‘n gedig is die geskrewe vorm
van ‘n spesifieke emosie
iewers tussen die uiterste norm
van die mees beeldskone ervaring van die liefde
en die totale afgryse wat hierdie lewe kan bied
suid-afrika was vir baie eeue die land wat almal begeer
die land met die rykste mineralebronne
die land met die mees ongeskende natuur
die land met die seeroete om die suidpunt van afrika
suid-afrika was vir baie dekades die land wat almal beheer
die land waar swartmense in hul eie tuislande moes woon
die land waar bruinmense met mag oornag verskuif is
die land waar witmense teen hulleself gediskrimineer het
suid-afrika was vir 5 jaar die land wat niemand kon keer
die land van vreedsame samesyn sonder apartheid
die land van weerbegin en geloof in die toekoms
die land van buitelandse beleggings en voorspoed
suid-afrika is tans die land van totale ommekeer
die land wie se regering nie weet hoe om misdaad te beheer
die land wie se breinkrag in rye staan om te emigreer
die land wie se jeug nie meer deur kwaliteitsopvoeding leer
suid-afrika land van my voorvaders
as jou eie regering onbevoegd is om jou te help
as die buiteland weier om jou vir die nageslag te red
as jou mense nie meer antwoorde op al hul vrae het nie
hoeveel onskuldige meisies moet hulle nog verkrag, meneer die President
meisies wat die moeders, die sakevroue en die leiers van die toekoms moet wees
u praat so maklik oor die rol van die vrou in hierdie land
selfs oor die moontlikheid van ‘n vroulike President
maar as u voortgaan om u rug op die sinnelose verkragting van ons meisies te draai
sal daar binnekort geen meisies oor wees om vroue te word
hoeveel onskuldige mense moet hulle nog vermoor, meneer die President
mense wat die ratte in hierdie land laat draai
terwyl u sorgeloos deur afrika reis
om te luister na die dinge wat hulle inwoners pla
maar as u voortgaan om u rug op die sinnelose moorde van ons mense te draai
sal daar binnekort geen land wees om aan die einde van u reise na terug te keer
hoeveel inbrake moet hulle nog uitvoer, meneer die President
inbrake in plekke waar mense veilig behoort te voel
terwyl u rustig agter u veiligheidsmuur ontspan
wat deur die inwoners van hierdie land aan u geskenk is
maar as u voortgaan om u rug op die sinnelose inbrake te keer
sal daar binnekort geen sent uit boedelbelasting gemaak word nie, want alles is reeds gesteel
my hart is baie seer
oor die dinge wat in my land gebeur
ek wens ek het die mag gehad om dit om te keer
want ek kan dit nie verwerk om my mense so te sien treur
misdadigers kom om ons uitmekaar te skeur
terwyl die regering nie ‘n vinger veroer om die geweld te keer
hoeveel keer moet dit nog gebeur
voordat hulle met erns sal kyk na die mense se seer
daarom wil gewone mense nou probeer
om ‘n einde te bring aan hierdie tereur
want hulle sê dat om te praat help lankal nie meer
die dade van geweld sal net weer gebeur
maar hul pogings laat nou ‘n ander geur
want dit maak nie saak hoe hard hulle probeer
hul verhouding met die gereg sal net verder skeur
indien hulle sou probeer om die geweld te keer
waarom sukkel almal so
met die taal van ons nasie
want anders as wat hulle wil glo
is hier oorgenoeg spasie
om elkeen se taal tot sy reg te laat kom
om sy eie klank, sy eie idioom uit te leef
al is ons blind, al is ons stom
weet ons ons taal is nes alle ander met simboliek deurweef
want kontak met ander laat ‘n taal juis groei
dit is die fontein van woordeskat
moenie toelaat dat ons taal doodbloei
moenie toelaat dat iemand dit van ons afvat
Geskryf volgens Febonacci se Goue Nommer; Do., 07 Julie 2022 21:09
Ek
Dier
Homo
Sapiens
Versigtig stap ek
Oor die veld op pad na die berg
Waar ek bessies pluk, wortels grawe en dassies jag
Ek het die hele dag tyd om kos te versamel, te eet en weer terug te stap
Na my grot teen die hang van die berg aan die anderkant van hierdie dorre veld waar ek ‘n vuurtjie aansteek om die dassies op te braai
Dis op een van hierdie kosversameltogte dat ek hoor hoe ‘n wildsbokkie rats tussen die bosse deur beweeg, maar altyd naby my bly kompleet asof hy my doelbewus agtervolg het, maar tog uit sig uit bly
Ek het soos elke ander dag voortgegaan met my soektog na stroopsoet bessies, sappige wortels en spekvet dassies en gemaak of ek onbewus was van die wildsbokkie wat tussen die bosse deur beweeg, alhoewel ek tog later begin wonder het hoe die wildsbokkie lyk en begin meedoen het aan die kat-en-muis-speletjie en jou gewaar
Ek het so groot geskrik, want ek was baie bang, bang ja omdat ek nog nooit iets so mooi soos jy, daar waar jy met jou lang swart hare en klein lendevelletjie aan voor my staan, gesien het nie, maar ook bang dat jy sou skrik en weg sou gaan en ek jou nooit weer sou kon vind, maar jy het getalm, ja lank genoeg getalm sodat ons oogkontak kon maak en ek kon besef dat ek alles in my vermoë moes doen om te verhoed dat jy sou besluit om om te draai en te vlug, maar ek het nie presies geweet hoe nie en dadelik die velsak met bessies na jou toe uit gehou
pen en papier
neem my na interessante plekke ver van hier
lank reeds vergete gehuggies in die binneland
steeds groeiende wêreldstede aan die kus
en onherbergsame duine woestynsand
lê almal op die roete van my parker-bus
pen en papier
verskaf my maandelange plesier
as ek reis na vreemde lande oor die groot oseaan
waar ek kennis maak met beskawings klein en groot
of meer leer oor my voorouers se bestaan
as ek na hul lande van herkoms seil met my parker-boot
pen en papier
neem my selfs ligjare ver van hier
op reise na melkweë ver anderkant die mens se begrip
waar ek lewens sien wat van hoë intelligensie getuig
ek laat nie die kleinste kosmiese detail my oog ontglip
terwyl ek tussen die konstellasies deur vlieg met my parker-tuig
sê my, ruimtebewoner
wat sien jy presies as jy daar voor jou komperskerm sit
en kyk na al die gebeure hier op planeet aarde
maak dit jou opgewonde om meer oor ons uit te vind
en dink jy trots aan ons as mede-ruimtebewoners
of vul dit jou met afsku om te kyk na die wreedheid
waarmee die mens elke vorm van lewe hier vernietig
en is jy dankbaar dat ons ligjare ver van jou is
is dit, ruimtebewoner
die rede waarom jy nog nooit met ons kontak kon maak
omdat ons soveel ligjare van jou verwyder is
en jy nog nie beskik oor ‘n tuig wat so ver kan reis
of het die doen-en-late van die mens jou so geskok
dat jy van sein verander wanneer jou kleintjies nader
voordat hul die mens kan na-aap om so ook jou wêreld
te verwoes deur ‘n kosmiese rommelhoop daarvan te maak