Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Afrikaanse Musiek Midis?

Do., 02 Januarie 1997 00:00

Is daar iewers waar ek "midis" of "wavs" kan kry van tipies Afrikaanse musiek?

Colin
gar...@iafrica.com

Musiek & liriek | 0 kommentare

'n Gedig van ANTJIE KROG

Wo., 01 Januarie 1997 00:00

MA
Antjie Krog

Ma, ek skryf vir jou 'n gedig
sonder fênsie leestekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer
'n kaalvoet gedig -

want jy maak my groot
in jou krom klein handjies
jy beitel my met jou swart oë
en spits woorde
jy draai jou leiklipkop
jy lag en breek my tente op
maar jy offer my elke aand
vir jou Here God.
jou moesie-oor is my enigste telefoon
jou huis my enigste bybel
jou naam my breekwater teen die lewe

ek is so jammer mamma
dat ek nie is
wat ek graag vir jou wil wees nie.

(ingetik deur gloudina bouwer)

Prosa & poësie | 0 kommentare

Drie gedigte van MATTHEWS PHOSA

Wo., 01 Januarie 1997 00:00

Die gedigte in Matthews Phosa se bundel is geskryf
tussen 1970 en 1995. Die eerste twee bitter gedigte
is duidelik uit die apartheidsjare. Die derde gedig moet
van later wees. Hy is vandag premier van Mpumalanga.

WIE IS EK?

Wie is ek in my geboorteland?
Ek is 'n kneg van die immigrant;
hy wat my verniel en verwoes,
op my spoeg met wette
wat my soos kanker laat verval.

Wie is ek in my geboorteland?
My oupagrootjie was 'n kaffer,
my oupa 'n naturel,
ek is vandag 'n bantoe,
my seun wat de hel?

Wie is ek in my geboorteland?
Ek is die mees onderdrukte,
die mees gekulde,
die mees ontroue -
die mees gevreesde "vyand".

"ONLY"

Jy is uitgeput van die dag se gewoel,
jy wil 'n rukkie net ontspan;
daar staan 'n stoel, maar
jy mag nie daarop sit nie,
daar staan "only".

Jy is lus vir koeldrank of tee,
jy wil dit gaan drink
in die naaste kafee, maar
oor di'e drumpel durf jy nie,
daar staan "only".
Oral waar jy gaan,
waar jy in stilte wil lees
of by iets bly staan,
wil eet, wil droom, of in slaap vergeet,.
daar staan "only" in jou pad:
WHITES ONLY.

HOE

hoe moet ek praat
wat moet ek sê
hoe kan ek praat
in hierdie vierkantige kamer
dat die wereld kan hoor
hoe kan ek die waarheid oopvlek
voor mense wat dit so haat
hoe kan ek praat
my saak stel
duidelik vir almal
wat moet ek sê
om ministers en senatore te behaag
moet ek leuens vertel oor myself
hoe kan ek
hoe?

(ingetik deur gloudina bouwer)

Prosa & poësie | 6 kommentare

Re: Afrikaanse Radio - ek gaan weer probeer......

Di., 31 Desember 1996 00:00

Hannes het geskryf:

> Radio Sonder Grense saai nog steeds uit en ek vang dit op in die VSA op
> 3360.

Jy gee my nuwe moed.
Dankie, ek sal dit dadelik probeer. Ek het al my gat af gesukkel om radio RSA
in Australie te kry. Eerstens het die ambassade hier my 'n klomp frekwensies
gegee wat oud was en niks opgelewer het nie.

Uiteindelik het ek 'n nommer gekry en die SAUK in
Kaapstad gebel 021-5511592 - vra vir "Senderbeheer"
- hulle het my 4810 khz en 3230 khz gegee,
maar ek het slegs iets op 3230 khz gekry. Dit was egter onhoorbaar
sleg, en in die middel van die nag. Toe het ek opgegee.

Wil iemand in SA hulle nie bel en vir ons seg wat aangaan nie ?
(Laas het dit my $15 gekos voor ek by die regte ou uitgekom het)
en vir ons die tye gee ?

In Sydney kan mens maar opgee, daar is te veel radiostorings.
Perth is meer stil wat radiostorings betref. Maar jy het nog steeds
'n lang draad nodig.

Vriendelike groete.

Koeitjies & kalfies | 4 kommentare

AFRIKANERS IS PLESIERIG - 'n lied (with translation)

Di., 31 Desember 1996 00:00

Vir al die mense wat Afrikaans leer. Die volgende is 'n
tradisionele Afrikaanse volkslied.

AFRIKANERS IS PLESIERIG

Afrikaners is plesierig,
dit kan jy my glo,
hulle hou van partytjies,
en dan maak hulle so:
Eers draai die ou vroutjie
en dan draai haar ou man,
en hy vat om haar lyfie
en dan draai hulle saam.
Goeie nag, my ou vroutjie,
goeie nag, my ou man!
Oor 'n week 'n partytjie,
en dan draai ons weer saam.

Uit die F.A.K. Volksangbundel
Woorde deur A.D.E. Gutsche
Musiek: Volkswysie, verwerk deur Pierre Malan.

Volkslied : folksong
plesierig : happy, full of pleasure, full of joy
glo : believe
hou van : like
partytjies : parties
maak : do, act
draai : turn, twirl
ou vroutjie : the little woman (term of endearment)
ou man : her dear husband (need not be old)
vat om haar lyfie : puts his arm around her waist
liggaam, lyf : body
saam : together
goeie nag : good night
oor 'n week : in a week's time
weer : again

(ingetik deur gloudina bouwer)

Musiek & liriek | 0 kommentare

Re: Kersfees en so meer en Tollies

Di., 31 Desember 1996 00:00

In article , dan...@ihug.co.nz
says...
>
> On Sat, 28 Dec 1996 00:55:31 GMT, fe...@is.co.za (Koos) wrote:
>
>
>> In Tollies op Stellenbosch, die ou een, voor hulle dit gaan opdonder
>> het met 'n sissie ladies bar
>
>> Die ou Tollies het by the way 'n reuse perdeskoen-vormige
>> kroegtoonbank van dik soliede hout gehad.
>
>
> Hei....
>
> Nou't jy my ook mos laat terugdink.... as jy vroeg daar was, so oor
> middagete (of vroeër) kon jy die seat aan die een punt, teen die groot
> venster kry. So het jy mos 'n goeie uitsig gehad oor die hele
> Birdstraat..
>
> Maar jy moes mmoi vroeg daar wees, anders het Denzil W. die seat voor
> jou gevat!
>
> Danie
> Auckland, NZ

Maar sommige dinge verander NOOIT nie.

BY COETZENBURG LOOP 'N WATERSTROOM

By Coetzenburg loop 'n waterstroom, haai, haai, joegaai!
Daar staan 'n groot ou eikeboom, haai, haai, joegaai.
Daar het reeds menig vroom student, haai, haai, joegaai,
Sy liefde beloof, die onnosele vent,
of afjak gekry en sy bakkies geskend
en skielik ontwaak uit sy lentedroom.
Pas op vir die ou eikeboom! Joegaai.
Daar waar die bloue pieke troon,
waar die kwaai professor woon,
daar is ons universiteit;
maar ons hou altyd jolyt, jolyt.

Uit die F.A.K. Volksangbundel
Woorde deur Dirk Kamfer
Musiek : Duitse volkswysie, verwerk deur Dirkie de Villiers

(ingetik deur gloudina bouwer)

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Fragment van BOERNEEF ( I.W. van der Merwe)

Ma., 30 Desember 1996 00:00

Dit spook hier woes met nuwemaan
maar kwaaier nog met donkermaan
drink die kruie sluk die als
maak jou reg vir die spokewals
hierbo by Orlandini se werf
waar Poljon saans sy twak sit kerf
word fees gevier tot daglumier
maar wie en wat op hoe 'n manier
sluk liewer nog 'n groot dop als
en maak jou klaar vir die wisselwals

(ingetik deur gloudina bouwer)

Prosa & poësie | 0 kommentare

kwads oppie web

Ma., 30 Desember 1996 00:00

Is daar enige kwadriplee wat hierdie nuusgroep ooit besoek? Daar is so
'n skaarste in inligting vir/oor SA kwads (en ander gestremdes) dat dit
miskien goed sal wees indien ons bymekaar kan kom en iets daaraan kan
begin doen.

Groetnis
Ben

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

NUWEJAARSDANS deur Donald Riekert

So., 29 Desember 1996 00:00

NUWEJAARSDANS
Donald Riekert

Die buitekerk se
orrel op Narries
laat ook 'n dansie waai
Die langbeenmeisies swaai
op die gemmerbierdans 'n
koeksister-draai Op die
wyksouderling se swartpak
wink 'n jonkmansblom

(ingetik deur gloudina bouwer)

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

AAAAA !!!!! GESELSBLAD

Sa., 28 Desember 1996 00:00

Geagte nuusgroep leser,

Ons begin 'n nuwe blad op ons tuisblad. Die ding het nog
nie 'n naam nie. Lees asseblief die onderstaande en indien
jy aan 'n lekker naam vir die blad kan dink, laat ons hoor.
Op hierdie nuwe blad gaan ons sommer allerhande
interresanthede kwytraak en ook hulp aanbied. Die hulp
gaan ons weer by ons slim lesers kry. Ons gaan die blad
sommer elke paar dae verander sodat jy nie lank hoef te
wag vir 'n oplossing van jou probleem nie.

As jou dak lek en jy weet nie meer wat om te doen nie, dan
vra jy hier raad. Miskien het ons lekker kundige ouens wat
weet wat om met 'n lekkende dak te doen. Jy stuur vir ons
die raad en binne 'n paar dae is daar nie meer 'n lekkende
dak in die wêreld nie.

OF: Jy was by 'n lekker vakansieoord en jy dink ons ander
ouens moet ook daarvan weet. Terloops, as jy nog nie by
Fouriesburg in die berge gaan rondloop het nie, mag jy nie
sê dat jy al die mooi plekke in die land gesien het nie.

OF: Jy en vroutjie het 'n identiese vierling ryker geword,
jy wil dit aan die wêreld verkondig, dan vertel jy ons daarvan.

OF: Jy wil die land verlaat en jy weet nie wat is die beste
plek op aarde nie, dan vra jy hier raad.

OF: Julle was in 'n vreeslike motorongeluk, die twee voertuie
is afgeskryf, maar julle het nie 'n skrapie opgedoen nie en jy
wil dit aan iemand vertel. Vertel dit dan aan ons.

OF: Jy wil ophou rook en weet nie hoe nie, dan vra jy net.
Die beste, so vertel hulle my , is om nie te begin nie.

OF: Jy het 'n probleem en wil hê dat ons ouens wat hierdie
blad lees saam met jou moet bid, dan plaas jy jou gebedsversoek
hier.

OF: Jou erfgenaam soek werk. E-pos ons die besonderhede en
wie weet, miskien kan hy/sy gehelp word.

OF: Jou laaitie het die volgende vraag: As ses mense drie dae
aan 'n dam bou wat tien meter in deursnee is, hoeveel tande van
Lady Di is gestop, dan help ons jou graag op hierdie nuwe bladsy.
(Ons sal iemand afvaardig om haar tande te gaan tel.)

OF: Jy is 'n wewenaar en soek vrou. Jy weet iets soos "by die
opsitkers". Jy laat ons weet en voor jy kan sê: "Wie weet waar
willem wouter woon, willem wouter woon waar weste winde waai
ens." dan het ons vir jou 'n tannie wat haar voortande sal gee om
jou te ontmoet.

OF: Die spiedkop in julle dorp het 'n vreeslike simpel ding
aangevang, vertel ons daarvan. (Terloops, hier is 'n storie van een
van ons verkeers ouens. Sien ons nou die dag daar is drie
laerskoolkinders in die straat op hulle "rollerblades". Hulle kom
die straat afgeskaats. Die verkeersomie staan in die dwarsstraat.
Toe hulle om die hoek kom besef hulle die gevaar, maar te laat.
Hulle word voorgekeer en die leviete voorgelees. Die twee
seuntjies trek dadelik hulle skaatse uit en staan in vrees en
bewing voor die verteenwoordiger van die gereg. Die dogter,
seker so 12, staan die verkeersman met gekruisde arms uitdagend
en aanstaar. Hy beduie en swaai met die arms en raas en lawaai.
Toe hy vir 'n oomblik asem skep vra sy: "Is jy nou klaar?" en sy
draai om en skaats verder. Het jy al 'n sprakelose verkeersoom
gesien? )

Om die bal aan die rol te sit het ek die volgende vraag: Wanneer
begin die volgende eeu. Begin dit op 1 Januarie 2000 of begin
dit op 1 Januarie 2001. Stuur vir my 'n kort nota na
dm...@pixie.co.za met jou antwoord, maar jy moet darem nie net
'n datum verstrek nie, jy moet jou redes ook gee. Wanneer ons
die nuwe blad begin dan gaan ons al die menings daar plaas.

OF, OF, OF, OF, Het nog idees wat ons op so 'n blad kan doen,
dan laat weet jy ons.

Daar is een ding wat ons NIE op die blad gaan doen nie en dit
is mekaar aanvat oor die nuwe S.A. en wat dan sogenaamd verkeerd
gedoen is in die verlede nie. Ek is behoorlik ga.. askies keelvol daarvan.

Skryf asseblief 'n kort nota en sê wat jy so 'n bladsy sou noem
en sommer wat jy van die idee dink. Skryf aan: dm...@pixie.co.za

Gaan kuier by: http://www.pix.za/nakkie-die-nar

VOORSPOED IN 1997. NOG DRIE JAAR OF IS DIT VIER
JAAR DAN IS DIE EEU VERBY. MAG ELKEEN WAT HIERDIE
BLAD LEES 'N BOKS VOL GELD MAAK IN DIE NUWE JAAR
EN MAG DIE LIEWEN HEER JOU SEËN MET DIE BESTE VAN
SY SEËNINGE.

Groetnis,

Danie Martins

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Bladsye (1834): [ «    1564  1565  1566  1567  1568  1569  1570  1571  1572  1573  1574  1575  1576  1577  1578  1579    »]
Tyd nou: Ma. Jan. 26 06:20:20 UTC 2026