Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

"By Pramberg blêr 'n moflam" deur Boerneef

Fri, 12 October 2018 19:04

/fa/41/0/BY PRAMBERG BLÊR 'N MOFLAM
Boerneef

By Pramberg blêr 'n moflam
van hongerte en dors
by Pramberg vrek 'n moflam
dit is vanjaar die stryk
sny keelaf wat nog lewe
dis hoeka sukke tyd
by Pramberg blêr geen moflam
maar die jakkals hou jolyt

[Die gedig verwoord 'n gevoel van wanhoop in 'n tyd van uiterste droogte. Dit betreur die sterfte van 'n moflam (Merino-skape word mowwe genoem). Ironies genoeg het Pramberg sy naam gekry omdat dit soos 'n vrou se bors ('n plek van voeding) gevorm is. Pramberg is deel van die Tankwa-Karoo Nasionale Park tussen Ceres en Calvinia, 'n uitgestrekte, eensame stuk aarde aan die voetheuwels van die Sederberge. Op die einde is die een se dood die ander se brood.]

Prosa & poësie | 0 kommentare

"Busrit in die Aand" deur Elisabeth Eybers

Thu, 11 October 2018 07:00

/fa/39/0/Busrit in die Aand
(Elisabeth Eybers)

Elk langs sy yl weerkaatsing in die ruit,
sit hulle suf, met monde moeg gesluit,
die werkers van die stad wat huis toe gaan.

Skaduwee-skimme gly verby... Dis laat,
en lang ligvaandels wapper oor die straat
soos oor 'n dam die blinkpad na die maan.

Ons ploeg deur stormsee met ons kaperskuit:
die stuurman voor, die passasiers die buit
wat ons as slawe huis toe bring vanaand...

Die vaartuig waggel afdraand, om die draai
met skril gekners en skommelende swaai,
en hyg en skok en snork en swoeg opdraand,

terwyl ons, soos twee kinders opgetoë,
mekaar toelag met glinsterende oë...
Asof hul jammerlik hul lot kan raai,

sit hulle suf, met monde moeg gesluit,
elk langs sy yl weerkaatsing in die ruit,
die werkers van die stad wat huis toe gaan.

Prosa & poësie | 0 kommentare

Krugerdag

Wed, 10 October 2018 06:58

/fa/37/0/Vandag is 10 Oktober, Krugerdag, die dag waarop ons Paul Kruger se verjaarsdag vier. Paul Kruger was 'n Boere weerstandsleier wat verbete teen Britse bewind geveg en later president van die Zuid-Afrikaansche Republiek geword het.

Soos vorige jare sal daar om 15:00 'n kranslegging by die Heldeakker in Pretoria plaasvind. Enigeen is welkom om 'n krans op Kruger se graf (en by die grafte van ander geskiedkundige persone) te gaan lê. Die gebeure word om 16:30 opgevolg met 'n herdenkingsdiens in die Krugerkerk (reg oorkant die Krugerhuis).

So 'n bietjie agtergrond:

Krugerdag is die eerste keer in 1882 gevier terwyl Paul Kruger nog gelewe het. Jy was destyds die adjunkpresident, maar omdat hy soveel respek van sy volksgenote geniet het, is sy verjaardag met 'n feesdag gedenk. Dit is die daaropvolgende jaar amptelik as 'n openbare vakansiedag ingestel. Die gebruik het ten einde gekom nadat Brittanje die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek verslaan het.

In 1910, met Uniewording, is die dag steeds nie as openbare vakansiedag erken nie. 'n Paar jaar na die Nasionale Party in Suid-Afrika aan bewind gekom het, is die dag in 1952 as Heldedag ingestel. Van tyd tot tyd is dit amptelik deur opeenvolgende regerings as hetsy Heldedag of Krugerdag geproklameer, en op kalenders as sodanig aangedui.

Dié vakansiedag is deur die ANC-regering opgehef toe hulle in 1994 aan bewind gekom het. Interessant genoeg word Heldedag steeds as een van ses vakansiedae in Orania waargeneem. Tale skole en kulturele organisasies reël ook byeenkomste om die gees van Krugerdag in stand te hou.

Soos Paul Kruger homself gesê het: "Neem uit die verlede alles wat goed en edel is, en bou daarop die toekoms."

Nuus | 0 kommentare

Het julle geweet?

Sat, 06 October 2018 07:44

Hier is 'n paar interessante feite:

• Bye het nie ore nie.

• Miere kan tot 10 keer hulle eie gewig dra.

• Krokodille kan nie hulle tong uitsteek nie.

• Skoenlappers proe met hul voete.

• Die Afrika-olifant het net vier tande waarmee hulle kos kan kou.

• Olifante is die enigste diere wat nie kan spring nie.

• 'n Kameelperd kan sy ore met sy 50cm (20 duim) lange long skoonmaak.

• 'n Huisvlieg leef net 14 dae.

• Alle ysbere is linkshandig.

• 'n Volstruis se oë is groter as sy brein.

• 'n Volstruis kan tot 70 km/h (43mpu) hardloop.

• Die tong van 'n blouwalvis is so lank soos 'n olifant

• Die hart van 'n blouwalvis is die grootte van 'n klein motorkar.

• 'n Mens kan 'n koei met trappe laat oploop, maar nie af nie!

• Meer mense is banger vir spinnekoppe as om dood te gaan.

• Daar word gemiddeld 12 pasgebore babas aan die verkeerde ouers gegee elke dag!

• Ons oë bly dieselfde grote van geboorte tot dood, maar ons neuse en ore hou nooit op groei nie.

• Donald Duck-strokiesprente was op 'n stadium in Finland verban.... omdat Donald nie 'n broek aanhet nie!

• 40% van McDonalds se profyt is van die verkope van die kinders se Happy Meals.

• Die Eiffeltoring groei elke jaar 150 mm a.g.v. uitsetting in warm weer!

• Die Egiptenare het papier geëet. Hulle het papier van papirus gemaak, 'n plantsoort wat rou of gaar geëet kan word. So, as jy weer nie jou huiswerk gedoen het nie, sê vir jou onderwyser dat jy honger was en jou huiswerk opgeëet het!

• Speelkaarte is tydens Tweede Wêreldoorlog aan Britse vlieëniers gegee. Sou hulle gevang word, kon hulle die kaarte in water week en dan kon hulle 'n kaart sien wat hulle sou kon help om te ontsnap.

• Die gemiddelde Amerikaanse kind sal teen die ouderdom van 10 ongeveer 730 vetkryte opgebruik het.

• Omtrent 100 mense verstik hul dood aan hul balpuntpenne elke jaar.

• Daar is nie 'n Engelse woord wat rym met die woord "MONTH" nie.
 
• "TYPEWRITER" is die langste woord in Engels wat met die letters van net een ry van 'n rekenaar se sleutelbord gemaak kan word.

Bronne:
http://www.funofun.com/weirdfacts.htm
http://www.didyouknow.cd/afrikaans/
http://www.didyouknow.cd/kids/kids.htm

Onderwys & opvoeding | 0 kommentare

Oom Brood en die spook van Jakkalsputs

'n Suidwes Visvangstorie; Fri, 05 October 2018 19:29

Sy van was eintlik Roodt, maar ons kamp het hom Oom Brood genoem. Die naam het hy verwerf deur sy eie snaakse uitspraak van sy van. Ons het skaars uit die kar geklim pas na ons by ons kampplek aangekom het of hy kom aangestap na ons toe.

"Hê julle al ves gevang?"

"Is die man dan nou kens" mompel ma binnemonds, "ons het dan nog nie eers kamp opgeslaan nie". Pa groet maar vriendelik en verduidelik dat ons nou eers aangeland het, "asof hy dit nie kon sien nie" mompel ma.

"Roodt is die van" sê hy, maar ons almal hoor Brood.

Later het dit duidelik geword dat oom Brood nog vir baie ergernis gat sorg, veral vir ma. Hy en sy vrou blyk toe nou al baie maande daar te staan en deur daai maande heen honger geraak vir geselskap. En ma is deur hulle uitverkies as om mee te gesels. Ná die derde aand hoor ek ma vir pa sê dat ons beter kamp opslaan en anner plek gat staan, want vir die Brood en sy vrou sien sy nou nie meer kans nie. Want elke dag nog voor ma kan gatdraai loop (Jakkalsputs het toe al longdrops gekry) dan wag antie Brood ma al in. En dan wil die Antie kuier en later as Oom Brood van die waters af terugkom, dan kom kuier hy saam. En dit interveer met Ma se middagslaap, haar boeklees tyd, haar tyd om met die honde te gat stap, kortweg sommer, dit bedons ma se hele "bleddie holiday". Probleem is net, ons staan waar ons staan met 'n rede, en dis om naby aan die storte te wees, en die enigste anner plekke wat nog oor is, is vêr van die storte af.

So bly ons toe maar langs Oom Brood hulle en verduur die ergernis. Maar dit is lastig. Toe Oom Brood die dag uitvind ons eet elke aand skaap boudtjop (vir rooivleis), vark nektjop (vir groente) en aartappelslaai en braaibroodjies (vir stysel), toe beginte hulle elke aand met vuuraansteek aanstap na ons kamp toe. Om nie ongeskik te wil wees nie, bring hy dan elke aand 'n halfgevriesde, slymerige, met die derms in, vis daar aan wat ons dan kwansuis maar kan kry. En uit Ma se goeie geaardheid bied sy dan maar aan dat die Brode maar moet aanbly vir ete, wat beteken dat iemand nie gat vleis of groente kry daai aand nie. Een ding was seker, Ma het 'n goeie geaardheid gehad, maar haar moerigheid was selfs beter, en iets of iemand sou moes plan maak, want ek het gesien voor die vakansie gat oor wees, gat Ma nog die Brode iets aandoen.

Toe kom die oplossing sommer so sonner beplanning.

Daai jare het die Kerk Jeug Aksie (Ma het hulle die Kom Juig Almal genoem) so oor die Desembermaand daar kom staan en dan allerhande programme aangebied. Vir die kleuters in die oggende was daar poppekas, middag was sports gewees met tieners en in die aande is tieners ook gevermaak. Die grootmense het dit natuurlik baie waardeer want dit het so lekker privaatheid gegee; so na storttyd wanneer hulle skoon is en lekker ruik en op vakansie is langs die see waar die son ondergaan en die kinders is nie daar nie. Toe die een aand sou ons saam met die KJA's in 'n beeslorrie ry en gat sing; eers in Henties en dan op Jakkalsputs serenade, Krismis-liedjies. Ek en my maats, Morris en Rens is toe baie bly vir die geleentheid Henties toe. Uit vorige ondervinding weet ons toe al dat daai lorrie heel eerste by Sareltjie se Gat (hotel De Duine) gat stop vir die eerste liedjie. Dan ry hy die hele Henties deur, Suid Duin, Noord Duin sommer oral, en dan sing hulle die laaste liedjie weer by Sareltjie se Gat. So, ons is saam. Spring af by die hotel, kuier al ons sakgeld uit, en dan as daai lorrie sy tweede stop daar maak, klim ons weer op en kry geleentheid kamp toe. En ons hoef niks te verduidelik nie, want Ma weet mos ons is saam met die KJA's. Morris se Ma het baie sakgeld gegee, en ons drie het daai aand baie Tafels gekuier, en 'n O.B.S. vir die koue pad terug. En al daai vloeistof sak af en die nood druk en toe ons daar by Jakkalsputs aankom, was die nood besonder hoog. En ons hol vir die longdrop, en dit was 'n maanlose nag, en dit was al baie laat en ons het swart broeke aangehad (hoog mode gewees daardie jaar) en wit truie wat laag hang (van die dou nat geword). En Morris was die eerste om die longdrop se deur oop te stamp. Daai deure het nie kon sluit nie, want die slotte het afgeroes, dit was sommer sulke swaaideure. En met die oopstamp van die deur gil hy sommer van dronkgeit en verligtgeit. En daar gil iets terug uit daai lewwie. En ons skrik en ons hol, sommer woestyn in. Morris kon dit nie meer maak nie, maar ek en Rens het maar daar in die gobsie duintjies water afgeslaan.

Daardie volgende oggend slaap ons om verskeie redes later as anner oggende, en toe ons wakker word toe sien ons dat die Brode weg is, nie net Henties toe nie, weg. Kamp opgebreek, "lock stock en barrel" soos ma dit gestel het. Pa vertel toe so op pad waters toe dat Oom Brood net kom sê het dat hy nie meer hier kan kamp nie, want hy was blykbaar baie bang vir spoke, "en nie net een nie, buurman,... drie van hulle bestorm my terwyl ek op die troon sit." Daai lewwie was een groot gemors gewees. Oom Brood het pad gevat. En ma het vir ons 'n ekstra sakgeldjie gegee, "vir wanner die lorrie weer Henties toe ry, want ma is trots op julle".

Die res van die vakansie was sonner voorval gewees.

-- Leon Langhare

Humor & grappe | 0 kommentare

Suid-Afrika se nuwe dinosourus

Ledumahadi mafube; Thu, 04 October 2018 06:33

/fa/36/0/ 'n Nuwe eg Suid-Afrikaanse dinosourus is in die Vrystaat ontdek. Die gedierte heet "Ledumahadi mafube" en het sowat 200 miljoen jaar gelede in die gebied rondom Clarens voorgekom. Dit het 12 ton geweeg, met 'n lang nek, lang stert en 'n skofhoogte van 4 meter. Dit was die grootste landdier van sy tyd, omtrent twee keer so groot soos 'n hedendaagse Afrika-olifant.

Die spesie is verwant aan die souropodes (dinosourusse met lang nekke en sterte, maar klein koppe en dik, bonkige bene), wat die bekende Brontosaurus insluit. In 'n sekere sin kan mens aan hulle dink as daai tyd se koeie wat in die veld gewei en smaaklike plante verorber het. Hulle het egter dik pote soos moderne olifante gehad, hoewel die voorpote meer gebuig (gehurk) was. Dit is belangrik omdat dit die oorgang van tweepotige na vierpotige souropodes verteenwoordig.

Die naam, Ledumahadi mafube is Suid-Sotho vir "reusedonderslag teen dagbreek". Die eerste deel, "Ledumahadi" beteken "groot donderslag" en die tweede deel, "mafube" is die eerste lig net voor sonop.

Navorsing oor die dinosourus is op 27 September 2018 aangekondig deur Jonah Choiniere (Wits), Jennifer Botha-Brink (Suid-Afrikaanse Nasionale Museum in Bloemfontein) en Emese Bordy (Universiteit van Kaapstad). Hulle het dié nuwe spesie van van 'n enkele, onvolledige skelet wat opgegrawe is beskryf.

Aangeheg is 'n rekonstruksie van hoe Ledumahadi mafube moontlik kon lyk, met nog 'n Suid-Afrikaanse dinosourus, Heterodontosaurus tucki, op die voorgrond. Krediet: Viktor Radermacher.

Nuus | 0 kommentare

ANC verloor hul webtuiste

Sat, 29 September 2018 09:36

Dis toe nie 'n grap nie, die ANC het so waarlik nie vir hulle webwerf betaal nie. Besoekers word begroet met: "This website is Suspended due to non-payment to the service provider" (Hierdie webwerf is opgeskort weens nie-betaling aan die diensverskaffer). Volgens die verskaffer is die ANC R32,5 miljoen aan hulle verskuldig. R32½ miljoen!

Jy kan jou indink tot wat se komiese kommentare dit gelei het, onder andere: "As die #ANC nie die http://anc.org.za webwerf kan bestuur nie, hoe kan ons hulle vertrou om die land te bestuur? Hulle moet weet dat jy nie 'n webwerf kan onteien sonder vergoeding nie." [Kallie Kriel]

Die diensverskaffer, Unwembi, se prokureurs het blykbaar beveel dat dienste weerhou word totdat die geld betaal is. Daarteenoor beweer die ANC dat hulle besig is om die webwerf op te knap en dat hulle nie 'n kontrak met Unwembi het nie. Verdere inligting is beskikbaar op timeslive.co.za.

En hier is die bewys:
/fa/35/0/

Nuus | 1 kommentaar

Nou gaan ons braai!

Mon, 24 September 2018 06:05

/fa/34/0/Ek hoop almal van julle gaan vandag soos bekeerde vegetariërs vleis by 'n braai nuttig. As jy nie na 'n braai genooi is nie, maak jou eie vuurtjie en nooi iemand oor. Selfs 'n braaitjie op jou eie kan besonder terapeuties wees.

So bietjie geskiedenis:

Vandag is Nasionale Erfenisdag, 'n publieke vakansiedag wat jaarliks op 24 September in Suid-Afrika gevier word. Voor 1994 was dié dag as Shakadag bekend, waartydens Zoeloes hulle koning herdenk het. Ná demokrasie-wording is dit omskep in 'n dag waarop alle kulture hulle eie erfenis kan herdenk. Dit het egter gou as Braaidag bekend geraak.

Braaidag is vir die eerste keer in 2005 deur die Mzansi Braai-instituut georganiseer, en vanaf 2008 is dit deur Jan Braai onder die vaandel van Braai vir Erfenis (Braai4Heritage), 'n nie-winsbejag inisiatief, bemark. Op 5 September 2007 is aartsbiskop Desmond Tutu as die "beskermheer" van die dag aangestel. Die inisiatief het selfs in 2008 die amptelike goedkeuring van Suid-Afrika se Nasionale Erfenisraad ontvang.

Alle Suid-Afrikaners wêreldwyd word aangemoedig om op die dag hulle vure aan te steek en iets te rooster. Die dag gedenk Suid-Afrika sy ryk erfenis en sy unieke tydverdryf, die braai. Mense van alle demografiese groepe en godsdienste neem hieraan deel.

Nou gaan ons braai!

Nuus | 0 kommentare

Gebakte sagopoeding

Sun, 23 September 2018 08:15

/fa/31/0/Bestanddele:

1 liter melk
250ml sago
1ml sout
75ml suiker
75ml botter of margarien
4 eiers
5ml vanielje geursel
fyn neutmuskaat
75ml fyn appelkooskonfyt

Metode:

Maak melk warm tot net voor kookpunt. Voeg sago en sout by en kook totdat sago deurskynend word.
Roer suiker en margarien by en verwyder van stoof.
Klits eiers en vanielje geursel en voeg by sagomengsel.
Gooi in 'n oondbak en sprinkel neutmuskaat oor.
Sit in 'n pan met warm water en bak vir 45 minute by 160ºC totdat dit ligbruin is.
Bedien met 'n bietjie appelkooskonfyt op elke porsie.

Kos & resepte | 0 kommentare

"Toe die wêreld nog jonk was" deur A.G. Visser

Fri, 21 September 2018 06:14

/fa/32/0/TOE DIE WÊRELD NOG JONK WAS (A.G. Visser)

"In dié dae was die reuse op die aarde...
die manne van naam." Gen. 6:4.

Kort anderkant Jerusalem
daar het gewoon Metusalem,
die man wat hul - dit sal jy sien
vermenigvuldig het by tien!
Hy was g'n vier jaar in die land
toe kry hy al sy eerste tand;
by tien jaar kruip hy oral rond,
'n flinke knapie en gesond:
toe rol hy al, en val en woel
en staan hy op teen elke stoel.
Nog skaars was hy 'n jaar of elf
toe stap klein Lemmie al vanself.
So groei hy op tot sestig jaar;
die eerste wisseltand was daar;
en volgens landswet ry "oom Kool"
op ou Behémot na die skool,
sy vaders trots, sy moeders vreugd',
Met Step by Step en Trap der Jeugd
in Hoog-Galdeeus en Aramees,
want almal moes tweetalig wees.
't Was goed en wel, maar alte vaak
het dié twee "opgemix" geraak.
Hy leer; en voor hy honderd was,
staan hy al eerste in sy klas!
Op honderd-sestig moes meneer
sy melkbaard al begin te skeer;
Tien jaar daarna al katkiseer
en Hellembroek - die dubb'le - leer;
nog tien jaar toe begin hy al
'n mooi klein nooientje lastig val.
Verniet dat Vader loop en brom:
"Kniehalter-span sal ek vir hom!
'n Bog van honderd-tagtig jaar
praat al van trou - so wrintie waar.
Maar styf sal hy sy rieme loop -
hy dink glo trou is kémel koop!"
"Kind," sê sy ma, "daar's baie tyd -
waarvoor die grote haastigheid?"
Maar wat, die snuiter was getroud
skaars honderd-ses-en-tagtig oud.
En soos dit in die huwelik gaan,
sy huisgesin groei stadigaan:
So elke dertig, veertig jaar
is weer 'n nuwe outjie daar.
So word met dat die eeue rol,
ook mettertyd sy koker vol -
'n pure man Metusalem,
die Raadslid vir Jerusalem!
Hy tem die woeste Dinosour
en skiet die wolhaar Brontosour;
en van sy vel maak hy 'n jassie
vir klein Mahérskalálgasbassie.
Maar klein Kedorlaomertjie
en lief Kirjatjaromertjie,
Die tweelingboetie en sy sussie,
kry elk 'n hippopotamussie.
Tiglatpileser, die parmant,
Wil niks hê as 'n olifant;
maar Hammoerabie huil en sê
hy wil 'n wit harnoster hê.
En klein Metusalem verlang
Pa moet vir hom 'n walvis vang.
"Habbakukkiena, bly tog stil!"
"Ag, Ma, hul vat my krokodil!"
Maar Gog-Magog met breë bors
Eet soet sy leviatanwors.
Ja, glimlag moes die moeder wel
by dié verteed'rend kinderspel:
Hoedat - dis om jou hart te steel -
die kleinspan met hul diertjies speel!
So leef hy voort en doen sy plig
tot sewehonderd-sewentig,
Toe sê hy: "Kinders, nou gaan ek
my aan die boerdery onttrek.
Voor nog 'n honderd jaar verloop,
sal ek vir my 'n bril moet koop.
Die paar ou eeutjies wat ek nog
hier op die aarde lewe mog,
wil ek gaan rus van al my werk.
My dorpshuis staan vlak by die kerk;
die dokter en die predikant
is albei sommer byderhand.
Hou as ek weg van julle woon,
my kinders, julle paadjies skoon:
Pas op vir borgstaan en krediet,
vir Israel- en Ismaeliet.
Behou die grond, kaart en transport;
betaal kontant: die lewe is kort,
'n droom - en voor 'n mens gewaar,
dan is die ouderdom reeds daar.
My lewe is - so skyn dit my -
soos 'n gedagte snel verby!
My dogters, luister tog vir Pa:
Volg nie die nuwe modes na;
't Word alles korter - liewe land!
die rok, die hare en verstand.
Dit dans, dit rook - dis om te ween.
In hemelsnaam! Waar moet dit heen?
Ligsinnigheid wat my verstom -
vanslewe was dit andersom."

En so verslyt Metusalem,
sy oudag op Jerusalem,
en drink en rook op sy gemak
sy koffie en sy pyp tabak.
So sit en peins hy menigmaal:
"Die duisendtal sal ek nooit haal.
Ek het ook soveel knoue weg
in wilde-mens- en diergeveg,
en sware koue in die nat
vierhonderd jaar gelee gevat.
'k Onthou nog goed die groot kapok -
die sneeu tot aan die huis se nok."

Op nege-sewentig-min-een,
sy tydjie om, was hy daarheen;
en niemand wis of dag daaraan
'n wêreldrekord was geslaan.
Die feit is daar: Van toe tot nou
Het hy die langste aangehou!

Prosa & poësie | 0 kommentare

Bladsye (1838): [ «    31  32  33  34  35  36  37  38  39  40  41  42  43  44  45  46    »]
Tyd nou: Wed Jan 22 16:56:04 UTC 2025