In vanoggend se “Globe and Mail” (‘n koerant wat
nasionaal in Kanada gelees word, maar joernalisties
duidelik ‘n weerspieëling is van Toronto se kultuur
en prioriteite) is die nuus van hulle winter-predikament
aan die onderkant van die voorbladsy, in nie baie
paragrawe nie. Daarteenoor basuin ons lokale “Ottawa
Citizen” met hoofbaniere uit “ Toronto on ice: Desperate
mayor calls military to dig out snowbound city.” Daar-
by is daar groot foto’s van die duisende passasiers wat
gister nie met die ondergrondse treine kon ry nie. As jy
tussen die reëls lees, kan jy jou eie gevolgtrekkings maak.
Die res van Kanada kry effens lekker dat dit Toronto is
wat deurloop. Dieselfde lekkerkry wanneer ons sommige
jare foto’s sien van mense in Vancouver wat met sneeu
oor Kersfees moet sukkel. Gewoonlik sien ons mos hoe
hulle affodille al hier teen Februarie uitkom.
‘n Noodtoestand was dit wel. Die “mass transit system”
wat daagliks omtrent 1.4 miljoen mense vervoer, het tot
stilstand gekom, deels oor die hoë sneeuval, deels omdat
ys dele van die treinspore buite aksie gelaat het. Baie van
die treine wat in die middestad ondergronds is, kom van
dele waar die treinspore bogronds is. Maar selfs die “Globe
en Mail” kon nie die versoeking weerstaan om bietjie tong
in die kies oor die toestand te praat nie: “The arrival of a
Canadian Forces military reconnaisance team and the sight
of thousands of chilled, stranded commuters wandering
through the snow like Napoleon’s troops returning from
Moscow completed the picture of a city besieged.”
Gelukkig het die burgemeester van Toronto vroeg genoeg
besef dat dinge verkeerd gaan en hulp by die Weermag gevra.
Die les is geleer verlede jaar toe die hulp van die soldate eers
twee of drie dae te laat aangevra is gedurende die ysstorm
in oostelike Ontario en westelike Quebec. Daarbenewens,
hoe groter ‘n stad is, hoe meer probleme ontwikkel as alles
nie volgens plan werk nie. Toronto, byvoorbeeld, omdat dit
meer suid is as meeste van Kanada en gewoonweg nie soveel
sneeu in die winter kry nie, is eenvoudig net nie in staat om
met ‘n groter as normale sneeuval te werk nie. Uit Winnipeg
het ‘n weervoorspeller ewe besadig laat weet: “Toronto, we
are sorry for you.” Maar ‘n mens weet waar sý tong ook is.
Hier in Ottawa is ons sneeubanke nie meer as twee voet
hoog nie, alles geval in die laaste drie weke. Maar dis baie
snerpend koud. Gisternag was ons offisiële temperatuur
- 29 C, en met winde van 40 k.p.u. was die “wind chill
factor” - 39 C. Daar word darem verwag dat hierdie koue
front binne ‘n dag of twee sal verbygaan.
Gelukkig gaan al die groot sneeustorms nog suid van ons
verby. Toronto word keer op keer getref omdat dit op die
noordelike periferie is van groot sneeustorms wat deur die
noordelike VSA trek, in plaas van meer noordelik gedurende
gewone jare. Dis glo alles La Nina se skuld.
Julle, meisietjies, stap so regop en skraal:
wit hempies, rooi rokke kortby die knieë;
julle dra die klein borste en weet dit skaars,
of dink nie daaraan nie; kyk nie eers om
as die bruingebrande seuns roep en fluit nie.
Julle stap so onder die bont platane
waaronder Sokrates die swaar gesprek
met 'n seun gevoer het. Nooit moet julle weet
hoe swaar vir die seuns gesprekke is nie.
Hulle kan nie so lig loop soos julle nie.
Twee duisend jaar gelede was julle,
elkeen wat mooi was - en die meeste is mooi -
saam met 'n bruin seun arena toe
met olywe en wyn, met kasies en wors
wat toegedraai was in vyeblare
- net teen die verveling en hongertetjie.
En dit is voor Christus oor hierdie kalkwêreld
van julle kom ween het;
voordat die koel en skaduweekloosters
uit grys klip wat trane kry, opgetrek is,
waar manne gaan skuil het teen julle en téén
die Son Onoorwinlik. Om daar die een Son,
die helder Een van die lewe te hê.
Vannag, en terwyl julle gefluister 't
vir die kêrel, gekreun, en die heer-, heer-, heer-
likheid van die oomblik gehad het, sonder
dat vader of moeder dit weet, het daar stil
in die kelder van die arena, op grond,
nóg 'n meisie gelê, wat die een, ander pad
gekies het as die wat al is wat julle, ooit,
toegelaat kan word om te weet. Sy's die poort
ingestoot, deur die gange gedrywe
tot by die gat
Soos julle kon sy gewees het. Maar die dag
wat gevolg het,
het sy uitgestap in die lig vir die leeus
en vir julle almal wat warm van son
olywe en wyn geniet 't. Julle borsies
die is geseën, julle stap, veral julle regopheid -
dié was geseën al lank voor julle hiér was,
deur een wat op aarde gestap het,
sê. God wou Sy vreugde hê by die aanteel
van siele. Hy het vir elkeen sy skoon bron
in die lendene en borste ingeskep.
'n kwaad gees sak uit 'n donker hemel
breek die denne flenters en trek bruisende sluise oop
mense hou op tuin natgooi
hardloop na hul telefone
vergeefs
kwaad wind
hou jy hande met die duiwel
of is jy 'n groot, sterk engel
ly jy aan dronkverdriet
kom jy kla by ons
oor stout kinders en ontroue lovers
in die boomryke heuwels bly net stompies oor
chaos waardeur stroompies nuwe paaie worstel
als is onvoorbereid verklaar
soos sodom en gomorra bewys hy
ons is maar net soutpilare
kwaad wind
hoekom haal jy jou hangups uit op ons
hou jy hande met die duiwel
of is jy 'n groot, sterk engel
kom sit hier met jou gesig in jou hande
vertel ons als
O wakker mars van name deur my gees
van stede, dorpe, plase - plekke waar ek eens gewees het,
waar ek verlang het om nog eendag te wees
toe ek as seun, verruk, onder die lamplig saans van hulle
gelees het...
Daar is 'n haltjie, Dwaal,
te midde van die vale
godverlore dor Karoo.
En Arequipa in Peru.
Granada is 'n sprokiestad in Andaloe.
Popocatepetl heet 'n berg se piek in Mexico.
Die laaste stasie voor my tuiste het die mooi Xhosanaam, Waku.
Terra del Fuego, Tristan da Cunha, Put-Sonder-Water,
Kilimandjaro en Ruitersbospas;
en die Brahmapoetra en Baardskeerdersbos....
O Aldarin! o name, o versugting!
Op Pelgrimsrus in die Transvaal
wil ek weer hoor hoe klink my taal
skoner, welluidender as Provencal.
......
Waar is die wonder en die ou geloof
wat ek eens had as kind by Bontebokskloof?
Is daar nog loekwartbome om te roof
in die skadu van Leeukop, by Tamboerskloof?
Wat het die vuur, die vlam gedoof?
Die sprakeloos verrukking en die lofsang wat loof?
......
Maar die hart ken sy verdriet
oral, in elk landgebied,
in Kaapstad sowel as in Madrid.
......
Vir diegene wat belangstel, daar is op die webblad van Johann
Niemoller te http://www.niemoller.co.za
`n aankondining van `n vergadering.
Groete
Frikkie