die vloek van die menseras
Sun, 07 August 2022 19:25
sy lê daar in haar wiegie aan haar fopspeen en suig
met haar sesmaande oue ogies vol vonkel vir die lewe
drink sy elke beweging, elke item rondom haar in
terwyl sy nog dom met haar handjies alles rondom haar aanraak
om so haar kennis van hierdie wonderlike wêreld te verbreed
maar dan word sy hardhandig uit haar wonderwêreld geruk
deur ‘n vreemdeling of familielid, wat maak dit tog saak
haar brose lyfie word deur geëelte hande gekneus
terwyl hy en sy makkers hulleself in haar in forseer
om daarna soos ‘n vuil lap weggegooi te word
ons kan onsself nie werklik in haar posisie plaas
die skok, die pyn - dit moet onbeskryflik wees
want selfs volwasse vroue kan dit nie hanteer
ons moet ‘n einde maak aan hierdie terreur
om ons jong meisietjies uit mekaar uit te laat skeur
deur hierdie monsters mag nooit weer gebeur
Prosa & poësie |
0 kommentare
om mamma en pappa te mag sê
Sat, 06 August 2022 19:33
huiwerig word die klanke deur jong lippies gevorm
as eerste tree op die wonderlike pad van spraak
m-a-m-m-a
p-a-p-p-a
ogies glinster trots 'n blik van afwagting
en 'n speelse laggie verskyn om die mondhoekies
want
om mamma en pappa te kan sê
is 'n ware prestasie
uitasem word die woorde uitgespoeg
trots om die goeie nuus bekend te maak
m-a-m-m-a
p-a-p-p-a
al hygende begin die verhaal ontvou
terwyl 'n trotse lag begin vorm aanneem
want
om mamma en pappa te mag sê
is iets om op trots te wees
vreesbevange word die woorde gefluister
terwyl hande na fisiese kontak soek
m-a-m-m-a
p-a-p-p-a
betraande oë soek na vergifnis of simpatie
en bewende lippe verduidelik waarom
want
om mamma en pappa te mag sê
is 'n grote gerusstelling
heel spontaan word die woorde gevorm
met 'n tevrede uitdrukking op die gesig
m-a-m-m-a
p-a-p-p-a
'n paar interessante feite word uitgeruil
en selfs 'n grappie word gedeel
want
om mamma en pappa te mag sê
is 'n absolute voorreg
wie gee ons die reg om die oorsaak te wees
dat iemand hierdie pragtige woorde
m-a-m-m-a
p-a-p-p-a
nie mag uiter deur spraak of skrif
mag so iemand nooit ongestraf bly leef nie
want
om mamma en pappa te mag sê
is elke mens se reg
Prosa & poësie |
0 kommentare
skrikkeldag
Sat, 06 August 2022 06:59
terwyl ek so deur my dagboek blaai
kom ek uit by hierdie bygevoegde dag
die nege-en-twintigste februarie
skielik besef ek dat ek vier lange jare vir die volgende een moet wag
dit maak van hierdie dag ‘n besondere een
want daar is nie so ‘n dag in volgende jaar
en ook nie in die twee wat daarop volg
ek hoop ek word nog so lank gespaar
sodat ek met die volgende een
‘n terugblik oor my lewe kan kry
om te sien in watter opsig dit verander het
en waar het dit dieselfde gebly
elke dag is so ‘n dolle gejaag
daar is net nie genoeg tyd om rustig te beplan
en daarom wil ek hierdie dag benut
as die begin van my volgende vierjaarplan
Prosa & poësie |
0 kommentare
tweegesprek
Sat, 06 August 2022 06:57
wat is jou naam
my naam is vlieg
sies, jy behoort jou te skaam
om so openlik te lieg
is dit
ja, want jou naam is sit
al wat jy goed kan doen, is juis dit
Prosa & poësie |
0 kommentare
vlieg
Sat, 06 August 2022 06:56
van al die vlieënde wesens
is jy vernoem na die manier hoe jy beweeg
wat sou die rede wees vir so ‘n naam
die feit dat jy van almal op die mees grasieuse wyse vlieg
of dalk omdat elke mens wat jou sien, uitroep
vlieg! vlieg! vlieg!
omdat jy altyd op die verkeerde plek sit
Prosa & poësie |
0 kommentare
ou wagter
Sat, 06 August 2022 06:54
elke keer as ek oor die onderdeur loer
lê jy maar daar op die stoep
skynbaar vas aan die slaap
en onbewus van die wêreld rondom jou
maar immer gereed vir enige gebeurlikheid
in jou rol as sekuriteitswag van my plekkie in die son
elke keer as ek werskaf in die tuin
stap jy maar agter my aan
sonder enige teken van belangstelling
of respek vir dit wat ek probeer vermag
maar altyd bereid om te luister
in jou rol as plantkundige raadgewer van my tuin
elke keer as terugkom by die huis
wag jy my in asof jy my jare laas gesien het
met ‘n stert wat swaai asof jy iets wil slaan
en ‘n bek wat blaf in elke toonhoogte van hondetaal
sonder enige verwysing na die vorige pak slae
in jou rol as boesemvriend en lewensmaat van ‘n mal man
Prosa & poësie |
0 kommentare
hoop van die swartland
Sat, 06 August 2022 06:53
magtige bloekom
van ver anderkant die suiderwater
kom plant jy jou wortels diep in die klipgrond
van hierdie heuwelland
in groepe van verskillende groottes
het jy jou regoor die land kom vestig
met ‘n trots wat wil sê
dat jy nog maar al die jare daar was
anders as die geval met ander buitelanders
is jy ‘n ware aanwins vir die land
na jou kan verwys word as die boom van hoop
want jy beskerm alle asemhalendes teen die felle aanslag van die swartlandson
jy dien ook as baken vir menige vreemde of verdwaalde reisiger
en met die toenemende goue landerye
en die donker voorkoms van jou blaredos
gee jy uiting aan die naam van hierdie streek
Prosa & poësie |
0 kommentare
deur die ogies van 'n dowe kindjie
Fri, 05 August 2022 19:42
ek het al so baie daaroor gewonder
ek het oortjies, maar moet klaarkom daarsonder
omdat ek niks kan hoor
ek wens ek kon my oortjies toor
tot nou toe was my wêreldjie baie stil gewees
daar was niemand om my oortjies te genees
ek moes my handjies gebruik as ek wou praat
of ek nou kossies wou hê of die kamer verlaat
maar nou is dit ‘n heel ander storie
vir my is dit ‘n ware glorie
want ek kan nou ook praat en hoor
die mense by carel du toit met my oortjies getoor
Prosa & poësie |
0 kommentare
die stortingsterrein
Thu, 04 August 2022 19:06
mopgat, vullisgat, stortgat, rommelgat
is slegs ‘n paar van jou lang string name
waarvan elkeen dui op die nare klad
wat die mens aan jou hele wese heg
somtyds is jy sinoniem met die dood
want jy word die graf van alle dinge
wat die mens as nutteloos eenkant stoot
slegs om plek te maak vir ‘n beter een
ook dit sal later op jou hoop beland
om daar tesame met vele ander
in jou verterende vure te brand
of deur berge grond begrawe te word
jy is ook sinoniem met ‘n pakhuis
waar mens interessante dinge vind
van ‘n hemp se knoop tot ‘n ou geldkluis
‘n nuwe boek tot grootjie se foto’s
vandag dien jy as kelder of solder
net ‘n baie gemeenskaplike een
waar mense klouter holderstebolder
op soek na iets om later weg te gooi
dan’s jy ook sinoniem met die lewe
vir die werk- en dakloses wat jy voed
mense wat niks het om na te strewe
weens ‘n stelsel wat nie meer omgee nie
jy bied ook ‘n lewe aan jou bouers
daardie mense wat met masjien en graaf
lewe aan jou geskenk het, jou ouers
wat nou elke dag na jou moet omsien
vir ewig sal jy die weggooiplek bly
die stinkende, smeulende vullishoop
waar mens ander se geheime kry
sou mens rondsnuffel tussen jou walle
Prosa & poësie |
0 kommentare
Winter
Wed, 03 August 2022 21:37
asof jy die allesverterende vuur van lewe en liefde wil blus
sprei jy jou grys, waterdeurdrenkte karos uit oor die land
terwyl al wat leef, vlug om aan jou woedebuie te ontkom
voëls volg die somerson oor vastelande heen
en diere gaan in 'n diepe slaap ondergronds
net soos die plante van die veld
terwyl bome hul blarejasse uittrek
en mense hul snoesig in hul skuilings toewikkel
met jou koue, lewelose asem
probeer jy ons skuilings oopblaas om ons te verkluim
jy spuit jou koue bloed vir dae aaneen
hard oor ons neer sodat die wat nog leef so kan verdrink
en jy skiet ons met onsigbare kanonne
om ons so finaal te verpletter en ons land te buit
voordat jy jou verwoestende handewerk
skuldig met jou koue donskombers bedek
almal vrees jou onvoorspelbare woedebuie
en wonder waarom jy ooit moes bestaan
want jy saai net dood en rig net skade aan
maar tog is dit so dat jy die aarde voed en van peste bevry
sodat nuwe lewe na vore kom
om jou donskombers af te gooi en die lente se koms te vier
want so dwing jy ons saam om weer rigting te vind
op 'n planeet wat voortsnel na sy einde
Prosa & poësie |
0 kommentare