Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Demokrasie

Mon, 01 October 2007 11:41

"Torreke"

> Ek sien Ta'Hessie sê die demokrasie lyk nog veilig in SA.
>
> Ek wonder nou, hoe definieer sy demokrasie. Is dit regering deur die
> meerderheid, of wat?

Die Westminster model van demokrasie soos
gepraktiseer deur die Britte ook in hulle koloniale
areas was die eerste deur die wenpaal-model.
Dis wat ons nog op die oomblik in Kanada het.
Maar in die volgende provinsiale verkiesing, soos
ek vertel het, gaan ons n referendum hou om te
besluit of ons provinsiaal ons stemstelsel sal
verander deels na die model wat julle het.
Waar mens die party se stemme tel en die
partye die aantal verteenwoordigers kry wat
hulle stemme weerspieel.
Torreke, kyk weer na die vraag wat jy
hierbo stel. Wat bedoel jy met die of wat
aan die einde. Jy klink so, soos die Engelse
se, belligerent. Laasgenoemde woord
beteken dat jy oorlog wil maak. Hoekom
wil jy oorlog maak.

Nee, ek wil nie oorlog maak nie. Met "of wat" wou ek gewoon vra of jy dink
daar is meer aan demokrasie as bloot die wil van die meerderheid?

1) Die Westminster stelsel was beslis nie die eerste wenpaal-model nie. Die
Antieke Grieke het demokrasie (afgelei van die Griekse woorde "demos" (volk)
en "kratos" (regering)) uitgedink.
2) Die Griekse model was stadstate! - waarin elke stad de facto onafhanklik
was! Jy onthou seker die klassieke stryd tussen Sparta en Athena?
3) Die Grieke het demokrasie as die swakste vorm van regering beskou! - met
goeie rede! - en het outokrasie verkies!
4) Die Grieke het gestem deur te skreeu! Die groep wat na die oordeel van
die voorsitter die hardste geskreeu het se voorstel is aanvaar.
5) Die Romeine het demokrasie verder gevoer. Hulle het, nadat hulle van
hulle koningshuis ontslae geraak het, twee konsuls aan die hoof van die
regering gehad wat jaarliks verkies is. 'n Senaat het wette gemaak en die
konsuls het veranderwoording gedoen aan die senaat.
6) Selfs toe die Romeinse Republiek (afgelei van die latynse woorde "res"
('n saak) en "publica" (openbaar), letterlik dus: die publiek se saak)
vervang is met die Keiserryk het die Romeinse Senaat voortbestaan.
7) Die Franse het lank voor die Britte 'n demokratiese konstitusie
aanvaar! - met die Franse Rewolusie! - en 'n Republiek opgerig.
8) Selfs die Afrikaners was die Britte daarmee ver voor. Nadat die Kaap van
1802 tot 1806 onder die Nederlandse Bataafse Republiek sorteer het - 'n
skepping van die Franse rewolusie! -het die Afrikaners die demokrasie en
republikeinse staatsvorm hulle eie gemaak. Toe die Britte in 1806 die Kaap
teen die sin van sy inwoners inval en oorrompel, het die burgers van
Swellendam 'n vrye Republiek uitgeroep. Dit het natuurlik nie lank oorleef
nie! - want die Britte het dit eenvoudig nie toegelaat nie.
9) Op daardie stadium was Brittanje nog self gewoon 'n monargie - en het die
stryd om demokratisering van Brittanje skaars begin.
10) Die Westminster stelsel is 'n kompromie!!! - tussen outokrasie en
demokrasie! - soos die Romeine se Keiserryk 'n kompromie was. Die laerhuis,
"house of commons", het volksverteenwoordiging gebring - en natuurlik is die
eintlike mag nou daar geleë! - maar die hoërhuis, "house of Lords" (senaat)
bestaan steeds uit die sg adel wat hulle posisies erflik bekom of deur die
Koningin tot ridder geslaan word. Tot vandag toe het die Brise volk nie 'n
sê oor wie hulle staatshoof is nie - selfs of hulle 'n koning wil hê nie!
11) Die Westminster stelsel volg gewoon 'n "wenner-kry-alles" benadering.
As die regerende party 51% steun het, kry dit 100% mag! - en die ander 49%
moet gewoon buig! Ek dink nie dis vergesog om te beweer dat 51% van die
bevolking waarskynlik net 51% van die tyd reg sal wees, en die ander 49%
behoort 49% van die tyd reg te wees. Tog moet die minderheid - reg of
verkeerd! - gewoon voor die meerderheid buig! Dis tirannie!!! - netso seker
as wat een tiran outokraties vir almal besluit!
12) In die huidige SA kan jy nie eers seker daarvan wees dat die wil van die
meerderheid deurgevoer word nie. Die ANC het gewoon nog nie 'n enkele keer
sy lede toegelaat om volgens hulle eie gewete/opinie te stem nie.
Verteenwoordig die aborsie-wetgewing, of die afskaffing van die doodstraf,
of nou ook die verbod op lyfstraf vir jou kind die wil van die meerderheid?
Ek glo nie!!! Die ANC sal nie 'n referendum toelaat oor die doodstraf nie,
want hy weet hy sal dit verloor. Ek twyfel of ons enige referendum oor
enige kontroversiële saak onder die ANC sal kry. So 'n klein minderheid is
eintlik besig om sy wil op die meerderheid af te dwing terwyl die minderheid
skuil agter die skyn van meerderheid. Netso skuif die ANC regering
provinsiale grense soos dit hom pas - of die inwoners van Khotsong nou by NW
wil wees of nie! Die oorloop-wetgewing in SA maak van demokrasie en die
wil van die bevolking 'n bespotting - die ANC het dit geskryf met die
bulhond-taktiek in gedagte, d.w.s. maak dit eintlik ontmoonlik vir jou eie
mense om te loop en baie moontlik vir die ander om na jou toe oor te loop -
dus vat net altyd meer! - totdat jy de facto 'n eenpartystaat het! Daar is
maniere om die proporsionele stelsel en die setel-stelsel volledig met
mekaar te versoen en die beste van albei wêrelde te hê; ek weet nie wat
staan in Van Zijl-Slabbert se verslag daaroor nie, maar ek sou dink dat
briljante brein wat hy is, sou sy voorstel presies net dit wees - 'n
voorstel wat die beste van albei stelsels daarbring. Waar is die verslag?
Dit lê en stof vergader, want so 'n verandering pas die ANC nie!
13) Vergelyk daarteenoor die Switserse kanton stelsel - die enigste
demokrasie wat, sover ek weet, werklik vir minderhede voorsiening maak. Die
groep kantons is nie vas nie. Indien 'n bepaalde groep mense in 'n bepaalde
streek 'n eie kanton wil skep, word 'n referendum daaroor gehou - en die wil
van die meerderheid seëvier. In Switserland word die wil van die bevolking
gereeld d.m.v. referendums getoets.

Vir my is die toets van demokrasie tot watter mate die wil van die ganse
bevolking tot uitdrukking kom - nie net die wil van 'n 51% meerderheid of
van 'n minderheid wat skuil agter die meerderheid nie.

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Pikoli-storie ontwikkel

Fri, 28 September 2007 12:33

'Pikoli was op Selebi-spoor'
Sep 27 2007 09:54:27:497PM - (SA)

Msimelelo Njwabane, Pieter du Toit

'n Deursoekbevel vir die huis en kantoor van komm. Jackie Selebi,
nasionale polisiehoof, is glo verlede week uitgereik en dít het tot
die skorsing van adv. Vusi Pikoli, hoof van die nasionale
vervolgingsgesag (NV), gelei.

Beeld het by 'n uiters betroubare bron na aan die NV-ondersoek verneem
die lasbrief is verlede Donderdag al uitgereik.

Dit behels glo die deursoek van Selebi se kantore, sowel as 'n
lasbrief vir sy inhegtenisneming.

Selebi het glo hieroor by pres. Thabo Mbeki gekla en dit het volgens
inligting tot Pikoli se skorsing gelei.

Pikoli is vandeesweek deur Mbeki geskors nadat daar glo 'n
“vertrouensbreuk” tussen hom (Pikoli) en me. Brigitte Mabandla,
minister van justisie, ontstaan het. Nie die presidensie of die
departement het al verdere duidelikheid hieroor verskaf nie en 'n
ondersoek duur voort.

Die NV wou nie gisteraand die bewerings bevestig óf ontken nie en het
met “geen kommentaar” volstaan.

“Dit is nie ons storie nie. Dit is nie ons inligting nie. Die posisie
van die NV is een van geen kommentaar. Vir die res van die dag is dit
hoe dit gaan bly,” het mnr. Tlali Tlali, woordvoerder van die NV,
gisteraand gesê.

Nie mnr. Themba Maseko, kabinetswoordvoerder, óf mnr. Mukoni
Ratshitanga, Mbeki se woordvoerder, was vir kommentaar bereikbaar nie.

Hul selfone was af.

Dir. Sally de Beer, Selebi se woordvoerder, het gesê Selebi is nié
gearresteer nie.

“Ek is nie bewus van 'n lasbrief nie en verwag nie dat hy gearresteer
gaan word nie.

“Sake gaan voort soos gewoonlik. Hy (Selebi) het vandag (gister) soos
gewoonlik met sy werk voortgegaan. Ek het hom vandag gesien en hy lyk
nie te ontsteld nie. Hy is 'n sterk persoon. Ons (die polisie se
topbestuur) is al saam deur baie dinge,” het De Beer gesê.

Dr. Johan Burger, 'n senior navorser by die Instituut vir
Sekerheidstudies (ISS) in Pretoria, het gesê die president se kantoor
moet so gou moontlik duidelikheid oor die kwessie gee.

Volgens Burger moet die presidensie uitsluitsel gee oor of daar 'n
verband tussen Pikoli se skorsing en die beweerde lasbrief is.

“Hulle moet sê of daar waarheid in die gerugte is. Indien dit waar is,
moet hulle sê wat verhoed die NV om die lasbrief uit te voer.”

Hy het ook gesê dié bewerings kan die moreel van die polisie baie
skade doen.

“Dit is sleg vir polisielede op alle vlakke as hulle hoor 'n lasbrief
is vir hul grootbaas uitgereik. Dieselfde geld vir die moreel van die
NV. Is daar dan net sekeres wat vervolg mag word?”

Hy het gesê gebrekkige inligting oor Pikoli se situasie lei nou tot
die deurfiltering van sulke brokkies inligting.

“Die publiek verdien dit om behoorlik ingelig te word.”

Nuus | 0 kommentare

Nog Suid-Afrika

Fri, 28 September 2007 12:32

'Ontledings wys dit gaan slegter in SA'
Sep 27 2007 09:42:31:723PM - (SA)

Philda Essop

Kaapstad. - Internasionale vergelykende ontledings skets 'n minder
"glinsterende" beeld van Suid-Afrika as wat die ANC voorgee, het die
DA gister gesê.

Me. Sandra Botha, parlementêre leier van die DA, het gesê dié studies
toon 'n ander prentjie as wat die ANC voordoen op die gebied van
menslike en ekonomiese ontwikkeling, veiligheid en sekuriteit en
onderwys.

Ontledings wat die DA in ag geneem het, sluit in die Human Development
Index, The Trends in International Maths and Science Study en The
Global Competitiveness Index.

In 2001 het Suid-Afrika die 94ste posisie op die Human Development
Index beklee uit 162 lande, maar in 2006 tot die 121ste posisie uit
177 lande gedaal.

Pres. Thabo Mbeki het in Julie vanjaar gesê dat enorme vordering op
alle gebiede gemaak is, veral in die stryd teen armoede.

Volgens Botha kan Suid-Afrika se onderprestasie in dié verband sedert
2001 toegeskryf word aan misdaad, MIV/vigs en armoede.

Die Global Competitiveness Index wat jaarliks deur die Wêreld-
Ekonomiese Forum gepubliseer word, het Suid-Afrika in 2005-'06 op
40ste plek geplaas en in 2006-'07 op 45ste posisie.

Mbeki het in die 10-jaar presidensiële oorsigverslag gesê die
Suid-Afrikaanse ekonomie se mededingendheid het verbeter sedert die
vroeë 1990's.

"Ek weet nie of ons gaan slaag om armoede teen 2014 te verlaag nie,"
het Botha gesê.

Die Global Peace Index het vanjaar 121 lande gemeet aan die
"afwesigheid van geweld". Suid-Afrika beklee 90ste posisie op dié
ranglys.

Botha het die 10 jaar oorsigverslag van die president aangehaal waarin
Mbeki sê dat die regering begin het om 'n impak op die misdaadsituasie
te maak.

"Ongeag die selfversekerde versekering van die ANC, sukkel Suid-Afrika
nog met onaanvaarbare hoë vlakke van misdaad en geweld."

Sy het die hoop uitgespreek dat die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010
'n verbetering in misdaad sal bring. "As dit nie, sal elke hoop dat
2010 Suid-Afrika in die kollig gaan plaas in terme van beleggings en
toeristebestemming... nie gebeur nie."

Op die gebied van onderwys laat Suid-Afrika se prestasie volgens die
DA ook veel te wense oor ondanks die feit dat Mbeki in sy staatsrede
vanjaar gesê het onderwys en vaardigheid het sedert 2004 vordering op
'n hoë basis getoon. In 1999 en 2003 was Suid-Afrika laaste posisie
uit ál die lande wat aan die Trends in International Mathematics and
Science studie deelgeneem het.

"Terwyl baie geld die afgelope 12 jaar aan onderwys bestee is, bly die
meeste kinders in die land se onderriggehalte droewig."

Nuus | 0 kommentare

Gloudina....

Thu, 27 September 2007 13:51

Wat HET jy gedoen om van die voordeel wat jy uit apartheid gekry het,
terug te gee and swart Suid-Afrikaners?

Met ander woorde, watter regstellende aksie doen jy?

Koeitjies & kalfies | 63 kommentare

Suid-Afrika

Thu, 27 September 2007 13:46

Bejaarde drie keer verkrag
Sep 26 2007 09:07:51:017PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Musina (Messina). – “Hulle het my drie keer verkrag. . .dríé keer. .
.alles is vol bloed.”

Só het 'n erg getraumatiseerde mev. Ina du Toit (65) gister vertel ná
die gru-aanval op haar en haar man, Hannes (67), in hul huis in dié
dorp in Limpopo.

“Dit was verskriklik. Al ons beddegoed moes verwyder word. Weet jy, ek
is nou op vigspille ook,” het 'n bykans histeriese Du Toit gister aan
Beeld gesê.

Sy het gesê haar en haar man se verhaal moet gepubliseer word sodat
“mense kan wakker skrik oor wat in ons land gebeur”.

Die egpaar se nagmerrie het gister in die vroeë oggendure begin toe
twee onbekende mans die voordeurslot van hul huis in East Crescent 4,
Bergview, met 'n breekyster oopgedwing het.

“Ons het 18 maande gelede na dié nuwe huis getrek en dit was nog net
by die voordeur waar 'n veiligheidshek moes opkom,” het mev. Du Toit
gesê. Die res van die huis is beveilig met veiligheidshekke en
diefwering.

Sy en haar man slaap tans in aparte kamers omdat sy onlangs 'n
heupoperasie ondergaan het en nog pyn verduur.

“Ek het om en by middernag nog vir my gaan tee maak en niks was
verkeerd nie. Naby 01:00 het ek my man hoor skreeu.”

Mev. Du Toit is na die kamer waar haar man slaap en het die twee
aanvallers gesien terwyl hulle haar man herhaaldelik, terwyl hy in die
bed gelê het, met 'n mes gesteek het.

“Een van die mans het my gegryp en ook gesteek voordat hy my kombuis
toe gesleep het.

“O, dit was verskriklik,” het sy huilend gesê. Hierna het die ander
boosdoener mev. Du Toit na die kamer gevat waar sy geslaap het.

Sy sê die mans het die hele tyd vir geld gevra. “Money, money, money,”
is wat hulle aanhoudend gesê het. Ek het gesê ons het nie geld nie,
hulle kan my bankkaart vat, maar hulle wou nie dit doen nie.”

Die rowers het ná die aanval, wat meer as 'n uur geduur het, met slegs
R160, 'n selfoon en 'n paar skoene gevlug. Volgens die polisie is R600
gesteel. Die egpaar het hulp ontbied en hul dokter en pastoor is na
hul huis.

“Dit was meer as 'n uur se geveg om net aan die lewe te bly. Hulle wou
ons doodgemaak het,” het mev. Du Toit gesê.

Supt. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder in Limpopo, het gesê
mnr. Du Toit is sewe keer met 'n mes gesteek. Hy het behandeling vir
die vleiswonde gekry. Hy is 'n elektrisiën in dié dorp en die egpaar
woon die afgelope 37 jaar hier.

“Die dokter was by my en ek is nou op vigspille (antiretrovirale
middels). Dit is só erg om te vertel wat gebeur het. Boonop is my een
arm lam waar ek met die mes gesteek is en ek het bitter seer.”

Die egpaar is gister tuis vir hul beserings behandel. 'n Be­rader van
Louis Trichardt (Makhado) sou mev. Du Toit gisteraand besoek het.

Dié dorp gaan die afgelope tyd gebuk onder 'n vloed van onwettige
Zimbabwiërs wat dikwels met misdaad verbind word, maar dis onbekend of
die aanvallers van Zimbabwe was.

Otto het gesê 'n grootskaalse soektog is na die twee verdagtes begin.

mlo...@beeld.com

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Die Kundige Minnaar deur Sheila Cussons

Wed, 26 September 2007 23:50

DIE KUNDIGE MINNAAR
Sheila Cussons
(Verwikkelde lyn, 1983)

Sy lende is in sy kop, jy sien dit aan die oë.
Hy kyk na alles wakker met 'n klaar blink blik
asof hy effens verstom is, hom droogweg-
gesofistikeerd
verwonder aan die gehalte van sy lyf, soos 'n
baie bedrewe
bestuurder oor 'n duur motor wat da'n nog
verras.
Hy's een van die nuwe genieë, die seksbevryders,
al die mankolieke ou mites verwilderend in hul
pee in,
Priapus se blitspatrollie.
Dis dink met die lyf nou, en elke toer uithaal
waartoe
'n verbeelding en goeie sintuie in staat is, and
the sky
the limit met die geneul van die hart uit jou pad.
Arme Oupa, lomp met Ouma se nagjurk, te
onkundig en
te eerbiedig om meer te vermag as 'n haastige
hoenderhaan.
Vinnig is ons handige heer ook wel, maar
kopsgewys,
beurtelings snel en talmend, die aankom, die
kom dan,
steeds opwindend uitgestel, 'n vakman gewy
aan die wek
van vermoëns in lyfmasjiene; die venue net
reg ook, met
rock op die agtergrond - rockabye baby till we
hit the top:
bont van betekenis is elke begrip.
En hoe eenders, hoe anders kan glimlagge
wees: straal nou
net syne - sulke tande! - nog eens
self-felisiterend. Dan,
tót by sy pienk kleintongetjie, beloon hy haar
met 'n gaap.

Prosa & poësie | 0 kommentare

Roelf Meyer oor transformasie

Wed, 26 September 2007 23:38

Versnel transformasie, vergeet van minderheidregte, pleit Roelf Meyer
Sep 26 2007 09:25:12:830PM - (SA)

Danila Liebenberg


Bloemfontein. - Die uitdaging van die getalle in Suid-Afrika en
migrasie uit ander Afrika-lande strem transformasie, terwyl dié proses
eintlik versnel behoort te word.

Só meen mnr. Roelf Meyer, voormalige minister van kommunikasie en
grondwetlike sake.

Meyer, ook hoofonderhandelaar namens die vorige Nasionale Party-
regering in die veelparty-onderhandelingsforum van 1993, het gister 'n
geleentheids­lesing aan die bestuurskool van die Universiteit van die
Vrystaat gehou.

Hy het ook die herstel van die wanbalans tussen geregtigheid en
versoening bepleit.

"Versoening en konsensus se teenbalans, naamlik transformasie, moet
glad nie vergeet word nie. Trans­formasie kom uiteindelik neer op twee
aspekte, naamlik regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging."

Meyer glo transformasie het nog 'n lang pad om in Suid-Afrika te loop
voordat dit regtig afgehandel sal wees. "Oorspronklik het ek gedink
dit sal 15 jaar neem, maar ek dink daar is nóg 15 jaar nodig."

Meyer meen dán sal dit steeds nie heeltemal afgehandel wees nie.

"Want sien, transformasie is 'n proses. 'n Voortdurende proses."

Volgens Meyer was daar aan die destydse onderhandelingstafel net twee
opsies: óf die samewerking onderling na konsensus, versoening en
transformasie; óf die blote oordrag van mag van die wit regering na
die meerderheid mense in Suid-Afrika.

"Alhoewel ons 'n rustige oorgang na die huidige bestel gemaak het, is
transformasie verseker nog nie ge­finaliseer nie.

"Dit wil wel voorkom of geregtigheid rondom apartheidsmisdrywe in 'n
sekere sin geduld sou kon word om die pad vir werklike, strukturele
transformasie in Suid-Afrika voor te berei."

Meyer het ook aangevoer dat die wyse waarop versoening in Suid-Afrika
geskied, die beste model is wat in die wêreld bestaan, hoewel dit nie
perfek is nie. Suid-Afrika se versoeningsmodel is, volgens Meyer, 'n
standaard wat aan die res van die wêreld gestel is.

"Suid-Afrikaners het oor die algemeen deur verdraagsaamheid geleer om
onderlinge begrip vir mekaar te ontwikkel," het hy gesê. "As dit nie
so was nie, sou ons baie maklik vandag in dieselfde situasie kon wees
as waarin die Midde-Ooste hom bevind.

"Suid-Afrika het geen fasiliteerders van buite gebruik nie. Ons model
is ontwikkel en werkbaar gemaak vanuit eie bodem."

Ook het hy sy trots uitgespreek om deel te wees van 'n land wat so 'n
hoë premie plaas op die beskerming van individuele regte.

"Suid-Afrika het 'n Grondwet wat seker een van die modernste en mees
liberale ter wêreld is. Daarom moet ons wegbeweeg van die gedateerde
debat van minderheids- en meerderheidsregte. Ons moet op individuele
regte fokus."

Nuus | 7 kommentare

twee Deuntjies vir Een Rympie

Wed, 26 September 2007 16:39

Ek het die tema byna 2 deuntjies vir 1 lied gemaak
maar die gebrek aan harmonie en toon
sou dit onvaspas gemaak het.

Lees nou hieronder waarom ek haar 'n twee gat jakkals genoem het.
Kyk wat sê sy vir Riaan, en dan wat sê sy drie dae later vir Ferdi:

> Subject: Re: Hei, Torreke...
> Date: Sun, 23 Sep 2007 11:53:10 -0000

> "Riaan" skryf
>
>> Kan ons aflei dat jy wel so studie gemaak het Gloudina.
>
> en sy antwoord:
> Wat weet jy van wat in en buite SA aangegaan het
> gedurende die apartheidsregime. Ons wat in die
> buiteland was, het in aanraking gekom met mense
> wat selfs in Swaziland die nagtelike klopjagte van
> die SA sogenaamde veiligheidsmagte moes
> verduur. En ek, baie meer as jy, het in die
> afgelope dekade met swart besoekers uit
> SA gepraat oor die toestand van sake voor
> en na 1994. Ek is baie meer ingelig, baie
> meer ingelig as jy oor die politiek van SA,
> kan ek jou verseker. Jy kyk net teen jou
> oogvelle vas.
>
> Gloudina
>
>

> Subject: Re: Hoe sal Kanada dit hanteer?
> Date: Wed, 26 Sep 2007 13:37:45 -0000

> en aan Ferdi:

> In alle geval, dit is seker nie gesond as mens
> begin persoonlik raak nie. En ek kan nie oordeel
> oor SA uit die verte nie. Ek kan alleen maar gaan
> op wat ek hoor van ons familie in SA.

gevolgtrekking:
As haar familie in Suid Afrika (aan Ferdi) dus ook die
swart besoekers uit Suid Afrika (aan Riaan) is,
is haar houding miskien meer verstaanbaar
as wat dit op die oog af lyk.

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

De Klerk oor ANC leierstryd

Wed, 26 September 2007 11:59

DIE FW DE KLERK STIGTING

Handhawing van Suid-Afrika se Nasionale Akkoord

EMBRAGO: 11:30 WOENSDAG 26 September 2007

TOESPRAAK DEUR F W DE KLERK BY AARDKLOP, 26 SEPTEMBER 2007

‘N EINDE OF ‘N BEGIN: LEIERSKAP OP WEG NA ‘N NUWE PRESIDENT

Binne net minder as drie maande is dit tyd vir die ANC se “National
Consultative Conference” in Polokwane. Dit gaan een van die
belangrikste politieke gebeurtenisse in die 13 jaar lange geskiedenis
van die nuwe Suid-Afrika wees. Diegene wat in Polokwane bymekaar sal
kom, gaan nie alleen besluit wie Suid-Afrika vir die volgende 5 of 10
jaar gaan lei nie, maar ook watter politieke en ekonomiese
beleidsrigtings gevolg gaan word.

Dit is reeds duidelik dat daar drie belangrike denkrigtings is. Daar
is diegene wat wil hê dat president Thabo Mbeki vir die volgende vyf
jaar as ANC-.president herkies moet word. Dit sal verseker dat hy sal
kan voortgaan om 'n beduidende invloed op regeringsbeleid uit te oefen
nadat hy in 2009 as president uitgetree het. Ingevolge hierdie
scenario, sal daar twee magsentrums nà 2009 wees – een in 'n verswakte
presidensie en die ander by die ANC se hoofkwartier in Luthuli-huis.

Indien hierdie scenario realiseer kan ons verwag dat daar 'n hoë mate
van kontinuïteit van die huidige beleidsrigtings sal wees.

Die tweede faksie wat in Polokwane om mag sal meeding, is die ANC
alliansie se linkervleuel – hoofsaaklik COSATU, die Suid-Afrikaanse
Kommunistiese Party en die ANC Jeugliga. Zwelinzima Vavi, COSATU se
sekretaris-generaal het reeds 'n paar maande gelede verklaar dat die
stryd om die hart en siel van die ANC begin het.

Hierdie linkervleuel is diep ongelukkig oor die ortodokse
makro-ekonomiese benadering wat deur president Mbeki en Trevor Manuel
gevolg word. Hulle is ook besorg oor die sentralisering van
besluitneming onder die Mbeki-leierskap en bepleit 'n sterker rol vir
COSATU, die SAKP en ander groeperinge in die formulering van beleid.

Hulle is skerp krities teenoor die ANC kaders wat multimiljoenêrs
geword het en voel in die algemeen dat die huidige leiers die ANC se
sosialistiese geskiedenis verraai. COSATU is ook krities teenoor
president Mbeki se VIGS-beleid, sowel as sy rol in Zimbabwe.

Dit alles het pas by COSATU se Nasionale Kongres gelei tot die
onderskrywing van 'n leierskapspan, onder leiding van Jacob Zuma, vir
die verkiesings by die Polokwane-konferensie. Sou die COSATU/
Zuma-faksie wen (wat ek nie meen sal gebeur nie), kan ons 'n sprong na
links in die ekonomie en sosiale beleid, en 'n ernstige krisis in
ekonomiese vertroue, te wagte wees.

Die derde groep sluit in diegene wat nie aan die linkervleuel behoort
nie, maar wat nie entoesiasties is oor 'n verdere termyn van vyf jaar
vir president Mbeki as president van die ANC nie. Hierdie groep
bepleit vernuwing en soek na leiers wat dit kan help verseker, sonder
om die appelkar omver te gooi en sonder om die ANC te laat skeur.

Die stryd tussen hierdie faksies word toenemend in die openbaar gevoer
en word alhoemeer venynig. Op 24 Augusts het die Mbeki-beheerde
nuusbrief “ANC Today” die linkervleuel beskuldig van sameswering met
die regterkant van die politieke spektrum, wat uit die DA en die
meeste blankes bestaan. As gevolg hiervan, sê “ANC Today”, het hulle
“teenstanders van die leiers van die nasionale demokratiese revolusie
geword”.

In die uitgawe van 14 September het die hare behoorlik gewaai. Die
skrywers van “ANC Today” het Lenin, Marx en Joe Slovo aangehaal en
COSATU getipeer as “anarcho-syndicalists” (anargistiese sindikaliste).
Dit is omtrent so erg as wat dit kan word in hierdie ideologiese
twiste!

En terwyl dit alles aan die gang is, kom ander aanspraakmakers na vore
– insluitend Tokyo Sexwale, Cyril Ramaphosa, Mosiuoa Lekota en Kgalema
Mothlante – alhoewel sommige van hulle volhou dat hulle nie deel van
die resies wil wees nie.

Vraag is dus, wat gaan gebeur? Of miskien moet ons liewer vra wat is
die beste waarop Suid-Afrika kan hoop?

Dit is 'n oop vraag of president Mbeki suksesvol sal wees in sy poging
om vir 'n volgende volle termyn van vyf jaar as president van die ANC
herkies te word. Die idee van “twee sentrums van mag” het sterk
teenkanting by die ANC se Beleidskonferensie in Julie ontlok.
Sedertdien is daar geen teken dat dié moontlikheid groter
ondersteuning lok nie.

Die beste uitkoms sal dalk wees dat hy aanbly as president van die ANC
totdat hy in 2009 as president van die land uittree. As twee sentrums
van mag na 2009 ongewens is, dan is twee sentrums van mag tot 2009
seker ewe ongewens. Uit persoonlike ervaring in 1989 toe ek die leier
van die Nasionale Party en PW Botha steeds president was, kan ek
getuig dat die twee sentrums van mag enorme probleme in die praktyk
veroorsaak. In elk geval sal so 'n kompromie gesien word as ‘n
eerbare oplossing vir die President en sal die magstryd verskuif na
die posisie van Adjunk-President van die ANC.

Ek glo dat COSATU ernstige struikelblokke in die gesig staar in sy
pogings om die “hart en siel van die ANC” te verower - veral met Jacob
Zuma as sy kandidaat vir die presidentskap. Zuma se hangende hofsaak
en die ander omstredenhede waarin hy onlangs betrokke was, sal
sekerlik sy tol eis. Uiteindelik is COSATU se grootste probleem seker
dat sy meer gematigde teenstanders waarskynlik groter trefkrag geniet
binne die ANC en die staat, as die COSATU, SAKP en ANC Jeugliga
kombinasie.

Gevolglik is die mees waarskynlike uitkoms dat 'n gematigde na die
Desember-konferensie na vore sal tree as die nuwe
president-in-wording. Die aangewese nuwe leier, wat sy of haar titel
ookal mag wees, sal waarskynlik probeer om die beweging weer te
herenig. Aan die een kant sal pogings aangewend word om president
Mbeki en sy ondersteuners tevrede te stel. Aan die ander kant sal
daar gepoog word om hernieude verbintenisse tot eenheid te verkry van
al die partye wat by die drieledige alliansie betrokke is. Sommige
toegewings sal aan die linkervleuel gemaak word – moontlik in die vorm
van 'n groter toewyding aan die transformasie van Suid-Afrika na ‘n
Ontwikkelingstaat.

Ons kan ook verwag dat alle partye 'n oorwinning verklaar – insluitend
COSATU en die SAKP – alhoewel die uitkoms ver verwyder sal wees van
hul huidige doelwit, nl om beheer van die ANC oor te neem. Die
alternatief om van die ANC weg te breek en 'n linkse sosialistiese
party tot stand te bring, is onwaarskynlik op die kort termyn. Tog
glo ek dat dit uiteindelik wel gaan gebeur, en miskien vroeër as wat
tans verwag word.

Dit alles laat ons met die vraag wat gaan die gevolge wees as dinge
min of meer só uitwerk?

President Mbeki sal na die verkiesing in 2009 met 'n ware gevoel van
vervulling kan aftree. Hy sou 'n betekenisvolle leierskapsrol vir
bykans 15 jaar gespeel het – vir die eerste vyf jaar as die baie
aktiewe adjunk van president Mandela – en vir die volgende tien jaar
as president in eie reg.

Dit was kritieke jare vir ons jong demokrasie - en in die geheel
gesien het ons goed daaruit na vore getree. Ons het die langste
tydperk van voortdurende ekonomiese groei in ons geskiedenis beleef.
Suid-Afrika is 'n hoogsgerespekteerde lid van die internasionale
gemeenskap. President Mbeki het 'n leidende en konstruktiewe rol in
Afrika gespeel – deur te werk vir vrede op die kontinent en in sy
ontwikkeling en ondersteuning van die NEPAD-inisiatief. Die regering
het ook daarin geslaag om bykans twee miljoen huise te bou en om
verbeterde toegang tot basiese dienste aan miljoene Suid-Afrikaners te
bied. Die sleutelvraag sal wees of president Mbeki se opvolger sal
voortgaan met sy en Trevor Manuel se verantwoordelike makro-ekonomiese
beleidsrigtings. Of sal hulle eenkant toe geskuif word deur die
oordrewe toepassing van die Ontwikkelingstaat en groter
regeringsinmenging in die ekonomie?

Na my mening is die fundamentele vraag egter of die nuwe president en
regering deur ideologie gelei sal word of deur die dwingende
werklikheid van ons omstandighede.

Op watter terrein ookal die Mbeki-presidentskap goed gevaar het, was
dit omdat dit 'n pragmatiese benadering en werkbare beleid aanvaar
het. Dit is veral waar ten opsigte van sy makro-ekonomiese
benadering. En wanneer dit swak gevaar het, was dit omdat ideologie
die botoon gevoer het.

Dit is neerdrukkend dat die huidige diskoers tussen die Mbeki-faksie
en die linkervleuel steeds oorheers word deur swaarwigtige verwysings
na Lenin, Marx en Engels. Die belaglike twispunt is wie dan nou
werklik die “vanguard party” (voorpunt party) is en wie moet die rol
speel van die ware vlagdraer van die nasioanle demokratiese revolusie!

Die ideologiëe aan die orde is negentiende eeuse sosialisme en die
beswaarlik verdoeselde rasisme van die nasionale demokratiese
revolusie. Die een is op soek na die mitiese nirvana van die klaslose
gemeenskap. Die ander streef na die ewe denkbeeldige doel van ‘n
nie-rassige samelewing wat gedefinieer word as 'n staat waarin daar
demografiese verteenwoordiging op alle vlakke van eienaarskap,
bestuursbeheer en werkverskaffing in die private en openbare sektor
sal wees.

Wat Suid-Afrika in stede hiervan nodig het is leierskap wat sigself
sal laat lei deur die werklikhede wat ons omring en nie deur die
dwaling van ideologie nie. Daardie werklikhede sluit in:

die werklikheid van onaanvaarbare armoede en ongelykheid in ons
samelewing wat onlosmaaklik verbind is aan werkloosheid en die
mislukking van die regering om effektiewe noodsaaklike dienste aan
miljoene Suid-Afrikaners te verskaf;
Die werklikheid van werkloosheid wat onlosmaaklik verbind is aan
onvoldoende standaarde in onderwys en opleiding en rigiede
arbeidsbeleid;
Die werklikheid van VIGS wat die regering darem nou begin aanspreek
deur die uitrol van doeltreffende anti-retrovirale programme;
Die werklikheid van misdaad wat gelei het tot moord op byna 'n kwart
miljoen mense sedert 1994.
Die werklikheid van ons vaardigheidstekorte – en die feit dat tussen
800 000 en 'n miljoen geskoolde Suid-Afrikaners sedert 1994 geëmigreer
het.

Ons benodig doeltreffende beleid om die wanbalanse van die verlede aan
te spreek maar ook in hierdie verband moet die nuwe president en nuwe
leiers hulle laat lei deur realisme eerder as ideologie:

As meriete nie die hoofoorweging by aanstellings en bevorderings is
nie, sal enige organisasie of instelling gou die meeste van sy
verdienstelike personeel verloor.
As organisasies en instellings mense met kritiese vaardighede en
ervaring verloor, sal hulle in groeiende mate misluk.
As prys, gehalte en leweringstye nie die hoofkriteria vir tenders is
nie, sal verskaffers produkte en dienste verskaf wat duur, swak van
gehalte en laat is.
As eiendomsreg verwater word, sal daar weinig belegging wees.
As mense voel dat hulle onregverdig behandel word weens ras, sal hulle
vervreem word.
As sportspanne gekies word op enige manier anders as op meriete, sal
hulle onder potensiaal presteer.
As die nasionale akkoord verwoord in ons grondwet van 1996 sistematies
geërodeer word, sal die basis van ons nasionale eenheid en versoening
vernietig word.

In plaas daarvan om deur ideologie gelei te word, moet ons volgende
president gelei word deur die ontluikende internasionale konsensus oor
die weg tot sukses. Hierdie konsensus behoort nie aan Washington of
die Weste nie. Dit werk ooral waar dit toegepas word – of dit nou in
Suid-Korea of Chili, Estonia of Mauritius is. Dit benodig:

Goeie regering;
Sterk en doeltreffende demokratiese instellings;
Onafhanklike en toeganklike howe;
Doeltreffende polisiëring;
Lae vlakke van korrupsie;
Doeltreffende dienslewering;
Vrye instellings – insluitend vrye pers;
Goeie opvoedkundige stelsels;
Sterk en dinamiese burgerlike gemeenskapsorganisasies;
Hoë vlakke van persoonlike vryheid;
Gesonde makro-ekonomiese beleid, en
Mededingende markte en openheid vir internasionale handel.

Solank 'n nuwe president hierdie doelwitte ernstig nastreef, maak dit
nie werklik saak wie hy of sy is nie.

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

'n Afrika-menseslagting?

Wed, 26 September 2007 11:15

Die ander dag vra ek vir 'n dokter wat sal gebeur as iets tussen
gewone griep en voëlgriep sou ontwikkel en in Suid-Afrika sou
versprei, gegee ons hoë vigs-besmetting en ons regering se ontkenning
van vigs.

Sy antwoord was kort en kragtig: "Twee derdes van die land se
bevolking sal waarskynlik sterf."

Gesondheid & boereraat | 0 kommentare

Bladsye (1839): [ «    159  160  161  162  163  164  165  166  167  168  169  170  171  172  173  174    »]
Tyd nou: Fri Jan 03 21:42:59 UTC 2025