Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Oom Koos gaan tandarts toe

Di, 26 Februarie 2019 18:58

Oom Koos gaan na die tandarts toe en sê vir die tandarts:
"Luister, ek wil 2 tande laat trek en 2 laat stop, kan jy vir my sê hoeveel gaan dit kos?"

Die tandarts haal sy pen, boekie en sakrekenaartjie uit en werk die sommetjie uit.
Tandarts: "Oom, dit sal so R4,200.00 kos."
Oom Koos: "Nee seun, dit is te veel man. Wys eers vir my wat het jy alles op daardie boekie geskrywe."

Tandarts: "Oom, dit is R600.00 vir die verdowingsmiddels."
Oom Koos: "Nee, nee, nee. Ons het nie sulke goed in ons tyd gehad nie, haal dit af. Wat is daar nog?"

Tandarts: "Die gereedskap wat ek moet gebruik, kos so R1,000.00."
Oom Koos: "Nee wat seun, haal dit af. Ons het sommer ‘n draadtang gebruik in ons tyd. Waar is jou draadtang?"

Tandarts: "Ja oom, ek het ‘n draadtang. Sal dit net moet soek."
Oom Koos: "Dis reg, jy moet dit soek. En wat is daar nog op jou boekie?"

Tandarts: "Dit is die antibiotika en ander medisyne wat die pyn en infeksie weg sal vat, wat ook duur is."
Oom Koos: "Nee haal af. Hoekom gebruik julle nie sommer brannewyn of mampoer soos ons gemaak het nie? Nou op hoeveel staan ons nou op die boekie?"

Tandarts: "Dis nog so R1,100.00 oom!"
Oom Koos: "Dit klink beter. Wanneer kan ek die tannie inbring?"

Humor & grappe | 0 kommentare

Mediaverklaring: Nuwe organisasie in landbou

Di, 26 Februarie 2019 18:46

Hieronder volg 'n mediaverklaring van TLU-SA (die Transvaalse Landbou Unie) oor 'n nuwe landbou-organisasie, SAAI (die Suider-Afrika Agri Inisiatief). As SAAI 'n soortgelyke mediaverklaring het, kan dit gerus hier gepos word.

---

TLU SA is oorval met navrae na die berig in Rapport verskyn het oor Dr Theo de Jager se nuwe landbou-organisasie, SAAI. Eenheid in landbou was 'n aspek wat die afgelope jare die groot besprekingspunt was, en boere wou weet hoekom daar nie eenheid in landbou is nie. Hoekom is daar meer as een organisasie? TLU SA het indringende gesprekke gehad met Dr de Jager oor die onderwerp. Hy het besluit om 'n nuwe organisasie te stig. Dit is sy reg en TLU SA respekteer dit. Die vraag oor eenheid in landbou moet nou deur hom beantwoord word.

TLU SA bevestig dat daar met SAAI saamgewerk sal word vir 'n beter bedeling vir boere.

Ter wille van volledigheid bevestig TLU SA sy standpunte en beleid.

TLU SA het nog altyd die boer se standpunt aan die regering verkoop. Nooit die regering se standpunt aan die boere nie. Dit is herhaaldelik op TLU SA se kongresse van die afgelope aantal jare bevestig. TLU SA praat nie vir die boere nie – die boere praat self. Daarmee saam is TLU SA se krag op grondvlak - daar waar dit vir die boer regtig saak maak in sy dag tot dag oorlewing.

Landbou in Suid-Afrika is gekompliseerd met die dat ons in vergeleke met ander lande as 'n marginale landbou-omgewing beskou word. Die onseker beleidsomgewing wat deur die ANC-regering geprojekteer word vererger die situasie. Daar is drie aspekte waarop TLU SA tans fokus wat noodsaaklik is om stabiliteit te verkry. Eerstens die veiligheid van die boere en hul naasbestaandes en werkers op die plase. Die werklikheid is dat die regering grootliks beheer verloor het oor die veiligheid van die inwoners van die land. Die veiligheidskomitee het oor tyd heen homself gevestig waar daar realistiese en haalbare planne geïmplementeer word om na ons eie veiligheid om te sien. Verskeie ander instansies het op die TLU SA model voortgebou. Verder is die onsekerheid oor eiendomsreg wat baie duidelik met 'n politieke agenda geskep word vir geen belegger positief nie. Landbou kan nie gedy onder sulke onseker omstandighede nie en is TLU SA deurlopend besig om nie die ANC se glybaan na sosialisme te ondersteun nie, maar klem te plaas op daardie beginsels wat nodig is om seker te maak dat landbou sal leef. Derdens het die boer op die plaas onder uiterste ekonomiese druk gekom om verskeie redes waarvan die uitmergelende droogte in groot dele van die land seer sekerlik die grootste rede is. TLU SA het op 6 Desember 2018 'n volhoubaarheidskonferensie gehou waarna 'n komitee begin werk het aan 'n manier hoe daar gekyk moet word om die risiko nie hoofsaaklik op die produsent alleen te plaas nie, maar om dit te verskans en te versprei.

TLU SA het kommer dat daar rolspelers is wat die gedagte verkondig dat 20% van die boere 80% van die voedsel produseer en dat die ander 80% net 20% van die voedsel produseer. Daardeur word die indruk geskep dat daar eintlik reggekom kan word met net 20% van ons boere. Daarmee saam kom die vraag ook op of die 20% boere vir 100% van die huidige arbeid in die landbou-omgewing gaan werk verskaf? Dit word selfs opgetel dat sodanige standpunt ondersteun word deur sommige landbouleiers. Soos daar deur die platteland gery word kan enige persoon self sien hoe daar plaas vir plaas geproduseer word en is dit nie slegs die enkele groot plase wat hul bydrae maak nie. TLU SA het deur al die jare daarby gestaan dat die rol van die familieboerdery die basis vorm van landbou en dat dit juis hul bydrae in die landelike omgewing is wat werk skep en die plattelandse dorpe laat leef.

TLU SA dra die laaste aantal jare die boodskap uit dat dit tyd is vir saamstaan. Dit kan net gedoen word saam met mense en instansies wat uit innerlike oortuiging dieselfde ideale nastreef. Die regte beginsels moet uiteraard nagestreef word en is die waardes wat TLU SA sedert sy ontstaan gevestig het steeds daardie waardes wat in belang van elke boer is. Dit word in die Manifes en die Grondwet uiteengesit. Die belangrikste hiervan is steeds die vaste geloof in God Drie-enig soos geopenbaar in sy Woord die Bybel. Daarmee saam staan TLU SA vir die beskerming van eiendomsreg en die feit dat die markkrag beginsel bepalend is in prysvasstelling.

Sedert Januarie 2019 het daar reeds 450 nuwe lede by TLU SA aangesluit. Deur te volhard by daardie beginsels wat in belang van almal is en wat landbou volhoubaar kan laat lewe bring nuwe belangstelling in TLU SA. TLU SA is verbind daartoe om vir die kommersiële boer 'n bedingingstruktuur te wees en daarmee saam 'n brug te bou na die verbruiker toe.

TLU SA se Jongboerkonferensie wat op 22 Februarie 2019 by Weesgerus aangebied was het die jong boere met 'n baie realistiese en positiewe boodskap terug na hulle plase gestuur. Sonder om terug te deins van werklikhede is daar hoop gegee. Die landbou-omgewing het gewis sy uitdagings en deur al die jare het TLU SA nie teruggedeins daarvoor nie. Daar is inteendeel sedert 1897 deurlopend gesoek na uitkomste wat in belang van die kommersiële boer se volhoubare en veilige toekoms is.

Bron: https://www.tlu.co.za/

Landbou & veeteelt | 0 kommentare

Silwer Surfers op die Internet

Wo, 20 Februarie 2019 06:04

Ons Silwer Surfers (ouer mense op die internet) het soms probleme met ons rekenaars.
Ek het gister 'n probleem gehad en toe skakel ek vir Janneman, die 11-jarige buurseun.
Janneman druk 'n paar knoppies en die probleem is opgelos.
So in die wegstap roep ek agter hom aan "so wat was fout?"
en hy antwoord dit was 'n ID-tien-T-fout!
Ek wou toe nie te dom lyk nie en vra maar nietemin:
  "'n ID-tien-T-fout? Wat is dit, ingeval ek nodig het om dit weer te gebruik?"
Janneman grinnik, "het oom nog nooit van ‘n ID-tien-T-fout gehoor nie?"
  "Nee", antwoord ek.
  "Skryf dit neer", sê hy, "ek dink oom sal dit wel snap."
So skryf ek dit toe neer: 'IDIOT.'
Om te dink ek het voorheen van die mannetjie gehou.

Humor & grappe | 2 kommentare

So ry die trein

Ma, 18 Februarie 2019 19:33

SO RY DIE TREIN

So ry die trein, so ry die trein,
die Kimberley se trein.
So ry die trein, so ry die trein,
die Kimberley se trein.
Hoor daar hoe stoom hy,
stoom hy, stoom hy,
opdraand en afdraand,
Kimberley se trein.

TRADISIONEEL (FAK)

Musiek & liriek | 0 kommentare

Saai die waatlemoen

Do, 14 Februarie 2019 20:10

Saai die waatlemoen, saai die waatlemoen,
saai die waatlemoen, saai die waatlemoen!

[koor]
My mamma roei in die skuitjie,
my pappa blaas ’n fluitjie,
my boetie draai die orreltjie,
saai die waatlemoen!

Pluk die die waatlemoen, pluk die die waatlemoen,
Pluk die die waatlemoen, pluk die die waatlemoen!

Eet die waatlemoen, eet die waatlemoen,
Eet die waatlemoen, eet die waatlemoen!

Spoeg die pitte uit, spoeg die pitte uit,
Spoeg die pitte uit, spoeg die pitte uit!

Saai die waatlemoen, pluk die die waatlemoen,
Eet die waatlemoen, spoeg die pitte uit!

WOORDE: TRADISIONEEL (FAK)

Musiek & liriek | 0 kommentare

Gatiep en Meraai by die opsitkers

Do, 14 Februarie 2019 19:10

Gatiep en Meraai het die aand so 'n bietjie opgesit in die voorhuis toe Gatiep begin liries raak:

"Meraai, my Meraai..." sê hy, "djou oë is soos druiwekorrels, djou neus soos 'n klein piesangtjie, djou lippies is so rooi soos 'n kersie, djou wangetjies lyk soos persketjies."

Toe sê Meraai: "Luister Gatiep, het djy kom vry, of wil djy fruit salad maak?"

Humor & grappe | 1 kommentaar

Beurtkrag

Blaameer vir Eskom; Ma, 11 Februarie 2019 19:01

Terug na olielampe.
Terug na olielampe.
As gevolg van beurtkrag (load shedding) sal mense vanaand weer vroeg kooi toe gaan. Oor 9 maande gaan ons babas met die volgende name kry:

Kers Grobler
Darkness Mapanga
Vroegslaap Jordaan
Blackout Dube
Generator van Zyl
Vlam van Rooyen
Paraffienlamp van Rensburg
Gasoline Smith
Pompie Primus
Sannie Everedy Visser
Flits Botha
Lampie Lampreghts
Kilowatt Koster
Kerswas van As
Donker Jonker
Gaslamp Aukamp
Vuurhoutjie van Vuuren
Spyker van der Merwe
Eskom Kleinbooi
Solar September

... en laaste maar nie die minste nie:
Nagskof van Niekerk!

Humor & grappe | 12 kommentare

Suinige Koos

Sa, 09 Februarie 2019 19:48

Oom Koos was baie suinig. En 'n bietjie skelm ook.
Dominee vra 'n bydrae vir die kerk. Oom Koos skryf 'n tjek vir R100 uit.
Dominee kom later, baie verleë, by oom Koos aan en sê die tjek het teruggekom, gemerk "Verwys na trekker (VT)."
Oom Koos sê hy is baie jammer en skryf weer ‘n tjek vir R100 uit.
Dominee bring weer die tjek, weer gemerk "VT."
Oom Koos sê: "Dominee, ek sê jou wat. Ek sal jou nie weer 'n tjek gee nie, ek gee jou drie skape."
"Baie dankie, Broer," sê Dominee.
Oom Koos vat die skape kerkbasaar toe waar die skape opgeveil word.
Oom Koos koop toe sommer self die skape - en betaal per tjek!

Humor & grappe | 0 kommentare

Aksent

Aksentkarakter; Do, 07 Februarie 2019 20:54

'n Aksentteken is 'n karakter wat aantoon dat 'n lettergreep of woord benadruk (beklemtoon) word, of om tussen betekenis en woordsoorte te onderskei. Daar is twee soorte:

Akuut-aksent (´)
'n Akuut-aksentteken is 'n diakritiese teken wat as 'n skuinsstrepie bo-op 'n letter (vokale) geplaas word. Die strepie loop van links na regs, laag na hoog. Dus lê dit vorentoe. Die akuutteken word gebruik om betekenis en woordsoorte te onderskei of om woorde te beklemtoon.

Hoofletters : Á É Í Ó Ú
Kleinletters: á é í ó ú

Voorbeelde: ná

Gravis-aksent (`)
'n Gravis-aksent is 'n diakritiese teken wat as 'n skuinsstrepie bo-op 'n letter (vokale) geplaas word. Die strepie loop van links na regs, hoog na laag. Dus lê dit agteroor. In teenstelling met die akuutteken word die gravisteken hoofsaaklik gebruik om by sommige woorde die [ε]-klank aan te dui.

Hoofletters : À È Ì Ò Ù
Kleinletters: à è ì ò ù

Voorbeelde: appèl, dè, hè, nè

Afrikaans, ons taal | 0 kommentare

Afrikaanse Internet-diesnsverskaffer

Kry blitsvinnige vesel binne 'n oogwink; Di, 05 Februarie 2019 20:22

Aitsa.com verskaf 100% onbeperkte (“uncapped”) en ongevormde (“unshaped”) internet na jou huis. Onbeperkte internet beteken dat jy nooit daardie frustrerende ‘geen data beskikbaar’-boodskappe sal kry nie, al kyk jy sport of sepies 24 uur per dag in jou TV-kamer, slaapkamer, badkamer of kombuis, in hoë definisie.

Gevormde internetdiens verwys na selektiewe spoedbeperkings. Hierdie onderbrekings kan vir spesifieke tydperke of op spesifieke toepassings toegepas word (soos om groot dokumente af te laai). Hierdie onderbrekings kom gewoonlik in spitstye voor wanneer die netwerk onder druk is. By Aitsa, verwyder ons al die tegniese terme, want ons glo optiese vesel is vir almal en ons kan nie wag om jou internet te laat BUIG, BONS, BALK, BULT en BRUL nie!

Meer by https://aitsa.com/

Ruil, koop & verkoop | 0 kommentare

Bladsye (1842): [ «    23  24  25  26  27  28  29  30  31  32  33  34  35  36  37  38    »]
Tyd nou: So Jun 09 10:15:53 MGT 2024