die oggendstrand
So., 11 September 2022 16:15
van voordag af sit ek langs die strand op die rots
en luister na die geluid van die see
die hartklop van die oseaan
soos die branders op ‘n natuurlike reëlmaat
met ‘n fors ver oor die sand uitspoel
en onmiddellik daarna weer net so vinnig terug in die see verdwyn
met elke uitspoel van die branders
word duisende seewesens op die sand agtergelaat
wat teen ‘n verbasende spoed weer onder die nat sand verdwyn
terwyl die water weer in die oseaan terug trek
en slegs die skulpe van dooie diertjies en plante op die strand agterbly
intussen het strandlopertjies en seemeeue en duikertjies opgedaag
op soek na ‘n stewige ontbyt voor die nuwe dag begin
ek het opgestaan en stadigaan net buitekant die watermerk
al langs die see afgestap en na interessante skulpe en stukke spoelhout gesoek
voordat die strand binnekort deur ‘n horde mense en hul honde beset word
wanneer ek terug huiswaarts draai besef ek vir die eerste keer
dat daar slegs een ry mensespore op die sand lê
wat beteken dat ek die heel eerste mens is
wat vandag sy voetspoor op die strand gelaat het
daar is niks so mooi soos die brose natuur en jy
Prosa & poësie |
0 kommentare
die kwikstertjie en ek
So., 11 September 2022 16:12
ek sit op my knieë en onkruid uittrek
voordat die voorspelde reën my planne belemmer
om die grond vir ‘n nuwe bedding voor te berei
dan sien ek ‘n beweging hier skuins langsaan my
dis ‘n kwikstertjie wat na iets te ete kom soek
en wil sien watter smullekker ietsie na die oppervlak kom
hy kom stap hier waar my hande die grond omdolwe
en beweeg so flink tussen die kluite deur
dat ek mooi moet oplet om hom nie te beseer
‘n moontlike paar happies het tog sy oog gevang
want na ‘n bondige fluit het sy vroutjie ook kom land
om saam met hom die prooi te geniet
ek was so bang dat ek hulle sou verwilder
dat ek plat op die grond gaan sit het
om elke ratse beweging van hulle te geniet
Prosa & poësie |
0 kommentare
'n gebedsgedig
So., 11 September 2022 16:09
ek sit hier voor die klawerbord
om ‘n gebedsgedig te skryf
om vir God te sê hoe dankbaar ek is
vir al die wonderlike gawes
wat ek so onverdiend ontvang
my vingerpunte vee oor die klawerbord
op soek na die korrekte klawers om te tik
wat die korrekte woorde sal vorm
om die boodskap van my dankbaarheid
aan Hom oor te dra
maar dit is asof die woorde my ontwyk
so asof hulle nie getik wil word nie
dan besef ek dat dit nie nodig is
om na woorde vir ‘n gedig te soek nie
want ek hoef slegs op Hom te fokus
waar ek ook al mag wees
en dan te sê: “baie, baie dankie Vader
vir al die onverdiende gawes
wat ek daagliks van u ontvang”
Prosa & poësie |
0 kommentare
weskusoseaan
Sa., 10 September 2022 17:52
al is jou waters so ysig koud
bring jy ongekende warmte na my hart
met elke brander wat oor jou sandlandskap spoel
om milduisende sand- en rotsbewoners te voed
hierdie warmte neem ek saam met my terug
na die yskoue landskap van die stad
Prosa & poësie |
0 kommentare
vrye land
Sa., 10 September 2022 17:27
die fetus in die baarmoeder
is ‘n las vir sy opvoeder
wat woon in ‘n land
waar die lewe geen waarde meer het
en die mens van al sy mensheid gestroop word
deur die wanverstaan van demokrasie
‘n rit op die pad
is soos ‘n tog in die stad
waar emosielose mensfigure
jou robotagtig aangluur
voordat hulle jou van die een na die ander voortstamp
en die hele proses homself herhaal
wat het tog van die menslike wil geword
of het dit ook oor die afgrond gestort
daardie wil om te oorleef
en jou lewensruim tot elke prys te verdedig
sodat jy sinvol kan asemhaal
en jou jeug op die toekoms kan voorberei
daar is nie meer iets soos respek
want dit het ook op daardie herfsdag gevrek
sonder respek maak liefde ‘n plakkersbestaan
en as jy nie respek het vir dit wat jou eie is
hoe sal jy ooit andere kan respekteer
as jy dit nie van kleins af tuis kan leer
wanneer die fetus uit die baarmoeder ontvou
is dit die begin van ‘n reuse taak vir daardie vrou
wat as moeder die kind moet lei
tussen die willose, respeklose, liefdelose mensfigure deur
wat daagliks die natuur rondom hulle bevuil
en dan robotagtig sê: nou is ons werklik vry
Prosa & poësie |
0 kommentare
boodskap aan die jeug
Wo., 07 September 2022 07:53
praat nooit oor dinge waarvan jy niks weet nie
want jy het nie die feite nie
stel nooit iets uit wat jy moet doen nie
want jy weet nie of jy môre leef nie
probeer nooit om iemand anders te wees nie
want jy ken nie sy sorge nie
draai nooit jou rug op jou Skepper nie
want sonder Hom het jy geen toekoms nie
Prosa & poësie |
2 kommentare
dankvlug
Wo., 07 September 2022 07:52
vir 'n wyle het die reëndruppels 'n ander heenkome gaan soek
en dit het skielik baie stil geraak hier waar ek sit en werk
so stil dat ek nie anders kon as om weg te stap van die digitale boek
om te gaan kyk wat buitekant gebeur
alles was nat en oral het groot poele water gelê
terwyl voëls tevrede en dankbaar reuse sirkels in die lug teken
en soms kom loer wat die nuutgevonde spieëls van hul voorkoms sê
'n dankgebedjie het diep in een van my hart se binnekamers ontstaan
Prosa & poësie |
0 kommentare
die helende krag van water
Wo., 07 September 2022 07:50
saggies val die reën daar buite
op plant en dier en muur
om alles te reinig en te voed
sodat wonde mag heel
en dinge mooi vertoon
in die son se gloed
wat sonder waarskuwing
deur die wolkkombers breek
om ons te vul met nuwe moed
Prosa & poësie |
0 kommentare
my redding
Di., 06 September 2022 15:42
die vinnige baan was vir meer as drie dekades my woonplek
waar ek altyd moes sorg dat ek in beheer van die situasie was
om nie in die papieroseaan te verdrink
of tussen raadsaalbesluite te verdwaal nie
soms het alles glad verloop en kon ek kwaliteittyd aan elke taak afstaan
maar op vele tye moes ek deur skietgebede u Hulp en Raad vra
om die korrekte verslae betyds op die verskeie lessenaars te kry
toe blokkeer U die vinnige baan sonder om my daarvan te sê
en tuimel ek soos ‘n tolbos oor na die stadige baan
waar ek myself byna teen die baanversperrings vermorsel
om botsings met die stadige verkeer te vermy
terwyl ek tussen die verskillende baanversperrings rondgeslinger word
en elke keer my oë styf toeknyp en op my tande byt
in afwagting van die komende slag en die pyn
het ek besef dat daar geen bloed of selfs blou kolle verskyn
omdat u Beskermende Hande tussen my liggaam en die baanversperrings
gekeer het dat my liggaam vermorsel word
en sodoende die snelheid van my vaart drasties verminder het
aanvanklik was ek baie kwaad gewees
omdat ek altyd in beheer was
en U sonder my versoek ingemeng het
om my pas te vertraag
het ek dan geen sê meer nie
want dit is immers my lewe wat ter sprake is
my woede het my soos die nat wasgoed in ‘n tuimeldroër laat tol
asof die gespoel in die wasmasjien nie alreeds erg genoeg was nie
maar soos die snelheid van my vaart afgeneem het
het ek besef dat dit u Manier was om my van vernietiging te red
en daarvoor wil ek U graag bedank
omdat ek dit nie verdien nie en slegs deur u Genade ontvang
maar ek wil ook om vergifnis vra omdat my vertroue so swak was
dat ek U nie gedurende hierdie baanverwisseling vertrou het nie
omdat ek toegelaat het dat my blik vanaf U
na die gevare wat my omsingel verskuif het
Prosa & poësie |
0 kommentare
die lewe
Di., 06 September 2022 15:19
soos elke draadjie wol van ‘n pragtige kombers
is ook elke lewe stewig tussen ander lewens deurgevleg
om so ‘n ondeurdringbare mat van vertroue en respek te vorm
stewig deur die liefde aanmekaar geheg
soms gebeur dit dat ‘n draadjie breek of rafel
en dan is daar ‘n gat in die kombers
om so ‘n gat in ons mat weer heel te maak
wend ons onsself na ‘n geskikte Bybelvers
‘n duur kombers vol gate kan minder beskerming bied
en raak later geheel en al nutteloos
net so is ons lewensmat
so hard soos ‘n diamant, maar ook net so broos
Prosa & poësie |
0 kommentare