'n Suidwes Visvangstorie; Sat, 27 October 2018 09:30
Pa het nie sommer kwaad geword nie. Nou meen ek soos om te gat loop en 'n anner man se lyn afsny, oorlat hy oor pa se lyn gegooi het en nou wil reken die vis wat uitgekom het is syne. En pa was nie groot nie, ôk nie 'n fieta nie, ma reken net fietas baklei, maar daai dag het hy kans gesien vir 'n groot kalant. Gelukkig kon ons die lyne losgemaak kry en kon pa darem bewys dis sy vis daai.
Dit was weer een van daardie dae, die kabeljou het geloop. Maar dit was 'n annerster loop daai dag. Ons het noord gegaan tot annerkant myl 92. En ons was gereed om enige tipe vis te vang. Daar was tjokka, witmossel, pilchards, lagoonwurms wat pa by 'n maat gekry het, selfs 'n klomp swartmossels en dit ôk maar net oorlat pa die vorige dag 'n galjoen met een gevang het. Heel alleen staan ons daar, geen ander hengelaars in sig nie. Die see is mooi skoon en rustig, virgin water noem ma dit. En soos dit enige hengelaar groep betaam begin elkeen van ons met 'n anner aas aan die hoek. Ek deps die witmossel, Morris vat tjokka, Rens pilchards, Ma lagoonwurms, en Pa... natuurlik 'n swartmossel. En ek kry sommer vinnig byt en vang hom, 'n mooi groot kaaljou. Toe ek die tweede een vang en niemand anners kry eers byt nie, word daar ingekatrol en almal probeer witmossel, en dit werk, want toe vang almal een, en daarna weer. Dis 'n blessitse kieskeurige klomp visse die sê ma en ons vang fluks. Maar gou raak die witmossel op. Gelukkig was die uwe 'n kampioen met mossels grawe, wens eintlik eerder dat hy 'n kampioen met die meisies kon wees soos boet Jan, en ek gaat grawe nog uit.
Nou, om 'n mossel te grawe is daar 'n paar maniere wat jy kan gebruik. Jy kan so op die laagwater merk met jou hak trap en as hy daar is maak hy 'n gaatjie of hy piepie sommer ôk somtyds. Dan grawe jy maar net so bietjie en jy het hom. As dit hoogwater is moet jy maar staan en jive tot jy hom hier onner jou voete voel en dan so uithaal. My manier was egter die heel maklikste. Die bakkies ry mos nou gewoonlik daar by die laagwatermerk oorlat die sand lekker hard is daar. So al wat ek doen is loop en hou mooi dop waar het die mossels gaatjies gemaak langs die spore en dan haal ek hom so uit, sonner sukkel.
En dis nou eintlik daar waar pa se kwaad begin het daai dag, want wyl ons vang toe kom die klomp Valies daar aan met hulle grênde 4x4. Sommer so op die strand langs en hulle sien die kabeljou loop, en hulle stop net daar langs ons. En hulle is raserig en gooi in. Nie lyne nie... Coke en Klippies. Sulke goed maak vir pa onrustig maar darem nog nie kwaad nie. Maar toe hulle beginte lyne ingooi en die een Valie sy lyn oor pa s'n gat staat gooi en toe boonop reken maar dis sy vis toe die lyne gekoek uitkom, toe is pa kwaad, wil sommer lyne afsny. Ma verduidelik toe maar mooi aan die man dat dit tog nie sy vis kan wees nie, want die hoek het nog 'n stuk van die mossel aan, en die vis byt vandag net aan mossel. Hy verduidelik terug op 'n minder mooi manier dat dit mos nou sommer 'n str*nt storie is, en daar moes toe maar gewag word totdat die lyne losgekoek is. Pa straal toe sommer toe die lyn aan die hoek - in die vis se bek - aan sy visstok behoort. Str*nt storie se gat hoor ek ma vermakerig sê en wonner of hierie dag sonner voorval gat verloop.
Blyk toe dat die Valies nie 'n enkele witmossel besit nie, net pilchards. Hulle probeer elke denkbare manier, maar die kaaljou byt net aan die mossel. Elke af en toe moet ek laat los waar ek sit en vis skoonmaak om eers weer te gat mossels uithaal. Nou is dit natuurlik baie makliker want die Valies se spore lê net reg. En die gaatjies blom sommer. So loop ek en haal hulle uit. So uit die kant van my oog sien ek die valies beginte dophou wat ek doen, want hulle het tot nou toe nog g'n enkele vis gevang nie en pa-hulle trek hulle een na die ander uit. En ek was reg vir hulle. Toe hulle kom vra hoe weet ek waar om te grawe, verduidelik ek dat mens net jou se twee hande so saam moet slaan, amper soos wanner jy wil gebed opsê. Dan sit jy jou se twee wysvingers vorentoe, lat jou hanne nou amper soos 'n rollie lyk. En dan loop jy maar net, as die mossel daar is sal jou wysvingers onnertoe beur, net soos dit gebeur met die waterwyser stokke. En ek demonstreer vir hulle. Ek loop so met die hanne en waar ek sien 'n gaatjie blom, lat gat ek die hanne en siedaar daar haal ek 'n mossel uit. Ek sê hulle natuurlik niks van die gaatjie nie. Hulle beginte toe hanne saamslaan en loop, lyk kompleet asof hulle mekaar hênsop, maar die hanne wil nie onnertoe beur nie, net myne doen.
En ek dink pa het sommer die kwaadgeit gevergeet, want hy en ma het so lekker gelag vir die valies wat so al op die spore rondloop en mekaar hênsop.
Wat dit was wat die Valies lat oppak het weet ek nie, ma-hulle wat so lekker gelag het, of die vis wat nie aan hulle pilchards wou byt nie of dalk het hulle besef dat 'n jong laaitie hulle nou lekker vir die fool gehou het.
Die storie het by Jakkalsputz se storte die rondte gedoen van 'n jong outjie wat wragtag kon mossels uitwys soos anner mense waterwys.
Baie mense stroom deesdae TV-sepies en rolprente oor die internet vanaf 'n inhoudverskaffer soos NetFlix, Hulu en Amazon Prime. Ongelukkig bied nie een van hierdie maatskappye Afrikaanse programme nie. Mens wil tog so af en toe iets in jou eie taal ook kyk. Dit behoefte daarna is selfs groter in die buiteland, waar talle Afrikaners nie toegang tot DStv en die SAUK se gebrekkige Afrikaanse programme (soos 7de Laan) het nie. So, wat is die oplossing?
JouAfrikaans
JouAfrikaans (JA) is 'n platform vir Afrikaanse filmmakers om hulle films, reekse, dokumentêre, kortfilms en ander vermaaklikheidsidees te wys. Hulle pryse is billik en die katalogus redelik omvattend. Sluit aan by https://www.jouafrikaans.co.za/
ShowMax:
ShowMax het 'n aansienlike hoeveelheid internasionale en plaaslike inhoud, insluitend talle Afrikaanse programme wat op hulle platform beskikbaar is. 'n Lys van hul Afrikaanse programme is beskikbaar by https://www.showmax.com/eng/browse?audio_language=afr
RoepTV
RoepTV is 'n Afrikaanse Christelike aanlyn of digitale TV-kanaal. Besoek hulle by https://roeptv.com/
Snotkop se "Cool Soos Koos Kombuis" is al bykans 5 miljoen keer op YouTube gespeel. Meer as 10 000 mense het die video gelaaik. Dit is glad nie sleg vir 'n Afrikaanse nommertjie nie. Daarom is dit ook die moete werd om dit te deel en te kyk as jy nog nie daarby uitgekom het nie:
Die son daal in glorie; basuine
Steek op in die hemel van kleur
En knetter oor rotse en duine,
Wat die troos van sy taptoe verbeur;
Die klowe word pers en die hange,
Die bergtoppe bloos in hul' prag;
Die wind blus die gloed en maak gange
Van groen en smarag.
Maar gee my 'n dag op die Hoëveld,
Waar 'n wilkerboom druip oor 'n voor,
Waar die rooi vesels spoel in die water
En die vinkneste wiegel daaroor.
Ek wil douspore trap op die kweekvlak,
Ek wil groen sien en skoon asemhaal;
Ek is sat van die dal van Giloam,
Waar net knoetsige boom'graamtes praal.
*Taptoe verwys na die "aandsinjaal" (laaste taptoe) wat op 'n trompet uitbasuin word. Dit word o.a. by begrafnisse gespeel.
*Wilkerboom, waarskynlik die Safsaf-wilger of Fluitjieswilger (Salix mucronata), die enigste inheemse wilgerboom in Suider-Afrika.
*Die Dal van Giloam moet een of ander droë en dorre plek wees (dit klink amper Bybels).
Ons, die mense, vra die federale regering van Amerika om 'n beroep op die Amerikaanse Kongres te doen om 'n probleem op te los:
1) As die leier van die vrye wêreld, sal dit van groot belang wees as die Amerikaanse regering die rassistiese optrede van die Suid-Afrikaanse regering en radikale groepe teenoor minderhede veroordeel:
- Oproepe tot die moord, marginalisering, vervolging, rasseprofilering, ontmensliking en teikening van enige minderheidsgroep, asook die versuim om organisasies en individue wat hulle daaraan skuldig maak te vervolg;
- Enige wet wat grond onregmatig onteien of dreig om eienaarskap sonder billike en regverdige vergoeding te vervreem;
- Die wrede moord, marteling en aanvalle op minderhede, veral op wit boere in SA, en die daaropvolgende ontkenning daarvan deur die regering en president Ramaphoza.
2) Aankondiging ter ondersteuning van 'n tweestaat-oplossing;
Swart Twitter het die afsterwe van wyle minister van binnelandse sake, Pik Botha, verwelkom en van die geleentheid gebruik gemaak om met grondonteiening te dreig.
Die kleurvolle politikus, Pik Botha, is op 12 Oktober 2018 by sy huis in Pretoria oorlede nadat sy organe ingee het. Hy was 86 jaar oud. Almal het nie noodwendig met sy standpunte saamgestem nie, maar as die man gepraat het, het die mense aan sy lippe gehang. Een van sy bekendste sêdinge was: "Dit maak nie saak of jy 'n sebra ('n metafoor vir Suid-Afrika) deur die swart streep of deur die wit streep skiet nie, die hele dier vrek." Hy was ook bekend vir sy omstrede opmerking tydens die Apartheidsjare dat hy nie sou omgee om onder 'n swart staatspresident te dien nie.
Botha is op 27 April 1932 op Rustenburg in die Transvaal gebore. Hy het in 1953 by die departement van buitelandse sake aangesluit en het in Swede, Duitsland en in Den Haag diens gedoen. In 1974 het hy Suid-Afrika se permanente verteenwoordiger by die Verenigde Nasies geword. 'n Jaar later is hy aangestel as Suid-Afrika se verteenwoordiger in die VSA en op 1 April 1977 het hy Suid-Afrika se Minister van Buitelandse Sake geword.
Botha was een van die groep "gematigde" lede van die Nasionale Party wat deelgeneem het aan die politieke maneuvers om 'n opvolger vir B.J. Vorster as Eerste Minister te kry. Hy was ook nou betrokke by die onderhandelings wat uiteindelik tot vrede in Angola en die onafhanklikheidswording van Namibië in 1990 sou lei.
Botha het later as Minister van Mineraal- en Energiesake (1994-1996) in die regering van nasionale eenheid onder Nelson Mandela gedien totdat die Nasionale Party hom van die regering onttrek het. In 2000 het by die African National Congress aangesluit. Hoewel hy die ANC-regering aanvanklik ondersteun het, het hy hulle later jare ook skerp gekritiseer.
Met 'n dienstyd van 17 jaar, was hy een van die wêreld se langsdienende ministers van buitelandse sake. Dit is seker ook veilig om te sê dat hy Suid-Afrika se langste dienende diplomaat was. Hy sal onthou word as die man was Apartheid by die VN moes verdedig, vir die vrede wat in Angola gesluit is, Namibië se onafhanklikheid en sy betrokkenheid by Suid-Afrika se oorgang na 'n swart meerderheidsregering in 1994.