Koos werk by 'n dokter as skoonmaker. Die dr. sou die dag uitstedig wees en vra vir Koos om 'n ogie oor die pasiënte te hou. Die volgende dag kom hy terug en vra vir Koos hoe dit gegaan het. Koos sê daar was drie pasiënte wat hy gehelp het:
"Die eerste pasiënt het ingekom met 'n lelike hoes en toe gee ek vir hom Benelyn."
"Die tweede pasiënt het ingekom met 'n vreeslike allergie en toe gee ek vir hom Allergex."
Die dokter was baie beïndruk en vra oor die derde een: "Nee, sê Koos daar het 'n dame ingekom, haar kaal uitgetrek en op die ondersoektafel gaan lê en gesê: 'Ek het vier jaar laas 'n man gesien,'"
"O Hel," sê die dr. "en wat doen jy toe?"
"Nee," sê Koos, "toe gooi ek vir haar EyeGene in haar oë!"
Die swaard van grondonteiening wat oor mense se koppe hang is niks nuuts in Suid-Afrika nie. In 2003 ('n jaar voor die 2004-verkiesing) is daar byvoorbeeld op dié forum geskryf:
Aanhaling:
Dis nou 'n wet wat ingestel wil word deur die minister, waar grond onteien kan word op die gesag van die minister, sonder dat daar 'n gewillige verkoper en koper kan wees, en sonder dat die staat gedagvaar kan word. Sy verklaar dat dit "net" 'n maatreël is wat ingestel word, maar dat die oorspronklike optrede nog steeds toegepas sal word. Wat eienaardig is, is dat sy hierdie wet suutjies en baie haastig deur die wetgewer wil stoot sonder bespreking in die parlement.
In 2008 (soos klokslag 'n jaar voor die volgende verkiesing) is die volgende geplaas:
Aanhaling:
Indien die regering deurdruk met die wetsontwerp op grondonteiening wat in sy huidige vorm "so blatant ongrondwetlik is", sal die DA dit tot in die konstitusionele hof beveg.
Nou is dit 2018, weereens 'n jaar voor die volgende algemene verkiesing en ons sit met presies dieselfde probleem! Die stryd vir en teen grondonteiening is besig om by die dag feller te raak en dreig nou om hand uit te ruk.
Vanoggend is daar 'n lys van plase bekendgemaak wat vir onteiening sonder vergoeding geoormerk is. Die stemvee is ook duidelik moeg vir die leë beloftes waarvan daar telkens niks kom nie. Dit laat die ANC voor 'n gevaarlike keuse, doen niks en verloor (moontlik) die verkiesing, of druk deur en ruïneer so die land se ekonomie.
Soos dit vir my lyk is dit 'n verloor-verloor situasie en iemand gaan die keer in die slag bly. Is daar enige uitkomkans? Enige manier om ons hierteen te skans of die situasie te beredder? Wat is die beste strategie vorentoe? Nuus |
2 kommentare
Ek blaai vanoggend so 'n bietjie deur hierdie platform se meer as 4000 lede. Ok, ek het nie fisies deur elkeen geblaai nie LOL, dit sou my 40 dae en 40 nagte neem om dit te doen.
Al wat ek kan se is ONGELOOFLIK! Ek bedoel dit op 'n goeie en slegte manier. Soos ek deurblaai sien ek spoke van honderde en duisende gesprekke en onderwerpe wat opgejaag word! Ongelooflik hoe baie inhoud hier is en ook hoeveel dinge al bespreek is. Nog meer ongelooflik is die feit dat die eerste gesprekke al so ver teruggaan as 1997! 21 jaar!
Nou waar is al hierdie lede? Dalk is hulle almal dood?
Verbeter jou Afrikaans; Sa., 11 Augustus 2018 07:49
Beter Afrikaans is 'n webtuiste met 'n klomp inligting oor Afrikaans. Wat hulle egter uniek maak is die daaglikse toetsie wat daar afgelê kan word.
Die toets bestaan uit vier veelkeusevrae en neem ongeveer twee minute om te voltooi. Gebruikers kan tussen drie vlakke kies: maklik (vlak 1), gemiddeld (vlak 2) en moeilik (vlak 3). Sodra die toets voltooi is, word die regte antwoorde saam met aanvullende inligting vertoon. Lede wat geregistreer is sal daagliks 'n e-pos ontvang om hulle aan die dag se toets te herinner.
Mense wat sou wou kan ook 'n groep skep of by 'n bestaande groep aansluit om hulself teen mekaar te meet. Die lede van die groep sal dan mekaar se punte sien.
Hier is 'n paar voorbeeldvrae ter illustrasie van die tipe vrae wat gevra word:
Dit was so besig, daar was nie eers kans vir .... nie. [asemskep; asem skep; asem-skep]
.... boer met sonneblomme. [Henry hulle; Henry-hulle; Henry en hulle]
Watter een is korrek? [né; nè; nê]
As jy jou Afrikaans wil verbeter kan ons http://beterafrikaans.co.za/ sterk aanbeveel. Doen die daaglikse toets, verbeter jou puntestand, nooi ander uit om deel te neem en leer speel-speel om die taal meer doeltreffend te gebruik.
Die polisie stop vir Mike met 'n kombi vol pikkewyne.
"En waar dink jy gaan jy met hierdie pikkewyne?" wil die konstabel weet.
"Hierdie pikkewyne is almal my vriende," antwoord Mike.
"Ons ry maar net 'n bietjie rond."
"Nee, nee, dit mag nie," sê die konstabel, en beveel Mike om die pikkewyne dadelik dieretuin toe te vat.
Die volgende dag stop dieselfde konstabel vir Mike op dieselfde plek, weer met die kombi vol pikkewyne. Hierdie keer het die pikkewyne egter almal sonbrille op.
"Ek dog ek het jou gister gesê om die pikkewyne dieretuin toe te vat?" vra die konstabel kwaad.
"Maar ek het," antwoord Mike.
"En vandag gaan ons strand toe."
'n Wondelike vrouedag aan al die dames! Ek hoop die mans in jul lewens bederf julle vandag so 'n bietjie.
Volgens Wikipedia is Nasionale Vrouedag in 1994 ingestel en word dit jaarliks op 9 Augustus in Suid-Afrika gevier. Die dag gedenk die protesoptog van Swart vroue in 1956 teen die destydse paswette. Tydens die optog is beswaar teen die dra van die "pas" gemaak, wat leeglêers en kriminele van die straat afgehou het, maar ook mense se reg tot vrye beweging ingeperk het.
Ten spyte van die politieke oorsprong, gee niemand seker om vir 'n ekstra vakansiedaggie nie, of hoe? As mens mooi beplan het (vir Vrydag verlof ingesit het), kan jy vanjaar sommer 'n lekker laaaangnaweek daarvan maak...
Nkosi Sikelel' iAfrika (ook Nkosi Sikelele Africa) is Xhosa vir "God seën Afrika". Dit is 'n gebed-lied wat reg oor Afrika (en veral in Suid-Afrika) as kerkgesang en politieke proteslied gebruik is. 'n Gedeelte van die lied het in 1996 'n prominente deel van die Volkslied van Suid-Afrika geword. Dit is ook die basis van volksliedere van lande soos Zambië en Tanzanië.
Die Afrikaanse woorde:
Aanhaling:
Aller hoogste God, seën Afrika
Hoog sal ons die vryheids vaandel dra
Wanneer ons in ons gebede vra:
Seën, Heer, seën Afrika
Seën, Heer, seën Afrika
Daal neer o Gees ... daal neer, daal neer
Daal neer o Gees ... daal neer, daal neer,
Daal neer o Gees. (Staan ons by, Hemelse Heer) (2x)
Skenk, o Heer, milddadig U genaad
om mekaar in liefde op te dra;
anders staan ons skuldig en verslae
o, Heer, ons Afrika
o, Heer, ons Afrika
Aller hoogste God, seën Afrika
Maak ons vry van sonde en van kla.
Laat ons sonder ophou bid en vra:
Red, Heer, Red Afrika
Red, Heer, Red Afrika
Magnus Malan was op sy dag die hoof van die Suid-Afrikaanse Leër en die Minister van Verdediging. Hy is op 18 Julie 2011 (op 81) by sy huis aan hartversaking oorlede. Nou, sewe jaar ná sy dood, word 'n boek bekendgestel wat beweer dat hy 'n pedofiel was wat 40 tot 50 jaar terug aan seksorgies tydens "visvanguitstappies" deelgeneem het. Die boek se naam is "Die seuns van Bird Island" (nogal in Afrikaans, hoewel hulle seker "Birdeiland" bedoel).
Dis 'n afgryslike storie, maar klink 'n bietjie dik vir 'n daalder. Kan dit 'n poging wees om geld te maak uit iemand wat homself nie meer kan verdedig nie, of is dit dalk waar? Hoe kon so iets vir so lank toegesmeer word?
Ná 'n lang nag in die Akker stap 'n Stellenboschse student huis toe langs die Eersterivier. Dis Sondagoggend, en 'n groepie kerkgangers staan in 'n ry en sing. Die student val instinktief agter in die ry in.
Vooraan staan 'n lekeprediker halflyf in die water, en doop die mense soos hulle verbykom. Een vir een druk hy hulle koppe agteroor in die water, lig hulle weer op, en vra: "Sien jy vir Jesus?" Die mense se oë blink in ekstase, en elke "ja" word met 'n koor van "halleluja" begroet. Uiteindelik kom die student ook aan die beurt, en na al die ure in die Akker is dit nie moeilik om sy kop onder die water te kry nie.
"Sien jy vir Jesus?" roep die prediker.
"Nee," antwoord die student.
Weer druk die prediker sy kop onder die water, hierdie keer met meer oortuiging, lig hom regop, en vra: "Sien jy vir Jesus?"
"Nee," antwoord die student weer.
Vir die derde keer verdwyn sy kop onder die water, en die prediker wik en weeg duidelik voor hy die bedremmelde student weer ophelp. "Sien jy vir Jesus?" roep die prediker, hard genoeg om dit duidelik te maak dat hier 'n regte en 'n verkeerde antwoord is.
"Verdomp nee, ek sien hom nie!" skree die student terug. "Is jy seker dis hier waar hy ingeval het?"