Die jaar 2019 beloof om 'n interessante jaar wees, veral met die opbou na die Suid-Afrikaanse Algemene Verkiesing en die voortgesette geveg teen die onteiening van eiendom sonder vergoeding. Dit is ook die jaar waarin die Verenigde Koninkryk die Europese Unie gaan verlaat (Brexit gebeur op 29 Maart).
Dinge om na uit te sien:
Goedkoper petrol in Januarie.
Die Krieketwêreldbeker in Engeland (30 Mei-14 Julie)
Rugbywêreldbeker in Japan (20 September-2 November).
Interessant genoeg het die Afrikaanse Wikipedia in 2018 enorme groei beleef. Hulle het 2018 met 48 099 artikels begin en met 67 976 geëindig. 'n Allemintige groei van bykans 20 000 artikels. Waarskynlik die meeste wat nog in 'n enkele jaar bygevoeg is.
Terloops, die Verenigde Nasies met 2019 aangewys as die Internasionale Jaar van die Periodieke Tabel van Chemiese Elemente (hulle kon seker aan niks beters dink nie). So, neem julle vitamines en moenie van die elemente vergeet nie. Mag julle drome bewaarheid word en mag die voorspoed julle in 2019 verveel!
Kom lees saam met ons; Di., 25 Desember 2018 21:13
Ons bied e-boeke aan ons lede. Mense wat op die forum registreer en aangemeld is, kan hierdie e-boeke gratis en verniet aflaai. Ons sal ook maandeliks nuwe e-boeke bylaai, so kom loer gereeld in om te sien wat bygevoeg is.
Hier 'n paar van die boeke wat tans beskikbaar is, ter illustrasie:
Hierdie boeke mag slegs vir persoonlike gebruik aangewend word. Moet dit asseblief nie herversprei of publiek beskikbaar maak nie. Alle e-boeke is in PDF-formaat en sal met Adobe Reader of 'n versoenbare program oopgemaak kan word. As u 'n e-boek gelees het, sal ons waardeer as u 'n kort opsomming of resensie daarvan op die forum kan pos.
Laat weet ons asseblief as u ou Afrikaanse boeke besit waarvan die kopiereg verval het (gewoonlik ouer as 50 jaar of 50 jaar na die outeur se dood), of waarop kopiereg kwytgeskeld is. As mense sulke boeke aan ons beskikbaar maak, sal ons dit inskandeer en by ons biblioteek voeg. Sodra ons klaar is, sal ons u boeke aan u terugbesorg.
Laastens, moet nie net ou boeke aflaai nie, maar koop ook 'n paar nuwes. Elke Afrikaanse boek wat u koop is 'n belegging in ons taal en 'n aansporing vir skrywers om boeke van hoë gehalte in Afrikaans beskikbaar te maak.
Gee voorkeur aan Afrikaans; Sa., 22 Desember 2018 06:47
Stel asseblief u webbladleser se taalvoorkeur na Afrikaans.
'n Beduidende deel van die Internet is in Engels, tog is daar ook heelwat Afrikaans op die Net. Mense weet net nie altyd daarvan nie, omdat hul bladlesers se taalvoorkeur nie reg gestel is nie.
Webbedieners (web servers) kan opgestel word om dokumente in die gebruiker se voorkeurtaal aan te stuur. Die gebruiker se taalvoorkeur bepaal dan watter dokument aan die gebruiker opgedis word. Byvoorbeeld, as 'n Afrikaanse en Engelse bladsy beskikbaar is en die gebruiker verkies Afrikaans, sal die Afrikaanse blad vertoon word.
In die meeste gevalle is die voorkeurtaal na installasie Engels. Dit kan egter maklik in u webblaaier se instellings (settings/options) verander word. Mense dink nie altyd daaraan nie, maar dit maak 'n groot verskil in hoe u die Interweb gaan ervaar. As u dit doen sal u agterkom dat groot internasionale maatskappye soos Google en Facebook skielik met u Afrikaans praat. Hoekom meer plaaslike maatskappye die nie doen nie gaan egter my versand te bowe!
Hou dit Afrikaans -
Stel jou taalvoorkeur na Afrikaans!
Spraaksintese is die omskakeling van teks na spraak. Die spraak word kunsmatig deur 'n rekenaar voortbring, wat 'n lêer met woorde na oudio omskakel. Die tegnologie hiervoor was tot onlangs slegs in Engels beskikbaar, maar na jare se navorsing om 'n teks-na-spraak-stelsel (TSS) in Afrikaans te ontwikkel, is dit nou uiteindelik haalbaar. Hierdie TSS-sagteware is ontwikkel deur die HLT-navorsingsgroep by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) se Meraka-instituut.
Inclusive Solutions, 'n maatskappy wat tegnologie bied aan individue met gestremdheid of 'n kommunikasiegebrek, verskaf die "blikstemme" aan die Suid-Afrikaanse publiek. Die stemme is ook in Zoeloe, Xhosa, Pedi en ander inheemse tale beskikbaar. Die produk kan op hulle webtuiste by http://savoices.inclusivesolutions.co.za/ bestel word.
Suid-Afrika, o land so ruim en vry;
jy is die land deur God gegee aan my;
jou het ek lief! Verkeer my land in nood,
trou sal ek bly, ja, selfs tot in die dood.
Suid-Afrika, o land van son en veld;
jy is gekoop deur bloed van meenge held.
Dierbaar die grond waar helde rus tot nou;
hul het gestry, hul bloed geskenk vir jou.
Suid-Afrika, die land waar God regeer.
Heer, gee ons krag, ons wil U altyd eer;
gee ons die moed vir dit wat ons moet dra.
Heer, hoed ons land, beskerm, Suid-Afrika!
Woorde: ANDRIES WASSERMAN; gewysig: G.G. CILLIÉ
Musiek: GEORGE W. WARREN, 1892
Bantom hom so en flennie die snare
ek is verlief op die kind
die son slaan vuur uit die sweetvos hare
ek is verlief op die kind
hoor jy meisie met die sweetvos hare
verstaan jy die praat van die ramkiesnare
ek is verlief op jou, kind
Hierdie gedig is getoonset en deur Louis van Rensburg bekendgemaak in die destydse TV-reeks, Ballade vir 'n enkeling. Hier is Joshua na die Reën se weergawe van die lied:
"Die Gelofte" is 'n toonsetting van die Gelofte wat op 16 Desember 1838 deur Sarel Cilliers opgestel is en waarin die Voortrekkers hul afhanklikheid van God in 'n tyd van moedeloosheid en onsekerheid oor die toekoms verklaar. Die lied word deur Adam Tas, Chris Chameleon, Ghapi, Juan Boucher en Christoph Kotze gesing. Dit is deur Johan Vorster van Inhoud Huis en Kotze getoonset. Die musiekvideo is deur Forum Films vervaardig, en die verspreiding word deur Dapper Media gedoen.
Herbie en Spence begin hulle sangloopbaan in 1969 met 'n talentkompetisie vir LM-radio, wat aan hulle 'n platekontrak besorg. Hulle treffer, Die Wilgerboom, het in 1972 'n roemryke loopbaan in die Afrikaanse musiek ingelei. In 1978 is hulle, ná 'n landswye meningspeiling, as die gewildste sanggroep in Suid-Afrika aangewys. Hier is die lirieke van Die Wilgeboom:
Daar op potchefstroom
staan 'n mooi ou wilgerboom
met twee name in sy stam daaruit gesny
daar het ons ontmoet
die ontmoeting was so soet
ja daar het ons mekaar eens nie geken
die wilger het gegroei
en ons liefde het gebloei
hoe dikwels het ons daar gesit en droom
name uitgesny
en ons harte was so bly
by die wilgerboom daar in ou potchefstroom
die jare het gekom en die jare het gegaan
maar net soos die wilger het ons liefde steeds bly staan
so nou en dan gaan ek
en my vroutjie na die plek
dis net soete-soet herinnerings of so
dan sien ek weer my nooi
is vandag nog net so mooi
by die wilgerboom daar in ou potchefstroom
die jare het gekom en die jare het gegaan
maar net soos die wilger het ons liefde steeds bly staan
so nou en dan gaan ek
en my nooientjie na die plek
dis net soete-soet herinnerings of so
dan sien ek weer my nooi
is vandag nog net so mooi
by die wilgerboom daar in ou potchefstroom