Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

Sjokolade-en-pofryshappies

So, 20 Mei 2018 09:02

SJOKOLADE-EN-POFRYSHAPIES

200 g kooksjokolade
1 blik (397 g) kondensmelk
100 g rice kripies (2 ½ k)
100 g grondboontjies (2/3 k)

Breek die kooksjokolade in stukkies en smelt dit oor baie lae hitte. Voeg die kondensmelk by. Verhit die mengsel oor matige hitte tot kookpunt en roer aanhoudend. Roerkook dit ongeveer 4 minute lank net totdat dit begin dik word. Voeg die rice kripies en grondboontjies by en meng vinnig. Skep lepels vol van die mengsel in papierkoekievorms (of op `n gesmeerde bakplaat). Laat dit afkoel.

Lewer 30 hopies.

Kos & resepte | 0 kommentare

Karamelsnytjies

So, 20 Mei 2018 09:01

KARAMELSNYTJIES

1 pak (200 g) marie-beskuitjies
1 blik (380 g) karamelkondensmelk
40 g klapper (1/2 k)

Smeer elke beskuitjie taamlik dik met die kondensmelk en druk dit aan mekaar vas om 'n rol te vorm (soos dit verpak was). Smeer die oorblywende kondensmelk buite-om die rol. Strooi die klapper op 'n groot stuk aluminiumfoelie en rol die rol daarin totdat dit rondom goed met klapper bedek is. Vou die rol in die alumiumfoelie toe en vries dit. Om op te dien: Sny die rol met `n skerp mes skuins in snytjies.

Lewer ongeveer 20 snytjies.

Kos & resepte | 0 kommentare

Sjokoladeroomtert

So, 20 Mei 2018 08:59

SJOKOLADEROOMTERT

150 g malvalekkers
250 ml melk (1 k)
1 plak (200 g) melksjokolade
¾ pak (150 g) tennis-beskuitjies
75 g botter of margarien (5 ½ e)
250 ml room of plaasvervanger vir room (1 k)

Verhit die malvalekkers en melk saam tot kookpunt en roer dit totdat die malvalekkers opgelos het. Hou drie blokkies van die melksjokolade eenkant. Voeg die res by die melkmengsel en roer dit tot opgelos. Laat die mengsel afkoel. Verkrummel die beskuitjies. Smelt die botter of margarien en meng dit daarmee. Druk dit styf vas teen die wand en op die boom van `n tertbak met `n inhoudsmaat van 1,5 liter (6 k). Klits die room tot styf. Vou dit by die sjokolademengsel in. Giet die mengsel in die kors. Rasper die sjokoladeblokkies wat eenkant gehou is, grof bo-oor. Verkil die tert tot styf.

Lewer 'n middelslag-tert.

Kos & resepte | 0 kommentare

Karamelmelktert

So, 20 Mei 2018 08:58

KARAMELMELKTERT

1 pak (200 g) marie-beskuitjies
125 g botter of margarien
90 g mielieblom (2/3 k)
1 liter melk (4 k)
2 ekstra groot eiers
1 blik (380g) karamel-kondensmelk

Verkrummel die beskuitjies. Smelt die botter of margarien. Meng 115 g (1/2 k) daarvan met die beskuitjiekrummels. Hou 15 ml (1 e) van die krummels eenkant. Druk die res styf vas teen die wand en op die boom van 'n tertbak met 'n volume van 2,5 liter (10 k). Maak die mielieblom klontvry aan met 125 ml (1/2 k) van die melk. Skei die eiers en klits die eiergele saam met die mielieblommengsel. Verhit die res van die melk en karamelkondensmelk saam tot kookpunt. (Klits dit indien die kondensmelk nie vanself heeltemal oplos nie). Roer die mielieblommengsel by en roerkook dit tot dik. Roer die oorblywende botter of margarien by. Klits die eierwitte tot styf, maar nie droog nie. Vou dit by die melkpap in. Giet die vulsel in die kors. Strooi die krummels wat eenkant gehou is, bo-oor. Verkil die tert tot styf.

Lewer 'n groot tert.

Kos & resepte | 0 kommentare

Piesangkarameltert

So, 20 Mei 2018 08:56

PIESANGKARAMELTERT

1 pak (200 g) tennis-beskuitjies
115 g botter of margarien (1/2 k)
3 piesangs
1 blik (380 g) karamel-kondensmelk
125 ml room (1/2 k)

Verhit die oond tot 180°C. Verkrummel die beskuitjies. Smelt die botter of margarien en meng dit daarmee. Druk dit styf vas teen die wand en op die boom van `n tertbak met `n volume van 1 liter (4 k). Skil die piesangs en sny dit skuins in lang skyfies. Pak die skyfies in die tertkors. Klop die karamelkondensmelk liggies en bedek die piesangskyfies daarmee. Bak die tert ongeveer 35 minute lank totdat die kondensmelk blasies vorm. Verkil die tert tot yskoud. Klits die room tot styf. Stapel dit op die karamellaag.

Lewer 'n middelslag-tert.

Kos & resepte | 0 kommentare

Hoendertert

So, 20 Mei 2018 08:54

HOENDERTERT

½ pak (100 g) kraakbeskuitjies (cream crackers)
250 g gaar hoendervleis
500 ml melk (2 k)
1 pakkie hoenderroomsop-poeier
100 g grof gerasperde cheddar-kaas (1 k)
3 eiers

Verhit die oond tot 180°C. Smeer 'n reghoekige, oondvaste tertbak met 'n volume van 1,5 liter (6 k). Bedek die boom en sye van die tertbak met kraakbeskuitjies en halveer die beskuitjies waar nodig. Verkrummel die beskuitjies wat oorbly en hou dit eenkant. Sny die hoendervleis fyn. Meng die melk en hoenderroomsoppoeier, verhit dit tot kookpunt en roer dit gedurig. Voeg die hoendervleis en kaas by en meng. Klits die eiers en roer dit by die vleismengsel. Giet dit in die tertbak. Strooi die beskuitjiekrummels bo-oor. Bak die tert ongeveer 45 minute lank totdat dit goudbruin en gaar is. Sit dit warm voor.

Lewer 6 porsies.

Kos & resepte | 0 kommentare

Hoender marinade

So, 20 Mei 2018 08:48

Hoender marinade

6 porsies
½ k slaaiolie
2 e worcestersous
½ k asyn
1 ½ t mosterd
1 t rooipeper
2 e gerasperde ui
3-5 knoffelhuisies fyn gerasper
3 e bruin suiker
sout

Meng en laat hoenderstukke oornag in sous lê.
Sout na smaak wanneer braai.

Kos & resepte | 0 kommentare

Hoendergereg

So, 20 Mei 2018 08:48

Hoendergereg

1 pakkie bruin uie sop
250ml kookwater
250ml bladjan
250ml mayonnaise

180 grade 30 min met foelie, 30 min sonder foelie.

Kos & resepte | 0 kommentare

Hawermputplaatkoekies

So, 20 Mei 2018 08:47

HAWEMOUTPLAATKOEKIES

240 g hawermout (3 k)
240 g bruismeel (3 k)
7 ml sout (1 ½ t)
2 eiers
875 ml melk (3 ½ k)
sonneblomolie vir vlak braai

Meng die hawermout, bruismeel en sout. Klits die eiers en voeg die melk by. Maak die hawermoutmengsel daarmee aan en meng dit goed. Laat die beslag n rukkie staan. Verhit oor matige hitte in n dikboom-braaipan net genoeg sonneblomolie om die boom van die pan kwistig te smeer. Skep eetlepels vol beslag n entjie uitmekaar in die pan. Bak die plaatkoekies totdat borreltjies bo-op vorm en dit aan die onderkant goudbruin is. Keer dit om en bak die ander kant ook tot goudbruin. Sit die plaatkoekies warm voor met botter en kaas, goue stroop of heuning.

Lewer ongeveer 50 plaatkoekies.

Kos & resepte | 0 kommentare

Groente Tert

So, 20 Mei 2018 08:45

GROENTE TERT

100 g rou skulpnoedels
125 g spekvleis in stukkies gesny
70 g bevrore gemengde groente
½ kop pitmielies
swartpeper
500 ml melk
3 ml droë basielkruid
1 pakkie (60 g) uiesoppoeier
5 ml franse mostert
30 ml suurlemoensap
125 ml gerasperde cheddar kaas
3 eiers, geskei

Voorverhit oond tot 180 °C.
Kook die noedels in vinnig kokende soutwater tot net sag. Dreineer.
Braai die spekvleis tot gaar.
Maak die groente gaar: Plaas sommer in 'n glasbak en bedek met Glad Wrap , prik die plastiek met 'n vurk en mikrogolf vir 8 9 minute. Skud die groente 'n paar maal tydens die gaarmaakproses. (Groente hoef nie eers ontvries te word nie)

Gooi gaar groente, pitmielies en noedels in 'n bak, ('n oval pirex bak is net groot genoeg). Geur na smaak met swartpeper.

Meng 'n bietjie van die melk met die uiesoppoeier tot 'n gladde pasta. Verhit die res van die melk saam met die basielkruid 2 minute lank in mikrogolfoond. Voeg by uiesoppasta en meng goed. Mikrogolf sowat 5 minute lank tot die sous kook en verdik. Geur die sous met die franse mostert en suurlemoensap. Voeg ook cheddar kaas by en meng goed. Laat effens afkoel. Klits eiergele effens en meng by die uiesopmengsel. Klits die eierwitte tot dit sagte punte vorm en vou met 'n metaallepel by die uiesopmengsel in.
Giet twee derdes van die sous oor die groente en meng liggies. Sprinkel spekvleis oor en giet die res van die sous oor.
Bak sowat 30 minute of tot die bokors goudbruin en uitgepof is.
Dien dadelik op. Hierdie is heerlik saam met braaivleis of kan ook as 'n ligte maal bedien word.

Kos & resepte | 0 kommentare

Bladsye (1842): [ «    1741  1742  1743  1744  1745  1746  1747  1748  1749  1750  1751  1752  1753  1754  1755  1756    »]
Tyd nou: Sa Mei 18 03:15:39 MGT 2024