Twee mans wat ’n motoris koelbloedig langs die pad doodgeskiet en hom
van sy bakkie beroof het, moet lewenslank tronk toe gaan omdat hul
dade “barbaars was en geen straf daarvoor kan vergoed nie”.
So het adv. Sifiso Khumalo, vir die staat, gister in die hooggeregshof
in Johannesburg betoog.
Thabiso Moseme (32) het mnr. Johan Griesel op 16 Augustus 2008
doodgeskiet terwyl hy en Jabu Sambo (26) hom op die N12-snelweg van sy
Ford Bantam-bakkie beroof het.
Albei is skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede
en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.
Hulle word op 7 Mei gevonnis. “Hulle verdien geen genade nie omdat
hulle nie berou oor hul dade het nie. Daar was geen rede hoekom hulle
hom moes vermoor nie,” het Khumalo gister gesê.
Maatskaplike werkers het getuig Moseme en Sambo ontken steeds hulle
het die misdade gepleeg.
Griesel het sy bakkie die aand van sy dood op die N12-snelweg naby
Eldoradopark geparkeer toe hy van Bryanston in Johannesburg na
Potchefstroom onderweg was.
Moseme het Griesel uit die voertuig getrek en in die bolyf geskiet.
Hy en sy makker is toe vort terwyl hulle Griesel langs die pad laat lê
het. Sy lyk is die volgende oggend gevind.
Me. Jessica Payne, ’n maatskaplike werker, het getuig dis vreemd dat
Moseme so ’n ernstige misdaad gepleeg het omdat hy toe geen
misdaadrekord gehad het nie.
Hy is goed opgevoed, het ’n werk gehad en nie gebrek gely nie. Payne
meen dat hy dalk in die toekoms, terwyl hy sy tronkstraf uitdien,
gerehabiliteer kan word.
“Nou toon hy egter geen insig in wat hy gedoen het nie. Elkeen van die
aanklagte waaraan hy skuldig bevind is, wys hy is ’n gevaar vir die
samelewing.
Dis ernstige misdade en die gemeenskap kyk in sulke gevalle op na die
howe om swaar strawwe op te lê.”
Me. Yvonne Ndlovu, die ander maatskaplike werker, het gesê Sambo het
’n kort humeur, is aggressief en dat selfs sy ma tevore ’n klag van
eiendomsbeskadiging teen hom ingedien het.
Albei maatskaplike werkers het direkte tronkstraf vir albei oortreders
aanbeveel.
Eis teen minister misluk nadat sakeman in polisiesel aangerand is
2010-04-23 21:41
Jeanne-Marié Versluis
’n Sakeman van Komatipoort wat ernstig deur mede-aangehoudenes in ’n
polisiesel aangerand is, se skadevergoedingseis van R500 000 teen die
minister van veiligheid en sekuriteit het misluk.
Mnr. Theunis Christoffel Botha van die plaas Lebombo by Komatipoort
het dié eis ingestel nadat die polisie hom in Augustus 2004 op aanklag
van aanranding gearresteer en by die Komatipoort-polisiekantoor
aangehou het.
Botha meen dié optrede van die polisie was onregmatig.
Waarnemende regter P.M. Mabuse het in die hooggeregshof in Pretoria
bevind die arrestasie en aanhouding was regmatig.
Hy het in sy uitspraak gesê almal stem saam dat Botha die aand van 12
Augustus 2004 in sel 7 by dié polisiekantoor aangehou is, dat ander
aangehoudenes hom daar ernstig met sy eie skoen aangerand het en dat
hy beseer is.
Botha het in hofstukke gesê daar was 27 mense saam met hom in die sel,
“van wie net twee wit was”.
Mede-aangehoudenes het hom gedwing om sy klere uit te trek. Van hulle
het sy arms en bene styf vasgehou, terwyl ander hom 250 keer
beurtelings sowat ’n halfuur lank met sy skoen op sy boude geslaan
het.
Hy was half bewusteloos, het Botha gesê.
Mabuse het in die uitspraak gesê terwyl die verweerder moet kan bewys
die arrestasie was regmatig, moet die eiser (Botha) kan bewys hy is
doelbewus of opsetlik in dié spesifieke sel gesit sodat hy aangerand
kon word.
“Die eiser is daar ingesit waar volwasse mans gehou is omdat daar geen
ander sel was waarin hy aangehou kon word nie.”
Mabuse het bevind Botha kon nie bewys dat hy doelbewus in dié sel
gesit is om aangerand te word nie. Botha kon nie bewys dat die polisie
die aanranding op hom deur mede-aangehoudenes “georkestreer” het nie.
Mabuse het ook bevind Botha se bewering dat hy nie toilet toe kon gaan
nie, “lyk twyfelagtig”.
Hy het bevind Botha se getuienis is deurspek met onwaarskynlikhede en
onversoenbaarhede.
Hoewel Botha dit ontken, is dit duidelik hy wou spesiale behandeling
hê toe hy gearresteer is omdat hy bekend is aan die polisie in die
omgewing, het Mabuse gesê.
“Toe hy nie dié behandeling kry nie, het hy sy arrestasie as
onregmatig bestempel.”
Mabuse het gesê Botha het mnr. Raymond Nkuna destyds aangerand.
Botha is later skuldig bevind aan aanranding en tot ’n R10 000-boete
of drie maande tronkstraf gevonnis.
Evander. – ’n Bejaarde ouerpaar het hul derde en laaste kind aan ’n
onnatuurlike dood afgestaan toe hy langs hul dubbelbed vermoor is.
Hy was só lief vir sy ouers dat hy sy lewe gegee het om sy ma te
beskerm, het past. Hennie Oosthuyse gister mnr. Jannie en mev. Marie
Strydom, mnr. Paul Strydom (52) se ouers, getroos.
Hulle het gesien hoe rowers hul enigste oorlewende kind vroeër die
oggend langs hul dubbelbed doodskiet.
Die egpaar se oudste kind, Chris, is in 1976 op 20-jarige ouderdom in
’n motorfietsongeluk dood en hul jongste, Johan, het vier jaar gelede,
toe hy 46 was, selfmoord gepleeg.
Paulla, soos almal op die dorp die Strydoms se seun geken het, was ’n
alleenloper en het saam met sy ouers in ’n beskeie huisie in
Münchenstraat gewoon.
Mnr. Strydom sr. het omstreeks 02:00 gister wakker geskrik toe die lig
in die hoofslaapkamer aangeskakel is.
“Vier jong gewapende mans het die kamer ingestorm. Hulle het my op my
maag gedwing en het probeer om my hande agter my rug vas te bind,” het
hy vertel.
’n Rower het Strydom jr. in sy kamer gaan haal en na sy ouers se
slaapkamer gedwing waar hy beveel is om op die grond langs die bed,
aan die kant waar sy ma nog gelê het, plat te lê.
“Hulle skree toe: ‘Where is your daughters?’?” het ’n erg geskokte
mev. Strydom gister vertel.
“Toe ek vir hulle vertel dat ons net vir Paulla het, het die een my
aan my enkel gegryp en my van die bed probeer aftrek. Ek was seker hy
wou my verkrag.”
Strydom jr. het sy lyf opgelig om sy ma te help, maar is summier in
die bors geskiet.
Volgens sy ouers het die koeël hom in die hart getref.
“Hy het net gesug en toe is hy dood,” het sy pa huilend vertel.
Die moordenaars het vermoedelik geskrik en het net mev. Stry-dom se
selfoon gesteel voordat hulle gevlug het.
“Ai, ek weet nie ... ek weet net nie,” het sy gisteroggend kort-kort
geprewel. “As hulle geld wou gehad het, sou ek dit vir hulle gegee
het.
“Paulla was só lief vir ons. Hy het gereeld geskenkies vir my
aangedra. Net nou die dag het hy hierdie lappop vir my gegee,” het sy
vertel terwyl sy die sagte speelding vasgehou het.
“Hoe oorleef mens so iets? Dit is my derde en laaste kind wat nou dood
is.”
Volgens ’n paar van Strydom se vriende wat gister by die huis opgedaag
het, sal hulle dié ketelmaker van die Harmony-myn vir sy
goedhartigheid onthou.
“Paulla was veral lief vir drie goed: sy ouers, sy kat Mei-Mei en sy
Nissan-bakkie.”
Bel ao. Wayne Klasen van die Evander-speurtak met inligting by 083 701
8082.
Polisiebeamptes gister by die huis waar ’n baba en haar oppasser in
Johannesburg erg deur rowers aangerand is.Foto: Lauren Mulligan
2010-04-22 21:55
André Damons en Magdel Fourie
’n Jaar oue baba veg om haar lewe nadat rowers haar en haar oppasser
so erg in haar ouerhuis in Robindale, Randburg, aangerand het dat sy
opgehou asemhaal het.
Die aanvallers het die oppasser, in haar 30’s, na bewering in die
voorhuis van die huis in Rooseveltstraat oorval.
Hulle het haar erg aangerand voordat hulle die baba, Marizaan Kruger,
ook getakel het.
Beeld het verneem die meisietjie het veelvuldige skedelbreuke
opgedoen.
Volgens me. Vanessa Jackson, ER24-woordvoerder, het die vrou verskeie
oop wonde aan die kop gehad en die baba talle wonde oor die lyf.
“Die vrou en die baba het verskriklik baie gebloei. Die vrou het bloed
aan die kop, arms en hande gehad, maar die baba was meer kritiek,” het
sy gesê.
Hulle was alleen tuis toe die mans toegeslaan het.
Me. Madelein Kruger, die baba se ma, het die grusame ontdekking gemaak
toe sy omstreeks 13:00 van die werk af tuisgekom het.
Toe sy die deur oopmaak, het sy net bloed gesien en die huiswerker
vasgebind gekry. Sy was bewusteloos.
Dit is nie bekend waar in die huis die baba was nie.
Volgens lt.kol. Eugene Opperman, polisiewoordvoerder, is dit onbekend
hoeveel aanvallers daar was en hoe hulle toegang tot die huis verkry
het.
Hy kon ook nie sê waarmee hulle aangerand is nie.
Me. Olga Rossouw, wat oorkant die Kruger-gesin woon, het aan Beeld
vertel Kruger het kort ná 13:00 by háár huis ingehardloop met die
bebloede, pap babatjie in haar arms.
“Ollie, Ollie, wat moet ek doén,” het sy huilend aan Rossouw
geskreeu.
Die kind het nie asemgehaal nie en sy het ’n groot wond bokant die
regteroog gehad.
Rossouw het die noodknoppie gedruk wat aan Piranha Security, ’n
plaaslike veiligheidsmaatskappy, verbind is.
Enkele minute later het hul nooddienswerkers op die toneel aangekom en
onmiddellik die baba geresussiteer, het sy vertel.
Mnr. Allan Stott, besturende direkteur van Piranha Security, het gesê
nadat die baba weer begin asemhaal het, het hulle haar in ’n
noodvoertuig gelaai en na die hospitaal gehaas.
“Op pad soontoe het sy twee keer opgehou asemhaal en moes hulle haar
telkens weer resussiteer,” het Rossouw vertel.
“Wie sal so iets doen aan ’n klein, weerlose ou babatjie?”
ER24 het die oppasser daarna na ’n ander hospitaal geneem vir
behandeling. Haar identiteit kon teen druktyd nie vasgestel word nie.
Opperman het die aanvallers as “lafaards” uitgekryt.
“Net lafaards val vroue en eenjarige babas aan. Dis hoekom ons alles
gaan omkrap wat omgekrap moet word om dié lafaards te kry,” het
Opperman gesê.
Beeld het verneem me. Kruger is so erg geskok dat sy nie met die
polisie kon praat nie. Sy is later ook hospitaal toe.
Sover bekend, word slegs ’n skootrekenaar en modem uit die huis
vermis.
’n Swaar gewonde boer van Onderberg in die Laeveld in Mpumalanga het
eergisternag met sy bakkie deur ’n baksteenmuur gejaag om van ’n groep
aanvallers af weg te kom nadat hulle hom gewond het.
Mnr. Boeta Basson (26), wat op hul familieplaas Inyoni op die
Strydomblokpad naby Hectorspruit boer, was omstreeks 21:30 op pad na
sy plaashuis.
Hy het pas deur die hek gery toe hy beweging agter hom sien, het sy
pa, mnr. Gerhard Basson, vertel.
Basson jr. was in daardie stadium besig om op sy selfoon met sy
verloofde, me. Malenke Furstenburg van Komatipoort, te praat.
Hy was op pad van haar huis af plaas toe, toe hy aangeval is. Die twee
het vroeër die dag foto’s vir hul verlowing op die plaas laat neem.
“Toe hy deur die hek ry, het hy ’n beweging langs sy bakkie gesien.
Die volgende oomblik het twee aanvallers sonder ’n woord op hom
losgebrand.
Ses skote het die bakkie se deur getref. Een van die koeëls het deur
die bakwerk geskeur en hom in die regterbors getref.
“Hy het net ’n warm gevoel in die bors gekry, maar aanvanklik nie
besef hy is raak geskiet nie,” het Basson sr. gesê.
Die impak waarmee sy seun deur die muur gejaag het, het die bakkie tot
stilstand gedwing.
Hy het uitgespring en sowat 1,6?km deur ’n piesangplantasie na ’n
kampong gehardloop.
Hier het werkers hom met ’n kombers toegedraai en ’n selfoon vir hom
geleen.
“Hulle het ook vir hom gebid,” het Basson sr. vertel.
Kort nadat die eerste skote geklap het, het Basson jr. se broer, Eben
– wat reg langs hom woon – hul pa gebel.
“Hulle skiet vir Boeta,” het hy geskreeu.
“My hart het omtrent gaan staan! Ek het regtig die ergste verwag,” het
Basson sr. gesê.
Minute later het Basson jr. hom gebel om te sê hy is gewond.
Mnr. Phillip van der Merwe, ’n buurman, het Basson jr. by die kampong
opgelaai en met hom na ’n dokter in Komatipoort gejaag. Hiervandaan is
hy per ambulans na die Nelspruit Medi-Clinic oorgeplaas.
Daar is vasgestel die koeëlpunt het sy regterlong skrams getref en 2
cm van sy hart tot stilstand gekom.
“Daar was beslis ’n Hoër Hand wat na hom gekyk het,” het Basson sr.
gesê.
Me. Robyn Baard, woordvoerder van die hospitaal, het gesê daar is
besluit om nie nou al op Basson jr. te opereer nie.
“Die koeëlpunt hou tans geen gevaar vir hom in nie en daar sal eers
later besluit word of dit verwyder gaan word.”
Die polisie het ná die aanval minstens agt 9 mm-koeëldoppies by die
plaashek opgetel.
Kapt. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het gesê die aanvallers het
gevlug en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
’n Plaaswerker het na bewering ’n vrou op ’n plaas in die Reddersburg-
distrik probeer doodskiet nadat sy hom daarvan beskuldig het dat hy
drentel.
Me. Heilie Labuschagne (38) van die plaas Erasmusfontein het
wonderbaarlik ongedeerd van die aanval afgekom.
Lt.kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê Labuschagne het
gisteroggend gereed gemaak om na Bloemfontein te vertrek.
Sy het haar handsak, waarin ’n .22-pistool was, in die Ford Ranger-
bakkie, asook die voertuig se sleutel in die aansluiter gelos, terwyl
sy gou iets in die huis gaan haal het.
Sy wou die agterdeur sluit toe ’n 18-jarige werknemer haar terug in
die huis gestoot het.
Hy het haar na bewering twee keer probeer skiet met die pistool wat hy
vermoedelik uit die bakkie gesteel het. Nie een skoot het egter
afgegaan nie.
’n Ander werknemer het gesien wat gebeur en Labuschagne gaan help. Die
jong man het na bewering toe ’n skoot op sy kollega afgevuur, maar hom
gemis.
Hy het uit die huis gehardloop en in die bakkie gevlug.
Die polisie is oor die aanval ingelig en het naburige boere ontbied.
Hulle is gevra om by alle uitgangsroetes wag te hou.
Sowat 10km van die plaas het ’n boer die vermeende aanvaller
vasgetrek. Die vuurwapen is in sy besit gevind.
Die jong man is in hegtenis geneem en sal vandag in die Reddersburg-
landdroshof op aanklagte van poging tot moord, asook diefstal van ’n
voertuig en vuurwapen en ammunisie verskyn.
Mbambo sê in die ondersoek is gevind dat die verdagte sy werkgewer
vermoedelik probeer skiet het omdat sy hom vroeër gekonfronteer het
omdat hy drentel en nie werk nie. Die man het vier maande lank op die
plaas gewerk.
Hy praat met haar en is seker dat sy hom hoor. “Maar mense, moet
asseblief net nie ophou om vir my vrou te bid nie.”
So het mnr. Jurie Steenberg (47) gister gepleit vir sy vrou, Suna
(43), wat Vrydag by hul huis op ’n hoewe in Kameelfontein, noordoos
van Pretoria, deur misdadigers in die kop geskiet is.
Sedert Steenberg op sy vrou afgekom het nadat sy geskiet is, waak hy
langs haar bed in die hoësorgeenheid van die Montana-hospitaal. Hy
gaan net huis toe om te bad en skoon aan te trek.
Volgens Steenberg is sy vrou se toestand bedenklik, maar stabiel. Al
is sy in ’n koma, haal sy op haar eie asem en haar hartklop en
bloeddruk is stabiel.
Oor die voorval kan Steenberg nie veel sê nie omdat hy nie tuis was
toe dit gebeur het nie.
Al wat hy weet, is dat daar baie skote was en op ’n kort afstand op sy
vrou geskiet is. Daarby moes die misdadigers mev. Steenberg ook erg
aangerand het, want benewens die beserings aan haar gesig is een van
haar voortande ook gebreek. Sy is in die kop, hand en been geskiet.
Niks is geroof nie.
Steenberg was eerste op die toneel nadat mev. Poppie Steenberg (75),
sy ma, om hulp geroep het.
Steenberg het die Kameeldrift-polisiekantoor, die Advanced Paramedic
Assist-nooddienste, lede van die Gebiedsbeskermingsaksie (GBA) in
Leeuwfontein, die res van die inwoners van die Kameeldrift-wyk en die
personeel van die Montana-hospitaal spesiaal bedank.
Polisielede het gister glo toegekyk terwyl taxi-eienaars ’n motoris na
bewering geskop en geslaan het.
Oomblikke vantevore het ’n polisieman mnr. Henry Burt (57) se
vuurwapen afgeneem. Dié het hy uitgehaal toe “’n skare taxi-eienaars”
op hom toegesak het.
Burt, wat op ’n wildplaas bly, het gisteroggend op die Moloto-pad na
sy werkplek in Pretoria gery. Buite
Wagensdrift het hy hom vasgery in taxi’s en polisievoertuie wat die
pad versper het.
Burt het aan ’n polisiebeampte gesê hy wil na ’n nabygeleë vulstasie
gaan. Hy is deurgelaat. Hy het net ’n paar meter gery “toe was daar
absolute chaos”.
“Die skare het begin om my te stenig. Omtrent 20 mense het my met
klippe gegooi en my bakkie se voorkant getref. Soos ek verder gery
het, het iemand my met ’n piksteel deur my oop venster geslaan. Ek het
na my passasierskant toe gekoes. ’n Entjie verder het iemand my met ’n
baksteen gegooi.”
Burt het stilgehou en uitgeklim om na die skade aan sy voertuig te
kyk. “Soos mal buffels het hulle met pangas en knuppels op my
toegesak. Ek het my vuurwapen uitgehaal, want ek het geweet hier kom
moeilikheid. ’n Polisieman het gekom en my vuurwapen gevat. Die skare
het my omring en ek is toe van alle kante af gefoeter.”
Volgens Burt het die polisie toegekyk terwyl hy aangerand is.
Hy het gesê die skare het sy bakkie se bande afgeblaas. Ná die voorval
het die polisie hom gehelp om sy bure te kontak dat hulle vir hom
noodwiele kon bring. “Ek was net op pad werk toe. Die polisie beskerm
hierdie taxibestuurders wat moles gemaak het. Hulle het my weerhou om
te gaan werk.”
Die polisie het Burt se vuurwapen later aan hom teruggegee.
Burt het ’n klag van aanranding by die Cullinan-polisiekantoor
ingedien.
deur Tersia Murray van Northriding
2010-04-21 22:06
Ek reageer op die berig “Huis met ma, kinders in aan brand
gesteek” (Beeld, 20 April).
Dis met groot kommer dat ek hierdie soort berigte lees. Dit voel vir
my asof Suid-Afrikaners in ’n volskaalse oorlog betrokke is.
Waar kry die misdadigers al hierdie wapens en ammunisie? En waarom
onskuldiges so wreed aanval?
Elke dag lees ek van moord en doodslag, maar dis asof dit daarna net
oorwaai.
Almal sidder as hulle dit lees, maar dis asof ons almal al gewoond is
aan al die misdaad.
Daar is stories wat my deur die jare bygebly het, soos Janine Drennen
wat verkrag en daarna saam met haar baba doodgeskiet is.
Dit was haar baba se eerste verjaardag. Ek was swanger met my tweede
kind toe die storie in die koerante was en ek kan onthou dat ek dae
aaneen net aardig gevoel het.
Hoe skiet ’n mens ’n eenjarige baba koelbloedig dood? Ek sou graag wou
weet hoe gaan dit met haar verloofde wat op dieselfde dag sy ma,
verloofde en babadogter verloor het.
Hoe staan mens soggens op met die wete dat jy die drie mense vir wie
jy die liefste is op so ’n wyse verloor het?
Ek wonder ook soms hoe dit met die tannie gaan wie se vingers met ’n
snoeiskêr afgesny is.
Ek kan onthou hoe ek geril het toe ek gelees het dat sy die hele nag
in die badkamer geskuil het terwyl die booswigte langs haar sterwende
man gelê en TV kyk het.
Nog iemand oor wie ek wonder, is Razelle Botha, die belowende jong
Waterkloof-leerling op wie ’n pistool leeggeskiet is.
Het sy toe haar studie in Kanada voortgesit soos beplan? Kon sy en
haar pa ’n nuwe lewe bou ná die trauma wat hulle ervaar het?
Ek wonder ook hoe dit met die paramedikus gaan wat ’n brandslagoffer
wou help, maar wreed deur boosdoeners verkrag is.
Dis so ’n afskuwelike daad. Hoe moet hierdie vrou nou weer haar
roeping uitleef?
Ek wonder ook soms of Hettie Brittz nog oukei is.
Aan mense wat op plase bly, wil ek sterkte toewens, want dis asof
hulle in die voorste linies van die Suid-Afrikaanse oorlog veg.
Nelson Mandela is 'n MI6-agent wat Britse intelligensiebeamptes gehelp
het met optrede teen die Libiese Muammar Ghadaffi se wapenprogramme,
sy hanteerders van besonderhede oor wapens vir Ulster-terroriste
voorsien het en toegelaat het dat Britse spioenasienetwerke op Suid-
Afrikaanse grondgebied gevestig word.
Bewerings van Mandela se werwing deur die Britse geheimediens is
openbaar gemaak in die boek, MI6: Vyftig jaar van spesiale operasies,
deur die bekende inligtingskenner Stephen Dorril. Die boek het in 2000
verskyn.
'n Klopjag is destyds op die Londense uitgewery uitgevoer en
rekenaartoerusting is in beslag geneem, maar die uitgewery Fourth
Estate het nietemin voortgegaan om die boek te laat druk.
Britse intelligensie was glo woedend dat hulle versuim het om toegang
te verkry tot die inhoud van Dorril se boek wat Mandela, 'n
Nobelpryswenner vir Vrede, ontmasker het. Daar word vermoed dat
Mandela se werwing deels gemotiveer was deur sy openlike anti-
kommunisme. In ruil het MI6 inligting oor moontlike sluipmoordaanslae
op sy lewe aangebied .
Dorril sê senior agente van MI6 het hom oor Mandela se werwing deur
die geheime intelligensiediens, ingelig.
Bronne binne die Foreign Office en die geheimediens het gesê Dorril se
stelling "is heeltemal geloofwaardig". Die Foreign Office het trouens
nog niks gedoen om die bewering dat Mandela vir MI6 gewerk het, te
ontken nie.
Daar was ook nooit ontkennings of dreigemente van regstappe teen die
boek, van Nelson Mandela se kantoor in Johannesburg, Suid-Afrika of sy
Londense prokureurs nie.
'n Deel van die Dorril se boek, oor die aktiwiteite van MI6 in Afrika,
lui soos volg: "Nog 'n MI6-vangs was ANC-leier Nelson Mandela. Of
Mandela gewerf is in Londen voordat hy in die tronk in Suid-Afrika
was, is nie duidelik nie, maar daar word vertel dat hy op 'n onlangse
besoek aan Londen 'n geheime besoek aan MI6 se opleidingsafdeling
gebring het om die diens te bedank vir sy hulp om twee
sluipmoordpogings teen hom kort nadat hy president geword het, te
fnuik."
Dorril sê die beplande sluipmoordpogings verwys waarskynlik na een
deur 'n faksie van die ANC, wat bitter gekant was teen Mandela se
suksesvolle manoeuvres teen die Kommunistiese Party. Die ander poging
was glo deur 'n vleuel van die apartheidsregering se militêre diens.
Dorril, 'n skrywer oor intelligensie-aangeleenthede en 'n dosent aan
die Universiteit Huddersfield, beweer Mandela is deur MI6 vanweë sy
vriendskap met Muammar Ghadaffi gebruik.
Sowel die Britse as die Amerikaanse regerings was gretig om
verhoudings te bou met Libië om die land se ryk olievelde te ontgin.
"Mandela was die sleutel om Libië van 'n terreurstaat na die Weste se
siening te bekeer," het Dorril aan die Sunday Herald gesê. "Die
resultaat van sy optrede was 'n groot ekonomiese hupstoot vir Westerse
ekonomieë."
Hy sê ook die sielkundige oorlogvoeringsafdeling van MI6, of IOPS -
wat verantwoordelik is vir propaganda - het gehelp om die
internasionale mening te rig sodat Mandela Gadaffi kan besoek sonder
om die Weste openlik in die skande te steek.
Dorril het bygevoeg: "Mandela het MI6 gehelp met inligting oor Libië
se geld en wapens aan die IRL, en die stuur van wapens na lojalistiese
terroriste in Ulster vanaf apartheid Suid-Afrika." Dorril beweer
Mandela het sy MI6-hanteerders oor Libië se pogings om 'n chemiese en
biologiese oorlogvoeringsvermoë te ontwikkel ingelig asook oor Suid-
Afrika se eie geheime kernarsenaal.
Dorril sê in sy boek dat Brittanje nie aangedring het op 'n volle
openbaarmaking van Suid-Afrika se biologiese wapenprogram nie. Mandela
het ook glo gehelp keer dat Suid-Afrikaanse wetenskaplikes gewerf word
vir Libië se bio-wapenprogram.
Een van die grootste oorsese MI6-stasies is in Suid-Afrika. Dit was 'n
belangrike spioenasiesentrum gedurende die Koue Oorlog toe Rusland en
Amerika vir invloed in Angola, Mosambiek en die naburige lande in
hulle invloedsfeer gestoei het. Suid-Afrika is ook die sleutel tot
Brittanje se ekonomiese welvaart as gevolg van sy natuurlike uraan,
goud- en platinumneerslae.
Dit is onduidelik presies wanneer Mandela gewerf is. Albei Neil
Harold, uit Mandela se persoonlike kantoor, en Mandela se Londense
prokureur, Iqbal Meer, van Meer Care Desai, was stomgeslaan toe die
bewerings aan die lig kom.
Dorril sê sy boek is nie skadelik vir Mandela se reputasie nie. "Daar
is niks wat lasterlik is omtrent werwing vir MI6 nie," het hy gesê.
'n Amptenaar van die Foreign Office het gesê hy kan nie kommentaar
lewer op die beweringe nie, maar nie-amptelik het senior Foreign
Office-bronne bevestig dat Dorril se beweringe geloofwaardig is.
Buitelandse ontleders en Afrika-kundiges meen ook dat Mandela se
werwing vir MI6 nie net geloofwaardig is nie, maar ook 'n seismiese
internasionale skuif verteenwoordig.
'n Deskundige oor Suider-Afrika het gesê: "Sy lewe en geskiedenis toon
hoe hy aantreklik sou wees vir MI6 en MI6 vir hom aantreklik. Mandela
is diep anti-kommunisties. As 'n jong man het hy Kommunistiese Party-
vergaderings met sy vuiste ontwrig. Later in sy lewe hy het tot die
besef gekom dat hy elke bondgenoot wat hy kan kry teen apartheid nodig
het en weens pragmatiese redes besluit om in die bed met die
Kommuniste te eindig.
( http://www.praag.co.za/nuus-magazine-402/suider-afrika-magaz ine-400/7813-mandela-was-n-mi6-agent.html
)