Ek blaai gister in 'n Huisgenoot en sien die storie oor Hestrie Cloete se
familie, die TV kyk van die joernaliste saam met die familie en die
gevolglike berigte wat geskryf is oor van die uitlatings wat daar gemaak is.
Die hele storie laat my met 'n slegte smaak in die mond. Sekerlik moet die
swaer van Hestrie leer om 'n wag voor sy mond te plaas [veral as daar
joernaliste in sy omgewing is] en is sy manier van praat totaal uit pas met
die nuwe SA, maar as ek die storie reg verstaan is die joernaliste Coligny
toe om 'n storie te kry van 'n Hestrie wat 'n goue medalje wen. Die
familie het die wen ook verwag en nooi nogal ewe die joernaliste in hul huis
in om te kom deel aan die opgewondenheid. Toe wen Hestrie nie en die groot
storie is toe nie daar nie en die Huisgenoot gaan plaas 'n berig wat eintlik
Hestrie en haar familie as 'n spul agtertange voorstel. Ek wonder nou net,
AS sy die goue gewen het, sou hulle nog daai swak berig gepubliseer het?
Of sou die begeerte om 'n eksklusiewe berig uit haar en haar familie te kry,
swaarder geweeg het as die swaer se verkeerde woorde?
Dis lente die jaar
die haakbosreëntjie bly weg
in droë blom droë wit stuif
lê die steenbokrammetjie met
sy kop op die blare se ophoop
wyl die ooitjie haar kop druk
teen die ram se lies in die koel
skaduwee van die bos In die ooi
se dor oog ryg die jongby
op in 'n droë heuningkoek
en in my hart se vat
kruip die rooi duin
daardie jaar groot woestyn
Gister toe ons daar deur die berge ry onthou ek 'n gedig wat deur
Langenhoven of Visser of iemand geskryf is oor 'n seun wat in 'n skeur geval
het en hoe sy pa probeer om hom uit te help met die riem, maar die riem bly
breek en later is dit net knoop op knoop. Teen die einde van die gedig vra
die seun dat sy pa hom liewer moet skiet, maar hy moet hom asb. nie so daar
los nie. Die gedig is blykbaar op 'n ware gebeurtenis gebaseer. Weet jy
waarvan ek praat en as jy weet, kan jy die gedig hier vir my plaas, groot
asseblief?
By gister se konsert het daar 'n 11-jarige saksofoonspeler opgetree - so
goed. Ek het nog nie 'n volwassene gehoor saksofoon speel soos hy nie.
--
Groetnis
Annette
Ek's bly om te sien niks het verander nie :) Ek het my week langs die see
so geniet dat ons het besluit ons trek so gou as wat ons kan Suidkus toe.
Ons het 'n hele klompie vriende daar, en hulle soek net vir ons besigheid
sodat ons 'n verskoning het om meer gereeld af te gaan. Die ontwikkelinge
daaronder is iets ongeloofliks, die eiendomsmark floreer en eiendomspryse
het die hoogte in geskiet. Om nou 'n plekkie daaronder te koop sal 'n mens
'n arm en 'n been kos. Daar so baie toeriste dat hulle begin het om Port
Shepstone te ontwikkel (voorheen nie 'n vreeslike groot toeriste
aantreklikheid nie), en hulle behoort voor die einde van die jaar, vir die
heel eerste keer, haainette te kry :)
Ek haal my hoed af vir al die "beach committee's" en natuurbewaring, hulle
het die strande mooi skoongemaak (met die uitsondering van een of twee
kleintjies), groot gedeeltes is tot beskermingsgebiede verklaar, die see is
mooi skoon, en hulle doen moeite om die dolfyne en walvisse te beskerm. Net
11 mense langs die Hibiscus kus af het permitte gekry om "whale and dolphin
watching" toere te doen. Ag ek gaan sommer terug....
In vandag se Sunday Times:
Die mense van Zimbabwe is vreeslik trots op hul Olimpiese swemmer, Kirsty
Coventry, en dit is te sien aan die name van pasgebore babas in Harare: o.a:
Kirsty Moyo; Athens Phiri; Kristee Koventree Kavamba; Backstroke Banda;
Kirsty Coventry Mapurisana; Individual Medley Mbofana; Goldmedal Zulu; Gold
Silver Bronze Ndlovu; Butterfly Masocha; Swimmingpool Nhanga; Freestyle
Zuze; Coventry Mabhena; Breaststroke Musendame; Goldwinner Mambo en
Swimmington Nyamuzuwe.