Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Wys: Vandag se boodskappe :: Onbeantwoorde boodskappe :: Stemmings :: Navigasie
Hartlik welkom! Op hierdie webtuiste kan Afrikaanse mense lekker in hul eie taal kuier, lag en gesellig verkeer. Hier help ons mekaar, komplimenteer mekaar, trek mekaar se siele uit, vertel grappe en vang allerhande manewales aan. Lees asb ons aanhef en huisreëls om op dreef te kom.

hallo ruimtebewoner

Di., 05 Julie 2022 11:45

sê my, ruimtebewoner
wat sien jy presies as jy daar voor jou komperskerm sit
en kyk na al die gebeure hier op planeet aarde
maak dit jou opgewonde om meer oor ons uit te vind
en dink jy trots aan ons as mede-ruimtebewoners
of vul dit jou met afsku om te kyk na die wreedheid
waarmee die mens elke vorm van lewe hier vernietig
en is jy dankbaar dat ons ligjare ver van jou is

is dit, ruimtebewoner
die rede waarom jy nog nooit met ons kontak kon maak
omdat ons soveel ligjare van jou verwyder is
en jy nog nie beskik oor ‘n tuig wat so ver kan reis
of het die doen-en-late van die mens jou so geskok
dat jy van sein verander wanneer jou kleintjies nader
voordat hul die mens kan na-aap om so ook jou wêreld
te verwoes deur ‘n kosmiese rommelhoop daarvan te maak

Prosa & poësie | 0 kommentare

om dankie te sê

So., 03 Julie 2022 14:53

om dankie te sê vir ‘n boom se somerskaduwee
is om dankbaar te wees vir sy herfsblare wat op jou grasperk val

om dankie te sê vir die oseaan se branders
is om dankbaar te wees vir die sandkorrels wat teen jou bene waai

om dankie te sê vir die by se heuningkoeke
is om dankbaar te wees vir sy angel wat jou van sy nes weghou

om dankie te sê vir jou kinders se prestasies
is om dankbaar te wees vir die nagte wat hul jou geen
slaap besorg

om dankie te sê vir jou vrou
is om dankbaar te wees vir die dinge waaroor jul verskil

om dankie te sê vir God
is om dankbaar te wees vir die mikrolewens rondom jou

Prosa & poësie | 0 kommentare

om te dig

So., 03 Julie 2022 14:52

om te dig
is om op reis te gaan
na die plekke en mense waarheen my hart my stuur
soms is die reise baie kort
terwyl ander weer veel langer duur

as ek dig
voer ek my weg van hier
en wend my dan na die grys ateljees van my brein
waar my kleurvolle reis begin
na stede groot en gehuggies klein

die gedig
word sodoende gebaar
terwyl my reis my deur dimensies neem ver van hier
en ek die onderwerp ontleed
waaroor ek verslag doen op papier

Prosa & poësie | 0 kommentare

o enkel voël in vlug

So., 03 Julie 2022 10:41

o, enkel voël in vlug

o enkel voël in vlug
moet ek vra
waarvandaan of waarnatoe
is jy op pad daar hoog in die lug

jou wêreld is so groot
en myne so klein
ek kan nie sonder vliegtuig en boot
daar uitkom waar jy met gemak verskyn

o enkel voël in vlug
mag ek vra
hoe lyk my wêreld vir jou
as jy daarop afkyk uit die lug

as ek opkyk na bo
na daar waar jy bly
sien ek jou grenslose land en o
hoe graag sou ek myself ook daar wou kry

o enkel voël in vlug
ek moet vra
wat werklik jou geheim is
dat jy my beïnvloed uit die lug

jy's so nietig en klein
ek so groot en sterk
maar die klank van jou liedjie so rein
sal 'n lewe sonder jou nooit laat werk

Prosa & poësie | 0 kommentare

aandgebed

So., 26 Junie 2022 16:05

Vader, bewaar my vannag
hier waar ek lê en wag
op die breek van die nuwe dag
en skenk my asseblief die nodige krag
om alles te kan vermag
wat die nuwe dag
van my verwag
amen

Prosa & poësie | 0 kommentare

oggendgebed

So., 26 Junie 2022 16:04

wat ‘n pragtige dag
na ‘n wonderlike nag
Vader, skenk my tog die krag
om alles te kan vermag
wat hierdie nuwe dag
van my verwag
skenk my geduld as ek vir iemand wag
en as ek wil kwaad raak, hou my stemtoon sag
leer my om liewer vir myself as vir ander te lag
maar ‘n glimlag te deel eerder as om vir een te wag
maak my elke sekonde bewus van die Skepping se prag
en laat my nooit twyfel aan u Mag
amen

Prosa & poësie | 0 kommentare

God se juwele

Sa., 25 Junie 2022 07:51

ek dank U my God vir die voorreg
om U juwele oor my pad te kon sien kom
hier waar ek as pasiënt aan ‘n hospitaalbed gekluister lê

hulle lyk van buite maar net soos gewone mense
want dit is tog presies wat hulle is
gewone mense elkeen met sy en haar eie kruis terug daar by die huis

wat hulle anders maak is daardie passie en empatie
wat so spontaan vanuit hul edelsteenharte na buite stroom
om so ons pyn te verlig en ons verblyf hier aangenaam te maak

doodmoeg en oorwerk
doen hulle dit met ‘n glimlag onder daardie masker
altyd op ‘n drafstap om betyds ‘n helpende hand uit te reik

dit is juweelmense soos hierdie
wat wys dat U werklik in beheer is

baie dankie dat ek ook ‘n blik
in U juweelkissie kon hê

Prosa & poësie | 0 kommentare

honde-fanagalo

Sa., 25 Junie 2022 07:48

ek wens ek kon die fanagalo van hondetale praat
sodat ek oor die hondetelevisie se nuuskanaal
elke hond in ukraïne kon bereik
om vir hulle te sê hoe oneindig diep my meegevoel met hulle lê
en hoe ek elke greintjie van hul skok, teleurstelling, vrees, afgryse en wantroue in die menseras deel
maar ook dat nie alle mense so is soos die spul wat hul land binnegeval het nie

van kleins af word honde geleer
om die mens te vertrou en sy beste vriend te word
om hom met sy lewe te beskerm en onvoorwaardelik lief te hê

maar nou het die mens vir hom,
sy sogenaamde beste vriend,
die wêreld onderstebo kom keer
deur alles van hom af weg te neem
op die mees onhondbare maniere ooit

hy het sy lieflingmaat verloor
hy het sy lieflinghuis verloor
hy het sy lieflingbed verloor
hy het sy lieflingkosbak verloor
hy het sy lieflingspeelding verloor

hy het maar slegs sy lewe oor

Prosa & poësie | 0 kommentare

2020 - die jaar wat was

Sa., 25 Junie 2022 07:47

die ergste jaar na die 2de wêreldoorlog
die ganse mensdom word deur ‘n virus aangeval
hospitale bars behoorlik uit hul nate uit
lande sluit hul grense
mense word onder huisarres geplaas
besighede word gesluit
miljoene mense verloor hul werk
net soveel besighede verdwyn permanent
niemand mag ongemaskerd beweeg nie
hande moet na elke aanraking ontsmet word
alle menslike kontak is verbode
mense sterf eensaam aan die virus
die aarde kom tot stillstand

met die mens veilig by die huis
kom die natuur in beroering
sneeubedekte bergreekse word sigbaar
velde word deur kleurvolle blomme oortrek
wilde diere stap rustig en speel uitgelate

waar die mens eens op ‘n tyd gewandel het

Prosa & poësie | 0 kommentare

dit reen in die kaap

Wo., 22 Junie 2022 07:47

dit was ‘n doodgewone herfsaand toe ek gaan slaap
maar ‘n baie verkeerde herfsoggend toe ek ontwaak
want my huis was op ‘n ander onbekende planeet
en daardie vreemde stilte sal ek nooit vergeet

bekende klanke van vliegtuie en helikopters in die lug
en fluitende treine op die spoor
het saam met die klank van stadsverkeer gevlug

maar dit reën in die kaap

ek mag nie my erf sonder spesiale dokumente verlaat
gemaskerde mense staan oral in lang rye
bo-op afgemerkte kruise op die vloer
en wag om hul hande by deure te was
voordat hulle mag ingaan en kyk na die rye leë winkels met gesluite deure aan weerskante van die gange

en dit reën in die kaap

mense werk nie meer
want besighede is gesluit
geld is nie meer belangrik
omdat dit nêrens bestee kan word

dit reën steeds in die kaap

is dit die derde wêreldoorlog
die radio praat van duisende mense
wat daagliks oral op hierdie vreemde planeet sterf
en besighede waarvan die deure nooit weer oopgesluit sal word

terwyl dit reën in die kaap

die lug is ‘n silwerskoon koningsblou
en elke oop stukkie grond verdwyn
onder ‘n groen tapyt met die mooiste blomme in elke kleur van die verfpalet

en dit reën in die kaap



wilde diere van alle soorte kom uit hul skuilplekke uit
om by die volgedekte eettafel van die natuur aan te sit
en waarheid aan die Skeppingswonder te gee

omdat dit reën in die kaap

Prosa & poësie | 0 kommentare

Bladsye (1835): [ «    16  17  18  19  20  21  22  23  24  25  26  27  28  29  30  31    »]
Tyd nou: Sa. Des. 20 14:01:47 UTC 2025