Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

" selfs die son " deur PIETER SMIT

Di., 23 September 2003 23:34

Pieter Smit

selfs die son

jy praat van trek na griekeland
maar my oë
sien reeds hoe eensaam
staan die suikerbos
teen die berg se suidekant
o hierdie land sal ons swaar verlaat
elke oggend
strek net 'n dagreis voor ons uit
al droog die dae
net perskes by bethulie
weg van mense in die son
hierdie land gaan ons swaar verlaat
hierdie land wat konsertina speel
met eensaamheid
hierdie land wat wals met hartseer
as jou voete nie vat aan sy grond nie
hierdie land sal ons swaar verlaat

ja selfs die son keer terug
en hierdie grond weet reeds
hoe klop die tuisblykierie op sy rug

Prosa & poësie | 0 kommentare

Boksburg in my modem

Di., 23 September 2003 21:04

Jeanneg

Ontugwet

Dan kom pa saans dronk huis toe
en slaan vir Lammie, ma en my.
Ek was naderhand skoon gebreklik
in die regterbeen meneer,
nou nog effens: Kyk maar as ek stap.

Toe's ma dood en ek is Goudstad toe
om werk te soek en dak
maar geld was skaars
en niemand wou my storie glo:
ek meen nou van my pa.

Maar die Heer was goed vir my,
baie goed meneer,
En Kaatjie neem my toe
agter sy eie toonbank in
...Kaatjie...

Nee, sy hart, die was van goud
al is hy dan nou Slams.

Nou nog meneer, na al die jare nog,
sorg hy spic-en-span vir my.
Ek meen, Bobbie, dis nou die oudste,
is ookal negentien
en ek, die had nog nooit gebrek.

Soos ek nou se meneer,
Die Here was goed vir my.
Ek meen, se nou maar net
jeretjie, meneer,
se nou net ek het
a witman
slegman
soos my pa gekry?

--Sestiger, Jaargang 1 No. 4, Augustus 1964

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Giggeltjie

Di., 23 September 2003 14:55

Ek soek vir al die woorde van Al Debbo se Wie is nou bang vir die spook - ek
dink ek ken dit, maar is nie seker of ek al die versies ken nie, so wil net
doodseker maak.
Nietemin - ek tik toe op 'n soekenjin in: Wie is nou bang vir die spook, en
ek word verwys na 'n preek: Niks is Onmoontlik nie.
:))))
Annette

Koeitjies & kalfies | 0 kommentare

Kubuskoning nou Kibusprins

Di., 23 September 2003 12:53

Adriaan Niewoudt, gewese kubuskoning, het 'n nuwe blink plan om die volk ryk
te maak.
Met meer plooie, bril, ander tande en sy paadjie aan die oorkant, nooi hy
mense uit vir 'n adminfooi van R50 om aandelesertifikate te bekom in die
suiwerste koalienneerslag ter wêreld, wat heel toevallig op sy plaas is.
Met die grondstof en die geld van al die aandeehouers wil hy
satelietwerkswinkels stig, sodat die werkers vanuit hul huis tot die
produksieproses kan bydra, en nie elke dag ure en rande spandeer om by die
werk te kom nie.

Annette

Koeitjies & kalfies | 6 kommentare

'local is lekker'

Di., 23 September 2003 11:08

Microsoft learning that 'local is lekker'
Are you tired of your computer screen glowing with underlined documents
because your Microsoft spellchecker has rejected typical South African words
like "stoep" and "braai"? Well, take comfort in the fact that you'll soon be
able to type away in Afrikaans and Zulu with nary a red line in sight. Full
Story...
www.iol.co.za/index.php?newslett=1&click_id=79&art_i d=vn20030923093444882C30
3181&set_id=1

:-)

TJ

Koeitjies & kalfies | 1 kommentaar

Multikulturalisme, die nuwe Stalinisme?

Di., 23 September 2003 11:00

Elders op 'n webwerf verskyn daar 'n artikel oor 'n verslag wat so pas
uitgereik is in Frankryk oor die spontane segregasie wat daar plaasvind in
skole rondom die stad Bordeaux. Wat egter vir Bordeaux geld, geld regoor
Frankryk en die res van Wes-Europa. Die instroming van immigrante uit Noord-
en Wes-Afrika veroorsaak 'n Europese apartheid en segregasie wat vir die
owerhede 'n verleentheid is.
Ná die afgang van die kommunisme met sy gelykheidsideaal, het die
multikulturele samelewing met sy strewe na rassegelykheid die nuwe dogma
geword. Kommunisme kon slegs deur die geweld van revolusie tot stand kom en
onder dwang in stand gehou word. Josef Stalin het dit baie goed verstaan, en
onder sy bewind is twintig miljoen mense in die ou Sowjet-Unie doodgemaak,
om ideologiese redes, maar veral ook omdat hulle nie gehou het by die reëls
van die huidige vyfjaarplan nie.

Net soos Stalinisme, kan die multikulturele samelewing slegs onder
dwang verwesenlik word. Indien die bevolkings 'n keuse gegun word, sal hulle
nêrens op aarde reënboognasies vorm nie. Die meeste mense verkies om binne
hul eie etniese groep te trou en voort te plant, asook om hul kinders deur
lede van hul eie groep te laat opvoed in etnies homogene skole.

In die VSA is honderde miljarde dollar reeds bestee om veral blanke
Amerikaners te oorreed om vrylik met Afro-Amerikaners te meng, asook hul
kinders na dieselfde skole te stuur. Dwangmaatreëls soos "bussing" geld
reeds dekades lank. In weerwil hiervan, is veral skole in Amerika nou meer
gesegregeer as dertig jaar gelede. In Boston, waar die munisipaliteit $30
miljoen per jaar bestee om kinders met busse na skole in ander gebiede aan
te ry, het die aantal "geïntegreerde" skole verminder van 23% in 1974 na 17%
tans.

Ook in Suid-Afrika is multikulturele dwangmaatreëls onderliggend aan
die hele struktuur van die staat, die werkplek, opvoeding en selfs sport.
Omdat Afrikaans as skooltaal veral by blanke Afrikaners gesog is, moet dié
taal gepenaliseer word. Daarom moet skole en universiteite verengels word,
en studente en leerlinge gedwing word om dikwels teen hul sin met mekaar te
verkeer.

Afrikaanse jongmense in die mediese en verwante professies, selfs
spraakterapeute, word voor die voet gedwing om in swart woonbuurtes te gaan
praktiseer. Veral waar dit jong Afrikanermeisies raak, geskied hierdie
gedwonge "gemeenskapsdiens" ongeag hul eie persoonlike veiligheid of eie
voorkeure. Binnekort gaan dokters en privaathospitale gedwing word om nie
net vir 'n jaar nie, maar permanent hul dienste aan te bied "waar daar
behoefte bestaan", naamlik in swart gemeenskappe.

Die meeste mense stem met hul voete teen multikulturalisme.
Privaatskole word teen buitensporige koste opgerig, en mense skep
veiligheidsbuurte met hoë mure, elektriese drade en ander maatreëls wat
dikwels die indruk skep van 'n geprivatiseerde volkstaat waar een etniese
groep gewoonlik in beheer is.

Die Berlynse muur, wat dertig jaar lank die simbool was van gedwonge
gelykheid, het 17 miljoen Oos-Duitsers gevange gehou in hul sogenaamde
"werkersparadys". Die swetterjoel dwangmaatreëls wat veronderstel is om tot
die utopie van 'n multikulturele samelewing te lei, is ietwat minder
blatant, maar nie minder drakonies en onregverdig nie.

Terwyl multikulturele dwang in Westerse lande nog oorwegend
individuele vryheid toelaat, het dit by ons in Suid-Afrika binne 'n kort tyd
ontwikkel tot 'n vorm van totalitarisme wat moeilik te onderskei is van dit
wat tot onlangs in Oos-Europa gegeld het.

Die vraag kan met reg gevra word: is multikulturalisme die nuwe
inkarnasie van Stalinisme?

Koeitjies & kalfies | 19 kommentare

Apartheid in Franse skole

Di., 23 September 2003 10:58

Etniese segregasie is besig om toe te neem in Franse skole, in weerwil van
pogings van die regering om dit teen te werk.

Hierdie feit, wat allerweë as 'n "taboe-onderwerp" bestempel word, word
onthul in 'n studie wat in die Septemberuitgawe van die Revue française de
sociologie gepubliseer sal word. Prof. Georges Felouzis, professor aan die
Universiteit van Bordeaux II het die navorsing oorspronklik as 'n verslag
aan die Minister van Toerusting en die "Fonds vir integrasie en stryd teen
diskriminasie" opgestel. Dit heet "Sosiale en etniese polarisering van
junior hoërskole in die Bordeax-akademie." Frankryk se opvoedingstelsel is
in 'n aantal streeksakademies opgedeel.

Ten einde die etniese afkoms van leerlinge te bepaal, het Felouzis en sy
medewerkers van voorname gebruik gemaak. Kinders met voorname van Arabiese
of Afrika-afkoms is as Arabiere of swartes beskou, want vele van die kinders
beskik oor Franse burgerskap en Nasionale Opvoeding het tot nog toe geen
etniese onderskeid tussen leelinge toegelaat nie.

Daar is bevind dat blanke Franse ouers verkieslik hul kinders na skole stuur
wat oorheersend uit hul eie groep bestaan. Selfs in skole met 'n gemengde
etniese bevolking ontstaan segregasie tussen klasse waar party slegs Franse
kinders bevat en ander dié van immigrante, al beskik hulle oor Franse
burgerskap.

Ouers oortree dikwels die reëls oor sonering van skole en selfs al woon
hulle in buurte met baie immigrante, ry hulle hul kinders aan na ander skole
in buurte waar blanke Franse oorheers.

Die verslag beskryf "die wêreld van skool, wat veronderstel is om
republikeins en universeel te wees..." as "sterk beïnvloed deur etnisiteit
en in totale teenstryd met die universele grondslag van skole."

Hoewel prof. Felouzis se metode om voorname as 'n aanwyser van etnisiteit te
gebruik, erken is deur die gesaghebbende sosiologietydskrif, het dit reeds
'n polemiek veroorsaak omdat hy die onderskeid sou tref tussen verskillende
soorte Franse burgers. Dit sou impliseer dat daar meer as een soort Fransman
is, afhangend van godsdiens en etniese afkoms.

Onder die 144 000 leerlinge van die Bordelese akademie, word tot 40% van
alle swartes en Arabiere in slegs 10% van die skole aangetref. Hierteenoor
bestaan daar 'n kwart van skole wat slegs 1% of minder sulke kinders in hul
geledere het, 'n duidelike neiging tot segregasie.

Hierdie skoolapartheid word hoofsaaklik deur twee faktore veroorsaak:
immigrante wat neig om in sekere buurte te woon waarvan die skole dan
uiteraard deur hul kinders oorheers word, asook "familiestrategieë" van
blanke Franse wat verkies om hul kinders in skole te plaas met die minimum
immigrantekinders.

Een manier waarop gemengde skole poog om "aantreklik" vir Franse te bly, is
om "interne segregasie" toe te pas waardeur blanke Franse kinders in een
klas geplaas word en immigrantekinders in 'n ander.

Volgens prof. Felouzis het sulke praktyke "opvoedkundige gevolge" omdat die
immigrantekinders swak vaar en toenemend in "opvoedkundige ghettoes"
grootword waar hulle opvoedkundige agterstand toegevoeg word aan die
sosio-ekonomiese agterstand van hul ouers.

Die verslag wys ook uit dat die werklikheid van gesegregeerde skole en die
amptelike beleid van "universele leerlinge ongeag herkoms of etnisiteit"
meer in meer in stryd met mekaar verkeer. Dié navorsing gaan dus weereens
die debat rondom verskillende etniese "gemeenskappe" in Frankryk verder
oprakel. 10/3/2003 11:50

Onderwys & opvoeding | 129 kommentare

Kruger Olifante

Di., 23 September 2003 07:13

Ek sien in die Rapport van Sondag 'n berig oor die olifante van die
Kruger-wildtuin wat besig is om in 'n moerse krisis vir natuurbewaring te
ontwikkel. Dit blyk dat in die verlede toe die wildtuin toegelaat was om
die olifantbevolking sinvol uit te dun en die vleis en ander dele van die
diere te benut, is, bo en behalwe dat die aanwas van die olifante onder
beheer was vir hul omgewing, ook 'n groot inkomste gewees vir die wildtuin
wat aangewend was tot die beter van die hele natuurbewaringsproses as sulks.
Toe kom die vlaag van hoofsaaklik leuenstoel konserwatiste wat met
hoofsaaklik boekgeleerde kennis vir die natuurbewaarders via fanatiese
drukgroepe forseer om die moratorium op olifantslag uit te vaardig. Daar
is probeer om die olifante se geboortes te beperk. Om olifante te skenk
aan gebiede waar daar nie meer is nie....oorgrensparke, wat ook al. Niks
het eintlik gewerk nie. Die 'bottom line' is dat daar nou 'n moerse klomp
olifante meer is in die Kruger en dat die natuur dit ontgeld want die
getalle raak eenvoudig te groot. Waar hulle vroeër jare sê 650 olifante
per jaar moes slag om die getalle te beheer, is die jaarlikse aanwas nou
meer as dubbeld dit!
En die Kruger is nie uniek met sy probleem nie. Hier by ons in
Namibië is die woestynolifantgetalle ook besig om effe baie te raak. Die
boere se plase ontgeld dit en almal trek skouers op. Word 'n probleem
olifant geskiet, dan is die WWF en sy gesante aan't baklei en vra jy vir
hulle kompensasie vir 'n dam wat platgetrap is, dan raak hulle doofstom!!

Koeitjies & kalfies | 2 kommentare

Die 4 stouterds

Di., 23 September 2003 05:36

Gister is berig dat die geslaagde leuenverklikkertoetse nie as bewys in die
hof toegelaat sal word nie, omdat dit nie stabiel is nie.
Een van die vier het die toets eers gedop, en nadat hy 'n kalmeermiddel
ingeneem het, het hy die toets geslaag. Die ander drie het ook eers
kalmeermiddels geneem voordat die toets geneem is.
Daar is ook nou 'n verdere ondersoek na die optrede van hulle
regsverteenwoordiger en die media.

--
Annette

Koeitjies & kalfies | 6 kommentare

" Lady Anne by die mikrogolfoond" deur ANTJIE KROG

Ma., 22 September 2003 21:16

Antjie Krog

Lady Anne by die mikrogolfoond

o my susters in kombi's en stasiewaens
met stylvolle donkerbrille en hare teen die grys getint
liggame wat soggens in fleurige leotards
jog en gym en joga
verbete klou aan soepelheid en Pil

soos ons by mekaar op oorbrûe verbyjaag
in stofwolke stop langs sportvelde
aandagtig sit en tydhou voor musiekkamers
mekaar aan die huil bid op Bybelstudies
wonder ek: van watter breed is ons?

in die meedoënlose metodiek van beplanning
herken ek die waansin van wa-pak
die drif waarmee kinders gedryf word
tot uithaal en byhou ruik na kamp en kroep

soos ons op sandersonlinne sit en aai en paai
en die mans by ingeboude kroeë druk drink en desperaat praat oor naai
weet ons ons is die laaste
die laaste wat kinders teer laat verblond op melk en heuning
ons is die laaste
agter ons onder ons langs ons
stort met die sagte geluid van as
strukture wat ons soort in stand hou
in hulle maai.

Druk gedig

Prosa & poësie | 0 kommentare

Bladsye (1835): [ «    528  529  530  531  532  533  534  535  536  537  538  539  540  541  542  543    »]
Tyd nou: Vr. Des. 19 18:02:57 UTC 2025