Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

" die kommunis onthou " deur BREYTEN BREYTENBACH

Ma., 27 September 2004 17:14

die kommunis onthou

Breyten Breytenbach

herfs: en die aanbreek van 'n kouer seisoen

binne smeulende einders

somerdrome van opstand en vrede

kantel weg in die geheue

is dooie spinnekoppe oor die papier

vasgevang op Toringstad se sypaadjies

in glans weerspieël deur glassteiltes

waar wolke swem

(die sonmannetjie krimp kleiner by die dag)

sit ou Chinese dames met dooie ooglede

kruisbeen in beswyming

om te betoog teen die marteling van Falun Dafa

geel taxi's skel 'n flitsberig klanke

van wand tot wand deur weerklinkende klowe

onder struike in die park steek die skurwe enkels

en stukkende voete van 'n buiteslaper uit

met donker is die stad 'n druisende hart

vol verskuilde passies en slapelose bewegings

'n dwarreling wit motte elk so groot

soos 'n wuiwende hand skitter en kolk

en vuis in die blou suile van skynwerpers

wat die nagruim aftas

bo die gaping waar daar eens

hemelsteierende wolkekrabbers van die kapitalisme was

en nou nog net 'n kuil verlore gedagtes

helikopters dartel soos motte uit die hel

bo die somber woud van spitse en skoorstene

en skiet strale lig neer oor dak en binnetuin en steeg

wie het jou ooit 'n holte vir die voet belowe?

wie het geweet alle gelowe lei tot slagting?

wie het vermoed die gewete word 'n verkreukeling

van vergeet binne smeulende einders?

wanneer vuurwaens ophou loei

en die maan soms 'n vreemde bloeisel is

en in losies van sluimerende deurwagte

beeldskerms stom hul oorlogsnuus flikker

hurk jy op die balkon en wag

vir die wakkerword van die meeu en die kraai

op uitkyk vir die draai

van 'n eerste veegsel lig bo Oosrivier

soos die herinnering uit 'n ander verder land

met somerdrome van opstand en vrede

wat jou in die stom taal nog wys kom maak

dat daar landerye groen was in jou verlede

platdakke, riete, 'n wind en rook

en wanneer dit helder genoeg is

sal jy weer jou hande gewaar

(die sonmannetjie krimp kleiner by die dag)

nou reeds die kleur van verskimmelde pampoen

en wéét spinnekopbloed oor bleek papier vertel:

so word jy sterwende woord vir woord

met die wonderwerking van die dood versoen

Prosa & poësie | 0 kommentare

Vertel asb

Ma., 27 September 2004 14:59

Kan een van die mense wat daar onder in Transvaal bly of by Die Beeld werk,
vir ons vertel van die mense van die nuwe Regse beweging TrotsBoer wat Paul
Kruger se standbeeld Saterdag gewas het?
Ek hoor hy is toegedraai - hoekom?
--
Groetnis
Annette

Koeitjies & kalfies | 3 kommentare

Ongelooflik vereenvoudigde apartheid ...

Ma., 27 September 2004 09:59

Ek verstom my aan die inhoud en lengte van "apartheids threads" (sê mens
"draad"?). Op die ou einde is dit (lekker) argumente wat nimmereindigend
herhaal word:

1. Een groep sien Afrika oppad na sy volle glorie na dekades van onreg aan
die witman se hand (vereenvoudig t.w.v. lengte).
2. 'n Tweede groep voel dieselfde betreffende die onreg, maar voel die
witmens het reeds te veel skade gedoen aan die Afrika-nasies.
3. 'n Derde groep sien Afrika as ietwat van 'n "lost cause", maar erken wel
dat apartheid verkeerd was. Hierdie groep hoop wel dat dit beter sal gaan,
bloot a.g.v. liefde vir die plek en mense. Meeste mense in hierdie groep
beweer dat Afrika geensins beter daaraan toe sou gewees het as witmense
nooit hier aangeland het nie (om beskuldigings van draadsittery te voorkom,
ek sien myself in die groep).
3. Dan is daar die vierde groep, wat terugverlang na apartheid (vereenvoudig
t.w.v. lengte).

Ek dink min/geen mense kan 'n elegante redenasie aanvoer dat apartheid reg
was nie. Maar min/geen mense kan ook bewys dat Afrika so wonderlik sou
gewees het sonder wit inmenging nie. Dit is 'n geweldige komplekse saak -
waar sou Afrika/Amerika/Australië regtig gewees het as dit nooit enige
ontwikkelde mens (in terme van tegnologie) gesien het nie? Sou tannie
Gloudina na Kanada toe uitgewyk het as dit nog deur die oorpsonklike nasies
beset was? Of sou die tekort aan water, hoë mortaliteit, armer leefwyse
(ens. ens. ens.) die meeste mense afgeskrik het?

Ek dink selfs dat geen 50 faktore kan genoem word wat of groepe 1 - 3 se
sienswyse volledig staaf nie. Let asseblief dat ek nie goeie bespreking
afkeur nie, maar slegs sê dat ons altyd oppad na 'n oplossing of
verduideliking sal wees. Vereenvouding: Wie sou ek vandag gewees het as ek
ander ouers gehad het...

Wat ek as nie-geskiedkundige ook nie verstaan nie, is die volgende:

Deur die ganse bestaan van die mens is jy of oorwin of jy het oorwin. Daar
is onderhandel en land/besittings het van eienaar verwissel. Vanwaar die
groot verskil in die huidige bestel? Het ons sodanig ontwikkel dat
"geregtigheid" uiteindelik voorrang geniet bo brutaliteit, krag, of
ontwikkelings-vermoëns (entrepeneurskap)? As dit dan wel die geval is, moet
die meeste van suidelike Afrika terug na die San-mense. As ek dit reg het,
is meeste van die huidige swartstamme vanuit Noord-Afrika en dus ook
"besetters" van grondgebied wat nie aan hulle behoort nie. En dieselfde
geld in ander wêrelddele - gee dit dan terug aan die regmatige eienaars!
Elke bestaande ontwikkelde land en mens kan selfs sê ontwikkelende land, is
op die rug van "onderworpenes" gebou. Of sulke siele is misbruik vir
goedkoop arbeid, of hulle is verneuk, of hulle is uitgemoor. Dus het alle
besetters gesondig, SA inkluis. Kanada inkluis. Al wat anders gebeur het
in SA, is dat inboorlinge nie voor die voet uitgemoor is nie (daar is wel
uitsonderinge, ek weet), maar meesal vredevolle oplossings is eers gesoek.
'n Interessante feit: Daar word geskat dat die swart-wit verhouding rondom
die begin van die 20ste eeu naby aan 1:1 was (ongeveer 1 miljoen elk). Wat
nog 'n kan wurms oopmaak - as ek jou kan uitteel, verhoog my aanspraak op
landgebied?

Ek gesels sommer....

Basjan

Koeitjies & kalfies | 6 kommentare

Lokvinke

Ma., 27 September 2004 07:41

Is dit 'n goeie beleid om kroeks te vang?
Kan daar nie persoonlike agendas by betrokke wees nie, of mense vang wat nie
tot die transaksie sou toegegee het as die lokvink nie so sterk wou verkoop
nie?
--
Groetnis
Annette

Koeitjies & kalfies | 6 kommentare

Dislojaal en onpatrioties?

Ma., 27 September 2004 07:25

Ek kry al hoe meer die idee dat mense die twee bogenoemde idees kan verwar,
juis omdat hul in sigself so verwarrend is.
. Scenario - 'n Werker kom agter dat sy baas en die firma met grootskaalse
agterbakse bedrywighede besig is.
Hy rapporteer dit aan die owerhede wat die kroeks vang en opsluit.
1) Was hy dislojaal teenoor se medewerkers, en die firma, deur dit te
rapporteer, of was hy lojaal aan sy medewerkers dat hulle nie saam in die
gemors beland het nie?
2) Was sy optrede patrioties, omdat hy sy land en die regstelsel gestel het
bo sy eie gemak?
3) Was hy onpatrioties en dislojaal om sy werkgewer in 'n swak lig te stel
ten aanskoue van almal, en die wêreld nou weet hoe maklik vervalsing en
ander misdaad hier kan plaasvind?

So het ek werklik 'n probleem met die mense van die VSA, wat dink as iemand
hul eie mening lug, wat heelwaarskynlik baie ander mense se mening ook is,
die persoon dislojaal of onpatrioties is. Ek dink dit is nie een van die
twee nie.
In gister se Rapport skryf iemand dat daar tans in die VSA so 'n gevoel van
paranoia heers, dat dit hom herhinner aan SA van 20 jaar gelede.
Ek wonder nog steeds hoe Cat Stevens die een week 'n toekenning kan ontvang
vir humanitêre optrede, en die volgende week toegang tot die VSA geweier
word slegs omdat hy die Moslems se saak ondersteun. Hy het nog nooit
opruiende openbare toesprake gehou, mense aangemoedig om geweld te pleeg of
selfs 'n geweer hanteer nie. Vraag is ook hoekom hulle nie Cassius Clay (
Mohammed Ali) deporteer of gevange geneem nie, want hy het presies dieselfde
as Cat Stevens gedoen - sy naam verander, en hy ondersteun die Moslem saak.
--
Groetnis
Annette

Koeitjies & kalfies | 3 kommentare

Geen fotos by JHB stasie

So., 26 September 2004 15:25

Vandag fandamilie op 'n trein toer by JHB stasie gaan ontmoet. Daar
skreeu die sekuriteit op my omdat ek dit waag om fotos in die terminaal
te neem. "Security sir, security, we need permission from our superior
if you want to take pictures!". Ek sê toe vir hom hy kan gaan kak want
daar is nêrens bordjies op wat sê mens mag nie. Ek vra toe om met sy
baas te gaan praat maar die was toe nie op kantoor nie. Om 'n lang
storie kort te maak vra ek toe vir 'n vergunning omdat ek die mense
lanklaas gesien het en ons wil kiekies neem. Sal die verdomde "security"
vir my sê 'n koeldrank sal my genoeg ruimte gee om twee kiekies te neem!

Die splinternuwe stasie is ook maar vinnig oppad af met al die los drade
en roltrappe en goed wat nie werk nie, maar dit daar gelaat. Klink vir
my of dinge vêr genoeg gevorder het vir Gloudina om met 'n ope hart na
SA terug te keer. Sy sal hou van JHB sentraal.

Groete
Plato

Reis & vakansie | 1 kommentaar

Hei, Suidwester

So., 26 September 2004 13:44

Is jy ten gunste van regstreekse
ingryping in die ekonomie en die nywerheid-sektor deur die
Suid-Afrikaanse staat?

Staatsinisiatiewe is iets anders. Is jy ten gunste daarvan dat die SA
staat aan die mark voorse wat om te produseer, hoeveel en wat dit moet
kos?

Soos bv met jou voorstel oor motors?

Koeitjies & kalfies | 21 kommentare

nuwe trojan op pad

So., 26 September 2004 12:26

en die boodskap sal wees 'President George Bush assasinated'.
Ek glo nie daar is mense hier wat dom genoeg is om daarop te kliek
nie, (indien daar wel is, moet nie daarop kliek nie, Gloudina!) maar
weet tog maar dat die trojan oppad is.

DD

Rekenaars & selfone | 1 kommentaar

Uit Rapport se standpunte - Tim du Plessis maak vandag baie sin!

So., 26 September 2004 06:09

RAAKPUNT: Verkeerde Mbeki het in VN gepraat
Tim du Plessis

Afrika moet eers voor sy eie deur vee
Uit die oordaad van lofprysinge waarmee die lewe van dr. Beyers Naudé
die afgelope drie weke besing is, was die politieke ontleder Steven
Friedman se waarnemings bes moontlik die mees gepaste.

"Dit kan belangrik wees om te behoort. Maar ons het mense nodig wat
weier om te behoort om ons vorentoe te vat." En: "Moraliteit bring
vooruitgang wanneer dit inwaarts na die eie groep gerig word eerder as
uitwaarts na ander," het Friedman Woensdag in sy rubriek in Business Day
geskryf.

Naudé was iemand wat grootgemaak is om met sy eie groep te identifiseer
en om moraliteit te gebruik om die foute van ander uit te wys. As Naudé
dit gedoen het, sou hy groot status en invloed in
"apartheid-Suid-Afrika" gehad het. Maar hy sou nie onthou word as 'n
bringer van vooruitgang nie. Nou sal hy lank geeer word presies omdat hy
aangedring het daarop om moraliteit te rig op die sondes en dwalinge van
sy eie groep.

Friedman betreur dan die feit dat daar deesdae so min projekteerders is
van inwaartse moraliteit.

Inderdaad, wie is daar vandag wat die soort rol speel wat Naudé in sy
tyd gespeel het?

Die nuwe orde in die land is mos nie naastenby so volmaak dat daar nie
meer Beyers Naudés nodig is nie.

Tog, 'n dag later word 'n toespraak gerapporteer wat mnr. Moeletsi
Mbeki, visepresident van die Suid-Afrikaanse Instituut vir
Internasionale Aangeleenthede, vroeër die week in Durban gehou het.
Moeletsi is uit huis uit 'n joernalis en deesdae 'n bekwame speler in
die uitgewers- en vermaakbedryf.

"Afrika se politieke elite plunder die hulpbronne en laat die kontinent
in 'n slegter toestand as in die koloniale era. Hulle vat hul lande se
hulpbronne en versteek dit in Switserse bankrekenings. Gevolglik is die
gemiddelde Afrikaan vandag armer as in die tyd van kolonialisme," het
Moeletsi gesê.

Hy het drie Afrika-lande uitgesonder as prima voorbeelde van dié
plundering: Zimbabwe, Ekwatoriaal-Guinee en Nigerië, al drie dik pelle
van die Suid-Afrikaanse regering. "Zimbabwe is 'n teksboek-voorbeeld van
die korrelasie tussen dalende lewenspeile en die groeiende mag van
politieke elites," het hy gesê.

Die oplossing van Zimbabwe se probleme sal begin by 'n terugkeer tot die
demokrasie, het Moeletsi gesê. Daarmee het hy verwoord wat almal weet en
sommer ook die sotterny van die Suid-Afrikaanse regering dat Robert
Mugabe 'n legitieme president is vir 'n ses geslaan.

Goed gesê, Moeletsi. Jy het gepraat soos 'n Beyers Naudé. Jy en
finansminister Trevor Manuel, wat voorverlede week die
vrybuiter-kapitaliste gestriem het wat hulle so onbeskaamd loop en
verryk aan bemagtigingstransaksies.

Synde 'n bekende en gerespekteerde denker in Suid-Afrika, waar Mugabe
toegejuig word as hy by die president se inhuldiging opdaag en waar
inbellers dag ná dag Mugabe se lof sing in radioprogramme, kan Moeletsi
se standpunt kwalik 'n gewilde een wees.

U sal merk ek noem doelbewus nie dat Moeletsi pres. Thabo Mbeki se broer
is nie. Soos Moeletsi tereg opmerk, hy praat uit omdat dit sy plig is as
'n politieke ontleder. Boonop dink hy vir homself en benodig hy nie die
president se toestemming vir wat hy dink nie.

Dit respekteer 'n mens. Maar tog kan jy nie anders as om die skrille
kontras raak te sien tussen die woorde die afgelope week van Mbeki die
politieke ontleder en Mbeki die president nie.

By 'n sitting van die Algemene Vergadering in New York het pres. Mbeki
met grofgeskut losgetrek teen die magtige en ryk nywerheidslande wat
oorlog maak in Irak en teen "terreur" baklei terwyl hulle niks doen aan
armoede en onderontwikkeling nie.

Outydse verwytpolitiek, dus. Dit waaroor Steven Friedman essensieel
skryf wanneer hy aanvoer moraliteit is 'n stomp instrument wanneer dit
teen die "ander groep" aangewend word. Dit bring geen vooruitgang nie,
want dit word gebruik om gebreke en versuime te verberg.

Om alles te vererger, was ou Nare Bob aan Mbeki se sy, al keffende teen
Bush en Blair. Wat 'n verleentheid.

Mbeki en Mugabe is toegejuig - deur die flentergat-lande wat die getalle
volmaak van die VN se tandelose Algemene Vergadering. Die president weet
seker daardie toejuiging is minder werd as niks.

Veel meer betekenisvol is dat die lande wat pres. Mbeki aangespreek het
sy woorde met 'n ysige stilte begroet het. Mbeki het natuurlik volkome
gelyk dat armoede 'n groter bedreiging vir die mensdom is as terreur en
die sterk nywerheidslande weet dit.

Maar hulle weet ook hulle het die volmaakte verskoning om hulle af te
vee aan sy geldige waarskuwings solank hy niks sê oor die vergrype van
sy podiumgenoot en ander Afrika-leiers nie.

As die ander Mbeki die afgelope week in New York gepraat het, kon daar
vordering gewees het met die ideale van opheffing in Afrika en globale
armoedeverligting.

Gelukkig vir ons het hy in Suid-Afrika gepraat.

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Vir Gloudina en kie vanaf Mbeki se broer

So., 26 September 2004 06:05

"Afrika se politieke elite plunder die hulpbronne en laat die kontinent
in 'n slegter toestand as in die koloniale era. Hulle vat hul lande se
hulpbronne en versteek dit in Switserse bankrekenings. Gevolglik is die
gemiddelde Afrikaan vandag armer as in die tyd van kolonialisme," het
Moeletsi gesê.

Hy het drie Afrika-lande uitgesonder as prima voorbeelde van dié
plundering: Zimbabwe, Ekwatoriaal-Guinee en Nigerië, al drie dik pelle
van die Suid-Afrikaanse regering. "Zimbabwe is 'n teksboek-voorbeeld van
die korrelasie tussen dalende lewenspeile en die groeiende mag van
politieke elites," het hy gesê.

Koeitjies & kalfies | 12 kommentare

Bladsye (1835): [ «    356  357  358  359  360  361  362  363  364  365  366  367  368  369  370  371    »]
Tyd nou: Sa. Des. 20 14:07:36 UTC 2025