aandster in die hemel hang
gebreekte mense Jesus
jy was gebreek
en toe jy aan die kruis gepraat het
was dit om te sê hoe die skerwe jou sny in die kop
en toe het jy heel geword die derde dag
en gesê dat almal wat gebreek is
in jou heel sal word
Jesus van die polisie
en die bergies
en hulle wat bitter en brandend is
is jy toe uiteindelik
bybel toe verban
waar jy in die woestyn van Judea
bladsye en bladsye afstap
en in slothoofstukke opvaar
na kaarte agter in die bybel toe?
Verlede naweek (ons Kanadese Thanksgiving-
langnaweek) was ek op die mees suidelike punt
van "mainland" Kanada. Point Pelee is 'n kleinerige
skiereiland wat in die waters van Lake Erie vir 'n
paar kilometers insteek. Hulle laat jou toe om met
jou kar tot op 'n sekere punt te ry. Dan neem hulle
jou in hulle eie voertuie tot waar die plantegroei op-
hou. Daarvandaan moet jy maar te voet loop oor die
sand tot by die punt. Daar is nog eilande verder suid
wat in Kanadese waters is. Maar dis die mees suidelike
punt van die Kanadese landmassa. Dit reik verder suid
as Washington staat of Oregon. Dis op dieselfde lyn as
die wynplase van noordelike California. Dit verbaas
mens dus ook nie dat daar wynplase is in daardie deel
van Ontario nie.
As 'n mens in Mei na Point Pelee kom, kan jy glo
duisende der duisende voëls sien wat noordwaarts migreer.
Ons was ook net te laat vir die migrasie van die Monarch-
skoenlappers wat aan die einde van September daar rus
voordat hulle die trek suidwaarts na Meksiko aanvat. Maar
dit was wonderlik om die waters van Lake Erie in die son
te sien skitter aan albei kante en die water teen die strande
te hoor klots.
Lake Erie is 'n meer wat effens van 'n geslote boek is
vir Ontariese mense, behalwe vir hulle wat op die noordelike
deel van die meer woon. Maar vir die Amerikaners aan die
suidelike walle van die meer is Lake Erie van baie groter
belang. Vier state grens op Lake Erie: New York staat, Ohio,
Pennsylvania en Michigan. Daar was selfs 'n Erie Canal wat
van Lake Erie suidwaarts deur waterweë dinge na New York
vervoer het. Deesdae word die dinge natuurlik op skepe deur
die Great Lakes Waterway na die see vervoer.
Een van die belangrikste Amerikaanse stede op Lake Erie
is natuurlik Detroit. (Detroit is die Franse woord vir die Engels
"strait," 'n waterweg-deurgang.) Windsor in Ontario is aan die
anderkant van die strait/detroit waardeur die skepe gaan wat
tussen Lake Erie en Lake St. Clair na Lake Huron wil gaan,
natuurlik deur 'n sisteem van "locks." Tot laas naweek was
ek nog nooit in Windsor nie. En ek wou nie eintlik soontoe
gaan nie, want dit het 'n slegte naam as 'n rowwe plek. Maar
my man en seun staan toe daarop dat ons daar gaan slaap,
want hulle sê ek moet die Detroit-skyline sien. Nouja, Detroit
het net so 'n slegte naam as 'n rowwe plek, en ek was nog
minder lus vir Detroit. Maar toe ek darem die stukkie skyline
van Detroit sien wat regoor Windsor is, toe was ek darem ook
maar deeglik beindruk. Dis vol blink en futuristiese baie
hoë geboue. Maar my seun sê dat as jy op 'n Sondagoggend
daar ingaan, dan gaan daar net mooi niks aan nie.
In die omgewing van Windsor bly daar baie ou Franse
families wat nóg aan die Quebeckers of die Akadiërs verwant
is. Hulle stam af van daardie Franse wat voor die Engelse al
in Noord-Amerika aktief handel gedryf het met die inboorlinge.
Vandaar dan ook die naam Detroit. Daar is baie Franse name
in die plekname van die VSA: Vermont, Lake Champlain, enige
woord met Sault of Portage in. In Maine is daar 'n kleinerige
bergie bekend as Mt. Cadillac. Dis vernoem na 'n Franse
ontdekker. Dis natuurlik ook daarvandaan af dat die naam
Cadillac vir 'n kar kom. Die soort karre word op die walle
van Lake Erie gemaak.
On 14 Oct 1998 00:44:57 GMT, wrote:
| In die omgewing van Windsor bly daar baie ou Franse
|families wat nóg aan die Quebeckers of die Akadiërs verwant
|is. Hulle stam af van daardie Franse wat voor die Engelse al
|in Noord-Amerika aktief handel gedryf het met die inboorlinge.
|Vandaar dan ook die naam Detroit. Daar is baie Franse name
|in die plekname van die VSA: Vermont, Lake Champlain, enige
|woord met Sault of Portage in. In Maine is daar 'n kleinerige
|bergie bekend as Mt. Cadillac. Dis vernoem na 'n Franse
|ontdekker. Dis natuurlik ook daarvandaan af dat die naam
|Cadillac vir 'n kar kom. Die soort karre word op die walle
| van Lake Erie gemaak.
Hier by ons duik die Frans ook baie gereeld op - soos die ou Franse
ontdekkers wat in hierdie deel van die noord-Amerikaanse vasteland
gereis het: Voyageurs.
Interessant om te lees van Gloudina dat hulle reeds in Kanada
Thanksgiving gevier het. In die VSA vier ons dit eers 26 November.
In die winkels staan die Kersversierings reeds skouer teen skouer langs
al die grillerige Halloweengoed, en dis nog nie eens Thanksgiving nie!
Praat van kommersialisering! Ons plaaslike supermark verkoop al yslike
groot vars kalkoene teen 99c per pond. 'n Groot winskoop. Hierdie jaar
sal ons as gesin ons eerste Thanksgiving saam kan vier. Verlede jaar die
tyd was my vrou in Pretoria om gereed te maak vir ons oudste dogter se
troue. En ons het voorwaar baie om voor dankie te sê in hierdie verre en
vreemde land. So sal ons ons eie inhoud daaraan kan gee. Dalk word dit
nog 'n groepsgeleentheid waar ons die ander Suid-Afrikaanse gesinne in
ons gebied betrek. Daar is minstens nog vier ander Suid-Afrikaanse
gesinne hier in ons dorpie.
Die Amerikaanse "holidays" begin amptelik met die aanbreek van Oktober.
Voorloper van die holidays is Columbusdag op 12 Oktober. Daar is dan so
'n blaaskansie voor Veteran's Day op 11 November en Thanksgiving op 26
November. Dan volg natuurlik die driedubbele viering van Kersfees,
Hanukah en Kwanzaa, almal om en by dieselfde tyd laat in Desember.
Halloween is die eerste amptelik rede wat Amerikaners (minstens in die
omgewing waar ons woon) nodig het om hulle huise en tuine met oorgawe te
versier en op te tooi. Dit word nou vinnig herfs, en
Halloweenversierings is al oral te sien. Groot oranje pampoene staan by
elke posbus, en ons bure het 'n Âscarecrow op hulle stoep sit gemaak op
Ân stoel. Eenkant in die tuin fladder 'n spook aan 'n paal, en oornag
verrys Âgrafstene in tuine. Die bome bot ook met kleiner spokies wat
aan die takke vasgemaak is. En oor alles heers die grootse skouspel van
die herfsblare aan die bome: elke denkbare skakering van bleekgeel tot
liggroen en donkergroen; van ligbruin en oranje tot dieprooi en selfs
pienk. Dis ongelooflik mooi  veral hier in die gebied waar ons woon -
Pennsylvania - waar daar groot getalle bome en bosse is.
Kort na Halloween sal die mense begin om hulle tuine en huise op te tooi
vir Kersfees. Daar word letterlik duisende aan bestee om tuine in
sprokieswêrelde te omskep. Verlede jaar het ons dikwels draaie gaan ry
net om die versierings en liggies in, op en om die huise en tuine te
gaan kyk. Sommiges sou natuurlik kon beswaar inbring hierteen, omdat die
wese van Kersfees in die Christudsboodskap lê, wat niks te doen het met
romantiese Victoriaanse Kersfeeste nie - ook nie met Kerskaartjies en
Kergeskenke nie. Daarmee stem ek saam, maar dis makliker om in hierdie
land 'n skeiding te maak tussen die wêreldse viering van 'n
vakansieseisoen wat Kersfees insluit, en die innige geestelike viering
van die koms van Christus om almal wat in Sy naam glo, van die verderf
te red.
Die wortels van Halloween reik terug tot in die middeleeue (dalk
verder), toe Walpurgisnacht met vrees en bewing afgewag is. In daardie
vreesaanjaende nag het die duiwel en sy trawante die wêreld ingevaar;
grafte het oopgegaan en spoke en skelette het oral rondgedans. Bose
geeste het in al die huise ingegaan. Die inwoners het in daardie nag
hulle huise oopgelaat: elke venster en deur is oopgemaak sodat die
geeste kon ingaan en weer kon ontsnap. Op die tafels is kos neergesit
vir hulle as 'n soort vredesoffer - vandaar die sogenaamde "trick or
treat"-tradisie wat kinders van alle ouderdomme nou nog noop om van huis
tot huis te stap om lekkernye te versamel. Sommige siek siele het dit in
die verlede uitgebyt deur lemmetjies, glasstukke en selfs dwlems in
koekies en vrugte aan kinders te gee. Daarom word kinders deesdae gemaan
om slegs verseëlde lekkernye te eet. Die dorpsmense self het desyds die
nag op die dorpsplein deurgebring rondom 'n yslike vuur, en eers met
dagbreek teruggekeer huis toe, nadat die duiwel weer terug is en die
grafte weer toegegaan het. Enige verskuiwing in die huis se inhoud (bv.
die wind wat iets afgewaai het) is beskou as 'n teken dat die geeste
daar was en weer weg is.
> Hoe maak 'n mens met kinders in die "bangmaaktyd"? As jy myne met spoke en
> goed terroriseer slaap hulle vir nagte nie!
>
> ...goodbye en good luck,
> Simon
Weet nie, Simon. Ons s'n is reeds groot - gelukkig (?). Ek sien egter dat die
pampoenspoke, hekse en al die ander goed wat in die winkels te koop is,
glimlagte op hulle gesigte het. Afskaduwings van Casper the friendly ghost en
Wendy die goeie heksie? Amper soos ons eie Liewe Heksie! Dis dalk die rede
waarom die meeste kinders lustig meedoen. Die Bose het lieftallig geword, en
boesem nie meer vrees in nie. Christus, daarenteen, word 'n nar en erger.
Maar miskien moet ek dié tema nie te ver voer nie; ons kom dalk op allerhande
teologiese vraagstukke af - dalk selfs op 'n diep en donker sielkundige
ondergrond van ons metafisiese bestaan.
As kind wat in die ou Transvaalse Laeveld groot geword het - so lank gelede
dat dinosourusse nog die aarde bewandel het - onthou ek dat ek Langenhoven
se spookstories grieselrig gevind het, maar nie genoeg daarvan kon kry nie.
Al het ek ook nagmerries daarvan gekry en al was ek so bang dat ek snags nie
'n voet of hand oor die rand van my bed wou laat afhang nie, uit vrees dat
"iets" onder die bed my sou gryp en verslind - of erger!
Terloops, ek het die onderwerp verander. Laas, soos ek onthou, het my bydrae
"hoe het die tye verander" 'n opmerking bevat wat tot eindelose geredekawel
gelei het, en eindelik oorgeloop het in die debat oor intellektuele besit en
kopiéreg. Maar die onderwerp het lank bly kleef.
Groete uit die Quaker staat en oorspronklike Amerikaanse tuiste van die
Amish-gemeenskappe - die staat wat sy ontstaan aan 'n drang na
godsdiensvryheid te danke het. Ook die tuiste van 'n "football"span en 'n
hokkiespan wat net nie daarin kan slaag om wedstryde te wen nie. Ook een van
die state aan die Ooskus van die VSA, die digste bevolkte deel van hierdie
land, en een van die digste bevolkte gebiede in die hele wêreld.