Klein ondeug, moeders sorg en skat,
haar lus, haar las, haar vreug;
hy vroetel hier, hy snuffel daar,
hy pluk die hele huis deurmekaar -
keer voor daar ! liewe deug !
Te laat ! Daar gaat die koppie al,
en stukkend op die vloer.
Knor jy hom, jy kry knor terug,
of nydig smyt hy hom op sy rug
en trappel fluks tamboer.
Hy's kort-kort by die waterbak,
al jaag jy hom elke maal:
Jou Sondagstewels kry hul bad;
dan is dit weer die arme kat
wat jy daar uit moet haal.
Al trippe-trap die mure langs
kan jy sy stappies hoor;
hy's weg en stil nou, soos 'n muis -
maar glo my nou's dit glad nie pluis:
kom, hier is al sy spoor.
Daar het jy 't al, die muurpapier
in repe afgetrek,
geskeur in stukkies, klein en kort,
die inkpot daarop uitgestort,
en hy - een swarte vlek !
Daar val meteens, die solderleer,
ja, soos 'n donderslag !
ons loop te hulp met grootte haas -
daar sit die kleine vent daarnaas
en skater soos hy lag !
Dis brabbel-praat, dis woel en val,
van smôrens vroeg tot laat;
dis koppie stamp, en huil en lag
so twintig male elke dag,
tot basie kooi-toe gaat.
Die laaste soentjie is van haar
wat sorg nog las ooit heug.
Met mond en pootjies skoon gewas,
slaap nou klein ondeug - moeders las,
haar skat, haar sorg, haar vreug.
Op 23 Augustus 2018 het 'n wit vrou in 'n Clicks-winkel in Pretoria vir haar mandjie gevra. 'n Swart dame hoor toe "monkey" (aap) en gil histeries: "who is a monkey?". Die voorval is op video vasgelê en wyd op sosiale media versprei. In die agtergrond kan gehoor word hoe 'n omstander sê: "No, she didn't say she is a monkey." Die vrou se mandjie is ook duidelik in die video sigbaar.
Clicks het die voorval bevestig en beklemtoon dat die konflik tussen klante was en dat hulle werknemers nie daarby betrokke was nie. Die winkelgroep se verklaring lui: "Ons het ons interne ondersoek afgehandel en bevind dat ons personeel niemand se kant gekies het nie en baie professioneel opgetree het om hierdie moeilike voorval te hanteer".
Dit herinner nogal sterk aan H&M se "coolest little monkey in the jungle"-advertensie wat ook totaal uit verband geruk is. Soos te wagte word dit as 'n rassevoorval bestempel en 'n saak van crimen injuria is blykbaar teen die wit vrou aanhangig gemaak.
Die belangrikste les van die week is dat mens mooi duidelik moet praat as jy 'n mandjie soek, of gebruik eerder 'n trollie! Dit sal voorkom dat ander van hul trollies af raak.
Jammer vir die mense wat van die winter hou, of vir die wat hooikoors kry, maar... ♪♪♫♪♪
DIS HEERLIKE LENTE:
Dis heerlike lente, die winter's verby
Weer nodig die velde vir jou en vir my
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!
Daar's dou op die blomme, die dagbreker fluit
Ons beur deur die klowe die opdraandes uit
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!
Van hier waar die varkblom en vleiriete groei
Tot daar waar die aalwyn en kanniedood bloei
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!
Al hoër en hoër na bowe te voet,
Om hoog op die kruine die rooidag te groet
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!
Daar's krag vir die spiere op vaderlands-grond
Die vroe-vroeë môre het goud in die mond
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o.
Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o!
Woorde: THEO W. JANDRELL en G.G. CILLIÉ
Musiek: Wysie uit die Alpe; verwerk: G.G. CILLIÉ
Musiek & liriek |
2 kommentare
Nou net op RSG gehoor: "noem en verdoem" is die vertaling van die Engelse "name and shame".
Die oudste vermelding hiervan is waarskynlik 'n brief in Die Burger wat 'n ene Bacchus in 2011 geskryf het: "Ek oorweeg dit ernstig om hierdie wynprodusente...voortaan op Planeet Wyn te noem en verdoem...". Talle ander het blykbaar onafhanklik van mekaar by dieselfde vertaling uitgekom.
As ek 'n definisie kan waag:
Noem en (ver)doem:
Iemand wat 'n fout of oortreding begaan se naam bekendmaak, om hom/haar sodoende (as 'n vorm van sensuur) uit te sonder en jou afkeur uit te spreek.
Sannie kom by die huis na haar eerste skooldag.
Ma: "Middag Sannie, het jy baie geleer vandag?"
Sannie: "Nie te veel nie, Ma. Ek moet môre weer teruggaan."
Mike en sy vrou besef hulle moet bykom in die nuwe Suid-Afrika en besluit om 'n swart babatjie aan te neem. Nie lank nie, toe laat weet die sosiale werkster dat daar 'n pasgebore babatjie beskikbaar is, en hulle hom maar kan kom haal. Hulle maak so, en op pad huis toe hou hulle met baba en al by die tegniese kollege stil, en skryf vir 'n Zoeloekursus in. "Want," sê Mike, "dis net 'n jaar dan begin die mannetjie te praat..."
Die Nasionale Intelligensiediens besluit om 'n sluipmoordenaar aan te stel. Ná 'n lang administratiewe proses word drie kandidate gekies. Koos, Kallie en Mike dui aan dat hulle belangstel, en op 'n dag moet al drie by hoofkantoor aanmeld. "Daar is een laaste toets," verduidelik die direkteur.
Koos is eerste aan die beurt. "Koos, jou vrou is in hierdie kamertjie opgesluit. Hier is 'n pistool, jy moet ingaan en haar doodskiet." Onmiddellik bars Koos in trane uit. "Ek sou dit nooit kon doen nie," grens hy. "Ek is gans te lief vir my vrou."
"Dan is jy nie die geskikte kandidaat vir die werk nie," besluit die direkteur, en stuur Koos weg.
Kallie is volgende. "Kallie, hier is die pistool. Jou vrou is in die tweede kamertjie opgesluit. Jy weet wat jy moet doen." Kallie verdwyn in die kamertjie, maar na 'n minuut kom hy weer uit. "Ek kon dit nie doen nie," erken hy.
"Dan is jy ook nie die geskikte kandidaat vir die werk nie," antwoord die direkteur, en stuur Kallie weg. Net Mike bly oor.
"Goed dan Mike, jy is ons laaste kandidaat. Jou vrou is in die derde kamertjie hier toegesluit. Vat hierdie pistool en skiet haar."
Mike verdwyn in die kamertjie, 'n skoot klap, en dan bars 'n afskuwelike lawaai los. Twee minute later kom Mike weer te voorskyn, sy klere is geskeur en bloed stroom uit 'n sny in sy voorkop.
"Mike, wat het gebeur?" wil die direkteur weet.
"Nee hel," kla Mike. "Hierdie bleddie pistool van jou is met blanks gelaai. Ek moes die ouvrou met 'n stoel doodslaan!"
Beste buitelandse taalfilm; So., 19 Augustus 2018 07:23
Treurgrond is 'n Afrikaanse rolprent wat in 2015 vrygestel is met Steve Hofmeyr in die hoofrol en Darrell Roodt as regisseur. Die film het R749 286 in sy openingsnaweek by die loket verdien. Daar is ook pas aangekondig dat die prent as die beste buitelandse taalfilm by die 2018-filmfees in Amsterdam aangewys is. Dit het ook die toekenning vir beste kinematografie ingepalm.
Treurgrond vertel die storie van Lukas van Staden (gespeel deur Hofmeyr) wat sy bes doen om sy familie, vriende en plaas te beskerm. Dit wys hoe ineengevleg almal se lewens in die boeregemeenskap is. Sonder die boere en die gemeenskap, sal daar geen kos geproduseer word nie en sal die land nie kan eet nie. Dit vertel verder hoe die boere voortgaan met hul boerdery, ten spyte van die plaasaanvalle en ongenaakbare grondeise wat hulle moet trotseer. Elke moord laat 'n klomp mense sonder heenkome en 'n inkomste.
Intussen het Hofmeyr getweet dat daar 5 plaasaanvalle in die 48 uur ná Treurgrond se nominasie plaasgevind het.
'n Karikatuur van William Archibald Spooner.
Nederlandse wiki:
'n Spoonerisme is 'n verspreking waar letters of lettergrepe in 'n woord of sinsnede verwissel word, sodat amusante, ironiese of versteekte effekte ontstaan. Hierdie versprekings word ook dikwels met opset gemaak, waardeur 'n stylfiguur wat dié naam dra ontstaan.
Die verskynsel is na die Engelse dominee en wetenskaplike William Archibald Spooner (1844-1930) vernoem (en is dus 'n eponiem). Ds. Spooner was bekend vir sy liederlike versprekings, soos "The Lord is a shoving leopard" in plaas van "The Lord is a loving shepherd".
Hier is 'n Paar Afrikaanse spooners:
Pry ek 'n krys as rek eg is? (Kry ek 'n prys as ek reg is?)
Die mense sit en doen vet mooi nokkol (Die mense sit en doen net mooi v#kkol)
Meneer voordames, age meneer daamsitters en heervore. Die bouland en die teeveelt, age die veeland en die toubeelt, die sê ek is die bedding van 'n roer. Waarom dan word die arme las altyd beboer; ek meen waarom word die arme bas altyd beloer? - Langenhoven.
Op 31 Mei 1918 het C.J. Langenhoven te Arbeidsgenot 'n gedig geskryf wat later as Die Stem van Suid-Afrika bekend sou word. In 1931 het die FAK 'n kompetisie geloods om 'n geskikte volkslied vir Suid-Afrika te vind. "Die Stem" is eenparig gekies. M.L. de Villiers is later versoek om die gedig te toonset. Die Stem is op 2 Mei 1957 tot enigste amptelike volkslied verklaar tot dit in 1994 vervang is. Desnieteenstaande is dit vandag steeds 'n belangrike volkslied en kultuurlied van die Afrikaner.
Hier is die woorde:
Eerste vers
Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee.
Deur ons ver-verlate vlaktes met die kreun van ossewa --
Ruis die stem van ons geliefde, van ons land Suid-Afrika.
Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe ons vir jou, Suid-Afrika.
Tweede vers
In die murg van ons gebeente, in ons hart en siel en gees,
In ons roem op ons verlede, in ons hoop op wat sal wees,
In ons wil en werk en wandel, van ons wieg tot aan ons graf --
Deel geen ander land ons liefde, trek geen ander trou ons af.
Vaderland! ons sal die adel van jou naam met ere dra:
Waar en trou as Afrikaners kinders van Suid-Afrika.
Derde vers
In die songloed van ons somer, in ons winternag se kou,
In die lente van ons liefde, in die lanfer van ons rou,
By die klink van huweliksklokkies, by die kluitklap op die kis --
Streel jou stem ons nooit verniet nie, weet jy waar jou kinders is.
Op jou roep sê ons nooit nee nie, sê ons altyd, altyd ja:
Om te lewe, om te sterwe ja, ons kom Suid-Afrika.
Vierde vers
Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here! om te handhaaf en te hou --
Dat die erwe van ons vad're vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.
Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer --
Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.