Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Regstellende Aksie is onwettig

Wo., 05 September 2018 06:38

Solidariteit het die Suid-Afrikaanse regering by die Menseregtekommissie (MRK) en die Verenigde Nasies verkla, waarna die MRK bevind het dat die huidige toepassing van Regstellende Aksie onwettig is. Hulle het aanbeveel dat die wet op Diensbillikheid gewysig moet word. Die Departement van Arbeid is gevra om binne ses maande vanaf Julie 2018 aan die MRK terugvoer te gee oor watter stappe geneem is om dié wet "reg te stel".

Suid-Afrika se huidige regstel-maatstawwe in te rigied en is effektiewelik 'n kwotastelsel. Die huidige Wet op Diensbillikheid voldoen volgens die verslag nie aan die land se grondwet nie, en ook nie aan die vereistes van die Verenigde Nasies se Internasionale Konvensie oor die Uitskakeling van Alle Vorme van Rassediskriminasie (ICERD - "International Convention on the Elimination of All Forms of Racial Discrimination") nie.

Volgens die verslag moet regstelaksie sensitief vir konteks wees en dat streeksdemografie in ag geneem moet word. Die regering se rasseklassifikasie is nie aanvaarbaar nie en maatstawwe moet meer genuanseerd (beter bedag) wees. Daar is ook bevind dat behoefte in ag geneem moet word, en dat daar 'n einde aan regstel-maatstawwe moet wees.

Nuus | 0 kommentare

"Klein Ondeug" deur Jan F. E. Cilliers

Di., 04 September 2018 05:38

KLEIN ONDEUG
deur Jan F. E. Cilliers

Klein ondeug, moeders sorg en skat,
haar lus, haar las, haar vreug;
hy vroetel hier, hy snuffel daar,
hy pluk die hele huis deurmekaar -
keer voor daar ! liewe deug !

Te laat ! Daar gaat die koppie al,
en stukkend op die vloer.
Knor jy hom, jy kry knor terug,
of nydig smyt hy hom op sy rug
en trappel fluks tamboer.

Hy's kort-kort by die waterbak,
al jaag jy hom elke maal:
Jou Sondagstewels kry hul bad;
dan is dit weer die arme kat
wat jy daar uit moet haal.

Al trippe-trap die mure langs
kan jy sy stappies hoor;
hy's weg en stil nou, soos 'n muis -
maar glo my nou's dit glad nie pluis:
kom, hier is al sy spoor.

Daar het jy 't al, die muurpapier
in repe afgetrek,
geskeur in stukkies, klein en kort,
die inkpot daarop uitgestort,
en hy - een swarte vlek !

Daar val meteens, die solderleer,
ja, soos 'n donderslag !
ons loop te hulp met grootte haas -
daar sit die kleine vent daarnaas
en skater soos hy lag !

Dis brabbel-praat, dis woel en val,
van smôrens vroeg tot laat;
dis koppie stamp, en huil en lag
so twintig male elke dag,
tot basie kooi-toe gaat.

Die laaste soentjie is van haar
wat sorg nog las ooit heug.
Met mond en pootjies skoon gewas,
slaap nou klein ondeug - moeders las,
haar skat, haar sorg, haar vreug.

Prosa & poësie | 0 kommentare

Mandjies en "monkeys"

So., 02 September 2018 20:41

Op 23 Augustus 2018 het 'n wit vrou in 'n Clicks-winkel in Pretoria vir haar mandjie gevra. 'n Swart dame hoor toe "monkey" (aap) en gil histeries: "who is a monkey?". Die voorval is op video vasgelê en wyd op sosiale media versprei. In die agtergrond kan gehoor word hoe 'n omstander sê: "No, she didn't say she is a monkey." Die vrou se mandjie is ook duidelik in die video sigbaar.

Clicks het die voorval bevestig en beklemtoon dat die konflik tussen klante was en dat hulle werknemers nie daarby betrokke was nie. Die winkelgroep se verklaring lui: "Ons het ons interne ondersoek afgehandel en bevind dat ons personeel niemand se kant gekies het nie en baie professioneel opgetree het om hierdie moeilike voorval te hanteer".

Dit herinner nogal sterk aan H&M se "coolest little monkey in the jungle"-advertensie wat ook totaal uit verband geruk is. Soos te wagte word dit as 'n rassevoorval bestempel en 'n saak van crimen injuria is blykbaar teen die wit vrou aanhangig gemaak.

Die belangrikste les van die week is dat mens mooi duidelik moet praat as jy 'n mandjie soek, of gebruik eerder 'n trollie! Dit sal voorkom dat ander van hul trollies af raak. Razz

Nuus | 0 kommentare

Lentedag

Dis heerlike lente; Sa., 01 September 2018 13:34

Jammer vir die mense wat van die winter hou, of vir die wat hooikoors kry, maar... ♪♪♫♪♪

DIS HEERLIKE LENTE:

Dis heerlike lente, die winter's verby
Weer nodig die velde vir jou en vir my
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!

Daar's dou op die blomme, die dagbreker fluit
Ons beur deur die klowe die opdraandes uit
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!

Van hier waar die varkblom en vleiriete groei
Tot daar waar die aalwyn en kanniedood bloei
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!

Al hoër en hoër na bowe te voet,
Om hoog op die kruine die rooidag te groet
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!

Daar's krag vir die spiere op vaderlands-grond
Die vroe-vroeë môre het goud in die mond
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!

Woorde: THEO W. JANDRELL en G.G. CILLIÉ
Musiek: Wysie uit die Alpe; verwerk: G.G. CILLIÉ

Musiek & liriek | 2 kommentare

Noem en verdoem

Name and shame; Do., 30 Augustus 2018 15:06

Nou net op RSG gehoor: "noem en verdoem" is die vertaling van die Engelse "name and shame".

Die oudste vermelding hiervan is waarskynlik 'n brief in Die Burger wat 'n ene Bacchus in 2011 geskryf het: "Ek oorweeg dit ernstig om hierdie wynprodusente...voortaan op Planeet Wyn te noem en verdoem...". Talle ander het blykbaar onafhanklik van mekaar by dieselfde vertaling uitgekom.

As ek 'n definisie kan waag:

Noem en (ver)doem:
Iemand wat 'n fout of oortreding begaan se naam bekendmaak, om hom/haar sodoende (as 'n vorm van sensuur) uit te sonder en jou afkeur uit te spreek.

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Skoolgrap

Di., 28 Augustus 2018 19:07

Sannie kom by die huis na haar eerste skooldag.
Ma: "Middag Sannie, het jy baie geleer vandag?"
Sannie: "Nie te veel nie, Ma. Ek moet môre weer teruggaan."

Humor & grappe | 26 kommentare

Goeie kommunikasie is belangrik

Ma., 27 Augustus 2018 05:55

Mike en sy vrou besef hulle moet bykom in die nuwe Suid-Afrika en besluit om 'n swart babatjie aan te neem. Nie lank nie, toe laat weet die sosiale werkster dat daar 'n pasgebore babatjie beskikbaar is, en hulle hom maar kan kom haal. Hulle maak so, en op pad huis toe hou hulle met baba en al by die tegniese kollege stil, en skryf vir 'n Zoeloekursus in. "Want," sê Mike, "dis net 'n jaar dan begin die mannetjie te praat..."

Humor & grappe | 0 kommentare

Sluipmoordenaar gesoek

Sa., 25 Augustus 2018 07:00

Die Nasionale Intelligensiediens besluit om 'n sluipmoordenaar aan te stel. Ná 'n lang administratiewe proses word drie kandidate gekies. Koos, Kallie en Mike dui aan dat hulle belangstel, en op 'n dag moet al drie by hoofkantoor aanmeld. "Daar is een laaste toets," verduidelik die direkteur.

Koos is eerste aan die beurt. "Koos, jou vrou is in hierdie kamertjie opgesluit. Hier is 'n pistool, jy moet ingaan en haar doodskiet." Onmiddellik bars Koos in trane uit. "Ek sou dit nooit kon doen nie," grens hy. "Ek is gans te lief vir my vrou."

"Dan is jy nie die geskikte kandidaat vir die werk nie," besluit die direkteur, en stuur Koos weg.

Kallie is volgende. "Kallie, hier is die pistool. Jou vrou is in die tweede kamertjie opgesluit. Jy weet wat jy moet doen." Kallie verdwyn in die kamertjie, maar na 'n minuut kom hy weer uit. "Ek kon dit nie doen nie," erken hy.

"Dan is jy ook nie die geskikte kandidaat vir die werk nie," antwoord die direkteur, en stuur Kallie weg. Net Mike bly oor.

"Goed dan Mike, jy is ons laaste kandidaat. Jou vrou is in die derde kamertjie hier toegesluit. Vat hierdie pistool en skiet haar."

Mike verdwyn in die kamertjie, 'n skoot klap, en dan bars 'n afskuwelike lawaai los. Twee minute later kom Mike weer te voorskyn, sy klere is geskeur en bloed stroom uit 'n sny in sy voorkop.

"Mike, wat het gebeur?" wil die direkteur weet.

"Nee hel," kla Mike. "Hierdie bleddie pistool van jou is met blanks gelaai. Ek moes die ouvrou met 'n stoel doodslaan!"

Humor & grappe | 0 kommentare

Treurgrond

Beste buitelandse taalfilm; So., 19 Augustus 2018 07:23

Treurgrond is 'n Afrikaanse rolprent wat in 2015 vrygestel is met Steve Hofmeyr in die hoofrol en Darrell Roodt as regisseur. Die film het R749 286 in sy openingsnaweek by die loket verdien. Daar is ook pas aangekondig dat die prent as die beste buitelandse taalfilm by die 2018-filmfees in Amsterdam aangewys is. Dit het ook die toekenning vir beste kinematografie ingepalm.

Treurgrond vertel die storie van Lukas van Staden (gespeel deur Hofmeyr) wat sy bes doen om sy familie, vriende en plaas te beskerm. Dit wys hoe ineengevleg almal se lewens in die boeregemeenskap is. Sonder die boere en die gemeenskap, sal daar geen kos geproduseer word nie en sal die land nie kan eet nie. Dit vertel verder hoe die boere voortgaan met hul boerdery, ten spyte van die plaasaanvalle en ongenaakbare grondeise wat hulle moet trotseer. Elke moord laat 'n klomp mense sonder heenkome en 'n inkomste.

Intussen het Hofmeyr getweet dat daar 5 plaasaanvalle in die 48 uur ná Treurgrond se nominasie plaasgevind het.

Nuus | 2 kommentare

Spoonerisme

Sa., 18 Augustus 2018 07:43

'n Karikatuur van William Archibald Spooner.
'n Karikatuur van William Archibald Spooner.
Nederlandse wiki:
'n Spoonerisme is 'n verspreking waar letters of lettergrepe in 'n woord of sinsnede verwissel word, sodat amusante, ironiese of versteekte effekte ontstaan. Hierdie versprekings word ook dikwels met opset gemaak, waardeur 'n stylfiguur wat dié naam dra ontstaan.
Die verskynsel is na die Engelse dominee en wetenskaplike William Archibald Spooner (1844-1930) vernoem (en is dus 'n eponiem). Ds. Spooner was bekend vir sy liederlike versprekings, soos "The Lord is a shoving leopard" in plaas van "The Lord is a loving shepherd".

Hier is 'n Paar Afrikaanse spooners:

Pry ek 'n krys as rek eg is? (Kry ek 'n prys as ek reg is?)

Die mense sit en doen vet mooi nokkol (Die mense sit en doen net mooi v#kkol)

Meneer voordames, age meneer daamsitters en heervore. Die bouland en die teeveelt, age die veeland en die toubeelt, die sê ek is die bedding van 'n roer. Waarom dan word die arme las altyd beboer; ek meen waarom word die arme bas altyd beloer? - Langenhoven.

Laat weet asb. as jy ander teëkom.

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Bladsye (1835): [ «    35  36  37  38  39  40  41  42  43  44  45  46  47  48  49  50    »]
Tyd nou: So. Mei 31 20:53:50 UTC 2026