Uit 'n gat in 'n miershoop, ver op die veld,
Het ek eenmaal 'n klein ystervarkie gekrap met geweld,
By die ou wit populier-bos, vlak by die sloot,
Met 'n kawelgaar-toutjie geknoop om sy haar-agterpoot,
Het ek hom toe gebinde, en vir hom gesê:
‘Kyk, varkie, jy voel dit is beter om hierso te lê
As om daar in 'n miershoop ver op die veld
Te skuil in 'n gat waar 'n jakkals jou vang met geweld.
Hier word jou van alles gegewe,
Hier's water, toktokkies, en kos:
Hier kan jy nou salig bly lewe,
En slaap onder blare en mos.
Hier word jy so lekker en vet, jy
Dink nooit aan jou jammer voorheen;
Geniet nou jou lewe, al het jy
'n Kawelgaar-boei om jou been!’
Maar vroeg in die môre - verbeel jou reg!
Die kawelgaar-toutjie was deurgevreet en varkie was weg.
En 'n maand of twee later het ek uitgegaan;
Die veld was so mooi en die wêreld van gras gekleurd groenspaan.
In 'n gat in 'n miershoop, verskuil teen reën,
Met die res van die kawelgaar-toutjie nog vas om sy been
Was my vrindjie, die klein ystervarkie, vry, salig, alleen!
Ek het geweet hier gat moeilikgeit kom toe ek sien pa loop om daai "Raserige groep jongens" te gat aanspreek oor hulle so lawaai. "Maart-maand-se-skittery-gat-lammertjies" sou oorle Oupa Lieb hulle genoem het. Ma het na hulle verwys as "Bog snuiters wie se ma hulle kleintyd al moes doodgelê het".
Een ding was seker, daai klomp studente-valies-bênd was nie baie gewild onner die Jakkalsputz-kampers nie.
Die Four Seasons was hulle naam. Die bênd wat nou deur Sarel van de Duine gehuur is om musiek te maak by die biertent oor die Desembermaand. Hulle slat toe so ry tente op by Jakkalsputz en daar gat hulle en hulle se aanhangsels nou bly vir die maand. Veertien was hulle almal saam, sewe mannetjies en sewe wyfies. Net vier was in die bênd, seker daar waar die naam vandaan kom. En dan kom hulle so laat aand, of meer kere vroeg in die oggend daar op Jakkalsputz aan. En dan raas hulle, soos die meeste mense wat ek ken maar doen as hulle dronkerig raak.
So deur die jare het dit darem duidelik geblyk dat die kampers op Jakkalsputz baie kan verdra, soos lang toue staan vir ‘n stort. Of water wat moet gekoop en aangery word. Of selfs die longdrop wat jy met klomp mense moet deel en dan bring meeste mense nog hulle honne ook saam. Maar geraas. Dit was nou een ding waarvoor niemand eintlik ‘n toleransie gehad het nie. En toe Pa daai oggend besluit nou het hy genoeg gehad, toe weet ek hier kom moeilikgeit vir my, Morris en Rens. En ek was reg ôk. Want toe pa nog probeer verduidelik dat hulle tog nie so moet raas nie, toe vertel daai oulike blondekop enetjie vir Pa dat sy nou nie mooi verstaan nie. Pa se eie kinners was dan ook daar by die hotel laasnag en ons raas ôk maar daar by die hotel.
Pa het hard gepreek. Begin by die euwels van drank, en toe hy by die sondigheid van die vlees kom, maak ma hom gelukkig stil en sê dis nou genoeg. Gelukkig het ma die laaste woord in die huis, of tent, gehad. Na die voorval was ons kanse ook maar baie skraal om weer ‘n keer te kon wegkom daar na Sareltjie se Gat toe. Pa het helemal te goed dopgehou.
Entebbe, die hoofstad van Uganda, is baie jare terug deur Israel opgeneuk oorlat hulle Israeli’s gyselaars gehou het. Ons drie pêlle het die gesegde gehad dat ons iemand sou "entebbe" as ons hulle wou terugbetaal vir die een of ander onguns op ons bestel. En ons het ooreengekom dat ons nog daai Four Seasons en hulle aanhangsels sal entebbe.
En toe kom die geleentheid gouer as wat ons verwag het. Ons drie het gat kreef soek daar by Solitude se rotse. Eintlik was dit net ‘n verskoning solat ons bietjie kon gat uitspan met ons bottel OBS (Old Brown Sherry). Maar toe ons by onse kreefsoek plek aankom is die raserige bênd toe hoeka ook daar aan die partytjie hou. Ma noem dit fuif. En aangesien ons eintlik gekom het vir die OBS en nie die kreef nie, toe hou ons maar so eenkant. Uit die oog uit – agter ‘n gonnabos duintjie. En sommer gou voel die koue en wind niks teenoor die lekker warm gevoel hier in jou maag nie. En toe gebeur die ding. Daai oulike blondekop enetjie, ons het haar Giggles gedoop, kom mooitjies om ‘n duintjie, so twee duintjies van ons s’n af, gesluip om uit haar maters se gesigsveld te kom. En so sluip sy in onse gesigsveld in. En sy het ‘n behoeftigheid gehad, seker van die baie drink, en sy laat sak hier net hier neffens ons. En dit was mooi, want sy moes die hele "costume" uittrek. Eenstuk gewees. Vir drie laaities was dit net een te veel, want asof uit een mond slaak ons ‘n sug van vleeslike sonde. En daar sien die arme Giggles dat sy nou haar ding hier reg voor ons drie doen. Sy uiter net een gilletjie, of kon dit dalk ‘n giggle wees? En val agteroor. Morris merk nogal op dat sy nou bly kan wees dat sy nie genommer twee het nie, anners het sy nou daarin gesit. Nou enige iemand wat al sand in die onnerbroek gehad het sal jou kan vertel dat dit totaal onverdraagsaam is. En ek dink sy het al sand daarin gehad, want sy hou net toe en hol, reguit see toe. Seker maar gemeen om die sand af te was. Die anner het seker gereken sy probeer ‘n ding aan die gang kry want toe sien jy net almal pluk "costumes" uit en hol agterna see toe. En dit was toe net daar wat ons drie besluit hier gat ons vir hulle entebbe. Die OBS het seker maar bygedra tot die besluit. Ons hol en gryp hulle klere, handdoeke en enige ding wat lyk of dit vleeslikheid kan bedek.
En soos die hengelaars toevallig verby ry word daar gestop en gekyk en geëvalueer en gespot. Antie Koekie het later hulle klere terug gevat onder groot protes van ander hengelaars.
Daai middag by die storte merk Oom Boer op dat daar darem baie mense was om die kaaljoue te gat kyk daar by Solitude. Toe reken Oom Klein Gert dat die oestertjies darem alte mooi was, maar die kaaljoue het vir hom meer na sardientjies gelyk. Seker maar van die koue gekrimp, was Antie Koekie se mening.
Die Four Seasons en hulle aanhangsels was maar bra stil gewees na daai voorval. En elke keer as Giggles verby ons geloop het, het sy so mooi rooi gebloos.
Landdros: "Gatiep, waar is jy gebore?"
Gatiep: "In die Kaap Jou Honor!"
Landdros: "Watter deel?"
Gatiep: "My hele lyf Jou Honor, net my tanne kom uit Jo'burg!"
Die sanger Piet Botha is op 2 Junie 2019 (op 63-jarige leeftyd) oorlede. Hy was die seun van die eertydse buitelandse minister Pik Botha, wat ongeveer 9 maande vroeër op 12 Oktober 2018 oorlede is. Botha is 3 maande voor sy dood met pankreaskanker gediagnoseer.
Botha het in 1984 die musiekgroep Jack Hammer begin, maar sy eerste Afrikaanse album (’n Suitcase vol winter) is eers in 1997 bekendgestel. In 2002 is hy by die SA Rock Hall of Fame ingelyf. In 2006 ontvang hy ’n Sama-prys vir sy bydrae tot Suid-Afrikaanse musiek. Hy is in dieselfde jaar deur die FAK vir sy bydrae tot Afrikaans vereer. In 2011 bied Botha 'n TV-program op kykNET aan, genaamd "Wie Lê Waar", waarin Botha die grafte van Afrikaanse ikone besoek en hulle biografieë vertel. Hy sal onthou word vir liedjies soos ’n Suitcase vol winter, Goeienag Generaal, Blues vir Louise, en Vandat jy weg is.
Jare lank het 'n bedelaar voor die koöperasie gesit en die jammerhartige boer het elke maand as hy sy goedjies kom koop vir die stomme man R30 gegee.
Een maand begin die boer egter om net R20 te gee. Die bedelaar is 'n bietjie dikbek, maar aanvaar dit maar.
‘n Jaar later gee die boer net R10 en die bedelaar vererg hom:
"Haai ou," sê hy,
"toe jy van R30 na R20 afgekom het was ek geduldig, maar nou gee jy net R10. Hoekom so min?"
"Ag ek is jammer meneer," antwoord die boer verleë.
"Jy sien, my seun is verlede jaar technikon toe en dit kos my baie geld,
sodat ek nie genoeg geld gehad het om jou elke keer R30 te gee nie.
En nou is my dogter universiteit toe en dit kos nog meer geld.."
"Hoor hier, hoeveel kinders het jy?" vra die bedelaar.
"Daar is nog twee in die hoërskool," antwoord die boer.
"Wel, ek hoop nie jy is van plan om hulle almal op my koste te laat leer nie!"
'n 17 Jarige tiener vertel haar ma al huilende dat sy swanger is.
Al gillende vereis die ma dat die meisie sê wie die pa is.
Sy bel iemand...
Twintig minute later trek 'n Ferrari by die erf in.
'n Ouer man in 'n Armani-pak klim uit.
Hy soengroet die tiener, vat haar hand en gaan sit in die voorhuis saam met die ouers.
"Dag oom, dag tannie" sê hy.
"Jul dogter het my van die probleem vertel. Ek sal tot die punt kom.
Ek kan nie met haar trou nie vanweë my persoonlike situasie, maar ek kan dit regstel.
Ek sal alle uitgawes betaal en vir jul dogter sorg vir die res van haar lewe.
As dit 'n dogter is, kry sy twee ondernemings, 'n dorpshuis,
'n villa by die see en 'n R2 miljoen bankrekening.
As dit 'n seun is, kry hy ‘n paar fabrieke en R4 miljoen in die bank.
Vir 'n tweeling gee ek elkeen R2 miljoen in die bank.
Wat dink julle moet ek doen as daar 'n miskraam is?"
Op die punt breek die pa die stilte:
"Dan probeer julle maar weer, boetie."
• Die stemlokale open 07:00 en sluit 21:00 die aand.
• Onthou om u ID-dokument, -kaart of tydelike bewys van ID saam te neem.
• Maak seker dat u twee stembriewe ontvang, beide moet agterop gestempel wees.
Terloops, as u buite u stemdistrik is, kan u by enige ander stemlokaal in Suid-Afrika gaan stem. Mense wat buite hul geregistreerde provinsie is, sal net aan die nasionale verkiesing kan deelneem, maar nie aan die provinsiale verkiesing nie.
Sterke en neem water saam vir as die toue lank is!
'n Klein dogtertjie bid een aand...
Sy bid: "Jesus dankie vir die kos amen."
Haar ma sê: "Maar wat van jou pappa en mamma?"
Sy Bid: "Jesus, dankie vir die kos en pappa en mamma amen.'
Haar ma sê: "Maar wat van boetie en sussie?"
Sy bid: "Jesus, dankie vir die kos en vir pappa en mamma en vir boetie en sussie, amen."
Haar ma sê: "En wat van jou klere?”
Sy bid: "Liewe Jesus hou net aan, my ma wil ook met jou praat!"
Ek dink ek moet 'n bietjie gewig verloor.
Vanoggend sien ek toe 'n pratende skaal in die stad.
Ek klim daarop en die skaal sê: "Net een op 'n slag asseblief!"