"Ons beskerm en ons dien", lui die polisie se leuse. Maar toe drie
gewapende polisiemanne 'n vreesbevange jong meisie wreed verkrag het,
het hulle nie beskerm of gedien nie - hulle het haar lewe verwoes. Sy
het vir die eerste keer haar verhaal aan Philip de Bruin vertel.
"Weet jy, die vernederendste oomblik was toe een van drie mans in die
hof getuig dat ek hulle R70 betaal het sodat al drie met my omgang sal
hê.
"En toe hy onder gelag van mense in die hof byvoeg: 'Daai ding is mos
lekker in jou broek."
Me. Natasha Kern, nou 24, was maar 20 jaar oud toe sy in die vroeë
oggendure van 27 Maart 1999 in 'n stuk veld naby Randfontein verkrag
is. Haar oë is twee potblou poele emosie terwyl sy gesels. Die trane lê
vlak, maar haar stem bewe van ingehoue woede en aggressie.
Sy het tot dusver geweier om haar identiteit openbaar te laat maak,
omdat sy mense se reaksie vrees. "Hulle gaan my as verkragte vrou
brandmerk, ek weet. Maar ek het besluit om met jou te praat."
Haar lewe, sê sy, is in een kort halfuur verwoes. Met die baadjie van
'n polisie-uniform oor haar kop het drie sersante haar een na die ander
ten aanskoue van mekaar verkrag. Dit juis toe sy hul hulp die nodigste
gehad het.
Soos Amanda Strydom se liedjie "Woorde" ('n skepping van Koos du
Plessis) vertel, verstaan mense nooit regtig wat so 'n verkragting aan
'n vrou doen nie. "Mense praat jou moed in, sê mooi woorde en natuurlik
is ek dankbaar. Maar hulle verstaan nie. Nie regtig nie. Soms wens ek,
ek kan net stilletjies sterf."
Met mes teen die keel
Haar nagmerrie het die nag begin toe sy en 'n vriend na 'n geselligheid
op Westonaria gegaan het. Hul verhouding was wankelrig en hulle sou
dinge uitpraat dié aand. Maar toe daag 'n gewese vriendin van hom op en
hy het Kern begin ignoreer.
"Ek het hom laat die nag gevra om my eerder huis toe te neem omdat hy
nie met my gepraat het nie. Hy het geweier en het gesê ek kan wag tot
hy reg is. Daar was 'n vulstasie so 'n halwe blok van die plek af waar
ons was. Ek het soontoe gestap om my ouers te bel om my te kom haal.
"In die winkeltjie by die vulstasiehet ek met die man agter die
toonbank gepraat. Die drie polisiemanne in volle uniform het ingestap
en na ons gesprek geluister. Die een het gesê hulle is aan diens en is
juis op pad Randfontein toe, hulle sal my by my ouers gaan aflaai.
"Ek is grootgemaak dat die polisie jou vriende is en omdat hul motor 'n
polisieregistrasienommer gehad het, het ek ingewillig. Dit was al 02:00
die oggend en ek was bly dat ek nie my ouers wakker hoef te bel nie.
"Op pad het hulle in hul eie taal gepraat en my geïgnoreer. By die
groot vierrigting-kruising buite Randfontein het die bestuurder links
gedraai. Toe ek vra waarom hy dit doen en nie reguit aanry nie, het die
aggressie begin. Die een langs my het sy baadjie uitgetrek en vir my
gesê: Shut up, you white bitch. Hy het sy baadjie oor my kop gegooi.
"Ek het paniekbevange geword en begin skreeu. Hy het 'n mes teen my
keel gedruk en gesê: I'll kill you, shut up, bitch.
"Iewers het hulle stilgehou, my aan my bene uit die motor getrek en my
op die grond gegooi. Een het my wind uitgeskop. Ek het steeds geskreeu,
toe steek hulle my met die mes in die heup. Net 'n ligte stekie, maar
genoeg om my te laat glo ek gaan sterf.
"Die baadjie was steeds oor my kop. Ek sal daardie oomblik toe die
eerste een op my geklim het, nooit, nooit, nooit vergeet nie."
Sy bly lank stil. Toe sy weer praat, is die wanhoop in haar stem amper
te veel om te verduur.
"Terwyl hulle een na die ander op my geklim het, het ek die hele tyd
net gebid: 'Here, laat ek tog sterf. Moenie dat ek bly leef nie,
asseblief Here.' Ek het gesmeek dat hulle my doodmaak. Ek was só bang.
"Toe hulle klaar was, het een my nog gehelp om my langbroek aan te
trek. 'n Ander een het my broekie vir my gegee en nog een het my skoene
aangetrek. Toe klim hulle in die motor en ry weg. Hulle het my net so
gelos.
"Ek het gehardloop en gehardloop. Waar ek die krag vandaan gekry het,
weet ek nie. Ek wou net van daardie verskriklike plek af wegkom. Ek het
soos 'n mal mens gehardloop en gegil."
'Hulle moes gesterf het'
Toe sy tuis kom, het die gereg sy gang gegaan. Haar ouers het haar na
'n krisissentrum gebring, die polisie het vrae gevra, die
vulstasiewinkel het 'n videoband beskikbaar gestel en die drie mans is
geïdentifiseer.
En toe die hofsaak, 'n jaar later.
"Ek moes alles weer vertel, voor al daardie mense, maar veral voor
daardie drie mans. Ek kan nie eintlik my gevoel beskryf nie -
vernedering, haat, weersin, ek weet nie. En ek was bang. Bang vir daai
mans, wat my aangegluur het. En hul vroue wat my met die dood gedreig
het."
Regter Joop Labuschagne het serss. Ephraim Jabaatlholwe, Edwin Nqandela
en Nathaniel Rammutle lewenslank tronk toe gestuur. Hy het verwys na
hul "barbaarse optrede" en 'n "wrede aanval op 'n weerlose vrou".
Maar, sê Kern, met oë wat normaalweg blougroen is, maar helderblou
verkleur as sy emosioneel is, die vonnis stel haar nie tevrede nie.
"Hulle moes gesterf het. Soos ek daardie nag gesterf het. Ek is jammer,
maar dit is die waarheid. Ek kan hulle nie vergewe nie. Ek het probeer,
regtig ek het. Maar ek kan nie. Ek het drie jaar lank sielkundige hulp
gekry, maar dit kon daardie nag nie wegvat nie. In 'n kort halfuur het
hulle die vrolike, opgewekte Natasha Kern vermoor en is 'n nuwe, harde,
siniese, vriendelose Natasha Kern gebore.
"Wat daardie nag gebeur het, speel soos 'n rolprent elke dag, elke nag
in my kop af, oor en oor. Ek kry nagmerries. Ek kry woede-uitbarstings.
Ek loop met 'n woede wat ek vir niemand kan verduidelik nie.
"Hulle het al my drome weggevat. Ek was 'n haarkapster en dit was my
lewe, maar ek moes dit los. Die salon het vir my soos 'n tronk begin
voel. Ek het gedink almal kyk na my en fluister: 'Shame, daar is die
verkragte meisie'. Erger nog, ek moes mans se hare knip. Ek kan nie aan
mans raak nie.
"Ek is bang vir mans en het mans gehaat. Selfs my pa. As ek op straat
'n polisieman in uniform sien, vandag nog, begin ek sweet van angs. Ek
was lief vir kinders, maar ek wil nooit kinders hê nie. Sê nou dis 'n
dogtertjie? Ek sal haar soos in 'n tronk grootmaak en verbied om naby
'n polisieman te kom."
Niemand verstaan nie...
Op aandrang van haar sielkundige en "my wonderlike ma" het sy weer met
'n man begin uitgaan. "Dit was hel. Ek wou nie hê hy moes aan my raak
nie, laat staan nog met my vry. Maar hy het verstaan en begryp. Ons is
agt maande gelede getroud. Hy is wonderlik. Hy verstaan as ek ná donker
te bang is om uit die huis te gaan.
"Álles is in daardie halfuur in die veld by Randfontein van my
weggevat. Ek is dankbaar vir mense se bystand, maar hulle verstaan nie.
Hulle weet nie. Hulle is nie verkrag nie. Hulle was nie daar nie.
"My toekoms, vra jy? Dis 'n chaos. Dis eensaam. Die pad lyk verlate."
Kern het ná die strafsaak 'n siviele geding teen die polisie ingestel
vir skadevergoeding omdat die drie oortreders aan diens was. Dit was
die eerste geding in sy soort in Suid-Afrika.
Die hooggeregshof het haar eis van die hand gewys en bevind dat hoewel
die polisiemanne aan diens was, hulle nie betaal word om misdaad te
pleeg nie.
Sy het appÚl aangeteken. Vyf appÚlregters het twee weke gelede haar
betoog aangehoor en die uitspraak word eersdaags verwag.
Almal is tjoepstil oor die 40% druipsyfer van eerstejaers op universiteite?
Ek het 'n dosente familielid wat sê dit is nie eintlik die ware syfer nie.
Dit is baie hoër. Blykbaar kom die kinders makliker deur die skool en is
nie gereed vir universiteit nie. Dosente word gedwing om hul
slaagpersentasies te verlaag om 'agtergeblewe' studente te help [alhoewel
dit teen die grein van 'n akedemikus werk] word hulle gedwing om dit te doen
alhoewel hulle voor hulle siele weet dat die studente nie die vakvlak bereik
het wat nodig is vir vordering nie, pluk hulle steeds soos vlieë en dit kos
die staat [en uiteindelik die publiek] massas geld.
Nou sê sy dat as jy hierdie studente wat so op staatskoste studeer so op
kampus sien, dan is dit klere uit die boeke uit, selfone en rekenaars van
die beste. Wat het geword van die armgat beursstudente wat jaar na jaar
deurdruk met jeans en ander goedkoop klere en naweke en vakansie moet werk
om op universiteit te kan bly?
Sedert 1 Julie is nie een wettige wapen verkoop nie. 80% van die aansoeke is
weggewys. Die minister se verbasing is omdat 'n swart vrouegroep wil betoog
omdat 99% van hul lede se aansoeke weggewys is.
12000 appêlle vergader stof, omdat die onafhanklike appèlraad sedert 1 Mei
nie meer funksioneer nie omdat niemand aangestel is in die persoon wie se
kontrak op 30 April verstryk het nie. Die minister en sy adjudante is tans
by 'n bosberaad ( wonder waarvoor?) en daar is niemand om die betogers se
versoekskrif in ontvangs te neem nie.
--
Groetnis
Annette
Kan een van die mense wat daar onder in Transvaal bly of by Die Beeld werk,
vir ons vertel van die mense van die nuwe Regse beweging TrotsBoer wat Paul
Kruger se standbeeld Saterdag gewas het?
Ek hoor hy is toegedraai - hoekom?
--
Groetnis
Annette
Ek verstom my aan die inhoud en lengte van "apartheids threads" (sê mens
"draad"?). Op die ou einde is dit (lekker) argumente wat nimmereindigend
herhaal word:
1. Een groep sien Afrika oppad na sy volle glorie na dekades van onreg aan
die witman se hand (vereenvoudig t.w.v. lengte).
2. 'n Tweede groep voel dieselfde betreffende die onreg, maar voel die
witmens het reeds te veel skade gedoen aan die Afrika-nasies.
3. 'n Derde groep sien Afrika as ietwat van 'n "lost cause", maar erken wel
dat apartheid verkeerd was. Hierdie groep hoop wel dat dit beter sal gaan,
bloot a.g.v. liefde vir die plek en mense. Meeste mense in hierdie groep
beweer dat Afrika geensins beter daaraan toe sou gewees het as witmense
nooit hier aangeland het nie (om beskuldigings van draadsittery te voorkom,
ek sien myself in die groep).
3. Dan is daar die vierde groep, wat terugverlang na apartheid (vereenvoudig
t.w.v. lengte).
Ek dink min/geen mense kan 'n elegante redenasie aanvoer dat apartheid reg
was nie. Maar min/geen mense kan ook bewys dat Afrika so wonderlik sou
gewees het sonder wit inmenging nie. Dit is 'n geweldige komplekse saak -
waar sou Afrika/Amerika/Australië regtig gewees het as dit nooit enige
ontwikkelde mens (in terme van tegnologie) gesien het nie? Sou tannie
Gloudina na Kanada toe uitgewyk het as dit nog deur die oorpsonklike nasies
beset was? Of sou die tekort aan water, hoë mortaliteit, armer leefwyse
(ens. ens. ens.) die meeste mense afgeskrik het?
Ek dink selfs dat geen 50 faktore kan genoem word wat of groepe 1 - 3 se
sienswyse volledig staaf nie. Let asseblief dat ek nie goeie bespreking
afkeur nie, maar slegs sê dat ons altyd oppad na 'n oplossing of
verduideliking sal wees. Vereenvouding: Wie sou ek vandag gewees het as ek
ander ouers gehad het...
Wat ek as nie-geskiedkundige ook nie verstaan nie, is die volgende:
Deur die ganse bestaan van die mens is jy of oorwin of jy het oorwin. Daar
is onderhandel en land/besittings het van eienaar verwissel. Vanwaar die
groot verskil in die huidige bestel? Het ons sodanig ontwikkel dat
"geregtigheid" uiteindelik voorrang geniet bo brutaliteit, krag, of
ontwikkelings-vermoëns (entrepeneurskap)? As dit dan wel die geval is, moet
die meeste van suidelike Afrika terug na die San-mense. As ek dit reg het,
is meeste van die huidige swartstamme vanuit Noord-Afrika en dus ook
"besetters" van grondgebied wat nie aan hulle behoort nie. En dieselfde
geld in ander wêrelddele - gee dit dan terug aan die regmatige eienaars!
Elke bestaande ontwikkelde land en mens kan selfs sê ontwikkelende land, is
op die rug van "onderworpenes" gebou. Of sulke siele is misbruik vir
goedkoop arbeid, of hulle is verneuk, of hulle is uitgemoor. Dus het alle
besetters gesondig, SA inkluis. Kanada inkluis. Al wat anders gebeur het
in SA, is dat inboorlinge nie voor die voet uitgemoor is nie (daar is wel
uitsonderinge, ek weet), maar meesal vredevolle oplossings is eers gesoek.
'n Interessante feit: Daar word geskat dat die swart-wit verhouding rondom
die begin van die 20ste eeu naby aan 1:1 was (ongeveer 1 miljoen elk). Wat
nog 'n kan wurms oopmaak - as ek jou kan uitteel, verhoog my aanspraak op
landgebied?
Is dit 'n goeie beleid om kroeks te vang?
Kan daar nie persoonlike agendas by betrokke wees nie, of mense vang wat nie
tot die transaksie sou toegegee het as die lokvink nie so sterk wou verkoop
nie?
--
Groetnis
Annette
Ek kry al hoe meer die idee dat mense die twee bogenoemde idees kan verwar,
juis omdat hul in sigself so verwarrend is.
. Scenario - 'n Werker kom agter dat sy baas en die firma met grootskaalse
agterbakse bedrywighede besig is.
Hy rapporteer dit aan die owerhede wat die kroeks vang en opsluit.
1) Was hy dislojaal teenoor se medewerkers, en die firma, deur dit te
rapporteer, of was hy lojaal aan sy medewerkers dat hulle nie saam in die
gemors beland het nie?
2) Was sy optrede patrioties, omdat hy sy land en die regstelsel gestel het
bo sy eie gemak?
3) Was hy onpatrioties en dislojaal om sy werkgewer in 'n swak lig te stel
ten aanskoue van almal, en die wêreld nou weet hoe maklik vervalsing en
ander misdaad hier kan plaasvind?
So het ek werklik 'n probleem met die mense van die VSA, wat dink as iemand
hul eie mening lug, wat heelwaarskynlik baie ander mense se mening ook is,
die persoon dislojaal of onpatrioties is. Ek dink dit is nie een van die
twee nie.
In gister se Rapport skryf iemand dat daar tans in die VSA so 'n gevoel van
paranoia heers, dat dit hom herhinner aan SA van 20 jaar gelede.
Ek wonder nog steeds hoe Cat Stevens die een week 'n toekenning kan ontvang
vir humanitêre optrede, en die volgende week toegang tot die VSA geweier
word slegs omdat hy die Moslems se saak ondersteun. Hy het nog nooit
opruiende openbare toesprake gehou, mense aangemoedig om geweld te pleeg of
selfs 'n geweer hanteer nie. Vraag is ook hoekom hulle nie Cassius Clay (
Mohammed Ali) deporteer of gevange geneem nie, want hy het presies dieselfde
as Cat Stevens gedoen - sy naam verander, en hy ondersteun die Moslem saak.
--
Groetnis
Annette
Vandag fandamilie op 'n trein toer by JHB stasie gaan ontmoet. Daar
skreeu die sekuriteit op my omdat ek dit waag om fotos in die terminaal
te neem. "Security sir, security, we need permission from our superior
if you want to take pictures!". Ek sê toe vir hom hy kan gaan kak want
daar is nêrens bordjies op wat sê mens mag nie. Ek vra toe om met sy
baas te gaan praat maar die was toe nie op kantoor nie. Om 'n lang
storie kort te maak vra ek toe vir 'n vergunning omdat ek die mense
lanklaas gesien het en ons wil kiekies neem. Sal die verdomde "security"
vir my sê 'n koeldrank sal my genoeg ruimte gee om twee kiekies te neem!
Die splinternuwe stasie is ook maar vinnig oppad af met al die los drade
en roltrappe en goed wat nie werk nie, maar dit daar gelaat. Klink vir
my of dinge vêr genoeg gevorder het vir Gloudina om met 'n ope hart na
SA terug te keer. Sy sal hou van JHB sentraal.